Wie Begin die Verbond tussen God en Mens?
Wie Begin die Verbond tussen God en Mens?
As ons in hierdie boek praat van die verbond as ʼn lewende verhouding met God, moet ons duidelik verstaan dat slegs God hierdie verhouding vestig. Dit is ʼn saak van God se soewereiniteit en almag. Dit is waar dat ons van ons kant af moet reageer op God se oproep en dat ons verantwoordelikheid in hierdie verbond groot is, maar ons kan nie van ons kant af die verbond vestig nie. Dit is God se voorreg.
In elke verhouding moet een party die inisiatief neem. Somtyds is dit wel die geval dat die partye op ʼn natuurlike manier groei na meer kontak en toewyding. Op hierdie manier kan menslike verhoudings net sommer “gebeur” deur wedersydse aantrekkingskrag, en niemand gee om wie die inisiatief geneem het nie. In die geval van God se verbond is dit egter belangrik, want die Bybel leer ons dat ons nooit ʼn verhouding met God sal soek nie. Uit onsself is ons nie-spiritueel (1 Kor. 2:14), dood as gevolg van ons oortredings (Ef. 2:1), vyande van God (Rom. 5:10), nie in staat om tot die Vader te kom nie behalwe wanneer ons getrek word deur Christus (Joh. 6:44).
As ons moes uitreik na God toe, sal die verbond nooit gebeur het nie, want van nature wend ons ons tot enigiets behalwe tot God. Wanneer die Here van die hemel af kyk om te sien of daar iemand is wat na Hom soek, moet Hy die gevolgtrekking maak: “...daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie” (Ps. 14:3, aangehaal deur Paulus in Romeine 3; sien ook Psalm 53). Maar die Here God kom af na ons, soewerein in Sy mag en genade, en hy vestig met ons hierdie merkwaardige band, wat ons die verbond noem.
Soms word die waarheid van die verbondsverhouding op die volgende manier uitgedruk: die verbond is eensydig in sy oorsprong, maar tweesydig in sy bestaan. Dit beteken eenvoudig dat die verbond deur God se inisiatief ontstaan het, en daarna deur ons aanvaar en nageleef word.
Ons het reeds redes gegee waarom hierdie onderskeid belangrik is. Wat hieronder volg sal nog redes byvoeg.
Die Verbond: God se Inisiatief⤒🔗
Eerstens is hierdie manier van praat bybels, en ons moet leer om bybels te dink en te praat. Kom ons kyk na gedeeltes uit die Ou Testament. Na die sondeval het Adam en Eva nie verlangend gewag vir God om te kom sodat hulle hul sonde kon bely nie, maar hulle het vir God weggekruip, en dit was God wat geroep het: “Waar is jy?” (Gen. 3:9). Hierdie baie belangrike vraag lei tot die ontdekking van sonde, en ook tot God se openbaring oor die oorwinning oor Satan (Gen. 3:15) Daarom bely ons tereg in die Nederlandse Geloofsbelydenis: “Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het” (NGB, Artikel 17). God het daarmee begin en Hy het die inisiatief behou.
Dit lyk met die eerste oogopslag nie of die gebeure in die paradys rondom die sondeval betrekking op die verbond het nie, maar ons sal later sien dat dit baie nou verwant is aan die verbond as soewereine inisiatief van God. Hy sal nie toelaat dat menslike, dierlike of duiwelse pogings die verhouding wat Hy gevestig het in Sy verbond vernietig nie. Die sondeval mag die verhouding verander, maar kan dit nie ontdaan maak nie. Daarom handel God dadelik met verbond-behoudende dade.
Later, toe alle lewende wesens, behalwe dié in die ark saam met Noag en sy gesin, vernietig is in die sondvloed, is dit weer die Here wat optree om sy verhouding met die mensdom voort te sit. In Genesis 9:8 word gesê: “Kyk, Ek sluit ʼn verbond met julle en julle nageslag en met al die lewende wesens by julle..." Dit is ʼn handeling van God: “Ek sluit ʼn verbond...”
