Wat is ʼn Verbond?
Wat is ʼn Verbond?
Noudat ons gesien het hoe die verbond deur God se soewereine inisiatief ontstaan het, sal ons nou poog om te verstaan waaruit dit bestaan en wat dit behels. Die woord verbond beteken bloot ʼn amptelike ooreenkoms of reëling wat deur twee (of meer) partye aangegaan word en waaraan hulle van daardie oomblik af gebind is. ʼn Verbond is veronderstel om tot voordeel van al die betrokke partye te wees, en sluit behalwe verantwoordelikhede ook spesifieke voorregte in. Dit is die spesiale mengsel van beloftes en verpligtinge wat die verbond van God so ʼn wonderlike verhouding maak.
Dit is belangrik om te onthou dat dit God behaag om in ʼn verbond met ons te tree en Homself tot sekere verpligtinge te verbind. Ons genadige God is nie bevrees vir ʼn persoonlike verpligting nie. Hy vra dieselfde insette van ons.
ʼn Verbond is ʼn bindende ooreenkoms⤒🔗
Die eerste en basiese verbond in die Bybel is dié tussen God en Sy volk. Ons lees ook van verbonde wat tussen mense aangegaan is, maar dit is ʼn weerspieëling van die verbond wat God met ons gemaak het. Die oorsprong van die Hebreeuse woord vir verbond, berith is onduidelik, maar dit het ʼn baie sterk konnotasie van lojaliteit teenoor mekaar. Die Griekse woord diatheke, wat deur die Septuagint konsekwent vertaal is as berith, dui ʼn wetlike ooreenkoms aan waar twee partye deur ʼn eed verbind is. Daar moet opgelet word dat die Nuwe Testament nie die algemene woord vir verbond, wat syntheke is, gebruik nie, maar om die idee te vermy dat die partye in die verbond gelyk is, gebruik dit ook die woord diatheke. God maak sy verbond op ʼn soewereine wyse met dié wat Hy geroep het.
ʼn Belangrike voorbeeld hiervan is die huwelik, die mees intieme menslike verhouding, wat die “huweliksverbond” in Maleagi 2:14 is. Die eenheid tussen man en vrou word later deur Paulus ʼn “diep geheimenis” genoem, in soverre dit iets wys van die eenheid tussen Christus en die kerk (Ef. 5:32). God beskou ʼn verbond as ʼn ooreenkoms wat eerbiedig moet word. Ons leer van Hom hoe ons verhoudings gereël moet word.
As ʼn bindende ooreenkoms tussen twee (of meer) partye, vestig die verbond ʼn sekere orde. Dit maak ʼn einde aan onsekerheid en lei tot ʼn toestand van lojaliteit en vertroue. Ten minste, dit is die doel. Spesifieke voorregte en verpligtinge word amptelik erken. Wanneer ons van die verbond praat is dit belangrik om hierdie wetlike, amptelike karakter te erken. Soms word die byvoeglike naamwoord forensies in verband met die verbond gebruik om aan te toon dit regterlik (wetlik) daargestel is en ten volle bindend op die partye is.
Gewoonlik word ʼn verbond tussen mense gemaak om ʼn geskil tussen twee partye te besleg, of om lojaliteit en betroubaarheid te bevestig. So het Jakob en Laban, byvoorbeeld, ʼn verbond gemaak om die verskille wat tussen hulle was te besleg, en hulle het onderneem om mekaar nie skade aan te doen nie (Gen. 31). Nog ʼn voorbeeld is Dawid en Jonatan: hulle het ʼn verbond gemaak dat hulle altyd op mekaar kan reken ten spyte van die verslegtende krisis met koning Saul. Hulle het nie eintlik die verbond nodig gehad nie, want hul onderlinge liefde was duidelik, maar die gelofte voor God was meer bindend as hul liefde vir mekaar.
