Musiek en Erediens
Musiek en Erediens
In ons kerklike lewe is dit vanselfsprekend dat daar rondom en tydens kerkdienste musiek gemaak word. Die gemeente sing, die orrelis speel en op feesdae word soms ook ander instrumente of kantors (sangleiers) betrek. Ondanks die vanselfsprekende plek wat musiek in die liturgie inneem, is dit sinvol om reëlmatig te besin oor belangrike vrae soos: Waarom is daar musiek in kerkdienste, waar kom dit vandaan en watter rol(le) beklee dit in die erediens?
Besinning oor hierdie en ander vrae help byvoorbeeld ook om te voorkom dat vanselfsprekendhede niksseggende, leë doppe word, of dat vanselfsprekendhede (verkeerdelik) nie meer gebruik word volgens die oorspronklike doel nie. Om dié rede sal ons in drie artikels kyk na die plek en funksie van musiek in kerkdienste. Ek sal nie spesifiek praat oor watter soorte musiek wel of nie in die liturgie wenslik is nie – dit gaan vir my eerder om die vrae wat dit voorafgaan, vrae wat wel betekenisvol is vir die vraagstuk van musiekstyle en –genres wat in kerkdienste gebruik kan word.
As ons nadink oor die plek en funksie van musiek in die liturgie, is dit vanselfsprekend dat ons in die besonder kyk na wat die Bybel oor die onderwerp sê en wat die Bybelse gegewens vir die hedendaagse praktyk (kan) beteken. Benewens hierdie invalshoek is dit egter ook moontlik en sinvol om gegewens by ons onderwerp te betrek wat vanuit ander bronne bekom kan word. Dink byvoorbeeld aan die inligting wat deur die musiekwetenskap aan ons oorgedra word oor ander kulture as ons eie. Hierdie gegewens kan veral sinvol wees om ons hedendaagse Westerse musiekkultuur, waarvan ons kerkmusikale praktyk ʼn onderdeel is, krities te beskou. Die manier waarop ons na kerkmusiek kyk, watter wense en afkeurings ons op kerkmusikale gebied uitspreek, kan immers nie losgemaak word van die kultuur waarin en waarmee ons grootgemaak is nie.
Musiek en Religie⤒🔗
Soos reeds genoem, is dit vir ons gevoel doodnormaal dat musiek ʼn plek in ons godsdienstige lewe het. Ons weet dat musiek reeds in die Bybel al religieuse funksies gehad het. Ons kan ons skaars indink dat ons godsdiens sonder musiek sou moes beleef en ons byvoorbeeld geen geestelike liedere (hetsy psalms of gesange) gehad het om te sing nie. Mens sou egter kon vra of die verhouding tussen geloof en musiek nou tipies iets van die Christendom (eintlik in navolging van die Jodedom) is en of ons te doen het met ʼn wyer verspreide verskynsel?
Laasgenoemde is die geval. Binne die etnomusikologie (die wetenskap van musiek in primitiewe kulture) is dit ʼn bekende gegewe dat musiek en religie/kultus in die reël onlosmaaklik aan mekaar verbind is. Hierdie situasie tref ons nie net aan by hedendaagse primitiewe beskawings wat tans ondersoek word nie, maar ook by kulture uit vervloë tye.
Die verhouding musiekreligie blyk byvoorbeeld duidelik as ons kyk na opvattinge oor die herkoms van musiek. Die Christelike kerk het musiek deur die eeue heen as ʼn skeppingsgawe van God beskou. Vanuit die etnomusikologie sal hier aangevoer word dat ʼn goddelike herkoms van musiek ook gereeld in ander beskawings verkondig word. Die ou Indiërs, Egiptenaars en Mesopotamiërs, byvoorbeeld, het mites geken wat vertel hoe musiek as ʼn pragtige en liefdadige geskenk deur die godewêreld aan die mense geskenk is. Volgens ʼn mite uit Indië het musiekinstrumente ontstaan deurdat ʼn nimf uit die hemel moes vlug en op aarde in ʼn boom beland het. Op die aarde kon die nimf slegs van haar laat hoor deur middel van musiekinstrumente wat sy van die boom se hout gemaak het.
Oor die algemeen kan ons sê dat mense in uiters verskillende kulture en tye musiek as ʼn bonatuurlike gawe beoordeel het. Dit is eers anders in samelewings waarin die bonatuurlike ontken word of waarin religie ʼn taboe is. So is daar sedert die Verligting in die Weste teorieë ontwikkel wat aan musiek ʼn nie-religieuse oorsprong toeken. Vir Charles Darwin, om net ʼn voorbeeld te noem, het die verskynsel “sing” as ʼn funksionele middel in die evolusionêre proses ontstaan waarby swak diere terug moes staan vir die sterker soortgenote. Hy het verwys na voëlgesang, wat hy beskou het as een van die primitiefste vorme van musiek. By voëls sou die wyfies generasie op generasie mannetjies as maat gekies het wat die beste kon sing. Op dié manier sou musiek daarvoor gesorg het dat daar steeds beter en sterker voëlsoorte sou ontstaan. Op ʼn soortgelyke manier sou musiek (d.i. sing) aanvanklik ook by mense gefunksioneer het en sou musiek oorspronklik dus met seksuele opwinding te doen gehad het. Diegene wat deesdae na die musiekstasies MTV of TMF kyk, sou maklik kon glo dat Darwin se teorie vandag nog bewys word. Maar dit daar gelaat!