Toe Abraham uitgekies is uit die mensdom om die vader van God se volk te wees, word dit ook geskets as uitsluitlik die Here se inisiatief. Inderwaarheid bevestig Abraham se probeersels en beproewings dat hy moet leer om te wag op die Here. Abraham is nie ʼn uitbundige vrywilliger nie, wat uit sy eie wil en sy eie inisiatief gaan om die Here te dien nie; hy word deur God geroep en moet leer om op God te vertrou. En God se mag word baie duidelik: “Ek bring ʼn verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ʼn blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag...” (Gen. 17:7). Die inisiatief behoort aan die Here. Hy roep, en Sy roep is doeltreffend.
God het Israel uitverkies; hulle het Hom nie gekies nie. Moses maak seker dat Israel dit ten volle verstaan voordat hulle die beloofde land binnegaan. “Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit” (Deut. 4:37). God het Israel geroep, en het dit bevestig in Eksodus, ʼn gebeurtenis van redding nagenoeg ongeëwenaard in die geskiedenis van verlossing in die Ou Testament.
Om ʼn verbond met ʼn man en sy nageslagte te vestig word voorgestel as ʼn goddelike voorreg. God is vry om Sy verbond op te rig, en Hy is vry om dit te vestig met wie Hy ook al wil. Die volk van Israel word geleer om dit ten volle te erken: “Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie” (Ps. 147:19,20). Hierdie woorde is nie bedoel om ʼn gevoel van rasse-meerderwaardigheid tussen die Israeliete, as God se uitverkore volk, te skep nie; dit druk net eenvoudig uit hoe bevoorreg Israel is om God se volk te mag wees. Die Israeliete is geseënd bo al die ander volke, en die seën van God vir al die nasies sal slegs deur Israel kom (soos deur God aan Abraham belowe, Gen. 12:1-3).
Ek kies jou←⤒🔗
God neem die inisiatief. In die Nuwe Testament vind ons dieselfde beklemtoning, want die Bybel is ʼn eenheid. Toe Jesus sy apostels aangewys het, word dit soos volg beskryf: “Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom” (Mark. 3:13). Ons Here het Sy dissipels hieraan herinner in die nag wat Hy verraai is, en deur al sy dissipels verlaat sou word: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou” (Joh. 15:16). Almal kon vlug, maar Christus het nie die verkeerde keuses gemaak nie.
Dieselfde element word beklemtoon op die dag van die Pinksterfees, waar die Evangelie die wêreld ingestuur is: “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep” (Hand. 2:39). God sal sy boodskappers uitstuur, en almal wat deur Hom geroep is, sal kom. Mense reik nie uit eie wil daarna uit om ʼn verhouding met God te vestig nie; Hy kom na hulle toe met die krag van die Gees en Sy woord en Hy verbind hulle aan Homself in Christus, Sy Seun.
Ons vind dieselfde beklemtoning in die apostoliese briewe. Paulus skryf: “Broers, ons weet dat God julle wat Hy lief het, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging (1 Tes. 1:4,5; sien ook 1 Kor. 1:26, Ef. 1:4). God neem die inisiatief om na mense toe te kom en hy bly soewerein in Sy handeling met mense. Deur die krag van Sy Gees en woord lei Hy mense om die Evangelie en die heerskappy van Christus te aanvaar. Selfs wanneer ons opgeroep word om saam te werk met God, om aan te hou om ons verlossing met vrees en bewing uit te werk, word bygevoeg: “Dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer” (Fil. 2:13).
Die bybelse manier van praat in die Ou en Nuwe Testament beklemtoon dus duidelik dat die verlossingswerk die werk van God se inisiatief en krag is en bly. In die verbond reik die Vader uit na ons in Sy Seun, deur die Heilige Gees, en eers wanneer dit gebeur kan ons en sal ons kan uitreik na Hom. Ons moet leer om hier meer en meer te praat in bybelse terme, want slegs dan is die grondslag gelê vir ʼn behoorlike begrip van wat God doen en hoe Hy in ons lewens werk.
