Vuur en Hamer Oor die karakter van die Woord van God
Vuur en Hamer Oor die karakter van die Woord van God
My woord is soos vuur, sê die Here, soos ʼn hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.
Jer. 23:29
31 Oktober. Twee woorde kom na vore: ‘Luther’ en ‘Bybel’.
Twee woorde wat sonder moeite met mekaar verbind kan word, al is dit net met die hulp van Luther se woorde op die beroemde ryksdag van Worms: “As ek nie deur die getuienis van die Heilige Skrif of deur redelike argumente oortuig word nie – want die Pous en die konsilies alleen kan ek nie glo nie, omdat dit vasstaan dat hulle meermale gedwaal het of hulleself weerspreek het – dan bly ek oortuig deur die Skrif, waarop ek gesteun het. Dan is my gewete deur God se Woord gebind. Daarom kan en wil ek nie herroep nie, omdat dit nie veilig en suiwer is om in te gaan teen die gewete nie. Mag God my help. Amen.”
Luther noem hom ʼn gevangene van die Woord. Hy neem teenoor die Woord die houding van ʼn kneg aan. “Wat daar verder ook al bly staan of val, ek sal bly by die Woord van God.” Dit is nie slegs iets persoonliks van Luther nie, maar ʼn ingesteldheid wat ons deur die Woord self geleer word, of selfs ‘opgedra’ word. Dit word baie duidelik in Jeremia 23:9-32, ʼn gedeelte wat die uitgangspunt vorm van hierdie “lig van die Skrif”.
Valse profete⤒🔗
Vanaf Jeremia 21:11 keer die Here Hom teen die leiers van sy volk, by monde van sy profeet. Om nie verkeerd verstaan te word nie, wys Hy agtereenvolgens sy toorn teen die koningshuis van Juda (Jer. 21:13: “Ek is jou teenstander, Jerusalem, sê die Here, jy wat hier bokant die dal op die klipplaat lê, jy wie se inwoners sê niemand kan hulle aanval nie, niemand kan hulle skuilplekke binnedring nie,” sê die woord van die Here), teen Sallum, die seun van Josia (“Huil, ja, huil oor hom wat in ballingskap is, want hy sal nie terugkom nie, hy sal nie weer sy geboorteland sien nie”; Jer. 22:10), teen Jojakim, die seun van Josia (“Hy sal soos ʼn donkie begrawe word”; Jer. 22:19) en teen Jojagin, die seun van Jojakim (“Ek sal jou en jou ma wat jou in die lewe gebring het, in ʼn vreemde land gooi, waar nie een van julle gebore is nie, en daar sal julle sterf”; Jer. 22:26).
Nie net die konings nie, maar ook die profete moet dit ontgeld. Vanaf Jer. 23:9 verwyt die Here hulle dat hulle heiligskennis pleeg, in boosheid lewe (23:11), egbreek pleeg en met die leuen omgaan (23:14). Wat nog erger is: ‘hulle sterk die hande van die boosdoeners, wat nie één hulle van hulle boosheid bekeer nie’ (23:14). Met ander woorde: nie alleen leef hulle self in sonde nie, maar ook versterk hulle nog die volk daarin. Hoe dan? Deur hulle werk as profeet nie uit te voer nie! Ja, vir seker sê hulle dat hulle wel die woord van die Here verkondig, maar in feite kom hulle met leuens en drome – wat hulle ook nog onderling uitruil (23:23-28).
Hierdie ontrou het nie sonder gevolge gebly nie, want: “As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af”, sê die Here in Jer. 23:22). Maar nou dat dit nie gebeur het nie, en die profete ontrou is, bly die sonde onder God se volk voortbestaan, terwyl die profete voortgaan om gerusstellende woorde te spreek (Jer. 23:17).
In dié situasie en omstandighede laat die Here dan weet dat Sy woord anders is.
Die woord van die Here←⤒🔗
So met die eerste oogopslag gebruik die Here merkwaardige vergelykings, om dit duidelik te maak dat sy woord anders is as dié van die valse profete in die tyd van Jeremia. Die woord van die Here lui: “My woord is soos vuur, sê die Here, soos ʼn hamer waarmee klippe stukkend gekap word” (Jer. 23:22). Om dít te verduidelik, moet ek u in gedagte saamneem na ʼn smidswinkel toe – waar in die tyd van Jeremia die vuur en die hamer ʼn belangrike rol gespeel het. As ʼn smid in dié dae aan die werk gespring het, het hy ʼn groot steen geneem – ʼn rotssteen – en dit in die vuur gesit om dit daarna met ʼn hamer te slaan.