Die band tussen musiek en religie blyk in baie kulture nie net uit die gegewe dat musiek as ʼn goddelike gawe beskou word nie. Egiptiese en Griekse mites spesifiek ken baie gode en godinne wat op een of ander manier intensief met musiek te doen het. Die dogters van die Griekse god Zeus en Mnemosine – die nege muses wat elkeen ʼn aspek van dans, musiek, taal en wetenskap verteenwoordig – is ʼn baie bekende voorbeeld. Aanvanklik was binne die Mesopotamiese beskawing die skole wat aan die tempels verbind was, die enigste plekke waar musiek onderrig kon word. Melodieë wat die mense as heilig beskou het, is slegs deur ingewyde priesters mondeling oorgelewer. Musiekmaak is gesien as ʼn suiwer religieuse saak. Dit is verder belangrik om op te merk dat in die meeste kulture musiek gemaak is by allerlei daaglikse rituele en ander belangrike monumente uit ʼn menslike lewe. Daarmee saam is veral magiese kragte aan musiek toegeken waardeur mens demone kon verdryf, onheil kon afweer en die gode gunstig kon stem.
Al wat ek met bogenoemde wil aantoon, is dat musiek in uiteenlopende uitgestorwe én bestaande kulture ʼn vanselfsprekende en belangrike plek in die godsdienstige lewe (gehad) het. Primêr het musiek nie tot die wêreldlike behoort nie, maar tot die godsdienstige domein. Dit is duidelik dat musiek en religie/kultus van nature altyd al ʼn noue verband met mekaar gehad het. Klaarblyklik hoort dit by die menswees dat die mens musiek vir godsdienstige doeleindes aanwend en in religieuse kontekste gebruik.
Wie nou die hedendaagse Westerse beskawing in oënskou neem, sal sonder ʼn uitgebreide ondersoek al tot die gevolgtrekking kan kom dat die band tussen musiek en religie nog maar marginaal is. Ook binne die Christendom word musiek nie dikwels primêr geassosieer met wêreldlike (en soms ook wêreldse) aangeleenthede nie.
Marginale Plek en Funksies←⤒🔗
ʼn Ander interessante en relevante verskil met die moderne Westerse kultuur is dat in ander beskawings musiek deurgaans ʼn meer vanselfsprekende plek en funksie in die maatskaplike en godsdienstige lewe beklee. In ons kultuur is die plek van musiek in die daaglikse lewe gemarginaliseer. Dit vorm nie meer ʼn vanselfsprekende, algemeen aanvaarde en dus bruikbare kommunikasiemiddel nie. Ons assosieer “musiek” dikwels met “konserte”, dus duidelik afgesonderde oomblikke in die lewe van elke dag. Daarmee word musiek nog soms hoofsaaklik as middel tot skoonheidsbelewing gesien en gebruik en as middel om (individuele) emosies te uiter. Bowendien is dit in ons kultuur relevant of jy “van musiek hou of nie”.
Vir ander is musiekmaak bloot ʼn ontspanningsaktiwiteit, ʼn vorm van vryetydsbesteding, en ʼn manier om die welsyn te verhoog. Binne hierdie gedagtewêreld is musiek slegs beperk bruikbaar vir godsdienstige oomblikke en geleenthede. Musiek is dan in ʼn groot mate ʼn vreemde verskynsel in die godsdienstige opset.
In ons samelewing het musiek ʼn marginale plek en word dit in die reël gehou vir spesiale geleenthede en in spesifieke kontekste. Ons sing byvoorbeeld net op partytjies/feeste, in voetbalstadions en kerkdienste. Musiek is in ons samelewing nie meer ʼn vanselfsprekendheid wat vergelyk kan word met asemhaal of eet, drink en slaap nie.
In ander beskawings het musiek gewoonlik ʼn belangriker plek in die daaglikse lewe. In ou kulture en nog bestaande primitiewe beskawings is die mens glad nie of skaars bekend met die verskynsel dat musiek slegs gebruik word vir vermaak of vir bevrediging van estetiese behoeftes. Die prinsipe “musiek-vir-die-musiek” (as variant van die bekende “l´art-pour-l´art”-prinsipe), waar musiek dus ʼn doel op sigself is, is ʼn karaktereienskap van die moderne Westerse beskawing wat mens nêrens anders kry nie.
In ander beskawings is musiek amper altyd ʼn geïntegreerde deel van ʼn groter geheel. So is daar geleerdes wat beweer dat die mees oorspronklike funksie van musiek was om liggaamlike beweging te begelei, waarby mens dan moet dink aan arbeid en dans. Dit is heel moontlik. Dit is dus uiters duidelik dat musiek in ou kulture nie apart gesien kan word van beweging en taal nie. As illustrasie noem ek die Vediese (Hindoeïstiese) geskrif Nâtyaveda uit Indië van ongeveer 200 v.C., waaruit dit duidelik word dat die mens musiek as onlosmaaklik verbind gesien het met gebare, dans en woorde.