Aan God alleen die Eer←⤒🔗
Tweedens gee hierdie manier van praat al die eer aan God. Dit mag oorbodig lyk om te sê dat die eer aan God alleen toekom, maar dit is nie. Daar is altyd die menslike neiging om te dink dat ons verlossing, of ten minste ten dele, afhanklik is van wie ons is en wat ons doen. Sommige voel dat menslike verantwoordelikheid geïgnoreer is in die Gereformeerde tradisie, en meer aandag behoort te kry. Hulle argumenteer dat God ʼn verhouding met ons kan vestig slegs as ons van ons kant af so ʼn verhouding wil hê. Die bestaan van die verhouding hang dan geheel of gedeeltelik af van ons aanvaarding daarvan.
Ek sal later aandag gee aan ons verantwoordelikhede binne die verbond. Die menslike element vereis werklik behoorlike aandag. Maar ons is hier besig met die vestiging van die verbond, nie die aanvaarding deur ons of die voortsetting daarvan deur die geslagte nie. Slegs God vestig die verbond. Hy vra nie eers ons toestemming nie, en vra nie of ons belangstel of gekwalifiseer is vir hierdie verhouding nie. Hy toets nie eers om te besluit wie is waardig nie. Hy gaan eenvoudig voort en bring Sy verbondswoorde aan wie ook al Hy wil.
Dié wat deur God aangespreek word as Sy verbondskinders, en wat die verbond met vreugde aanvaar, ervaar dit as ʼn teken van onverdiende genade. Hulle is nie uit hulself geregtig daarop nie. Om die waarheid te sê, dit is opmerklik watter tipe mense God in sy verbond inroep. Die Israeliete is nie deur God gekies oor hul getalsoorwig nie; soos Moses Israel herinner: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal” (Deut. 7:7). Israel was nie ʼn supermoontheid nie, maar ʼn klein, tot slaaf gemaakte volkie.
Die keuse is ook nie gegrond op ʼn hoër morele opregtheid of natuurlike heiligheid wat sommige mense bo ander mag hê nie. Van Israel se hooggeagte voorvaders, Abraham, Nahor en Tera, is geskryf: “Lank gelede het julle voorvaders – onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor – anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien” (Jos. 24:2). Nadat die Here baie beledigings vanaf die Israeliete verduur het, en nadat hy die afgodediens met die goue kalf by Horeb aanskou het – net nadat die wet afgekondig is – sê Hy aan Moses: “Ek het gesien dat dit ʼn opstandige volk is hierdie. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig” (Eks. 32:9,10). God het sekerlik nie die mees samewerkende volk gekies nie.
Baie eeue later moes Stefanus, in sy verdediging voor die Joods Sanhedrin, dieselfde sê: “Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees” (Hand. 7:51). God se volk het dikwels gewys dat hulle ondankbaar, onverantwoordelik en moeilik is. Is dit anders vandag?
Dieselfde word weer in die Nuwe Testament gekry. Die Korintiërs was geneig om meer van hulself en hul spirituele gawes te dink as wat hulle moes, en Paulus het hulle herinner aan hul verlede: “Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie” (1 Kor. 1:26). God se oproep is nie gegrond op geleerdheid, invloed, of edelheid nie. Hy soek nie na potensiële toegewydheid nie. Paulus verduidelik dat God eerder kies dié wat swak en sonder aansien is. Daar is ʼn belangrike rede hiervoor: sodat niemand op homself kan roem nie (1 Kor. 1:29,31). God alleen sal die eer kry vir die verlossing van Sy volk.
In die brief aan die Romeine maak Paulus dit baie duidelik. Die Jode is nie deur die wet gered nie – want hulle het dit nie onderhou nie – en die nie-Jode is nie sonder die wet gered nie – hulle het dit nie geken nie. Ons word almal geregverdig deur geloof alleen. Paulus sê: “Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit” (Rom. 3:27). “Dié wat wil roem, moet in die Here roem” (1 Kor. 1:32; Ps. 44:8).
