Waarom loop die kerke in Europa leeg?
Waarom loop die kerke in Europa leeg?
Die vraag waarom Wes‑Europa so vinnig ontkersten en ontkerklik, word vandag in kerklike en teologiese tydskrifte druk bespreek, en dis begryplik dat daar na oorsake en oplossings gesoek word. Om een voorbeeld te noem: ’n eeu gelede is nog min of meer na Nederland as ’n “Christelike” land verwys, maar daar word bereken dat teen die jaar 2020 sowat 70% van die Nederlanders ontkerklik sal wees. Verder word beweer dat die Protestantse kerk in Nederland elke jaar 100 000 lidmate gaan verloor en dat daar teen 2020 meer Moslems as Protestante in Nederland sal wees. (Terwyl tans een uit drie Nederlanders Katoliek is, sal dit teen 2020 waarskynlik een uit tien wees.)
Soos reeds genoem: veel navorsing is oor die onderwerp gedoen en talle oorsake blootgelê. Ek gaan enkele hiervan noem, asook ander byvoeg wat ek uit eie ervaring opgedoen het tydens ’n aantal besoeke aan Europa. Uiteraard kan in hierdie konteks slegs kursories hieroor gehandel word. Ek begin met materialisme - ’n redelik onderskatte oorsaak in baie van die navorsing.
Materialisme⤒🔗
Dit is baie opvallend dat Jesus in sy totale prediking slegs na een afgod verwys en dit is die geldgod (Mammon) (Matt 6:24). ’n Mens mag nie twee gode dien nie, mens kan nie die ware God asook die geldgod dien nie. Diens aan die een sluit diens aan die ander uit.
Baie geld (en baie besittings) skep ’n gevoel van onafhanklikheid en behaaglikheid. As jy ’n tuishuis en vakansiehuis besit, ’n motor of twee, ’n yskas en vrieskas, ’n stoof plus kitsoond, ’n radio en TV, ’n goeie inkomste, ’n paar polisse, mediese en pensioenfonds, ’n gewone telefoon en selfoon, ’n skoot- en gewone rekenaar, wat meer het jy nodig? Waar pas God in die prentjie in? Is Hy nog werklik nodig? Word Hy nie maar ’n “gaatjievuller” wat af en toe ingeroep word as die mens werklik nie meer op eie stoom verder kan nie?
Die moderne tegnologie het enorme voordele vir die moderne mens gebring, maar het ook ontsaglike bedreigings vir die Christelike lewe met hom meegebring. Die moderne mens het onafhanklik geword, nie net van die natuur nie, maar ook van God. God het vir baie - met respek gesê - ’n randfiguur geword, en in sommige gevalle het Hy heeltemal verdwyn.
Kyk ons na die Skrifgegewens in verband met geld, rykdom, geldgierigheid en hebsug, ontdek ons ’n ontstellende prentjie. Dit val op dat namate die Godsopenbaring in die Bybel voortskry, daar al hoe kritieser oor hierdie temas geoordeel word. Hierdie onderwerpe word in talle Bybelboeke bespreek, maar besonderlik deur die evangelis Lukas. Dis hy wat wys op Jesus se saligspreking van randfigure en dan byvoeg: “Ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg” (Luk 6:24). As Lukas die gelykenis van die saaier verhaal en verwys na die saad wat in die onkruid geval het, dan dui dit op dié wat “die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe” verstik word (Luk 8:14). (Matthéüs verwys hier na die verleidelikheid van rykdom, 13:22.)
Dis net by Lukas dat ons lees van die gelykenis van die ryk dwaas, wat ryk is aan goed, maar arm aan God (12:13-21). Ook net Lukas vertel van die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus (16:19-31). En die ryk jongman, nee, Jesus se dissipels, moet hoor dat dit makliker is vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom (Luk 18:18-30).
Daarom waarsku die Skrif so dringend teen elke vorm van geldgierigheid (1 Kor 6:10; Ef 5:3,5; Kol 3:5; Heb 13:5). Wie ryk wil word, val maklik in versoeking (1 Tim 6:9) en geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad (1 Tim 6:10). Geldgierigheid is ’n teken van die laaste dae (2 Tim 3:2).
