Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Vrye Kuns

kuns

Vir Gereformeerdes wat nie almal kunstenaars is nie, en ook gewoonlik nie 'n aktiewe belangstelling in die kunste het nie, kan dit maklik voorkom asof 'n gesprek oor vryheid in die kunste na 'n onbelangrike, hoogdrawende kopstampery lyk. By baie gelowiges is hierdie gebrek aan belangstelling amper verstaanbaar, omdat  hulle vir jare negatiewe gevoelens teenoor kunstenaars opgebou het. Hierdie vervreemding was as gevolg van die politieke protes-teater, godslasterlikhede, naaktheid in die kuns en die algemene "geslotenheid" van die kuns vir die "gewone" mens. Tog is daar meer op die spel as net 'n akademiese gesprek. Die eer van Christus is ter sprake as daar oor kuns, enige kuns, se vryhede gepraat word – ook, en veral tans, in Afrika.

Kunstenaars wil gewoonlik vry wees. Dit is vir baie eeue al so. Enige beslaglegging op vryheid deur owerheidspersone, kerke en ander godsdienste asook ideologieë word met protes bejeën. Teenstand, en selfs opstand van kunstenaars, is meermale die gevolg, veral waar sensuur ter sprake kom.

Wilsvryheid🔗

Baie kunstenaars plaas 'n hoë premie op hulle eie persoonlike vryheid.

Dit is 'n vryheid wat hulle toelaat om te dink en te sê en te doen sonder enige (buite-) inmenging. Vryheid word gesien as die reg om jou eie wil na vore te bring soos wat jy geïnspireer word om te doen. Sonder om te verval in wat 'n juiste definisie van kuns sou wees, moet daarop gewys word dat die kunstenaar self wil besluit wat as kuns geld en wat nie (dit is veral relevant in die post-modernisme waar die grens tussen "kuns" en "die werklike lewe" al hoe vaer word.).

Om as Christene allerlei skokkendhede (soos by die Grahamstad- en Klein-Karoo kunstefees) uit te wys, is goed en wel, maar daarby kan nie gebly word nie. Dit is so dat God van sy kerk verwag om afwysend te staan teenoor dinge wat Hom oneer aandoen, maar dit is nie al nie. God verwag meer – God wil sien dat Hy in die kunste geëer word. Gereformeerd wees is beslis nie om te sug oor die verworde kuns nie. Daar sit veel meer daarin om die Iiefdesgebod tot God in die kuns na te kom. Gelowig wees behels meer as net negatiewe opmerkings oor wat alles in die lewe verkeerd loop.

Gelowige kunstenaars moet weer die debat open oor wat ware vryheid is. Jesus sê vir Fariseërs: "As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees." (Johannes 8:37) Ware vryheid, ook in die kuns, het niks te doen met die uitlewing van eiewilligheid nie. Vryheid kan nie verstaan word sonder die begrip verslawing nie. Vryheid moet volg op verslawing. Soos takke en blare van 'n boom uit een wortel stam, so het die verskillende verskyningsvorme van verslawing maar net een wortel: ongehoorsaamheid teen God.

Nuwe Debat🔗

Dis 'n valse debatspunt om te vra: waar lê die grens van my vryheid as kunstenaar, en wat bedreig my om my te kan uitleef soos wat ek wil en voel? Die debat moet geopen word met die vraag: waaraan is die kunstenaar verslaaf en, nog belangriker, waarvan en waartoe word 'n mens verlos deur die geloof in Christus – en hoe lyk sulke kuns.

Wanneer hierdie vrae opreg beantwoord word, sal dit blyk dat die kunstenaars wat meen dat hulle vry is, juis gebonde is, meestal aan eiesinnigheid – wat afgodery is. (1 Samuel 15:23)

So gesien is daar baie verslaafde kunstenaars, baie word opgeëis vir dinge wat Christus se eer verdring. Sulke verslawing sluit in nasionalisme, individualisme, kommersialisme, kerklike aansprake, staatsubsidies wat die kunste in 'n propagandistiese, "polities korrekte" rigting stuur (vergelyk maar die nuwe witskrif oor kuns en kunsterade). Vele meer kan genoem word, maar al hierdie voorbeelde berus op een dwaling, naamlik 'n verkeerde vryheidsbegrip.

Danser

Genade teen Natuur🔗

Daar is ander dreigende gevare vir gelowige kunstenaars wat nie aandag aan die vryheidsdebat gee nie:

  • 'n Mens kan ongemerk in die Rooms-Katolieke dwaling verstrengel raak. Dit gebeur waar die lewe in 'n "geestelike" en "sekulêre" (wêreldse) sfeer verdeel word. Gereformeerdes wat met so 'n skema werk, dink dan ook dat dit hulle taak is om byvoorbeeld net geestelike kuns, soos "gospel"-musiek, te produseer. In effek tree daar 'n groot verskraling in, en ook 'n grensoorskryding met die kerk as samelewingsverband. By die kerk moet die lewende Woordverkondiging en sakramentebediening gevind word – dit is nie die kunstenaar se taak om op hierdie manier Woordbediening te pleeg nie. Vir die kerke hou hierdie rigting die gevaar in dat die "kuns" al hoe meer 'n aanvaarbare vervanger of alternatiewe Woordverkondiging word. Mens het al selfs gehoor dat byvoorbeeld Psalm 23 eerder in die erediens deur 'n dansgroep gedans moet word as om die tradisionele preek daaroor te hoor. Op 'n nuwe manier word die "beelde" weer in die Protestantse kerke ingevoer. Die kerk kan heeltemal op die glybaan kom. Deon Opperman, 'n bekende dramaturg, het onlangs gesê dat die teater die nuwe kerk word. Die kerk word heeltemal opgeneem in die nuwe kunsvorm.