Onwaarskynlike kandidate←⤒🔗
Inderwaarheid het die Here dikwels by die vestiging van Sy verbond mense gekies van wie dit hoogs onwaarskynlik was om ʼn sukses te wees. As jy ʼn groot nasie wil bou, sou jy ʼn ou man met ʼn onvrugbare vrou kies, soos Abraham (Gen. 11:30)? Uit ʼn menslike oogpunt lyk dit bra belaglik. As jy ʼn inspirerende leier wil kies om jou volk, teen alle menslike waarskynlikheid in, te verlos uit slawerny, sou jy ʼn voortvlugtige soos Moses kies, iemand wat nie eers die taak wil aanvaar nie en baie verskonings het: “Ek kan nie goed praat nie” (Eks. 4:10). Jy sou iemand kies met ʼn imponerende voorkoms en ʼn moedige karakter, eerder as om iemand te kies wat genoem word: “ʼn uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde” (Num. 12:3).
Daar is baie ander voorbeelde. Toe Samuel iemand moes salf om die ongehoorsame Saul te vervang, moes hy eers al die seuns van Isai laat verbykom tot hy by die jongste gekom het, en hy, slegs ’n seun nog, is gekies. (1 Sam 16:7). En toe die profeet Jeremia deur God geroep is, het hy geantwoord: “Ag, Here my God, ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk” (Jer. 1:6). Ons vind weer dat daar geen vrywilligers vir verbondsdiens is nie, dat dié wat ons as die mees geskikte kandidate beskou, oorgeslaan word, en dat mense gekies word wat nouliks gemotiveerd en gekwalifiseerd is vir die taak.
In die Nuwe Testament is dit nie anders nie. Die twaalf apostels was meestal ongeleerde mense van die veragte Galileërs, plattelandse japies sonder enige toerusting vir die taak. Die apostel Paulus, wat aan die voete van Gamaliël, een van die mees geëerde onderwysers in Israel in die eerste eeu, gestudeer het (Hand. 22:3), was self nie ʼn man met ʼn indrukwekkende welsprekendheid en hoë selfbeeld nie. Soos hy aan die Korintiërs skryf: “Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom” (1 Kor. 2:3). Dit is waar dat Paulus groot openbarings ontvang het (weggeruk is na die paradys toe, soos hy sê), maar “daar is vir my ʼn doring in die vlees gegee, ʼn boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan” (2 Kor. 12:7).
Paulus het altyd die reg en waarheid van sy apostoliese bediening verdedig wanneer dit onder aanval was. Maar as dit by homself as persoon kom, het hy sy beperkings geken: “Ons wat hierdie skat (die Evangelie) in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (2 Kor. 4:7).
In die verbondswerk van God kom daar gereeld die onderliggende tema voor wanneer Hy mense kies: “Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige” (Ps. 138:6). Jesus het gesê: “Geseënd is die sagmoediges” (Mat. 5:5). Die Here neem mense wat uit hulself ongeskik vir die taak is, swak toegerus, en ongemotiveerd, en maak van hulle kragtige instrumente in Sy verbondswerk.
As ons praat van “geloofshelde,” soos soms gedoen word, moet ons begryp dat die Bybel nie enige menslike wese ʼn “held” noem nie, tensy die element van menslike grootpratery teenwoordig is. Al hierdie mense, gekies en bemagtig deur God, word eerder getuies genoem (Heb. 12:1), mense wat nie op hul eie krag staatmaak nie, maar in wie se swakheid die krag van God openbaar word. ʼn “Held” vertoon sy eie moed en krag; ʼn “getuie” getuig nie van homself nie, maar van iemand Anders.
Veilig vir die toekoms←⤒🔗
Derdens, die belydenis dat die verbond God se inisiatief is, erken dat sy voortsetting van God afhang, nie van die mensdom nie. As die verbond enigsins van ons afhanklik sou wees, sou dit sy ondergang wees. Maar dit rus in God se soewereine inisiatief, en Hy voltooi wat Hy begin het.