Basis van Musiek←⤒🔗
By musiek word veral onderskeid getref tussen vokale musiek en instrumentale musiek. (Vroeër is die verkeerde term “sang en musiek” gebruik, asof “sang” nie “musiek” is nie…) In ons kerkmusikale praktyk is vokale musiek die belangrikste. Vir die liturgie is die liedere wat ons sing baie belangriker as die solistiese orrelspel. Oor die algemeen kan gesê word dat in die kerkmusiek die gesonge woord altyd ʼn meer prominente posisie gehad het as die instrumentale musiek.
In die Weste geld dit trouens vir die hele musiekwêreld tot ongeveer die agtiende eeu dat vokale musiek baie meer belangrik was as die instrumentale. Eers in die agtiende en veral die negentiende eeu het instrumentale musiek “geëmansipeer” en het ons die ontstaan van suiwer instrumentale genres en vorme gesien, vorme wat bowendien nie van die vokale musiek afgelei is nie. U kan dink aan die ontstaan en die gewildheid van konserte vir verskillende solo-instrumente: simfonieë, serenades, sonates, ensovoorts.
Binne die kerkmusiek het die gesonge woord egter die primaat behou. En dit is nie net tiperend vir die Westerse kerkmusiek nie. Binne die etnomusikologie is dit ʼn algemeen bekende gegewe. In primitiewe kulture blyk “sing” die belangrikste en soms ook die enigste vorm van musiekmaak te wees. Vir sover ons nog kan rekonstrueer, was instrumentale musiek sonder sang in die ou beskawings uit die Midde-Ooste en Indië ʼn skaars bekende verskynsel. En toe dit al ʼn bekende verskynsel was, moet ons na kulture uit die Verre Ooste verwys.
Kortom, myns insiens is dit uiters verdedigbaar om “sing” (vokale musiek) as die begin en basis van alle musiek te beskou. Van oorsprong is instrumentale musiek hoofsaaklik afgelei van die vokale musiek. Hierdie gegewe is binne die Christendom al meermale gebruik as een van die redes om mens te verset teen die liturgiese gebruik van instrumente. U kan dink aan die verbod binne die gereformeerde Protestantisme uit die sewentiende eeu om die orrel vir liturgiese gebruik aan te wend.
Praat en Sing←⤒🔗
Binne die Christendom word dus ʼn meer gewettigde plek aan vokale musiek toegeken as aan instrumentale musiek. As ek dit reg beskou, vind ons dikwels wel dat daar ʼn duidelike hiërargie tussen praat en sing bestaan. As ons oor kerkdienste praat, word die gesproke woord gewoonlik hoër aangeslaan as die gesonge woord.
Vir baie mense bestaan daar selfs ʼn wesenlike verskil tussen praat en sing. Dit blyk uit die teenstand wat hier en daar bestaan teen die praktyk om, in plaas van ʼn gebed uit te spreek, die gebed as gemeente te sing. Byvoorbeeld dat daar in plaas van die gesproke gebed om verligting met die Heilige Gees ʼn lied gesing word waarin hierdie bede verwoord word (soos die Nederlandse Liedboek se Gesang 327 of 328, of Skrifberyming 28). Om tot die gesamentlike sing van die “Onse Vader” te kom, moet meer as een keer in diepte bespreek word, terwyl dit glad nie ʼn probleem is as ʼn predikant dieselfde gebed uitspréék nie.
Volgens my idee het die gedagte dat daar ʼn funksionele verskil tussen sing en praat bestaan, te doen met die uitkyk op musiek wat karakteristiek is vir die moderne Westerse wêreld, maar ʼn visie wat wêreldwyd en ook geskiedkundig beskou deurgaans nie gedeel word nie. Hierbo het ek reeds aandag daaraan bestee: musiek het by ons ʼn duidelik afgebakende terrein vir liefhebbers geword, waarby skoonheidsbelewing, welsyn en ontspanning dominante doele is.
In kulture waar musiek hoofsaaklik funksioneer as ʼn alledaagse middel ter ondersteuning of begeleiding van intermenslike kommunikasie deur woord of gebaar, blyk dit dat sing en praat nie as teengestelde mededingers beskou word nie. Inteendeel, musiek (melos en ritme) voeg in die beskawing iets toe tot die taal en ondersteun en intensiveer die woord. Juis omdat die musiek hom in primitiewe en ou beskawings na taal gerig het, was die mens onbekend met die gedagte dat “sing” van ʼn laer of wesenlik ander orde sou wees as praat. Die teendeel is eerder waar: Die heiligheid van die rituele handelinge en woorde kon ʼn aanleiding wees om die woorde te sing eerder as om dit uit te spreek.
Dat praat en sing naby mekaar lê, kan ons nie net uit ander beskawings leer nie, maar ook in ons kultuur waarneem. ʼn Eenvoudige voorbeeld uit ons daaglikse lewe: ʼn hartseer kleuter wat na sy ma roep, doen dit outomaties singend. Die twee lettergrepe van die smekende roep “mamma” word gesing/geroep op twee tone wat gesamentlik ʼn dalende klein terts vorm. Dit is die musiekinterval wat ons ken vanuit die aanhef van byvoorbeeld Psalm 22: “my God, my God, waarom verlaat u my.”
