Wanneer Jesus Terugkom, sal daar nog Predikante wees?
Wanneer Jesus Terugkom, sal daar nog Predikante wees?
In Nederlands Dagblad van 3 Augustus 2002, skryf prof K Mollema 'n uitstekende artikel waarin hy aantoon dat die beroeping van predikante nie meer "in hierdie tyd tuishoort nie". En in 'n instemmende reaksie hierop in dieselfde koerant drie dae later het ek die formulering van die titel bo hierdie artikel gekry. In die afgelope weke het ek myself ook besinnend besig gehou met die amp, die werk en ook die persoon van die predikant, alles aspekte wat leef in gemeentes. Dit is duidelik dat daar 'n verskuiwing in die optrede ten aansien van die posisie van die predikant is. Wil ons nog predikante in die kerke hê? Wil jongmense nog predikant word?
'n Predikant is allereers dienaar van die Woord. Hy is predikant. Die inhoud van sy preke kry hy in die Woord van God. In die verkondiging van die Woord van God lê die groot aantreklikheid van predikantskap. Die Woord stel hom in vryheid. Dit stel hom in die vryheid ten opsigte van die gemeente. Die uitgangspunt van die predikant lê in die Woord. Alleen daarin.
Die landingsplek van die prediking is die gemeente. Die gemeente bestaan uit 'n groot variasie van mense. In 'n groter kerk vind 'n mens die hele breedte van wat daar in die Christendom te vinde is, terug. Dit is volstrek ondoenlik om aan al die uiteenlopende gevoelens en opvattings reg te laat geskied.
'n Predikant sal wel met dié wat na hom luister en in die vormgewing van die Woord met die gevarieerdheid aan belewing en opvatting in die gemeente rekening hou. Maar dit kan nooit in een preek gebeur nie. 'n Predikant het jare nodig om almal te kan bereik. Daarom sal elke preek vir dese en gene in die gemeente iets eensydigs hê.
Die vraag mag gestel word: wil kerkrade en gemeentes nog die volle en onverkorte Woord van God hoor? Die verpersoonliking het alreeds toegeslaan. Dit wil sê ons gaan daarvan uit van wat ék wil hê. Hoe ons die dinge ervaar en hoe ons ons geloof beleef, kan heelwat anders wees as wat die Skrif sê oor die belewing van die geloof. Daar is Bybelse variasies in geloofsbelewenisse. Nie elkeen hoef die geloof op dieselfde manier te beleef nie, maar in die persoonlike variasie van belewing van God se Woord, deur die geloof, is daar altyd herkenning.
Ons geloofsbelewing is uiteraard altyd persoonlik, opgeneem in ons elkeen se lewensgang, gestempel en gekleur deur wat ons deurgemaak het en nog deurmaak. Die eie geloofsbelewing het ook altyd iets beperkends, iets eensydigs. Dit is nie so erg nie. Dit is ook nie skadelik nie, mits ons 'n oog daarvoor het. Juis dan sal ons 'n sekere verskeidenheid in die geloofsbelewing in die gemeente herken as 'n rykdom, as moontlikheid tot verdieping en verbreding van ons eie geloofsinsigte en ons omgang met God.
Dit is 'n brandend gewigtige vraag: Hoe kan die predikant betroubare, geestelike leiding gee in sy preke? Hierdie vraag bly altyd aktueel solank as wat daar kerke en predikante bestaan. Hierdie vraag kan as 'n swaar las op die predikant druk; nie alleen op die jong predikante wat nog in 'n groeiproses is nie. Ook die ouerwordende en ervare predikante kan gebuk gaan onder hierdie vraag.
Prof J Hovius het op 'n keer vir my gesê dat hoe ouer hy word, hoe moeiliker hy dit vind om te preek. Dit is ook bekend dat die groot prediker, ds. JJ Buskes, hoe ouer hy geword het, voor 'n kerkdiens dikwels so gespanne was dat hy nie 'n happie kos deur sy keel kon kry nie. Hoe hou die predikante dit uit om omtrent elke Sondag maar weer met vreugde en verwagting op die preekstoel te klim om as gevolmagtigde die Woord van God te bring, wat so moet wees dat dit elkeen in die kerk bereik?
Dit is slegs op een manier moontlik. Dit kan slegs as die predikant self tot diep in sy hart deur die Woord gegryp en geraak is. Die Woord wat hy in sy eersvolgende preek (preke) aan die gemeente gaan bring. En hier lê, wat ek vrees – en ook seker weet – 'n pynpunt. Dit kan wees as gevolg van my eie beperktheid, maar ek het baie tyd en rus nodig om werklik in die Woord te kom en die Gees die geleentheid te gee om die Woord vir my te open en te laat lewe met die gesag waardeur jy seker daarvan word dat jy met die Woord, verwerk in jou preek, by die preekstoel op mag gaan en ook op moet gaan!