Dit is belangrik om hierop te let. Dikwels word die idee geopper dat God dan wel die eerste stap geneem het om die verbond daar te stel, maar daarna is dit sy volk se verantwoordelikheid vir die voortsetting daarvan. God begin dinge, en ons moet dit voltooi. Weereens, ek is nie hier besig om die groot verantwoordelikheid wat elke verbondskind dra, te ontken nie – ons sal later by die onderwerp van ons verantwoordelikheid in die verbond kom. Die punt hier is dat God, wat die verbond begin het, dit ook vervolmaak. Hy tree weer en weer op om die verbondsverhouding te herstel, om Sy volk die baie nodige bevryding en hernuwing te gee.
By sleutelmomente in die geskiedenis van God se volk, wanneer alles verlore lyk en die pad tot ʼn einde kom, vind ons dat die Here God besliste stappe doen om nuwe weë te open, en dat Hy dit doen vir Sy verbond. Hy het die verhouding met sy volk aangegaan, en dit gedoen met ʼn eed van getrouheid aan Sy eie Naam. Hy bly getrou aan Sy woord.
Die naam Yahweh←⤒🔗
Dit is in hierdie konteks dat ons kan begin om die Naam waarmee die Here hom aan Israel geopenbaar het in die tyd van Moses, te waardeer. Kennis van hierdie Naam is onontbeerlik vir die korrekte begrip van die verbond. Ons lees van die Here se openbaring van Sy Naam in Eksodus 3, waar Moses geroep word om die volk Israel te lei.
Moses het goed verstaan hoe ver die volk van Israel afgedwaal het van die ware diens van God, en hy vra: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?’” (Eks. 3:13).
Ons let op dat toe God Homself aan Abraham openbaar het, dit nie met die naam “Yahweh” was nie, maar met die naam El Shaddai, wat vertaal kan word as “God Almagtig” (Gen. 17:1). In daardie Naam beklemtoon God aan Abraham die soewereine mag waarmee Hy al Sy beloftes sal vervul. God kan doen wat Hy wil doen, want Hy is die Almagtige God.
Dit is moontlik dat die naam El Shaddai nooit werklik gefunksioneer het onder die Israeliete nie. Wat op hierdie stadium belangriker is, is dat toe God Homself aan Israel via Moses openbaar het as Yahweh, Hy dit gedoen het om Sy getrouheid as God van die verbond te beklemtoon. Israel mag al lankal vergeet het, maar die Here onthou steeds die beloftes wat aan Abraham, Isak en Jakob gemaak is. Die rede waarom God nou kom om Sy volk te verlos, is die gevolg van Sy getrouheid aan die verbond. Die fokus is nie op wat Israel verdien nie, maar op wat God belowe het.
Die naam Yahweh kom vanaf die werkwoord “om te wees” en kan soos volg vertaal word: “Ek is” of “Ek is wat ek is” of moontlik “Ek sal wees wie ek wil wees.” Hierdie naam identifiseer God as die enigste lewende God. In teenstelling met die gode van die nasies, wat afgode is, is slegs Hy die ware God, wat beslissend optree tot die voordeel van Sy volk. “Ek is” impliseer dat die ander “nie is nie”, dit wil sê, nie eers bestaan nie. Daar mag duiwelse magte agter die afgode wees (1 Kor. 10:19-22), maar duiwels het geen goddelike vermoëns nie.
Die Naam identifiseer die lewende God as een wat nie verander nie: Ek is wat Ek is, dit wil sê, Ek is getrou, betroubaar, Ek onthou altyd My verbond. Die gode van die nasies kan nie vertrou word nie; hulle het nog nooit ʼn verbond met hul mense aangegaan nie. In heidense godsdienste is die gode ʼn onbekende entiteit waarvan die willekeurige aksies nooit ten volle voorsien kan word nie, wat een dag so sê en die ander dag sus sê. Die gode is nie lojaal teenoor hul mense nie en moet altyd gepaai word as hulle hul guns moet bewys. Heidense volke weet: gode kan nie werklik vertrou word nie; dit is beter om hulle soveel as moontlik te vermy. Heidene verkeer altyd in onenigheid met hul gode.