Die hegte verhouding tussen praat en sing ken ons ook uit die berugte “preektoon” wat veral die oueres onder ons nog wel van vroeër kan onthou. In die hitte van sy betoog het die woorde van die predikant half singend, half pratend opgeklink. Trouens, ook by baie huisvaders het die Bybellees aan tafel vroeër tussen praat en sing afgespeel. In sekere opsig is daar op ʼn “verhoogde toon” gepraat. Eintlik kan mens sê dat sowel die predikant as die huisvader ʼn ongekultiveerde vorm van Gregoriaans gebruik het. Gregoriaans (d.i. die liturgies eenstemmige, resitatiewe sang wat in die eerste eeue van die Christelike kerk ontwikkel het) is in wese ʼn manier van praat, ʼn vorm om woorde oor te dra waarby gebruik gemaak word van toonhoogte en ritme. In Gregoriaans word ʼn (liturgiese) teks deur middel van ritme en melodie verduidelik en geïntensiveer.
Kortom, praat en sing is baie nou met mekaar verwant. Daar is nie ʼn hoofverskil tussen die twee nie, maar slegs ʼn verskil in graad. Origens het ek nie hiermee verdedig dat praat spesifiek die oorsprong was van musiek, soos die filosowe Jean Jacques Rousseau en Herbert Spencer betoog het nie. Tog wil ek die stelling verdedig dat sing van oorsprong en van nature by ʼn mens hoort en pas. En ook dat musiek (en in besonder sing) ʼn natuurlike plek in die godsdienstige lewe van die mens het. Dit sou ʼn kenmerkende resultaat van modern-Westerse denke wees as ons musiek in die kerkdiens uitsluitend wantrouig sou benader, omdat musiek van oorsprong en vernaamlik met doeleindes (bv. skoonheidsbelewing of vermaak) te doen sou hê wat geensins of skaars met die godsdienstige lewe verenigbaar is nie. Buitendien wys die Skrif ander paaie.
In die Bybel word op talle plekke oor musiek gepraat. Dit is nie moontlik, en ook nie sinvol vir ons onderwerp, om hier ʼn beskrywing te gee oor musiek in die Ou Testament en sy plek in die daaglikse lewe van die Israeliete nie. Net oor die musiekinstrumente wat in die Bybel genoem word, sou daar al baie verhale vertel te wees. Ek beperk my egter tot gegewens wat myns insiens van belang is vir ons hedendaagse situasie.
Die aantal skrifgedeeltes waarin musiek ter sprake kom, is in die Ou Testament baie meer as in die Nuwe Testament. Nie net bevat die Ou Testament baie meer liedere nie, maar oor sake omtrent die organisering en invulling van die kerkmusiek word ons in die Ou Testament baie beter ingelig as in die Nuwe Testament.
Ons is besonder skaars en fragmentaries ingelig oor die Nuwe Testamentiese kerkmusikale praktyk. In die vroeë Christelike kerk is daar gesing, maar wat presies kan nie met sekerheid vasgestel word nie. Lesings is moontlik uit die Skrif voorgedra, geresiteer op ʼn manier wat ons as sing sou klassifiseer. Dit is wel seker dat daar liedere gesing is wat nie tot die Ou Testamentiese psalmboek behoort het nie. Dit blyk uit sowel die Bybel as nie-Bybelse bronne. Ons is nie ingelig oor of in die beginperiode van die Christelike kerk die sing van psalms in die kerkdienste/samekomste gebruiklik was nie. Die dikwels geuiterde gedagte dat die Christelike kerk die psalmsing, die psalmodie, van die sinagoge oorgeneem het, is niks meer as ʼn hipotese nie. Dit lyk selfs waarskynliker dat dit nie die geval was nie. Dit is onbekend of psalms tydens Christus se lewe op aarde in die sinagoges gesing is. Dis nie sonder rede dat ondersoekers teenswoordig daarvan uitgaan dat die sing van psalms sowel in die Jodedom as die Christendom pas ʼn ontwikkeling uit die derde/vierde eeu na Christus is nie. Hierdie gegewe werp ʼn nuwe lig op die gedagte dat die boek Psalms altyd al die liedboek was vir die amptelike samekomste van God se volk.
Vokale Musiek←⤒🔗
Net soos in ander lande en kulture uit die ou tyd, het vokale musiek in die tyd van die Bybel voorkeur bo instrumentale musiek gehad. Die Skrif bevat baie tekste wat gesing is. Uiteraard kan ons hier heel eerste dink aan die psalms uit die gelyknamige boek en aan die liedere wat elders in die Ou Testament gevind kan word. Vanuit ons praktyk en gewoontes is dit minder voor die hand liggend dat byvoorbeeld ook hele gedeeltes uit die profete gesing is. Dat die mense in die Ou Testament net psalms gesing het, is dus nie waar nie; die repertoire was baie breër. ʼn Gesangkwessie het die mense destyds nie geken nie – ook die mense in die vroeë Christelike kerk.