Aanpas by Wêreld🔗

  • 'n Tweede rigting, ook uit die Rooms-Katolieke. skeiding, neem net die ander been van die tweedeling. Die geestelike word nou verwêrelds. Dit is waar "uit die kerk" uit beweeg word om op 'n meer aanpasbare wyse nader aan die wêreld te staan. Dit is waar dinge voorkom soos "gospel rock" en selfs die nuutste "resurrection raves".

Christelike Kuns🔗

  • 'n Verdere gevaar is dat die Christen hierdie verkeerde vryheid wil gebruik om in die wêreld te getuig vir Jesus. Kuns van hierdie kunstenaars is erg prekerig, met die verskoning om 'n alternatief te bied naas al die ander verkeerdhede. Maar Christus is nie die alternatief nie – Hy is enigste, buite Hom bestaan daar geen vryheid nie – ook nie in die kuns nie. Dit maak die benaming "christelike kuns" 'n teenstrydigheid. Daar is nie so 'n genre soos Christelike kuns nie. Dit is jammer dat selfs die ATKV-Skryfskool van die PUK, wat goeie ontwikkelingswerk doen, in hierdie strik getrap het.

Kunstenaars is óf bevry deur die bloed van Christus óf hulle is nie. Gelowige kunstenaars moet besef dat hulle in Christus WAARLIK vry is om God hulle Vader in hulle kuns te vereer, deur die inspirasie van die Heilige Gees. Dit sluit die hele skepping in en beteken geensins dat hulle kuns verskraal en verarm moet word tot "geestelik" en versier moet word met die plakkertjie "Christelik" nie. Die benaming "Christelike kuns", as genre, wek die indruk dat Christus, naas baie afgode, ook maar 'n staanplek in die kunste gegun moet word, iets wat ten sterkste in die tweede gebod verbied word. Daar is maar een God, en Hy eis alle kuns vir Homself op. Alle kuns het met Christus te doen; die vraag is of dit gehoorsaam of ongehoorsaam gedoen word aan die vryheid wat Hy gee.

Middelmatig🔗

  • Dit is ook gevaarlik as Christene begin dink dat geloof in Christus hulle 'n verskoning bied vir middelmatige, en selfs swak, kuns. Die teendeel is eerder waar. Om in Christus te glo, beteken dat God se direkte soewereiniteit in alles – ook die kunste – erken moet word. Dit het groot gevolge vir wat as kuns deurgaan en wat nie, want bevryde kuns, ware kuns, verheerlik die Vader.

Ten slotte is dit uiters noodsaaklik dat hierdie valse vryheid nie gebruik word om inkonsekwenthede toe te smeer nie. Dit is tans gewild en gesog om sogenaamd polities korrekte (afro-) kuns te maak. Polities korrekte kuns is egter, en was nog altyd, onvrye kuns. Hier is 'n vorm van neo-sensuur vanweë groepsdruk. Alhoewel meer "vry"-willig as staatsensuur, is dit op die ou end net so fascisties. Met polities korrekte kuns (soos om "een-man-vertonings" nou "een-persoon-vertonings" te noem) word net sekere dinge toegelaat, selfs stilweg voorgeskryf. Wat egter pla, is dat sekere sake op hierdie manier effektief "verbied" word, nie omdat dit teen Christus se Koningskap is nie, maar omdat dit teen een of ander ideologie is.

musiek

Verantwoordelikheid🔗

Gereformeerdes het 'n groot verantwoordelikheid as dit by die kunste kom. Eerstens moet gelowiges nie net negatief staan nie, maar aktief diensbaar God se eer verkondig, hetsy as kunstenaar of kunswaardeerder of selfs net as kunsaankoper. Tweedens is dit die taak van gereformeerdes om weer die vryheidsdebat na vore te bring. Vryheid het nie te doen met protes-teater, die ontduiking of uitdaging van staatsensuur of iets dergeliks nie. Dit het alles met die kruis en opstanding van Christus te maak.

Bevryde Kuns🔗

Bevryde kuns is waar 'n geredde kunstenaar die direkte soewereiniteit van God in alles, veral sy kuns, laat blyk. 'n Bevryde kunstenaar sal nie toelaat dat iets hierdie waarheid verbloem nie. Niks, nie die staatspersone, die kerke, geen ideologie, ander kunstenaars, mag die gelowige kunstenaar van sy vryheid in Christus beroof om die Vader te loof met die gawes wat hy of sy ontvang het nie. 'n Bevryde kunstenaar sal egter weet dat dit verslawing is om te pleit dat hulle slegs hulle eie kop, hart en niere wil volg. Vryheid is nie 'n vryheid as teen God gesondig word nie – dis sonde-slawerny. So sê Jesus: "Elkeen wat die sonde doen, is 'n dienskneg van die sonde" (Joh. 8:34).

Vryheid is juis 'n ontkoppeling van alles wat skeiding tussen die kunstenaar en sy Skepper maak. Sulke vryheid, ware vryheid, is slegs in Jesus Christus te vind. Sulke vryheid deur die geloof sal ook vrye kuns tot gevolg hê. Dis die taak van gereformeerdes om hierdie vryheid te verkondig, en met niks minder as dit in die kuns tevrede te wees nie.