Op een of ander manier het die onrus oor ons gekom. Die onrus wat eie is aan die tyd waarin ons lewe. Die onrus wat vanuit die samelewing soos 'n walm om jou slaan en waarvan jy nie meer ontslae kan raak nie. Jy het weke van rus nodig om tot innerlike rus te kom, waardeur jy deur dit alles tog weer gaan sien en jy die bedrog van onrus, van die samelewing se gedoentes, herken en die lewe, jou eie lewe, weer in helderheid gaan sien tot by Jesus Christus en sy Vader. Dit is om tot verdieping en verbreding van die gemeenskap met God te kom, 'n magtige geskenk waardeur jou soms benoude siel weer lewe kry.
Die gemeenskap met God werk 'n vreugde uit wat alles deurstraal en tegelykertyd gaan daar 'n bewing deur jou siel. Wie is ons? Hoe kan ons so 'n groot geskenk van genade, beveilig en heilig in ons lewe? Jy kom weer in ritme. Die ritme van voorbereiding hiervan en daarvan, die ritme van e-pos en telefoon, van vergaderinge, van besoeke, van reëling op reëling, van ordening op ordening – en die dag en die week is verby voordat jy dit besef – en wat het jy nou eintlik gedoen?
Vir baie is dit herkenbare sake. Hoe was my "produksie" van die afgelope week? En dan gaan ons maar weer in 'n harnas wat onbeweeglik is en waarin ons moeilik beweeg. Dit is nie die bedoeling nie.
Daarom lewer ek 'n kragtige pleidooi om predikante voluit predikante te laat wees. Dienaar van die Woord. Hy moet nie – veral in 'n groot gemeente – te veel betrek word by allerlei goeie werke van gemeente-opbou nie. Hierdie werk moet die gemeentelede self doen. Die predikant is vir 'n deel van die gemeente plaasvervangend, bestudeerder en leser van die Woord van God. Hierdie Woord moet hy verkondig. Die krag en die gloed daarvan moet hom deurdrenk en dit moet in sy hart leef. Die gloed moet bly smeul en daar moet steeds brande ontstaan. Daar is immers geen kragtiger en meer bevrydende en blymakende boodskap dan die Evangelie van die gekruisigde en opgestane Here Jesus Christus nie? Sy koningskap is 'n heerlike en magtige koningskap wat aan ons die vryheid gee. Alles is die uwe. Alles, hetsy lewe, dood, hetsy hede, toekoms, hetsy wêreld, hetsy kerk, hetsy maatskappy, hetsy siekte, alles is die uwe, maar is van Christus en Christus is van God (1 Korintiërs 3:22 en 23). En dit moet beleef word in en deur die geloof.
Hierdie dinge kan nie sommer opgetel word nie. Dit moet gesoek en gevind word in die Woord en uitgewerk word in ons eie lewensgang deur die Heilige Gees. Hiervoor is baie gebede nodig. Ek weet vir seker dat die gebedslewe van predikante – en ook van gemeentelede – onder druk is.
Indien 'n predikant die gevoel kry dat hy te veel met allerlei werksaamhede besig is, wat nie tot sy kerntaak (naamlik om besig te wees met God se Woord) behoort nie, moet hy daaroor met sy kerkraad praat. Laat predikante saam hieroor besin en selfs "protesteer", ons is mos protestants … en dit alles om werklik die gemeente en die mense te dien. Te dien in al hulle verskeidenhede, in alle leeftydskategorieë, in alle tipes nood wat in die gemeente voorkom, en ook in allerlei soorte vreugdes. Baie predikante het baie gawes! Gelukkig, maar jy hoef nie alles te doen wat jy kan doen nie. Gee ook aan ander die ruimte – in die gemeente, in die kerkraad en ook in die samelewing.
Ons moet vanuit die kern van die saak die amp van die predikant weer voorstel in sy groot aantreklikheid. Dit moet gedoen word sodat jongmense wat die Gees kan gebruik om hulle te lei op die weg na die amp, in die ampsdraers wat hulle ken, die vuur van die liefde van Christus te herken.
'n Mens kan sonder enige moeite honderd groot probleme opsom waarmee 'n predikant – en ook as Christen in die wêreld – te make kry, maar wat wen ons daarmee? Die een blywende vreugde om deur Christus gegryp te wees en in sy diens opgeneem te word, styg ver uit bo alle besware en moeilikhede. En ek pleit vir baie barmhartigheid ten opsigte van dié wat onder druk in probleme beland het, want daar is meer probleme onder ampsdraers en predikante as die wat aan die lig kom en die wat wel bekend word, laat ons skrik.
Kort, maar kragtig: Wees ten minste die helfte van die (werk)week besig in en met die Woord, op 'n bepaalde manier teruggetrokke uit die wêreld, en al die werk wat as gevolg daarvan bly lê, en dit sal soms baie wees, sal deur gemeentelede self gedoen moet word.
Ek voorspel 'n ommekeer in die denke oor die amp. En dit sal 'n goeie ommekeer wees. Al die verbygaande, al die aktiwiteite: wat sal 'n mens daarvan sê? 'n Gemeente wat leef, ken baie aktiwiteite, maar haar predikant is dienaar van die Woord en geen aktiwiteitsman nie. Waarlik, elke predikant moet radikaal terug na die Woord, anders bly daar naderhand geen predikante meer oor nie. Elke predikant wat met die Woord kom, deurleef, evangelies, skerp, vermanend en vertroostend, sal tot groot seën wees vir die gemeente. En dit werk deur jare heen.