Hoe die musiek geklink het, weet ons ook nie. Ook oor die uitvoeringspraktyk is baie min bekend. Wat wel bekend is, is dat sing in beurt- en wisselsang die normale praktyk was. Hierby kan u dink aan die afwisselende sing tussen solis(te) en koor, of tussen twee kore, of tussen solis/ koor en volk. Gemeentesang soos ons dit ken is ʼn Westerse uitvinding wat eers in die vierde eeu na Christus ontstaan het en vanaf die reformasietyd ʼn hoë vlug geneem het.
Die praktyk van afwisselend sing van persone en groepe hang hoogs waarskynlik ook saam met ʼn literêre stylfiguur wat tiperend is vir Oosterse poësie: die sogenaamde parallelisme. Hierdie stylfiguur behels die volgende: as ons die onberymde psalmtekste bekyk, kan ons al in een oogopslag sien dat elke vers dikwels uit twee gedeeltes bestaan wat by mekaar hoort. Na alle waarskynlikheid is hierdie twee gedeeltes deur twee verskillende persone/groepe gesing. Byvoorbeeld:
-
(sanger 1:) O Here, straf my nie in u toorn
-
(sanger 2:) en kasty my nie in u grimmigheid
Die praktyk dat afwisselend deur groepe en persone gesing was, is heel direk herkenbaar aan die keervers uit psalm 118 en 136: “…(want) sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid”. Dit is voor die hand liggend dat hierdie refrein deur die volk of ʼn koor geskandeer/gesing is.
Ons het hier trouens te doen met ʼn belangrike en meer dikwels gebruikte lofprysingsformule. Behalwe in die genoemde psalms tref ons die keervers ook aan in 1 Kronieke 16:34, 41; 2 Kronieke 5:13, 7:3, 6, 20:21; Esra 3:11; Psalm 100:5, 106:1, 107:1, 138:8 en Jeremia 33:11. In feite gee die refrein in ʼn neutedop weer waarom die kerk God loof en prys.
Om te glo en om te loof is onskeibaar. Om God te loof beteken natuurlik ook dat ons die Here ín en met ons hele lewe dien en prys. Dit blyk egter uit die Skrif dat die gesonge lofprysing essensieel is en moet wees in die lewe van elke Christen. Ons kan maar net dink aan die talle oproepe in die Bybel om vir God ʼn (nuwe) lied te sing en om vir Hom te sing en te speel. Nadat die Hebreërskrywer onder meer uitvoerig gewys het op die volmaakte offer van die hoëpriester Jesus Christus, wek hy sy lesers op om God voortdurend ʼn lofoffer te bring, ‘dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely’ (Hebreërs 13:15). Die lofoffer is die enigste Ou-Testamentiese offer wat in die Nuwe Testament onverminderd gebring moet word.
Om God te loof staan dus los van die vraag of ons wel daarvan hou om te sing. Dit is ʼn tipiese Westerse denkbeeld dat sing, net soos ander musikale aktiwiteite, deurgaans as ʼn oulike stokperdjie beskou word, waarvan jy nou maar toevallig hou. Hierdie opvatting kan ʼn verkeerde en negatiewe invloed hê op die mate waarin en die wyse waarop ons die lof aan God benader. Die gevaar is immers nie denkbeeldig dat hierdie opvatting ons daartoe lei om ook die gesonge lofprysing vir ʼn deel na die stokperdjie beoefenaars verwys nie. ‘Dominee X laat ons baie sing, maar ek hou nie so baie daarvan nie… ’
Die sentrale plek wat die Skrif gee aan die sing van God se lof, maak ook vir ons duidelik hoe verkeerd dit is om te beweer dat ‘dit ten koste van die Woord gaan as daar te veel in die erediens gesing word’, soos wat iemand ʼn slag ernstig opgemerk het. Soos die Bybel laat sien, kom God se Woord ook deur middel van die lied onder die volk. In Deuteronomium 13 (vers 19) lees ons dat God Moses nie opdrag gegee het om te preek nie, maar om sy volk ʼn lied te leer. Kennelik is dit ook ʼn manier wat God wil gebruik om sy Woord te verkondig. En daar is baie Psalms waarin God se dade en heilswerk al singende verkondig, geprys en bely word.
Ek het met opset die terme ‘prys, verkondig en bely’ in die vorige sin in een asem genoem. Dit is naamlik die aspekte wat in die gesonge lofprysing hand in hand gaan. Om God te loof gaan normaalweg gepaard met die bely van sy Naam en dade. In die Hebreeus blyk daardie band baie spesifiek daaruit deurdat die woorde vir ‘loof’ en ‘bely’ aan mekaar verwant is. In Jesaja 45:23 staan: ‘…dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.’ Die laaste woorde word in Filippense 2:11 en Romeine 14:11 aangehaal, waarby dit opvallend is dat die woord ‘sweer’ vertaal word as onderskeidelik ‘bely’ en ‘loof’ (Dit word in Afrikaans egter beide met ‘bely’ vertaal) Dit is woorde wat inhoudelik met mekaar verband hou. Loof = sweer (God se naam daarby gebruik) = bely.
Dié wat God loof en sy Naam bely, verkondig terselfdertyd God se dade onder die mense. Dié wat byvoorbeeld sing: ‘Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.’ (Eksodus 15:21), verheerlik God. Maar metterdaad bely en verkondig hy ook die groot dade van God.