Om ʼn verbond aan te gaan is ʼn belangrike en plegtige gebeurtenis. Ons vind daarin die volgende elemente. Eerstens word daar ʼn duidelike teken gegee, of ʼn gedenkteken word amptelik opgerig, om die geleentheid te bevestig. Dit is belangrik om op te merk dat die funksie van die teken is om altyd na die wetlike en amptelike karakter van die verbond te wys. Tweedens word daar bepalings en ooreenkomste aangegaan waardeur albei partye van daardie oomblik af gebind is. Derdens word daar ʼn eed afgelê in die naam van die Here. Soos Laban sê: “...God sal getuie wees in die saak tussen ons” (Gen. 31:50). Laastens word ʼn offer gebring en saamgeëet om die gemeenskap tussen die partye te bekragtig.
ʼn Verbond mag nie verbreek word nie←⤒🔗
ʼn Verbond moet as ʼn durende verpligting wees wat nie verbreek mag word nie. As verbonde gereeld verbreek word, val die wese van die gemeenskap uitmekaar en chaos is naby. Die sosiale aspek is nog belangriker want ʼn verbond word gewoonlik nie aangegaan met familielede nie, maar met mense met wie mens nie natuurlike bande het nie. ʼn Verbond is gewoonlik nie nodig tussen familielede nie, want daar bestaan alreeds ʼn bloedverhouding. ʼn Verbond word tipies gemaak met dié waarmee daar nie voorheen bande was nie.
Die raamwerk van ʼn verbond bepaal baie aspekte van ʼn gemeenskap. Onderlinge verpligtings, en in werklikheid die hele struktuur van lewe, word beheer deur verbond(e) wat aangegaan is. Ons moet in staat wees om mekaar te vertrou in ooreenstemming met die gegewe beloftes. As dit nie meer die geval is nie, kom die samelewing in ʼn situasie in wat soos volg beskryf kan word: “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” (Ps. 11:3).
ʼn Verbond is so sterk dat dit oor dood heen en selfs deur geslagte heen geldig is. Dis nie toevallig so nie, maar staan sentraal tot die idee van ʼn verbond. Die verpligtings en voorregte van die vorige geslag word erken en opgeëis deur die opvolgende geslag. Inderwaarheid bind ʼn verbond geslagte saam en is ʼn deurlopende faktor in ʼn steeds-veranderende wêreld.
Die ooreenkoms wat gemaak is tussen die Israeliete en die Gibeoniete is ʼn voorbeeld van die krag van ʼn verbond wat oor geslagte strek. Die Gibeoniete het, heeltemal tereg, afgelei dat hulle nie die Israeliete met krag sal kan weerstaan nie. Hul bestaan as ʼn volk was bedreig. Dus het hulle met lis opgetree (Jos. 9:3 e.v.). Hulle het daarin geslaag om Josua en die leiers te mislei om ʼn verdrag (letterlik, ʼn verbond) met hulle te sluit. Toe dit later duidelik word dat die Israeliete bedrieg is, en die volk teenoor hul leier gekla het, het die leiers geantwoord: “Ons het ʼn eed teenoor hulle afgelê voor die Here die God van Israel. Ons kan hulle nie nou aanval nie” (Jos. 9:19). Die verbond met die Gibeoniete en hul afstammelinge moes nagekom word. Die feit dat dit deur bedrog verkry is, het dit duidelik nie tot niet gemaak nie. Die Gibeoniete kon nie die blaam kry vir hul misleiding nie, want hulle het uit selfverdediging opgetree; die Israeliete is verantwoordelik gehou vir die misleiding, want “hulle het nie die Here geraadpleeg nie” (Jos. 9:14). Die gegewe eed is geldig (Num. 30:2; Pred. 5:4,5).
Dié wat in ʼn verbond met mekaar tree is deurlopende lojaliteit aan mekaar verskuldig, en moet altyd goedheid en getrouheid aan mekaar toon. Dink aan die woord chesed wat ek reeds vroeër genoem het. God pas dit op Homself toe, maar dit is ook van toepassing op ons. Weer en weer moet dié wat die verbond aangegaan het, mekaar in genade hanteer, want dit is die manier waarop God Sy volk hanteer.
