Bron: Die Kerkblad, 2008. 2 bladsye.

Waarom glo ek in God?

persoon

In die noordelike dagblad Beeld verskyn daar elke Maandag ’n rubriek onder die opskrif Godsdiens Aktueel waaraan ’n aantal teoloë deelneem. Na aanleiding van een van my artikels ontvang ek ’n e-pos van ’n onbekende persoon met die naam Armando Pellencin. Hy rig ’n versoek tot ’n oop en diepgaande gesprek oor sake van lewensbelang – ’n gesprek wat tans nog aan die gang is. Ek wonder waarom ’n vreemde persoon in sodanige gesprek belangstel, want langsamerhand word dit duidelik dat die persoon 'n ateïs is, soos blyk uit sy onlangs verskene boek Ateïsme: Die saak teen God (2007). Dis ’n weldeurdagte boek wat ’n mens diep laat nadink oor die Christelike geloof in die algemeen en jou persoonlike geloof in die besonder. Waarom gló jy nou eintlik? Is ongeloof (en ateïsme) nie dalk ’n redeliker en sinvoller opsie nie? – soos Pellencin aanvoer.

Dié vraag het my by die lees van die boek deurgaans besig gehou, en ek wil my gedagtes graag met ons lesers deel. Ek dink hier aan minstens vier moontlike antwoorde wat mekaar aanvul en komplementeer.

  • Die eerste is: Ek glo omdat my ouers my van die Here vertel het. Voordat ek kon lees of skryf, voordat ek die Bybel kon lees, het my ouers – en grootouers – my van die Here vertel, van sy mag en van sy liefde, van sy grootheid en van sy nabyheid. Veral saans na aandete met Boekevattyd het ons stil geword voor, en dankie gesê vir, Iemand groter en sterker as die mens. Veral in die Karoo, wat dikwels deur groot droogtes geteister word, het ’n gevoel van diep afhanklikheid ontwikkel.

Maar uiteindelik is geloof ’n persoonlike saak, hoe groot die bydrae van ouers ook al mag wees. Uiteindelik word ons nie salig op grond van die geloof en vertellings van ons ouers nie, maar omdat ons sélf in God glo.

  • Die tweede is: Ek glo omdat die kerk my van die Here vertel. In die kat­kisasieklas en in die eredienste gaan dit tog voor alles oor die groot dade van die Here in hierdie wêreld. Die kerk is die ruimte waar baie oor – en met – God gepraat word, waar Hy geloof en gedank word vir sy genade en liefde aan sondige mense en ’n sondige wêreld.

Maar ook in hierdie geval moet gesê word: Al glo vandag selfs een derde van die wêreldbevolking in die God van die Bybel, my geloof staan of val nie met wat die kérk glo nie, maar of ek persoonlik in God glo.

  • Die derde is: Ek glo omdat die Bybel my van die Here vertel. Ek aanvaar dat die Bybel die Woord van God is, dat God Hom daarin openbaar en self bekendmaak, dat Hy daarin met mense in gesprek tree – as hulle maar net hulle harte oopstel om sy stem te hoor. Ek aanvaar dat die Bybel ’n belangriker bron van informasie is as my menslike verstand en menslike kundigheid, dat die Bybel die enigste boek is wat ’n sinvolle antwoord kan gee op die groot vrae in die lewe: Waar kom alles vandaan, waar gaan alles heen, waarom lewe ek, en hoe behoort ek te lewe?

Bybel

Maar selfs dit is nog nie genoeg nie, hoe onmisbaar dit alles ook mag wees. Ek moet uiteindelik by God self uitkom, by Hom as Persoon.

  • Daarom, vierdens: Ek glo omdat God self my van sy bestaan, sy liefde, sy genade en sy teenwoordigheid oortuig en oorreed en – eintlik moet ek sê – oorrompel. Dis die Vader self wat my oortuig dat Hy my Skepper is; dis Jesus Christus self wat my oortuig dat Hy my redder is; dis die Heilige Gees self wat my oortuig dat Hy my lewe nuut maak. Ons Belydenis sê self dat ons geloof van die Heilige Gees kom (HK 25:65).

As ek dus my leë hande in die lug opsteek, as ek soms in desperaatheid uitskreeu, dan gryp ek nie vas in “niks” nie en ek hoor nie slegs die eggo van my uitroep nie. Ek gryp vas aan Iemand, Iemand wat my hoor en my optel en my dra na ’n ewige bestemming. Ek gryp vas aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, wat deur sy Gees in my hart teenwoordig is.

Uiteraard sal so ’n antwoord nie maklik ’n ateïs bevredig of oortuig nie. Want hy sal onmiddellik vra waarom hy dan nie dieselfde ervaring het nie, en hy sal opmerk dat dit vir hom redeliker is om nié te glo nie, want God is immers nie wetenskaplik bewysbaar en aantoonbaar nie.

Inderdaad is God nie “bewysbaar” nie, al sou ons kon sê dat sy spore oral in die skepping waarneembaar is. ’n God wat “bewys” kan word, sal ook geen ware God wees nie. Die ware God is die altyd Teenwoordige, die grote maar ook die nabye en genadige Iemand. Hy is wat Hy is. Hy is in Christus ons Vader en met ons op weg na ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, na die voltooiing van sy groot koninkryk.

Ek glo – omdat God so genadig is.