Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Waar beveel die Skrif dat Christelike Feesdae onderhou moet word?

Die geboorte van ons Here Jesus Christus, tesame met sy hele heilswerk, is ’n saak wat deel vorm van die kern van die boodskap van die hele Bybel. Kort saamgevat verwoord die Heidelbergse Kategismus dit in Sondae 6, 7 en 14 - hierby word die belangrikste eksplisiete Skrifbewyse aangedui.

’n Mens sou breër op die Skriftuurlike openbaring van die heilswaarde en heilsfeit van die geboorte van ons Here Jesus Christus kon ingaan. Ter wille van die debat wat hieroor opnuut op ’n baie fel wyse in ’n klein kringetjie van Gereformeerdes gevoer word, word hiermee volstaan.

Die debat handel nie oor die feite van die geboorte van ons Here Jesus Christus nie; dit aanvaar almal wat by die daarby betrokke is. Die debat handel oor die geldige wyses waarop gelowiges hierdie heilsgebeurtenis vir hulleself toe-eien.

Daar is sommiges wat die geboorte van Jesus konstruktief deel maak van die normale lering en onderrig in die gemeente - in prediking, kategese, huisbesoek, asook ander bymekaarkom- geleenthede wat deel vorm van die konvensionele funksionering van die gemeente. Dit word dus nie besonder beklemtoon deur die aandag geïsoleerd in een of ander bedieningswyse daarop te fokus nie.

Ander is getrou in die orde wat kerke onder mekaar afgespreek het om die volle raad van God op deurlopende wyse te leer. Op Sondae, gewoonlik tydens die tweede erediens, word uit die Heidelbergse Kategismus gepreek. Op die besondere plekke word op die geboorte van die Here Jesus gefokus.

’n Derde groep skakel by ’n ou kerklike gebruik in wat reeds uit die tyd van Konstantyn dateer. Daarvolgens is sekere dae van die jaar geoormerk en afgesonder om spesifiek aan sekere geestelike sake aandag te gee. So het  die sogenaamde kerklike jaar ontstaan. Sommige van die dae wat vir inkleding deur die kerklike jaar gekies is het inderdaad ’n bedenklike oorsprong. So is Sondag byvoorbeeld oorspronklik uit heidense konteks na die son vernoem en aan aanbidding van die son gewy. Die christene het hierdie dag egter as die eerste dag van die week geneem en dit as die opstandingsdag van die Here Jesus herdenk. So is ook ander spesiale dae, wat voorheen dikwels aan diens van sekere ou heidense afgode gewy is, deur die nuut-erkende staatskerk verchristelik. Die benutting van die sogenaamde christelike feesdae in die kerklike jaar het veral in die tyd van die Reformasie nuwe aandag gekry. Daar is met ernstige kritiek hierna gekyk, veral omdat dit in die tradisie van die Roomse kerk tot allerlei uitwasse gelei het - soos vele van hulle ander praktyke. Die belangrikste besware wat hierteen ingekom het was die gevaar om hierdie dae met bygelowigheid te vier en die gevaar dat die viering daarvan te maklik vereenselwig kan word met die gelyktydige gees van losbandigheid wat op hierdie dae in die res van die wêreld plaasvind. Dit het egter nie daartoe gelei dat die viering hiervan geheel deur die reformatore ontken is of tot niet gegaan het nie. Selfs Luther wat aanvanklik heeltemal daarvan weggebreek het, het later weer daarop teruggekom. Alleen is daarby vereis dat dit in soberheid en sonder bygeloof moet geskied met die gepaardgaande antitese tussen kerk en wêreld.

Sommige kerke uit die Reformatoriese tradisie het heeltemal gebreek met die gebruik van die kerklike feesdae.

Ander het ’n variasie op die kerklike feesdae ingebring deur op die Sondae wat naaste aan die kerklike feesdae sou lê, in die prediking besonder aandag te gee aan die betrokke heilsfeit. Daar is ook bewustelik van ’n hele klomp dae wat van mindere belang blyk te wees, byvoorbeeld die besnydenis van Christus, geheel afgesien.