Aangesien die verbond ʼn band is wat nie verbreek mag word nie, kan God se volk altyd hul vertroue in Hom stel. Israel was verseker van God se getrouheid en is aangemoedig om van sy barmhartigheid te sing: “Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.“ (Ps. 40:4). Selfs in tye wanneer God se naderende oordeel aangekondig is, kon die profete steeds die regverdiges oproep tot voortgesette vertroue in God wat nie Sy verbond sal versaak nie: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel..." (Jer. 17:7).
Psalm 90 beklemtoon baie duidelik dat die verbond van God deur die eeue heen as ʼn permanente verhouding bestaan: “Here, U was vir ons ʼn toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God” (Ps. 90:1,2). Dit is dus nie ʼn wonder dat hierdie psalm ʼn gunsteling van God se kinders is nie, wat dikwels gelees word wanneer ons gekonfronteer word met die verbygaande tyd, soos byvoorbeeld op Oujaarsaand. Alles mag verander, tyd mag vlieg, maar God bly vir altyd dieselfde vir Sy volk. Ons het met Hom ʼn ewige, onveranderlike verbond.
In die Nuwe Testament word hierdie vertroue selfs groter in Jesus Christus: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb. 10:23). Ons kan God vrymoedig en met vertroue nader (Ef. 3:12; Heb. 4:16), want ons het in Christus die volmaakte Hoëpriester wat die groot offer vir sonde gebring het.
Die woorde “vertroue” en “vrymoedigheid” in Hebreeus hou verband met wortel van die woord AMEN. Die verbond is so ʼn sterk band dat God se volk altyd AMEN daarop kan sê en in geloof aanspraak kan maak op alles wat God belowe het. Die apostel Paulus skryf: “Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” kan sê” (2 Kor. 1:20).
ʼn Verbond bring vrede←⤒🔗
Die gevolg van ʼn verbond is dat dit ʼn einde maak aan vyandighede en onsekerhede, en lei tot ʼn toestand van vrede. Die Hebreeuse woord vir vrede, shalom, som hierdie verbondsverhouding op. Vrede is die allerbelangrike voorwaarde vir die ontwikkeling van lewe. Net waar vrede heers kan lewe floreer en geniet word.
Die woord vrede beteken meer as net ʼn gebrek aan vyandigheid of die afwesigheid van oorlog. Vrede het te doen met volkomenheid, goedheid, voorspoed en oorvloed. Daar is slegs vrede as alles goed gaan, as alles werk soos dit moet, en as alle verpligtinge deur almal nagekom word.
Die element van vrede is so belangrik dat die Here by verskeie geleenthede die uitdrukking “my vredeverbond” gebruik. Toe Pinehas, Aaron se kleinseun, ʼn Israelitiese man en ʼn Midianitiese vrou wat op heterdaad betrap is in owerspel, doodgemaak het en sodoende die pes wat in die laer gewoed het, stopgesit het, het die Here gesê: “Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond, en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het” (Num. 25:12, 13, 1953 Afr. vertaling).
In Jesaja 54:10 lees ons: “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou lief het.” Die term vredeverbond kom dikwels voor in situasies waar die Here opgehou het om Sy volk te straf vir hul sondes en weer aan hulle sy liefdevolle goedheid (chesed) toon. Die toestand van vyandigheid tussen Hom en Sy volk kom tot ʼn einde deur behoorlike boetedoening en hernuwing. God soek vrede met en vir Sy volk.
Hierdie vredeverbond verwys in besonder na God se verlossende werk in Jesus Christus. Byvoorbeeld, in Esegiël 34 word gepraat van die beëindiging van ʼn tyd van uitbuiting en plundering deur valse herders, en daar word belowe dat die Here self ʼn nuwe tyd van voorspoed sal bring: “Ek gaan vir hulle net een herder aanstel, en hy sal vir hulle sorg: my dienaar Dawid. Hy sal vir hulle sorg, hy sal vir hulle ʼn herder wees. Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê. Ek sal met hulle ʼn verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring. Ek sal die roofdiere uitroei uit die land sodat my kleinvee veilig kan wees in die weiveld en in die bosse kan slaap” (Eseg. 34:23-25).