So sou ook die valse profete besig gewees het as hulle waarlik die woord van die Here gebring het. Soos smede, wat die volk van God verbrysel! Met die eerste oogopslag klink dit miskien dreigend en angsaanjaend, maar in die lig van die konteks word dit wel duidelik wat die Here daarmee bedoel, nl. dat hulle die volk dan sou aanspreek oor hulle sonde. “As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af” (Jer. 23:22).
Dít het egter nie gebeur nie! Die profete laat die sonde met rus en spreek desondanks gerusstellende woorde. “Hulle hou aan om vir dié wat My minag, te sê: ‘Die Here sê daar sal vrede vir julle wees’. Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle: ‘Daar sal nie ʼn ramp oor julle kom nie” (Jer. 23:17). Dáároor is die Here toornig – oor sulke prediking en sulke profesie, op ʼn manier wat nie misverstaan kan word nie. Die woorde: ‘Sien, Ek sal die profete straf’; word tot drie maal toe in Jer. 23:30-32 herhaal.
Wat die rede daarvoor is, word duidelik as ons in gedagte terugkeer na die smedery. As ons die moeite doen om langer te kyk terwyl die smid sy werk doen, en met vuur en hamer die rotssteen aandurf, dan sien ons tot ons verbasing dat daar uit daardie groot klip, blink metaal te voorskyn kom. Silwer! Hoe langer die smid sy werk doen, hoe skoner en suiwerder word die silwer.
Met ander woorde: die verbryseling van God se volk is nie ʼn doel op sigself nie, dit is die weg na loutering. Dít het die Here op die oog, as Hy sy volk met sy woord aanspreek oor hulle sonde. Die doel met hul loutering is dat hulle hul sonde sal raaksien, dit dan bely en terug keer van hul bose weë en hul slegte dade – om so redding en behoud te ontvang. Dít is vir God se volk slegs bereikbaar deur die weg van verbryseling en bekering. Daar is nie ʼn ander weg nie! Daarom is die Here so toornig oor die valse profete.
Nie die enigste←⤒🔗
In die dae van Jeremia, wat die dae van die valse profesie en die valse gerustheid was, het die Here duidelik laat weet hoe sy woord is, nl. soos ʼn vuur en soos ʼn hamer. Sy volk word daardeur verbrysel en gekonfronteer met hul sonde en opgeroep tot bekering. Só het Jeremia ook die woord van God gebring – met al die gevolge van dien (vgl. bv. Jer. 7:1-15).
Jeremia was egter daarin nie die enigste gewees nie. Ook by ander Ou-Testamentiese profete kom ons hierdie konfronterende kant van die woord van die Here volop teë.
Om maar net een voorbeeld te noem, dink aan die manier waarop Jesaja hom eens tot die trotse vroue van Jerusalem gewend het: “Omdat die vrouens van Sion hoogmoedig is en kop in die lug rondloop terwyl hulle ogies maak, wegstap met trippelgang en hulle enkelringe laat rinkel, sal Ek, die Here, hulle hare afskeer. Ja, die Here sal hulle koppe kaal skeer” (Jes. 3:16-17).
Die woord van die Here was nie alleen in die Ou-Testament soos ʼn vuur en soos ʼn hamer gewees nie. Ook in die Nuwe-Testament is dié lyn voortgesit. Ons gedagtes val allereers op Johannes die Doper, wat soos volg in die woestyn opgetree het:
Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mark. 1:4). In die lyn van Jeremia en ander Ou-Testamentiese profete het hy ook die valse gerustheid aangeval met sy boodskap van bekering. “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Mat. 3:2
Na Johannes die Doper het die Here Jesus, ons hoogste Profeet en Leraar, self God se volk gekonfronteer met hulle sonde en hulle opgeroep tot bekering. Onder andere sien ons dit gebeur in sy konfrontasie met die Fariseërs en Skrifgeleerdes, wat wel vroom gelyk het, maar dit nie was nie. “So is julle ook: van buite af lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet” (Mat. 23:28).
Ook die bergrede laat ons keer op keer weer terug dink aan die ou woorde van Jeremia. Immers, keer op keer wys die Here Jesus daarin op die wet en die profete. ‘Julle het gehoor dat vir die oues gesê is.’ En Hy wys ook op die diepe betekenis en die groot reikwydte daarvan. ‘Maar ek sê vir julle.’ So het dit uit die mond van die Heiland gekom: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” (Heb. 4:12)
Ten slotte het die apostels ook die volk van God gekonfronteer met hulle sondes en hulle opgeroep tot bekering. Petrus het al daarmee begin op die eerste Pinksterdag: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang” (Hand. 2:38). Dit is ook deur ʼn man soos Paulus in sy briewe voortgesit (vergelyk byvoorbeeld gedeeltes soos Rom. 13:11-14; 1 Kor. 3:1-9; 1 Kor. 5:1-13; 2 Kor. 6:11-7:1 ens.).