Na baie jare het die saak verskillende wyses gekry waarop Gereformeerde kerke afgespreek het om dit in die kerklike bediening aan te spreek. Dit word in die Kerkorde van die GKSA (artikel 67) soos volg verwoord: ‘Die onderhouding van die Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag, word aan die vryheid van die kerk oorgelaat’.

Die vraag is: Hoe verantwoord kerke hulle wanneer hulle van hierdie ‘vryheid’ gebruik maak - óf deur dit te onderhou, óf deur dit nie te onderhou nie?

Sommige sê eenvoudig: Ons onderhou nie die feesdae nie, in elk geval nie Kersfees nie, omdat daar nie so ’n opdrag in die Skrif te vind is nie. Die implikasie van so ’n verantwoording is verreikend, indien nie verregaande nie. Dit moet dan noodwendig daarop neerkom dat diegene wat dit wel doen, dit buite die opdrag van die Skrif doen en eintlik aan die Skrif ongehoorsaam is! Sommige huiwer ook nie om dit so te skryf nie. Diegene wat wel die feesdae onderhou word beskou as mense wat die tweede gebod oortree deur Hom op ’n wyse te dien wat Hy nie beveel het nie, mense wat hulle met beeldediens besig hou.

Die argumentasie geweeg🔗

’n Mens moet in die beredenering van ’n saak konsekwent wees. Was die mense wat by die opstel van die kerkorde betrokke was so stiksienig en blind dat hulle aan die kerke ’n sekere vryheid veroorloof het wat nie deur die Skrif as vry gegee is om óf te doen óf na te laat nie? Het ons hier nie regstreeks te doen met die saak wat Paulus in Romeine 14:5-6 beskryf nie: ‘Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God’.

Uit die feit dat hierdie saak die kerkorde gehaal het kan ons aflei dat dit ’n saak is wat nie sonder die nodige debat en stryd in die kerkgeskiedenis verbygegaan het nie. Waar daar oor hierdie saak inderdaad geen eksplisiete bevele in die Skrif gegee word nie, is daar ook vele ander sake waaroor daar nie eksplisiete bevele gegee word nie, maar waar daar uit die volle Skrifopenbaring geldige afleidings gemaak is. Voorbeelde hiervan is of christene die Sondag moet onderhou, wanneer hulle die nagmaal moet vier, of kindertjies gedoop mag word, en so meer. Met die geldige afleidings wat uit die Skrif gemaak is, is byvoorbeeld die bedieningswyses afgespreek dat verbondskindertjies so gou as moontlik na geboorte gedoop en dat op Sondae eredienste gehou moet word. Betreffende die onderhouding van die genoemde feesdae - dat dit aan die vryheid van die kerke oorgelaat word.

Wanneer word iets nou as ’n opdrag en wens van God beskou? As Hy iets eksplisiet beveel, moet ons dit doen en mag dit nie nalaat nie. As Hy iets eksplisiet verbied, moet ons dit nalaat en mag dit nie doen nie. Daar is egter baie sake wat nie eksplisiet uitgemaak kan word nie, maar wat met die nodige afleiding uit die hele Skrif vasgestel moet word.

Betreffende die geboorte van Christus moet ons vasstel dat dit die kern van die openbaring in die Skrif is. Dit vorm die kern van ons ongetwyfelde geloof in Christus. Die openbaring hiervan in die Skrif neem ons as waar en seker aan. Hierdie heilsdaad moet ons net soos die hele res van sy heilswerk in die geloof omhels en toe-eien. Dit is die opdrag wat ons uit die Skrif ontvang. Dit beteken dat hierdie werklikheid ons totale lewe ingrypend raak en moet raak. Geen christen het dit ooit ontken nie. Maar dan is die opdrag hierbinne afgehandel. Ons lees nie van enige verdere voorskrifte hoe ons die heilsdaad van Christus se geboorte konkreet in ons kerklike bediening moet toepas nie. Beteken dit dat ons in stryd met die Skrif handel wanneer daar tog iets konkreets in dié verband gedoen word, omdat daar nie so ’n opdrag is nie?