Nie dat ryk mense as sodanig veroordeel word nie, maar hulle word gemaan om nie hooghartig te wees nie, wel vrygewig en mededeelsaam, en om nooit hulle hoop op rykdom te stel nie, maar op God (1 Tim 6:17-19). Waarteen die Bybel waarsku, is rykdom-ten-koste van - ten koste van die armes (Jak 5:1-6). En rykdom ten koste van God. Vandaar die oproep van Christus om op die hoede te wees vir elke vorm van geldgierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie, maar van God - en God alleen (Luk 12:15).
Die Europese mens het vanweë sy welvaart God nie meer nodig nie. Hy staan op eie bene. Hy is onafhanklik. Hy keer sy rug op die kerk en in baie gevalle ook op die evangelie - hoewel ’n bepaalde vorm van sogenaamde “buitekerklike Christendom” merkbaar aan die toeneem is en so ook ’n groeiende belangstelling in (veral Oosterse) spiritualiteit.
Rasionalisme←⤒🔗
“Gebruik net jou gesonde verstand” is ’n slagspreuk wat mense vandag maklik vir mekaar sê - sonder om te besef waar die verste wortels van hierdie woorde te vind is.
Veral sedert die 18de eeu het daar in Wes-Europa ’n beweging ontstaan wat bekend geword het as die Verligting (Aufklärung) of modernisme. Een van die hoofkenmerke van hierdie beweging was die waarde en betekenis wat aan die menslike verstand (ratio) toegeken is. “Besit die moed om jou verstand te gebruik” het die groot Duitse filosoof Immanuel Kant (1724-1804) gesê.
Vir baie het die menslike verstand uiteindelik die hoogste en finale maatstaf van alle menslike kennis geword, ook die kennis van God, van die openbaring van God en van die Christelike geloof. Wat vir die menslike verstand onduidelik, ondeursigtig of onverstaanbaar is, is eenvoudig tersyde gestel of van minder waarde geag. Hoewel almal nie in sulke radikale terme gedink het nie, het hierdie benadering uiteindelik meegebring dat die Christelike geloof - en alles wat dit behels - onder die kritiek van die menslike verstand gekom het.
Vir die kritiese teologie sou dit uitloop op die bevraagtekening van die Bybel as Godsopenbaring, van wonderwerke soos in die Bybel vermeld, van die kruisdood van Jesus as versoening van ons sondes, van die liggaamlike opstanding van Jesus, van die ewige lewe, ja, van die bestaan van en geloof in God self - om slegs enkeles te noem. Hoewel die evangelie sekerlik nie onredelik is nie, is al die belydenisstukke van die Christelike geloof nie ewe redelik deursigtig nie. “Ons moet glo om te verstaan, en (dan) verstaan om te glo”, sou Augustinus gesê het.
Wanneer die (beperkte!) menslike verstand egter die hoogste en laaste maatstaf vir alles word (soos in die rasionalisme), sal daar uiteindelik geen plek meer wees vir die Christelike geloof en die Christelike belydenis nie. “Not enough evidence” het die ateïstiese filosoof Bertrand Russell (1872-1970) in 1969 oor die Nederlandse televisie gesê toe aan hom die vraag gestel is wat hy na sy dood aan God sou antwoord indien God aan hom sou vra waarom hy nie geglo het nie.
Hedonisme←⤒🔗
“Geniet die dag”, “geniet die naweek”, “geniet die vakansie” - dis alles deel van ons gewone daaglikse spraakgebruik. Dis alles goed en wel, maar wanneer genot en genotsug (hedonisme) ’n lewenswyse word wat ons totale lewe bepaal, begin die rooi ligte flikker.
Mag ’n mens godsdiens geniet, ’n erediens?
Die kerkvader Augustinus (354- 430) het lank gelede ’n knuppel in die teologiese hoenderhok gegooi toe hy tussen die woorde “geniet” (frui) en “gebruik” (uti) onderskei het. Om iets te “geniet”, sê hy, is om iets in liefde aan te hang ter wille van daardie ding self, en dit maak jou gelukkig; om iets te “gebruik”, is om iets aan te wend ten einde dit te verkry wat jy begeer.
Tydelike dinge mag “gebruik” word, maar net God mag “geniet” word; alleen God mag ter wille van Homself liefgehê word. Stoflike dinge mag “gebruik” word, slegs geestelike dinge mag “geniet” word.
(In sy latere geskrifte sou Augustinus ander aksente lê en aan die twee begrippe ook ander betekenisse toevoeg - maar ons laat dit voorlopig hierby.)
