Ware leierskap
Ware leierskap
Binne die volgende drie jaar gaan talle lande nuwe staatsleiers kies, en dan gaan die wêreldsamelewing ’n nuwe periode binne met waarskynlik talle veranderings.
Lande soos die VSA, Rusland, Frankryk en Brittanje gaan nuwe leiers aanwys; trouens, sommige is reeds daarmee besig, en dit geld ook vir sekere Afrikastate. Die omstrede verkiesing in Nigerië is pas afgehandel – of dalk nog nie – en miskien kom daar ook ’n verkiesing in Zimbabwe, hoewel die diktatuur hom in hierdie land so sterk (onder die dekmantel van ’n demokrasie) gevestig het dat die toekoms eintlik onvoorspelbaar is. Ook Suid-Afrika gaan ’n nuwe staatsleier kry, altans volgens die Grondwet, hoewel die aanwysing van ’n nuwe leier deur die regerende party tans taamlik ondeursigtig verloop.
Dit bring ons by die vraag na die eienskappe van ’n goeie leier, en daarmee saam ’n goeie regering. Hoe lyk ’n goeie leier vanuit ’n Christelike perspektief?
Wanneer oor leierskap vanuit ’n Bybelse perspektief gepraat word, moet natuurlik onderskei word tussen leierskap in die kerk en leierskap in die staat. Hoewel daar verskil is tussen kerkregering en landsregering, is daar tog sekere basiese eienskappe van goeie leierskap wat in alle omstandighede geldig is.
Omdat Jesus Christus Hoof is van die kerk en die kosmos, kan sy leierskap as model dien van wat die Bybel onder ’n goeie leier verstaan.
Ek verwys in hierdie verband nie na alle eienskappe nie, maar slegs na enkele, hopelik die belangrikste.
Die eerste kenmerk wat ek graag wil noem, is dié van diensvaardigheid – ek sou hier ook die woord “offervaardigheid” kon gebruik. ’n Ware leier is nie iemand wat bedien wil word nie, maar wat dien (vgl. Mark 10:44), iemand wat die samelewing en die mense in die samelewing dien. Indien so ’n leier ’n Christen is, sal hy daarby ook nog weet dat hy in diens van God staan. Die Bybel noem owerhede ’n dienaar (letterlik ’n “diaken”) van God (Rom 13:4), ja, selfs (letterlik) ’n “liturg” van God (Rom 13:6).
Diens is ’n wesenskenmerk van ’n ware leier. Daar is niks wat ’n samelewing vinniger vernietig as ’n magsbehepte en maglustige staatsleier nie.
Die tweede waarna ek wil verwys, is nederigheid (vgl. Fil 2). Nederigheid beteken letterlik om af te daal, van jou troon af te klim, tussen mense in te kom, met hulle saam te leef, deel te wees van hulle lewe en hulle nood jou nood te maak. Dit beteken om van jou belangrikheid of vernaamheid te vergeet en met diensvaardigheid in te tree vir die nood van ander. Die teenoorgestelde van nederigheid is hoogmoed, en hoogmoed is in ’n sekere sin die wortel van alle sonde. Niks is mooier as ’n nederige leier en niks is afstootliker as ’n hoogmoedige en hovaardige leier nie.
Nederigheid impliseer ook dat ’n leier kritiek op ’n volwasse wyse kan hanteer, dat hy/sy afbrekende kritiek kan verwerk en uit opbouende kritiek kan leer. ’n Leier moet foute kan erken en daarvoor verskoning vra.
Derdens kan ons integriteit noem. Integriteit veronderstel eenheid tussen praat en doen. ’n Leier moet doen wat hy sê; hy moet nie een ding sê en ’n totaal ander ding doen nie. Hy moet hom ook nie skuldig maak aan bontpratery sodat niemand meer weet wat hy sê of bedoel nie. Deursigtigheid is hier die wagwoord.
’n Vierde eienskap is menslikheid. Hy moet ’n mens-mens wees, met magtiger en hooggeplaastes kan omgaan, maar ook met magteloses en armes kan assosieer. Indien so ’n leier ’n Christen is, sal hy daarmee rekening hou dat elke mens, van die rykstes tot die armstes, geskape is na die beeld van God, en dat wie die beeld van God skend, hom aan die handewerk van God vergryp.
Vyfdens kan na verantwoordelikheid verwys word. ’n Leier dra besonder groot verantwoordelikheid – die welsyn van ’n samelewing – en hy/sy moet te alle tye verantwoordelikheid vir sy/haar optrede aanvaar. ’n Leier moet doen wat goed en reg is. Flou of foutiewe verskonings vir swak of onbillike of foutiewe optrede is moreel onaanvaarbaar. In uiterste gevalle van wanoptrede kan dit selfs lei tot die val van so ’n leier, veral in gevalle waar daar doelbewuste misleiding ten opsigte van ’n belangrike saak was.
’n Sesde kenmerk is dat ’n leier visioenêr moet optree. Hy moet nie net op gulsige wyse rekening hou met die behoeftes en nood van die hedendaagse mens nie, maar ook met dié van die nageslag. Dit beteken dat ’n goeie leier, en regering, onder andere ook ekologies-sensitief sal optree. Die vernieling en vernietiging van die omgewing en natuur vind (wêreldwyd) op ’n skaal plaas wat op ’n ramp afstuur. ’n Goeie leier sal in hierdie opsig ’n gesonde balans tussen ontwikkeling en bewaring probeer vind. Die aarde moet immers nie net “bewerk” word nie, maar ook “bewaar” word (Gen 2:15).
En dan die laaste, sewende, naamlik wysheid. Met wysheid word nie bedoel dat ’n leier noodwendig ’n intellektuele reus moet wees nie. Onder wysheid word verstaan wat in die Spreukeboek beskryf word as besonnenheid, verstandigheid en oorleg. Daar is intellektuele leiers wat op ’n uiters dom manier regeer en die domste dinge ter wêreld doen, en daar is eenvoudige leiers wat met wysheid, oorwoënheid, verstandigheid en oorleg regeer. As so ’n leier ’n Christen is, sal hy weet dat ware wysheid begin met die “vrees van die Here”, dit wil sê “ontsag vir die Here”. En hy sal weet dat Christus die wysheid van God is (1 Kor 1:24).
Die wêreldsamelewing, ja, elke samelewing het leiers nodig wat die welsyn van alle mense op die hart dra, maar ook die skoonheid en nie-skendbaarheid van die natuur, die omgewing en die skepping. En as sulke leiers Christene is, sal hulle ook die lewende God eer en sy koninkryk dien.
Wat hierbo geskryf is van staatsleiers, geld natuurlik onverminderd vir almal wat geroep is om leiding in die kerk van die Here te neem. Daarom mag die voortdurende voorbidding vir almal wat leiding neem, nooit nagelaat word nie. Uiteindelik is ons almal afhanklik van die leiding van die Gees van God en die lig van die Woord van God.