Dieselfde element kry ons weer in Esegiël 37, waar die volle herstel en vereniging van Israel beskryf word en dat dit sal plaasvind waar “my dienaar Dawid hulle regeerder vir altyd sal wees”. En dan lees ons in Esegiël 37:25-26: “Ek sal met hulle ʼn verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring, ʼn verbond wat altyd sal bestaan. Ek sal hulle baie laat word en my heiligdom tussen hulle oprig om altyd daar te wees. My woonplek sal by hulle wees; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.”
Dit is belangrik om kennis te neem hoe hierdie gedeelte later deur Christus op Homself van toepassing gemaak is. “My dienaar Dawid” is hierdie groot Seun van Dawid, wat die vredeverbond sal daarstel. Daarom kan die engel vir Maria sê oor die kind wat gebore gaan word: “Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:32,33).
Dit sien ook vooruit na die terugkeer van ons Here in Sy heerlikheid, wanneer ons getuies sal wees van die volle vervulling van Sy belofte: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal Sy volk wees, en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openb. 21:3). Die uitdrukking vredeverbond verwys uiteindelik na die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar ons vir ewig volmaakte vrede en vreugde sal ervaar. In die Bybel is daar ʼn deurlopende verwysing na die nuwe Jerusalem. In elk geval is dit duidelik dat al twee die terme “ewigdurend” en “vrede” van toepassing is op die verbond van God oor al die tye. Die verbond verwag en wag op die groot en finale vrede wat deur God aangebring sal word en vir altyd deur God se volk geniet sal word.
Die volle priesterlike seën←⤒🔗
Die woord vrede beskryf ʼn eensgesinde gemeenskap waar elkeen sy plig met toewyding en liefde vervul en die hele lewe geseënd is. Die vrede is ʼn seën wat verkry word deur die verbond van God. So kan ons dus verstaan hoekom die engelekoor in die nag wat Jesus gebore is, gesing het van vrede op aarde want die Prins van Vrede het gekom! Die groot gawe wat Jesus Christus sal gee is ewige vrede tussen God en Sy volk deur die eenmalige offer aan die kruis. Dit is Christus wat na sy unieke offer aan sy dissipels kan verskyn en sê: ”Vrede vir julle” (Joh. 20:19,21). Ek sal later na hierdie gedeelte toe terugkom.
Om dieselfde rede kan die apostoliese prediking ondubbelsinnig sê: “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom. 5:1). Dit is ʼn “vrede van God wat alle verstand te bowe gaan” (Fil. 4:7). Die hoogtepunt van die priesterlike seën: ”die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” (Num. 6: 22-26), vind ook weerklank in die apostoliese begroeting en seën: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus” (Ef. 1:2).
ʼn Definisie van die Verbond←⤒🔗
Al hierdie voorgaande laat ons nou toe om die verbond wat God met Sy volk maak, te definieer. Dit is nie allereers ʼn formele kontrak nie, maar ʼn lewende verhouding waar twee partye, God en Sy volk, voortdurend in wisselwerking is. Moontlik die duidelikste omskrywing hiervan vind ons in Deuteronomium 26:17-19: “Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister. Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam, dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel en aan jou meer lof en roem en eer sal gee as aan hulle, en dat jy ʼn volk sal wees wat aan die Here jou God gewy is soos Hy beloof het.”