Kortom, hoewel Jeremia 23:39 gespreek is in die tyd van Jeremia, leer die Bybel ons baie duidelik dat ons die woorde nie tot hierdie tyd moet beperk nie. Wie egter eerlik die Bybel lees, sien ʼn duidelike lyn wat strek vanaf Jeremia en die ander Ou-Testamentiese profete, deur Johannes, na die Here Jesus toe en vervolgens verder tot by die apostels. Wat sou dit anders kon beteken as dat God se Woord blywend moet wees soos ʼn vuur en ʼn hamer? Ja, dit mag en moet nog steeds deur God se kerk gesing word:
‘U het ons in vergange tye,
O Heer, getugtig en bedroef,
en ons gelouter deur die lye
nes silwer deur die vuur beproef.Ps. 66:4, berym
Luther←⤒🔗
ʼn Man wat dit goed begryp het, is die man aan wie ons in Oktobermaand terugdink. Maarten Luther, wat in sy dae ook te doen gehad het met ʼn volk van God wat aan die slaap gesus is. Alhoewel op ʼn ander manier as in die dae van Jeremia, is hulle tog aan die slaap gesus. ‘Valse profete’ het rondgetrek en die mense wys gemaak dat as hulle aflate koop, hulle geen sorge hoef te hê oor hulle sonde en hul ongeregtigheid nie.
Valse profete en dus valse gerustheid!
Luther het dit egter herken, danksy God se genade. Teenoor die valse profete het die ware woord van God gestaan. ‘O, dat ons ontslae was van al die predikers, wat tot die Kerk gespreek het, nl. “Vrede! Vrede!, terwyl daar geen vrede is nie”’, roep hy uit in één van sy stellinge (nr. 92). Ook in ʼn ander stelling: ‘God vergewe niemand se skuld wat hy nie van te vore in verootmoediging bely het nie’ (nr. 7). Oftewel, die ou boodskap van Jeremia: die weg na vergewing en vernuwing, na loutering, en so na behoud, loop altyd deur die verbryseling en die verootmoediging.
En nou ons?←⤒🔗
Hoe is dit nou met ons gesteld? Ken ons nog die konfronterende kant van God se woord, waar Jeremia die valse profete op moes wys? Wil ons die kant van God se woord ook nog ken? Twee verskillende vrae.
Die eerste raak veral die predikers onder ons. Word daar ook by hulle die prediking van ʼn Jeremia en ʼn Luther gevind? Durf hulle nog om so te preek? Laat ons nie te lig daaroor dink nie: dit vra moed om in die prediking sonde nog sonde te noem; om geen water by die wyn van God se gebod te gooi nie, ter wille van die liewe vrede. Sulke konfronterende prediking vra moed en stuit op verset, maar is tegelyk ook ʼn opdrag. Wat dit betref is Jeremia 23 juis vir predikante ʼn onthullende hoofstuk.
Daar is tog ook die ander kant, nl. die kant van die ‘hoorder’. Wíl ons nog die Woord van God hoor, wat soos ʼn vuur en ʼn hamer is, wat ons in ons sonde ‘ontdek’, en wat ons die weg van boetedoening, vergewing en vernuwing laat gaan? Of verlang ons van ons dominees dat hulle ons aan die slaap moet sus, en ‘vrede’, ‘vrede’ moet uitroep, terwyl daar geen vrede is nie? Laat ons by ons persoonlike Bybelstudie die konfronterende Bybelgedeeltes maar liewer met rus?
Dit is belangrike vrae, waarby ons juis in Oktobermaand weer stilstaan, want Luther het aan ons ʼn duidelike weg aangedui: ‘wat daar verder ook bly staan of val, ek sal by die Woord van God bly’, selfs ook as dit my aanspreek oor my sonde en konfronteer met my ongeregtigheid, en my oproep tot boetedoening en bekering. Sê ons ook so die hervormer na? Gebruik ons die Bybel ook met daardie doel? Wil ons dit doen, of kan ons dit doen?
Nogmaals: dis belangrike vrae, want alleen langs die weg van verbryseling is loutering moontlik. Kan erts in silwer verander? Of, sonder beeldspraak: alleen as ons ons laat konfronteer met ons sonde en daardeur ons ons ellende laat leer, sal ons ons behoud buite onsself, in Jesus Christus soek. Dit is ook die enigste weg om behoue te bly, of, soos Luther dit stel: ‘Dit is baie beter om die koninkryk van die hemel in te gaan deur baie beproewinge, as om ʼn liggaamlike sekerheid te verkry deur die vertroostinge van ʼn valse vrede’ (stelling 95).