Dat genot en plesier, en dinge wat daarmee saamgaan (soos vreugde), ’n regmatige plek in die Christelike lewe mag inneem, daarteen kan niemand enige geldige beswaar opper nie. Die probleme ontstaan wanneer die lewe opgaan in genot, wanneer die lewe in genotsug ontaard, wanneer “genietinge” die evangeliewoord verstik (Luk 8:14) en wanneer Christene nie meer bereid is om vir die waarheid te ly nie (Joh 15:20; 2 Tim 3:12), ja, dan word “liefde vir genot” in plaas van “liefde vir God” ’n duidelike teken van die eindtyd (2 Tim 3:4).
’n Welvaartsamelewing - soos Wes-Europa - kan maklik in sy welvaart verdrink. Dan is “genot” belangriker as “God”, of nog erger, dan word “genot” “god”.
Pluralisme←⤒🔗
Hieroor kan ons kort wees. Hiermee word onder andere bedoel dat die bevolkingsamestelling van Wes-Europa die afgelope dekades grondig verander het. Miljoene Oosterlinge het hulle tuisgemaak in die ou Europa en saam met hulle is nuwe kultuur- en godsdienstige waardes oorgedra.
Veral Moslems het ’n nuwe tuiste in Europa gevind. Regerings moes al hoe meer rekening hou met multi-godsdienstige samelewings waar bevoorregting van een godsdiens (die Christelike kerk byvoorbeeld) onder al hoe groter druk gekom het. Toe die staatshulp aan staatskerke begin wegval, het kerke dit al hoe moeiliker gevind om op eie bene te staan.
Die Europese kerke het dus op die lang duur ’n duur prys betaal vir die kunsmatige steierwerk (staatsondersteuning) waardeur die vryheid van die kerk as instelling van Christus grootliks in gedrang gebring is.
Geloofwaardigheidskrisis←⤒🔗
Uiteindelik moet die vraag gestel word hoeveel skuld die kerke self gehad het aan die kwynende situasie. Het die kerke, dit wil sê, het die individuele Christene, geleef volgens die maatstaf van die evangelie van Christus?
Ek gee enkele aanhalings om bogenoemde kritiese vraag te illustreer. Die ateïstiese filosoof (en dominee-seun) Friedrich Nietzsche (1844-1900) het gesê: “Die beste bewys van die leuen van die kerk, en van die boodskap van verlossing, is dat daar so min vreugde oor die verlossing is.” Die filosoof (ook ’n dominee-seun) Gotthold Lessing (1729-1781) skryf in ’n brief aan sy vader: “Solank ek nie sien dat (Christene) een van die vernaamste gebooie van die Christendom - om jou vyand lief te hê - beter in ag neem nie, solank twyfel ek of diegene wel Christene is wat hulle daarvoor uitgee.”
Elke keer wanneer ek Europa besoek het, het ek onder die indruk gekom van die vernietigende gevolge wat die twee wêreldoorloë, wat in die sogenaamde Christelike Weste plaasgevind het, op die psige van die Europese mens gehad het. Veral die jeug het skerp kritiese vrae gestel oor die slap weerstand wat kerke (veral in Duitsland) teen die magsmisbruik van nazisme gebied het. (Daarby het gebeure in konsentrasiekampe soos onder andere in Auschwitz en Dachau die Godsvraag skerp in die soeklig geplaas. Hoe kon ’n goeie God so iets “toegelaat” het?)
Die vraag is dus: Het die kerk, het Christene, hulle nie self in die voet geskiet vanweë hulle onchristelike lewenswyse nie? Die Christelike lewe is ’n lewe van geloof, hoop en liefde. Het Christene dit nie verander in ’n lewe van wantroue, wanhoop en selfsug nie? Watter boodskap het die kerk aan die wêreld indien die kerk self volgens wêreldse maatstawwe lewe?
Wat het Christene “meer as” die heidene gedoen (Matt 5:47)? Die Skrif leer tog baie duidelik: ’n kerk waaruit die liefde verdwyn het, is ’n kerk sonder toekoms (Openb 2:1-7).
Slot←⤒🔗
Die wonderlike is dat terwyl die kerk deesdae in Europa taan, dit in Afrika (in totaal ander omstandighede) groei en bloei. Maar Afrika het nog nie die materialisme en rasionalisme van Europa ervaar nie, trouens, dis nog baie ver daarvandaan.
Hoe sal die kerk in Afrika lyk nadat hierdie tsoenami’s oor ons kontinent gespoel het?
Mag die Here in sy groot genade sy kerk in Afrika - ja, wêreldwyd - staande hou!