Die Nuwe Testament praat in soortgelyke terme van die kerk as “almal wat aan Hom behoort” (Ef. 1:14), as ʼn “uitverkore volk” (1 Pet. 2:9) , en as ʼn “koninkryk en priesters vir ons God” (Openb. 5:10). Die apostel Paulus skryf: “Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen” (Titus 2:14). Die kerk is Christus se eie volk, God se besitting, ʼn volk wat werklik God se volk wil wees, ʼn koninkryk waar elkeen ʼn priester is, onderworpe aan God en aan Hom toegewy.
Daarom (om uit te brei op ʼn vorige definisie) is die verbond ’n lewende liefdesverhouding tussen God en Sy volk, waarin die Here verklaar dat Hy ons God is en ons sal versorg, en ons verklaar dat ons Sy volk is wat hom vol vreugde, volgens Sy woord, sal dien. Die inhoud van die verbond is: Ek is jou God; ons is U volk!.
Hierdie is slegs ʼn eenvoudige definisie. Baie belangrike aspekte, in besonder uit ʼn Christologiese oogpunt, kan bygevoeg word en moet ingevul word om die hele prentjie te voltooi. Maar ons moet in eenvoudigheid begin: die verbond is ʼn lewende liefdesverhouding tussen God en Sy volk.
Ek is jou God. Die Here moet erken en gedien word as die lewende God deur dié wat in Sy verbond geplaas is, en ons moet Hom liefhê.
Ons is U volk. Ons moet só lewe, in ooreenstemming met Sy gebooie, dat Hy waarlik en ten volle deur ons geëer word.
Dit moet ʼn lewende verhouding wees. Dan sal dit ook ʼn blywende verhouding wees.
Christus in die Middelpunt←⤒🔗
In die 1940’s het Dr. S. Greijdanus, professor in die Nuwe Testament by die Teologiese Universiteit in Kampen, Nederland, ʼn definisie van die “genadeverbond” gegee. Dit mag nuttig wees om kennis te neem van hierdie definisie. Greijdanus skryf: “Onder God se genadeverbond verstaan ons die genadige verordening van God betreffende, vir, en met die gevalle mens, met die oogmerk om hom te herstel tot ʼn toestand van ewige verlossing, deur die gee en stuur van sy eniggebore Seun in ons vlees, en in ons toestand van skuld en ellende. Hy het dit in die paradys aangekondig, dit as ʼn verbond aan Abraham gegee, dit bevestig en verorden vir Israel by Sinai, dit deur al die eeue in stand gehou vir Sy volk in ʼn onverbreekbare verhouding van belofte en eise, en dit uiteindelik bevestig as onherroeplik in die werk van versoening en verlossing deur die Middelaar van hierdie verbond, die Here Jesus Christus, die Seun van God, wat in ons vlees gekom het, vir ons sondes gesterf het, opgewek is vir ons regverdiging, en die hele verlossing van hierdie verbond vir ons verkry het, wat Hy versprei en toepas deur Sy Heilige Gees” (aangehaal deur J. Kamphuis, An Everlasting Covenant, pp. 73,74).
Dis geskryf in die tipiese styl van daardie era en lyk vandag omslagtig, maar daar was sekere elemente wat Greijdanus moes insluit omdat dit ʼn rol gespeel het in die debatte van daardie tyd oor die verbond (en die Heilige Doop). Terloops, ek wonder of dit reg is om in formele terme van die verbond te praat as ʼn verordening. Dis waar, dit steun op ʼn goddelike verordening, maar ek verkies die woord verhouding omdat dit meer reg laat geskied aan die dinamiek van die verbond.
Nogtans is Greijdanus se definisie om twee redes belangrik. Eerstens moet ons oplet hoe dit klem lê op die glorieryke posisie van Christus as Middelaar. Christus staan in die middelpunt van die geskiedenis van die verbond, wat God en Sy volk weer verenig. En tweedens sien ons hoe Greijdanus beide die deurlopendheid en die vordering in die geskiedenis van die verbond beklemtoon. Dit is steeds dieselfde verbond, maar in daardie verbond is daar verskeie bedelings, waar elke nuwe een ryker is as die voorafgaande een. In ʼn latere hoofstuk sal ons verder na hierdie belangrike aspekte kyk.