Sake waaroor daar nie eksplisiete opdragte in die Skrif voorkom nie is onder andere:

Die pastorale bediening by die geboorte van ’n verbondskindjie.
Die begrafnis van ’n pasgebore babatjie wat gesterf het.
Die doop van ’n verbondskindjie.
Die nadenke oor die sin van ons bestaan op aarde.
Die kategese en opvoeding van ons kinders.
Die deurlopende behandeling van ons geloofsleer in die eredienste.
Die oordenking hiervan op ’n spesiale dag van die jaar.
Die bediening by die herdenking van ons eie geboortedae.

Die belangrike reël is deurgaans dat met nugtere nadenke en lering uit die Skrif by al hierdie geleenthede die heilswerk van ons Here Jesus - ook betreffende sy geboorte - stilgestaan, geleer, vermaan en vertroos word om dit ons eie te maak. Dit is immers deel van die pakket van Christus se heilswerk wat aan ons die nuwe en ewige lewe besorg - ’n geloofswerklikheid wat ons tot ’n gehoorsame lewe moet opwek en ons oor die nuwe lewe laat juig.

Wat doen ons eintlik wanneer ons op 25 Desember ’n erediens hou waar die geboorte van Christus die groot tema is? Miskien is dit ’n bietjie vereenvoudig om te sê: ons vier Kersfees. Net so ook as ons op Sondag sou sê: ons vier vandag Sondag. Letterlik is dit immers nie waar nie! So staan dit wel in die volksmond bekend en ons moet mooi nadink wanneer ons praat. Dan word vir mekaar gesê: Geseënde Kersfees. Ja, miskien is dit ’n bietjie stomp as die konteks nie behoorlik begryp word nie. So ook as mense vir mekaar sou sê: Geseënde Sondag. Saam met wat op hierdie dae terselfdertyd in die wêreld gebeur kan dit selfs lasterlik wees. Want wat is ’n geseënde Kersfees en ’n geseënde Sondag nou eintlik? As ons egter daarby oordink dat ons ontvangenis en geboorte in sonde, deur Christus se geboorte toegedek word en dat ons uit die opstanding van Christus kan lewe, is dit dalk beter om vir mekaar te sê: Gelukkige verjaarsdag in Christus! Salige bedekking van nog ’n jaar in Christus se geboorte! Geseënde wedergeboorte! Laat ons bly wees in ons opstanding saam met Christus!

Sou daar christene wees wat op 25 Desember nie wil saamkom vir ’n erediens nie, is daarvoor ook geldige redes wat aangevoer sou kon word - geldige redes wat nie net kontekslose reguit lyntjies trek en sê dat daar nie so ’n opdrag is nie. Onder bepaalde omstandighede is daar redes wat die opbou van die kerk dien en wat spreek van 'n liefdevolle besorgdheid, byvoorbeeld:

Gelowiges is dikwels geneig om allerhande bygelowige waardes aan die feesdae te koppel - dit gebeur dikwels dat Kersdienste meer ywerig bygewoon word as gewone eredienste.
Gelowiges is te dikwels geneig om die Kersdiens of die diens op Goeie Vrydag maar net as een item van ’n verdere andersins wêreldse feesprogram en feesseisoen te maak.
Gelowiges wil dalk nie deur hulle Kersdiens by die wêreld die persepsie tuisbring dat daar erkenning gegee word aan die wêreldse feesgees nie.
Dit spreek vanself dat omstandighede behoorlik geweeg moet word, en dat dit nie noodwendig oral dieselfde is nie.

Tog is daar lidmate wat hierdie wettige probleme evangeliserend wil aanspreek. Nie deur onthouding nie, maar deur aktiewe regstelling; deur in die onderhouding van die dae dit juis anders te onderhou; deur die vrye tyd op hande sinvol met ’n erediens in te klee. “Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dit liewer, om nie die broeder ’n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie’ (Romeine 14:13).