Maar die Here is waar en getrou aan Sy beloftes; Sy volk kan Hom vertrou. Hy is altyd dieselfde, nie in die filosofiese sin dat Hy deur niks geraak word nie, maar in die sin dat Hy altyd getrou is aan Homself, aan Sy woord. Daarom identifiseer die naam Yahweh die Here God as die God van die verbond.
Sien ook Eksodus 3:15: “Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.”
Dit is merkwaardig dat een van die hoofwoorde wat verband hou met hierdie Naam van God, die woord “getrouheid” is. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, chesed, kan baie dinge beteken, soos liefde, goedhartigheid en genade, maar dit dui altyd op die genadige getrouheid van die Here aan Sy woord, aan sy verbond. Dit is die diepte van die refrein van Israel se lof: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde (chesed) is daar geen einde nie” (Ps. 136:1). Die God wat die verbond gevestig het, bevestig dit ook en bly getrou daaraan. Dit is waarom daar altyd ʼn toekoms vir God se gehoorsame kinders is.
←⤒🔗
Verbondsekerheid←⤒🔗
Die volk van Israel kon reken op God se verbondstrou. Dit was nie ʼn outomatiese waarborg wat die vereiste van Israel se positiewe reaksie ongedaan gemaak het nie. Maar die punt is weereens dat hierdie getrouheid nie van menslike aksies afhang nie, maar van God se eie belofte.
Ook in die Nuwe Testament word hierdie element van sekerheid beklemtoon. In die brief aan die Hebreërs lees ons dat toe God Sy beloftes aan Abraham gemaak het, Hy dit onder eed gedoen het. Hy het by Homself gesweer omdat hy niemand groter gehad het by wie Hy kon sweer nie. Daarom het Hy dit met ʼn eed by Homself bevestig en gesê: ‘Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ʼn baie groot nageslag gee’.” (Heb. 6:13,14). Die Here God het met ʼn rede ʼn eed gesweer. Dit was “omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ʼn eed gewaarborg (Heb. 6:17). God lê ʼn eed af – Hy is ernstig oor Sy verhouding met Sy volk.
En dit is nie iets wat net waar is onder die ou verbond nie, Die skrywer van die brief aan die Hebreërs pas hierdie sekerheid vrylik toe op die Nuwe-Testamentiese kerk: “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ʼn kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is” (Heb. 6:18). Inderwaarheid is ons sekerheid in die nuwe verbond op geen manier minder as wat dit onder die oue was nie. Dit is groter, want ons leef nie onder die (tydelike) priesterskap van Aaron nie, maar onder ons Here Jesus Christus, wat vir altyd priester is volgens die (blywende) orde van Melgisedek.
Die sekerheid van God se verbond en beloftes lê in God self, in Sy eie eed en woorde, in die diepte van die naam Yahweh, in Jesus Christus, die Middelaar van ʼn beter verbond.
Jesus en die naam van Yahweh←⤒🔗
Dit is nou belangrik om op te let hoe ons Here Jesus die naam Yahweh (“Ek is”) op homself van toepassing gemaak het, en daardeur aangedui het dat die verbond in Hom die finale sekerheid kry. Christus het dikwels die uitdrukking “Ek is” gebruik, gevolg deur verskeie verreikende uitsprake. Ek is die brood van die Lewe (Joh. 6:35), Ek is die lig van die wêreld (Joh. 8:12; 9:5), Ek is die deur (Joh. 10:7), Ek is die goeie herder (Joh. 10:11 e.v.), Ek is die opstanding en die lewe (Joh. 11:25), Ek is die weg, die waarheid en die lewe (Joh. 14:6), Ek is die ware wingerdstok (Joh. 15:1). Al hierdie uitdrukkings impliseer die onmiskenbare aanspraak: Ek is die Seun van die lewende God, en daarom goddelik! Slegs Yahweh kon so van Homself praat.
