Vreugde van 'n bevryde moraal
Vreugde van 'n bevryde moraal
Aan die einde van Paulus se briewe volg meesal praktiese wenke. Oppervlakkig gesien lyk dit kompleet na morele sede lessies – dit wat mense moet gaan dóén om ‘n goeie verhouding met God te hê. Efesiërs 4:30 waarsku ons dat díé uitleg verkeerd is. Daar staan: “Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie”. Dit staan sommer so skielik daar – so tussen al die aangeprese deugde. Want sien: word die Gees bedroef, word die vreugde geblus. En dit is die vreugde van die Evangelie (vreugdeboodskap) wat die groot verskil maak tussen wetties-moralistiese sedelikheid en Paulus se verkondiging. Daarom is dit onmoontlik om Kahil Ghibran en Paulus te vergelyk. Eersgenoemde is ‘n fynproewer van wet en etiket. Teenoor hierdie klas fynproewers is Paulus ‘n amateur. Maar Paulus se praktiese oproepe is gegrond op ‘n kruis en oop graf – op Iemand wat dood was en weer lewe. Die wonder van die kerk is dat Sy opstanding verkondig word en die Gees vreugde gee. Die kerk is nie ‘n skool waar daar geleer word wat “reg en verkeerd” is en wat almal se plig is en waar deugde gekweek word nie. Nee, die wonder van die kerk is dat dit die plek is waar die Gesalfde die Heilige Gees (en Sy vreugde) soos salf salwend oor ons uitgiet. God se liefdeswoorde, lewend en trillend van opwinding en vol liefdesgeheimenisse word bedien.
Dit is wat bedoel word met: “bedroef nie die Heilige Gees nie”. Paulus het midde in die moraal, die vreugdeboodskap van die Evangelie nie vergeet nie! Paulus moraliseer nie. Hy bedien die evangelie. Hy vertel van die Heilige Gees wat trane afvee en bly maak. Hy sê ons moenie die Gees bedroef deur te weier dat Hy ons trane afvee nie. Sy diepste uitgangspunt is dat álles wat die vreugde wat van Bo kom, versteur, onsedelik is! Dit is immoreel, sleg, sonde en ongehoorsaamheid.
Daar is dus ‘n hemelsbreë verskil tussen Paulus se “moraal” en díé van die moraliste. Die moraliste reken primêr met die méns, maar Paulus reken met die Heilige Gees. Vir ‘n sedelike handeling, is twee persone nodig en vir Paulus is die tweede Persoon die Heilige Gees. Paulus weet dat die Bybel nie ‘n Boek is waaruit jy moet/kan lesse gee nie. Dit is so eentonig soos boeteprediking onbarmhartig is. Die boeteprediker neem die materiaal van die mens se lewe tussen duim en voorvinger om die gehalte te ondersoek. Maar, wie dít doen, vergeet meesal dat hy van dieselfde lap geskeur is. Die sedeprediker soek kwaliteit en word verbitterd omdat hy dit nie kry nie. Vergete is die feit dat die goeie sedelike handeling ontstaan wanneer die oordeel van die liefde en vreugde van die Gees die ruimte daarvoor skep. Dít het niks te make met les-gee nie.
Neem vir Jesus en Saggeüs as voorbeeld. Saggeüs het krom geloop onder die eise en oordele van die moraliste. Maar skaars was Jesus by hom aan huis, of Jesus staan daar met die skuimende beker van Saggeüs se nuwe lewe in Sy hand. Waarom? Omdat Jesus na hom gekom het met die oordeel van die liefde – wat nie dreig nie – maar wat prontuit onvoorwaardelik toesê: “Vandag het daar vir jou verlossing gekom”. Die Gees oordeel met die oordeel van die liefde – wat nie verbitterd word nie en die kwaad nie toereken (soos die boeteprediker) nie en wat alle dinge hoop en glo.
Só word ons morele eensaamheid en mislukkings weggeneem. Die Gees eis immers nie van ons allerlei gawes nie. Dit is die méns wat gawes ontvang, nie God nie. Hy benodig nie die gawe van ons hart en oorgawes nie. Hy eis nie ons gawes van toewyding, ophou lag en onthouding nie. Inteendeel. Hý géé die gawes! Hoeveel verbittering en neerslagtigheid kon ons (onverbeterlike moraliste wat ons is) onsself en ander nie gespaar het indien ons maar by Paulus wou leer dat die ware moraal tuishoort onder die vreugde van die Gees nie. Ja, die lig wat alle “voorskrifte” belig, is die “vermaning” dat ons nie die Gees moet bedroef nie.
Terwyl die moralisme die wet aan mense voorhou as alfa en omega, hou die vreugde wat die Gees gee daarmee rekening dat die wet aan Jesus voorgehou was, en dat Hy, namens ons, die toets geslaag het. Dit is dus duidelik dat in hierdie één gebod van Paulus (bedroef nie die Gees nie) al die ander voorskrifte opgelos word. Die geheim van die lewe bestaan tog nie in die oorwinnings wat óns behaal en dit wat óns verwerf nie, maar juis in dit wat ons prysgee, weggee, opoffer en weggooi. Soos brood op die water. En dit kán – veral wanneer ‘n gelowige sy/haar lewe in ewigheidsperspektief sien. Geen wonder dat Paulus in vers 30 sy sin voltooi met die woorde: “want Hy (die Gees) hét julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” Die Gees het ‘n merk op die gelowige se lewe gemaak. By die voleinding sal die gelowiges uitgeken word aan die merk van die Gees. In die lig hiervan kan die gelowige wéggee en prysgee, want hy staar hom nie meer blind teen híérdie lewe nie. Die vreugde van die Gees open ‘n ewigheidsperspektief. Die Gees sê: “Eenmaal sal jy lewe”. Die boeteprediker sê: “Jy lewe net éénmaal – nóú is jou laaste kans – vannag kan jy sterf”. Maar die Gees sê: “Eenmaal sal jy lewe.” Ons sê (terwyl ons die Gees bedroef met ons benepe moraal) : Ons lewe net eenmaal. Maar die Gees sê: Eenmaal sal jy lewe.
Daarom sal dít wat op onsself (en hierdie lewe) alleen gerig was – sonder die vreugde van die Gees – ondergaan in die sondvloed – die wêreldeinde. En dit is al wat ons van ander mense kan sien – dit wat uiterlik gedóén word. Maar, wat deur ons naaste (met ewigheidsperspektief voor oë) weggelaat word en geoffer word en prysgegee word, bly vir ons oë verborge. Wie sal die trane tel wat in die geheim gehuil is? Hoe weet ons hoeveel leed stom gedra is? Watter gelowige sal dit dus kan waag om moralisties régter oor ‘n ander te wees? Dit is immoreel. Want alles wat die vreugde van die Gees versteur, is immoreel.