ʼn Verbondsvolk←⤒🔗
Ons moet weereens oplet dat God nie ʼn verbond aangaan met ʼn enkele persoon, of met uitgesoekte individue nie. Wanneer Hy dit met iemand oprig, sluit dit altyd uitdruklik sy gesin, sy familielede, ja, al sy afstammelinge in. In die begin het God reeds vir die mens gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder ...”, en dit is duidelik dat die beloftes en eise van die verbond wat aan Adam gegee is, ook van toepassing is op toekomstige geslagte. Die mens moet God dien en heerskappy uitoefen oor die aarde, en God sal vir die mens en sy kinders die nodige voorsien. In hierdie verband is God se verbond ʼn verreikende ooreenkoms: dit oortref persoonlike en wêreldse grense.
Dit is duidelik in God se handelinge met Adam en Eva in die paradys. In die tyd van die sondvloed word dit duidelik uit die beloftes wat aan Noag gegee is. Ons sien dit weereens in die verbond wat met Abraham gesluit is, asook waar dit by Sinai hernu is. God maak vir Homself ʼn volk bymekaar, uitverkies uit al die ander, wat verpligtings teenoor Hom en teenoor mekaar het, wat ʼn gemeenskaplike band deel, en dieselfde regte en pligte voor God het. Elke geslag het deel aan die rykdomme van die vaders, en is verplig om die voorskrifte wat aan hul vaders gegee is te hou.
Die verbond word gesluit met ʼn volk wat met ʼn versamelnaam genoem word: die erfgename van God, die wingerd, die gemeente, die kudde van Jesus Christus. Hierdie volk is vir seker saamgestel uit individuele persone – en elkeen moet persoonlik reageer op God se verbondsroeping – maar die verbond self omvat al dié wat aan die volk van Sy keuse behoort, wat binne die verbond gebore is, en daarbinne lewe.
Dit beteken nie dat dié wat in hierdie volk gebore is, outomaties gered is nie. Maar vir seker is dit ʼn vaste grondslag waarop alle verbondskinders aangespreek word, om hulle te bemoedig om al hoe meer te word wat hulle in werklikheid is: God se verbondskinders.
Omdat die gelofte met ʼn volk gemaak is, en gemeenskap met ander kinders van God insluit, is verbondsonderrig en -denke altyd van nature verbondsgebonde: die individu vind sy of haar plek in die liggaam van God se volk. Ons is dus verantwoordelik vir mekaar en kan mekaar aanspoor.
Ten alle tye moet die eenheid van God se volk beklemtoon, behou en beleef word, nie as ʼn formaliteit nie, maar as ʼn werklikheid, iets wat ons handelinge reguleer. Verbondsdenke ontken nie enigsins die behoefte aan persoonlike geloof nie, maar vermy die individualisme wat deesdae so aan die orde van die dag is.
Die Verbond: ʼn intieme verhouding←⤒🔗
Dit alles bring ons tot ʼn belangrike waarneming: die verbond van God is nie ʼn formele en koue verhouding nie; dit is een waarin die God se nabyheid erken en ervaar word. Immanuel: God met ons. Die verhouding met die Here, die daaglikse kontak met Hom, is diepgaande en persoonlik, en baie innig. Ons kan praat van verbondsintimiteit. Dié wat deel is van Sy verbond en die Here erken as hul Verbondsgod, is Sy kinders, Sy vriende.
Iets van hierdie nabyheid vind ons in Genesis 18, toe God by Abraham besoek afgelê het op pad na Sodom toe. Soos hulle gestap het, sê die Here by Homself: “Sal ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen?” (Gen. 18:17). Daarna vertel die Here vir Abraham van Sy planne, en vra Abraham se insette en voorspraak. ʼn Wonderlike gesprek volg daarop, waar God werklik met Abraham kommunikeer.