Hierdie aanspraak is baie duidelik gemaak in Christus se bespreking met die Jode oor Sy oorsprong en gesag (Joh. 8). Toe Jesus Homself verklaar as “die lig vir die wêreld” (Joh. 8:12) het die Jode Hom gewaarsku om nie Sy eie getuie te wees nie. Jesus het daarna gepraat oor Sy Vader, wat getuienis oor Hom lewer, en het verduidelik dat Hy van bo kom, en dat slegs Hy hulle kan verlos. Die Jode het gereageer dat hulle vry is, as kinders van Abraham. Maar Christus het hulle gewaarsku dat, hoewel hulle kinders van Abraham was, hulle nie soos kinders van Abraham optree nie, want hulle beplan om Hom dood te maak. Daarna het die Here openbaar dat Hy voor Abraham was en bokant Abraham is. Hulle het Hom bespot en gesê: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is” (Joh. 8:58).
Die Here Jesus sê nie “Ek was” of “Ek sal wees” nie, maar “Ek is”, en daardeur pas Hy die naam van God op Homself toe, en daardeur eis Hy alles wat goddelik is op. Dit is geen wonder dat die Jode klippe opgetel het om Hom te stenig nie, want as dit nie waar sou wees nie was dit ernstige laster wat die dood verdien het.
Maar dit is waar. Jesus Christus is ten volle en werklik goddelik, en Hy het gekom om die verbond van God vir altyd deur Sy enige offer aan die kruis te vestig, deur Sy eie bloed wat die versoening vir al ons sondes sou wees. In Hom vind die werklikheid van die verbond sy volledige vervulling en voltooïng.
God maak klaar met wat Hy begin het←⤒🔗
As gevolg van God se getrouheid in die verbond, kan ons altyd verseker wees dat Hy die werk wat Hy begin het, sal voltooi. Israel is oor en oor daarvan verseker, en hulle het geleer om daaroor te sing. Ten spyte van al die beproewinge en moeilikhede van die lewe, mag ons ook sê en bid: “Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie” (Ps. 138:8).
Die profeet Jesaja kon ook vir Israel aanmoedig en vertroos met die kennis dat God sal klaarmaak met wat Hy begin het. Ek dink hier aan Jesaja 46:8-10: “Dink hieraan en luister, neem dit ter harte, julle oortreders. Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.” God se doelwit sal altyd vervul word.
In die profete (in besonder Jesaja en Jeremia) kry ons dikwels die idee van ʼn oorblyfsel wat gespaar word en uit ballingskap terugkom. God se toorn oor die aanhoudende ongehoorsaamheid van Sy volk – hul verharding in sonde – is regverdig en streng, en tog, in Sy genade, behou en herstel Hy ʼn oorblyfsel waaruit Hy weer Sy volk sal bou. Wanneer God die volk geoordeel en gereinig het, “Sal daar ʼn oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob” (Jes. 10:21). Daar is baie wat gesterf het; slegs ʼn oorblyfsel keer terug, maar die Here behou in Sy genade die lyn van Sy verbond.
Die verbond is nie ʼn tydelike reëling nie; dit is ewigdurend: “Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom” (Ps. 103:17). Dit is soos God reeds met Abraham gepraat het: “Ek bring ʼn verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ʼn blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen. 17:7). Die verbond is deur God se mag en Sy getrouheid gemaak vir ewig. Dit is vir ewig want God is ewig. Dit bly in stand omdat God getrou is. Dit is opmerklik hoe dikwels en hoe duidelik die Bybel hierdie aanspraak maak.
Weereens is dit in die Nuwe Testament nie anders nie. God het nie verander nie, Hy is steeds die ewige God en sy verbond duur steeds vir altyd. As daar ʼn verandering is, is dit dat die beloftes selfs sekerder is noudat Christus uit die dood opgestaan het, en hel en graf oorwin het. Die Here Jesus Christus het belowe, net voor sy hemelvaart: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat. 28:20). Dit is ook verwesenlik in die uitstorting en blywende teenwoordigheid van die Heilige Gees: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid” (Joh. 14:16,17).