Die verkondigende aspek van die lied is een van die redes hoekom die Skrif verskeie kere oproep om liedere te sing en mekaar op daardie manier te leer en tereg te wys (vgl. Efesiërs 5:19). Deur die lied kom woon die Woord van Christus ryklik in die gemeente (Kolossense 3:16).
Loof en Kla←⤒🔗
Vir ʼn Christen, wie se lewe bepaal word deur die blye boodskap van heil en verlossing, sal musiek in die algemeen en die lied in besonder gestempel wees deur die lofprysende verkondiging van God se dade. Dit is as het ware die grondtoon. Of soos Martin Luther in 1545 geskryf het in ʼn voorrede van ʼn gesangebundel:
…God het ons hart en gemoed vrolik gemaak deur sy liewe Seun, wat Hy aan ons gegee het tot verlossing van sonde, dood en duiwel. Dié wat dit ernstig glo, kan dit nie nalaat nie: hy moet vrolik en opgewek, lofprysend daarvan vertel…
Dit alles beteken egter nie dat ons net sing wanneer ons vrolik is nie. Dit blyk oor die algemeen meer dat ‘musiek’ nie per definisie te make het met vreugde en fees nie. Die opmerking wat dikwels gehoor word dat ‘ekstra musiekinstrumente die feestelike karakter van die erediens beklemtoon’, is streng gesproke natuurlik nie waar nie: wanneer die instrumente treurmusiek sou speel, dan sou hulle selfs ʼn demper op die feesvreugde plaas. Dit is dus baie belangriker wat die instrumente speel as dat die instrumente speel.
So is dit ook met vokale musiek: ons sing nie net omdat ons bly is nie. Musiek het nie net met vrolikheid te make nie. In alle kulture blyk dat musiek sowel met blydskap as met droefheid geassosieer (kan) word. Dit blyk ook in die Bybel. Daarin kom ons liedere teen waarin die juigende prysing nie die botoon voer nie. Daar word nie net gesing wanneer daar blydskap en vreugde oor die heil van God is nie. Musiek klink ook daar waar mense kla, hul skuld bely of God se hulp inroep. ʼn Mens sing nie altyd uit volle bors nie. Dié wat die liedere uit die Bybel bestudeer, sal ontdek dat ‘loof’ en ‘kla’ beide tot uiting kom in liedere en dikwels baie naby mekaar lê. Alle aspekte wat behoort tot die dien van God, het in die lied van die kerk ʼn vanselfsprekende plek.
Saamgevat, die rede hoekom die kerk voortdurend sing, moet en wil sing, staan in feite weergegee in een van die indrukwekkendste Nederlandse liedere uit die vorige eeu, waarin ons ook die eggo kan hoor van die bekende lofprysingsformule ‘… sy goedertierenheid is tot in ewigheid’:
De aarde is vervuld
van goedertierenheid
van goddelijk geduld
en goddelijk beleid.
Gods goedheid is te groot
Voor het geluk alleen,
zij gaat in alle nood door
heel het leven heen.Liedboek gez. 223:1, 2
←⤒🔗
Instrumente←⤒🔗
Ons het gesien dat musiseer in die Skrif allereers en vernaamlik bestaan het uit sang. Maar op baie plekke in die Bybel word daar vertel dat by die gesonge lofprysing ook musiekinstrumente betrek is. Oor instrumente word in die Skrif in Genesis 4 vir die eerste keer gepraat, waar Jubal as uitvinder van musiekinstrumente aangewys word (‘Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel’). Dit beteken natuurlik nie dat musiek eers vanaf Jubal bestaan het nie.
In die Bybel word daar selde gepraat oor uitsluitlik instrumentale musiek (dus musiek sonder sang). En waar dit wel die geval blyk te wees, is die vraag meestal of daar wel sprake is van suiwer instrumentale musiek en of daar veronderstel moet word dat dit gaan om instrumentale begeleiding van sang.
Hoe dan ook, in die godsdienstige lewe van die Ou-Testamentiese Israel, was die gebruik van musiekinstrumente ʼn baie bekende en vanselfsprekende verskynsel. Ook by die loof van die Here. Selfs in die woestyn is instrumente gebruik om God te prys. So is die bekende lied van die profetes Mirjam oor die HERE wat die perd en ruiter van Egipte in die see gewerp het, begelei deur handdromme (ʼn instrument wat in die NBG-vertaling en Afrikaanse 1953-vertaling weergegee word met ‘tamboeryn’ en wat destyds spesifiek deur vroue bespeel is).
Soos bekend is, is in die tempel ook musiekinstrumente bespeel. Soms word daar gedink dat alle musiekinstrumente wat in die Ou Testament genoem word, ook in die tempelliturgie gebruik is. Maar dit is nie waar nie. Net so min kan ʼn mens ʼn beroep doen op Psalm 150 om jou oortuiging te staaf dat jy geen instrumente vir liturgiese gebruik kan uitsluit nie. Psalm 150 gee naamlik nie ʼn lys instrumente wat in die tempel gebruik is nie.
Van die musiekinstrument, byvoorbeeld wat in vers 4 met ‘tamboeryn’ (in Hebreeus word dit ‘tof’ genoem) vertaal word, staan dit vas dat dit nie in die tempel bespeel is nie.