Uit die geskiedenis van die Reformasie is daar veral twee briewe uit die korrespondensie van Calvyn wat boekdele hieroor spreek.

Die een is ’n brief wat hy aan die predikant, Haller, van Bern op 2 Januarie 1551 geskryf het. Die ander een is gerig aan Bullinger op 23 April 1551. In beide hierdie briewe kry ons ’n refleksie op die gebeure en omstandighede wat Calvyn voor en tydens sy terugkoms in Genève in verband met die afskaffing van die feesdae aangetref het. Voordat Calvyn en Farel uit Genève weg is, was daar onder andere ’n ernstige stryd oor die saak dat die stadsraad in die kerklike sake ingemeng het4. Calvyn wou die saak van kerklike feesdae op ordelike wyse deur die kerklike vergadering, die sinode van Zürich, laat beslis en nie deur geweld van die burgerlike owerheid nie. Wanneer hy jare later terugkom, skryf hy hoe verbaas hy was dat die stadsraad van Genève hierdie feesdae geheel afgeskaf het. Hy betuig dat hyself geen aandeel daarin gehad het nie. As hulle sy mening hieroor sou gevra het, sou hy nie die algehele afskaffing daarvan bepleit het nie. Hy is fel gekant teen alle superstisie wat daar aan die dae gekoppel is. As ons sou dink dat ons deur die plegtige viering van so ’n dag een of ander spesiale diens aan God kan lewer, is ons met ons eie fantasieë besig wat in stryd is met die tweede gebod (aldus sy preek uit Miga 5:6 op 25 Desember 1550). Talle inkonsekwenthede was elders in gebruik. Daar is byvoorbeeld ’n dag vir Jesus se besnydenis afgesonder, maar aan sy sterfdag is heeltemal verbygegaan. Volgens die briewe is dit een van die sake waarin Calvyn probeer het om ’n middeweg te soek. As hy homself hieroor voor die regterstoel van Christus moet verantwoord, is die belangrike vraag nie of ons die feesdae getrou onderhou het nie, maar hoe ons van ons vryheid gebruik gemaak het tot die bevordering en opbou van die gemeente van Christus.

In al die kerke behoort daar in die prediking, kategese en ander bediening op genoegsame wyse en intensief aan hierdie heilsdaad van Christus aandag gegee te word - soos ook al die ander heilsdade geleer en toegepas word. Al die verskillende dade is uiteindelik een groot heilsdaad waarin Hy ons met God versoen en van ons doodsvyande verlos het. Dit moet verkondig word. Die kerkgeskiedenis dui dit deeglik uit die Skrif aan. Wat die verskillende moontlikhede daarvan betref, saam met al die ander voorwaardes wat daaraan verbonde is, is die verantwoordelikheid van die plaaslike kerke. Spesifiek die onderhouding van die feesdae lê in die vryheid van die kerke. Laat die kerkraad hierin met wyse besinning en opgawe van geldige redes die orde reël of hulle op dié dae die gemeente vir ’n erediens gaan saamroep of nie. Laat hulle daarin nie verdere bindende laste en sware oordele op die lidmate lê nie.

Epilogue🔗

1. Kyk die insiggewende bespreking hiervan in Christelijke Encyclopedie, 1961 deel VI, pp 704-6

2. Dr FL Rutgers, Calvijns invloed op de Reformatie in de Nederlanden 1901, herdruk 1980, pp 94-103 bespreek dit uitvoerig vanuit die oorspronklike bronne.

3. Soos weergegee deur W Balke in sy “Calvijn en de Bijbel” 2003: 86

4. Hierdie feit word behoorlik uit die oorspronklike bronne aangetoon in ‘n proefskrif van HA Speelman, 1994: Calvijn en de zelfstandigheid van de kerk, pp 70-87, wat in ‘n groot mate die teorie omverwerp dat Calvijn en Farel hoofsaaklik uit Genève verban is omdat hulle nie die feesdae wou onderhou nie.