Daarom, as dit kom by die sekerheid van verlossing, kan Paulus aan die Filippense die wonderlike woorde skryf: “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink — en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap — oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe, omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ʼn goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil. 1:3-6). God maak klaar met wat Hy begin het, ook in Filippi.
Jesus: Leidsman en Voleinder van ons Geloof←⤒🔗
Dit alles vind sy fokus en kern in Jesus Christus. Waar die skrywer aan die Hebreërs verwys na die groot (groter) skatte wat God se volk in die nuwe verbond geniet, rig hy hulle op die Here Jesus Christus. Die Here is groter as die engele, meer as Moses, die een en ewige Hoëpriester van ʼn nuwe verbond, en die een offer vir almal. In Hebreërs 2:2 word ons Here genoem “die Leidsman en Voleinder van ons geloof.”
Dit is baie opmerklik dat net na die omvattende en indrukwekkende lys van gelowiges en die vrugte van hul geloof, ons nie opgeroep word om hierdie gelowiges as ons voorbeelde te neem nie, maar daar word aan ons gesê: “vestig die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:2). Hy is die Middelaar en sekerheid van die nuwe verbond, en ons moet na Hom opkyk, van begin tot einde.
Voor ons hierdie artikel afsluit, wil ons eers die belangrike woorde, Leidsman en Voleinder, van nader ondersoek, want hulle maak dit duidelik dat die (verbonds)verhouding met God nou gevestig is deur Christus, gevoed word deur Christus, en vervolmaak is deur Hom. Omdat dit van Yahweh gesê word dat hy die eerste en die laaste is, net so word dit gesê van Christus dat Hy die leidsman en voleinder is, die alfa en omega, die begin en die einde (sien ook Openb. 22:12,13).
Christus word genoem die leidsman van ons geloof. In Hebreërs 2:10 word Hy (in breër terme) genoem die bewerker van ons saligheid. Die woord leidsman kom net vier keer voor in die Nuwe Testament, twee keer in Hebreërs en twee keer in Handelinge. Die woord word dikwels vertaal as “pionier” of “baanbreker”, iemand wat voor sy mense uit gaan om pad vir hulle te maak. Hy het die verbond moontlik gemaak, het dit vasgemaak deur sy lyding en dood, en het voor ons uit gegaan na die hemel toe. Daar sit Hy aan God se regterhand en bewerk nou die geloof in ons, sodat ons deur hierdie geloof Hom mag volg tot waar Hy is.
Christus is die een wat aan ons die geloof gee wat nodig is om Hom te volg. Die inisiatief behoort aan die Here. Terselfdertyd word Christus die “voleinder” van die geloof genoem. Die woord wat hier gebruik word dui op die bereiking van ʼn doelwit wat vir ons gestel is. Die skrywer het verwys na: “die wedloop wat voor ons lê” (Heb. 12:1). Ons moet ʼn vooraf opgestelde baan volg. Dit is Christus wat aan ons die energie gee om die resies te begin, sodat ons die uitdaging kan aanvaar. Dit is dieselfde Christus wat ten tye van die moeilike resies by ons is, en ons by die wenpaal bring. Dan, aan die einde van alles, kan ons Hom die eer toebring vir die resies wat ons gehardloop het, en dat ons dit kon voltooi.
ʼn Konsekwente lyn←⤒🔗
Ons het gesien dat die Bybel konsekwent toon dat God die inisiatief neem en soewerein sy verbond vestig met wie Hy ookal uitkies. As God ʼn verbond oprig, bly Hy getrou daaraan en doen dit ten volle gestand.
Die groot inisiatief van God vind sy vervulling en vervolmaking in Jesus Christus, die een en enigste middelaar tussen God en mens (1 Tim.2:5). Ons sekerheid lê nie in ons powere menslike pogings nie, maar in die soewereine inisiatief en volmaakte werk van God in Christus. Dit moet altyd die sleutelonderwerp wees by besprekings rondom die verbond.