Hierdie gegewe wys dat ons versigtig moet wees om op grond van Ou-Testamentiese gegewens te beweer dat in ons huidige kultuur alle musiekinstrumente in die liturgie gebruik sou kon word. Uit die Ou Testament sou ʼn mens eerder argumente kan vind om die teendeel te bewys.
Maar dit is veel belangriker dat die Ou-Testamentiese praktyk met betrekking tot die (liturgiese) gebruik van die musiekinstrumente myns insiens beskrywend en nie voorskrywend is nie. Dit wil sê dat ons wel ingelig moet wees watter musiekinstrumente in die tempeldiens bespeel is, maar dat ons nie daaruit moet gaan aflei dat ons daarom dus instrumente móét gebruik en dat dit hoogstens die instrumente mag wees wat in die Ou Testament genoem word nie. Die skrifgegewens oor musiekinstrumente en hul gebruik sou ons dan ten onregte voorskrywend gebruik.
Die Skrif het na my oordeel nêrens die bedoeling om voor te skryf of musiekinstrumente (en indien wel: watter instrumente) in die samekomste van God en sy gemeente gebruik moet/mag word nie. Die gebruik van instrumente in die erediens is nie ʼn opdrag óf ʼn gebod nie, maar ʼn moontlikheid waarvan die Skrif voorbeelde gee in die Ou Testament en ook in die Bybelboek Openbaring.
Volgens my bied ʼn beroep op kerkmusikale gegewens uit die Bybel in elk geval geen verligting wanneer dit gaan om normatiewe antwoorde op konkrete kerkmusikale praktykvraagstukke van ons tyd nie.
Die vanselfsprekendheid waarmee instrumente vandag in die eredienste gebruik word, kan in die lyn van die kerkgeskiedenis besonders genoem word. In die reël het die Christelike kerk haarself verset teen die (liturgiese) gebruik van musiekinstrumente. Die redes en argumente moet ons ongelukkig vanweë gebrek aan ruimte grotendeels onbespreek laat. Ek wil egter volstaan met die volgende.
Laat ek eerstens stel dat die vraagstuk of ʼn mens in die liturgie ook musiekinstrumente mog gebruik, in die vroeë Christelike kerk waarskynlik nie aan die orde was nie. Hulle het geen kerkmusikale praktyk geken waarby die gebruik van instrumente (ter begeleiding van sang) moontlik en sinvol was nie.
Kerkvaders uit die eerste eeue was gekant teen die bespeel van musiekinstrumente in die algemeen omdat instrumente in hulle tyd hoofsaaklik gebruik is by afgodsdienste en by aktiwiteite wat uit seksueel-morele oogpunt ontoelaatbaar was. Hulle uitsprake het nie spesifiek gestaan in die lig van die vraag of jy in die kerklike samekomste musiekinstrumente mog bespeel nie. As jy in die eerste eeue orrelis was, dan sou jy dáárom nie gedoop kon word nie; wat nog te sê dat jy met jou instrument ʼn samekoms sou mog/kon opluister.
Natuurlik het die kerkvaders die probleem gehad dat daar in die Ou Testament wel sprake is van die gebruik van musiekinstrumente; selfs in die tempelliturgie. Hulle het hierdie probleem aanvanklik opgelos deur te stel dat musiekinstrumente nodig was vanweë die religieuse onvolwassenheid van die volk Israel. Calvyn, die reformator wat homself graag nadruklik beroep het op die ‘Ou Kerk’, het in navolging van hierdie kerkvaders hierdie argument in die sestiende eeu opnuut gebruik om musiekinstrumente uit die erediens te weer.
ʼn Ietwat latere ontwikkeling (ongeveer derde/vierde eeu) was om die musiekinstrumente uit die Ou Testament allegories uit te lê. Die instrumente is dus beskou as metafore, as beeldspraak. ʼn Mens kon die Ou-Testamentiese gegewens dus nie gebruik om daadwerklike liturgiese gebruik van musiekinstrumente te bepleit nie.
Daar is nog ʼn ander argument gebruik om die Ou-Testamentiese kerkmusiek in die algemeen, en die gebruik van musiekinstrumente in die besonder, as gedane sake te beskou. Die kerkmusikale bepalings en ook die musiekinstrumente sou behoort tot die ‘skaduagtige erediens’. Met die koms van Christus het die skaduwees verdwyn en sou musiekinstrumente in die erediens oorbodig wees. Dit is egter die vraag of ons die Ou-Testamentiese kerkmusiek (o.a. die musiekinstrumente) tot die skaduwees mag reken. Dan sou ʼn mens naamlik moet kan bewys in watter opsig die kerkmusiek na Christus heen gewys het. By die Ou-Testamentiese offers is dit duidelik. Maar ten aansien van byvoorbeeld musiekinstrumente kan die teenoorgestelde gestel word. Want in die Bybelboek Openbaring word musiekinstrumente genoem in die beskrywing van die hemelse erediens. Blykbaar was die gebruik van instrumente nie ʼn spesifieke Ou-Testamentiese praktyk nie.