Dit is verbasend hoe naby aan en openlik God met Abraham is. Hoewel daar dikwels na Abraham verwys word as die Here se dienaar, is hy ook bekend as die Here se vriend. ”Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend” (Jes. 41:8, Afr 53). Daar is tussen God en Sy verbondskinders so ʼn noue band dat dit bo aardse grense verhewe is. Sien ook Jakobus 2:23: “...en hy [Abraham] is ʼn vriend van God genoem.”
Ons lees in Psalm 25:14 dié opvallende woorde oor die intimiteit tussen God en Sy kinders: “Die Here neem dié wat Hom dien, in Sy vertroue en maak Sy verbond aan hulle bekend.” Dit lei daartoe dat ons alles van die Here verwag: “My oë is altyd op die Here gerig” (Ps. 25:15). Die Here neem ons in sy vertroue en ons vertrou op Hom. Hierdie verhouding word op ʼn diep persoonlike manier ervaar. Die uitdrukking: “maak Sy verbond aan hulle bekend” beteken dat die verhouding met God deurentyd verdiep en bevestig word. Daar is groei; ons kom altyd nader aan die Here.
Vriende, seuns en erfgename←⤒🔗
Weereens, dit is nie anders in die Nuwe Testament nie. Inderwaarheid, deur Christus se werk van versoening en die uitstorting van Sy Gees, het die band selfs sterker geword. In Christus se laaste gesprekke met Sy dissipels het hierdie sterk band duidelik geword: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ʼn ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies...” (Joh. 15:15-16).
Beteken dit dat die dissipels nie langer dienaars van die Here is nie? Natuurlik nie, maar hierdie diens word nou in vriendskap gelewer, in ʼn diep persoonlike en liefdevolle verbintenis. Christus het niks vir hulle weggesteek nie en het Sy hart teenoor hulle oopgemaak, soos God voorheen met Abraham gedoen het. Die verbondsverhouding maak nie voorsiening vir geheime nie. Albei partye is oop en eerlik teenoor mekaar in ʼn noue gemeenskap van liefde en vriendskap. ʼn Ou gesang druk hierdie wese van die verbondsband uit: “Wat ʼn vriend het ons in Jesus.” Hy is altyd daar vir ons, en ons kan Hom altyd nader.
Die volle bewys van hierdie vriendskap kan gesien word in Christus se dood aan die kruis. “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh. 15:13). Dit is die werklike wese van God se verbond met ons: die diepste liefde en vriendskap, duidelik in die finale offer aan die kruis.
Die Nuwe Testament sê dat ons deur Christus selfs meer as vriende van God is. Die Heilige Gees is uitgestort. Ons het die “Gees van Sy Seun” ontvang en is in staat gestel om uit te roep: “Abba, Vader” (Gal. 4:6). Ons is seuns en dogters van God omdat ons die Gees van Christus ontvang het.
Paulus skryf: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:16). Elke kind van God weet en vertrou dat hy God se kind is. Soos ons in Psalm 25 vind, maak Hy Sy verbond aan hulle bekend. En Paulus voeg by: “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus” (Rom. 8:17). Al God se gawes en skatte is wettig ons sʼn, want ons is, soos die Israel van ouds, die erfgename van God se koninkryk. Dit word ook in die Nuwe Testament geïmpliseer in die geregtelike aard van die verbond: God gee aan ons regte as Sy kinders en erfgename.
Tipies is daar in Romeine 8 die verbond se voorbehoud: As ons die erfenis opeis, moet ons soos erfgename optree. As ons soos kinders van God behandel wil word, moet ons sodanig lewe. Paulus skryf in Romeine 8:9: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.” Paulus skryf dit nie dat ons God se beloftes moet bevraagteken nie, maar om behoorlike selfondersoek en ware ywer aan te moedig. Dit is die ander kant van die gelofte-muntstuk: “Daarom dan, broers, staan ons onder ʼn verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie” (Rom. 8:12). Belofte en verpligting gaan saam in die verbond, in beide die Ou en Nuwe Testament.