Gebod van Dawid←⤒🔗
ʼn Belangrike Bybelse gegewe betreffende musiek in die erediens, vind ons in die Ou Testament waar daar op verskeie plekke gepraat word oor ‘die gebod van Dawid’ (1 Kronieke 23:5, 2 Kronieke 8:12-14, 23:18, 29:25, 35:15, Esra 3:10, Nehemia 12:24, 36). Hierdie gebod het ʼn hoë status, soos blyk uit die feit dat dit in 2 Kronieke 23 in een asem genoem word met die ‘wet van Moses’:
Verder het Jójada wagte aangestel in die huis van die HERE onder leiding van die Levitiese priesters wat Dawid ingedeel het vir die huis van die HERE om die brandoffers van die HERE te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses, met blydskap en gesang volgens die instelling van Dawid.
Die goddelike herkoms van die gebod van Dawid blyk ondubbelsinnig uit 2 Kronieke 29, waar ons lees dat koning Hiskia Leviete by die huis van die Here opgestel het,
En hy het die Leviete opgestel by die huis van die HERE met simbale, met harpe en siters volgens die gebod van Dawid en van Gad, die siener van die koning, en van die profeet Natan; want die HERE het dit so beveel deur die diens van sy profete.2 Kronieke 29:25
ʼn Voor die hand liggende vraag is hoekom die gebod gegee is. Myns insiens is die doel van alle kerkmusikale reëlings in die Ou Testament om sowel die kwantiteit as die kwaliteit van die lofsang te waarborg. Bewaking van ‘kwantiteit’ in die sin dat die voortgang van die lofsang gereël en verseker is vir die hede én die toekoms.
Dat Dawid se gebod gegee is om die lofsang gaande te hou, blyk uit die feit dat in latere tye uit die Ou Testament die kerkmusiekpraktyk meermale herstel is met ʼn beroep op die opdrag wat Dawid in God se naam uitgevaardig het. Ons lees hiervan byvoorbeeld in hoofstuk 12 uit Nehemia.
Daar staan dat die Leviete ‘die ordening van hulle God en die reinigingsordening onderhou; ook die sangers en die poortwagters, volgens die bevel van Dawid en sy seun Salomo. Want in die dae van Dawid en Asaf, van die voortyd af, lê die oorsprong van die sangers en leiers van die lofsang en die danksegging aan God’Nehemia 12:45, 46
Benewens beoog die gebod van Dawid die bewaking van die kwaliteit. Wanneer ʼn kwaliteitseis geen onderdeel van die gebod sou vorm nie, sou elemente soos ‘sorgvuldigheid’ en ‘onderwys’ wat nou saamhang met die gebod, immers volledig in ʼn lugleegte hang. Ook die spesifieke vermeldings dat sangers en speelliedere ‘onderwys is’, ‘volleerd’ en ‘bekwaam’ was, kan net beteken dat die gebod sorg wil dra vir ʼn goeie peil. Dit wys daarop hoeveel waarde daar geheg is aan vakmanskap/ambag en dus aan kwaliteit.
Met dit alles word daar nie beweer dat die voortgang van die lofprysing en die kwaliteit daarvan geen aandag gehad of afwesig was vóórdat die gebod van Dawid gegee is nie. Die een hoef immers nie die ander een uit te sluit nie. Ter vergelyking: uit die feit dat God ‘eers’ op die berg Sinai die Tien Gebooie gegee het, lei ons ook nie af dat die mense tot op daardie tyd wel mog lieg, steel en bedrieg nie. Die gebod van Dawid lê vas wat vanselfsprekend pas in en by die diens aan God.
Daarmee raak ons aan ʼn kernpunt: net soos alle ander voorskrifte oor die inrigting van die liturgie, het die bepalings met betrekking tot die kerkmusiek tot doel om in die erediens aan God reg te laat geskied as Skepper en Herskepper, om God te loof op ʼn manier wat pas by Wie Hy is en wat Hy doen.
Die gebruik van kosbare materiale vir die tabernakel en tempel, die sorgvuldige omgang met God se goeie skeppingsgawes het in die Ou Testament gedien om die heiligheid en volmaaktheid van God die Skepper tot uiting te bring en te onderstreep. Dit is ʼn belangrike feit dat God in die samekomste met sy volk nie net geëer wil word as Verlosser nie, maar ook as Skepper. Die hegte verhouding tussen die Sabbat en die skepping blyk op die eerste bladsy van die Bybel: ‘
En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.Genesis 2:3
Vanuit hierdie gegewens is dit ook vanselfsprekend dat ʼn mens in die diens aan God, en dus ook in die gesonge en gespeelde lofprysing, sy skeppingsgawes so optimaal moontlik aanwend. Dit gaan immers om die lof van die Skepper, Hy het juis die gawes gegee om Hom daarmee te dien op ʼn manier wat reg doen aan (pas by) Hom en by die grootheid en volmaaktheid van sy werke.
Hier lê ook die blywende betekenis van die gebod van Dawid vir die Christelike kerk. Die gebod leer ons om te dink vanuit die vraag wat God toekom, wat Hy wil en wat by Hom pas. Dit is dus ʼn ander invalshoek as wat in ons tyd baie keer hoogty vier, naamlik dat ons ons eensydig laat lei deur die vraag hoe mense bereik en gestig kan word.