Voorlees van die Wet
Voorlees van die Wet
In die Vroeë Kerk en gedurende die vroeë Middeleeue word die Wet of Dekaloog nie in die erediens aangetref nie. Eers in die laat Middeleeue begin mens dit in die erediens aantref. Dit is veral in die pronaus dat dit 'n plek verkry na die preek en na die Apostolicum en voor die openbare skuldbelydenis.
So ook word die Wet in die orde van Zwingli aangetref na die preek en na die Apostolicum. Hierin word Zwingli gevolg deur die ordes van à Lasco en Micron: dit volg na die preek en op sy beurt word die Wet gevolg deur die skuldbelydenis. Dit is ewe-eens die geval met die orde van Farel: die Wet vind plaas na die preek en voor die bede om vergifnis.
Calvyn in sy Straatsburgse orde neem die Wet op in twee dele volgens die twee tafels. Hy beskou die Wet as reël van dankbaarheid, maar plaas dit voor die preek en na die absolusie. Pollanus volg Calvyn hierin na. Later vind ons in die verskillende Calvinistiese kerke dat die Wet na die begin van die diens verskuif word, voor die skuldbelydenis. Die Sinode van Dordrecht, 1574, het besluit dat die Wet in die middag/aand, voor die kategismus gelees moet word, maar die praktyk het gebly dat dit in die môre gelees is, voor die preek.
Dit blyk dus dat die Wet in die Gereformeerde liturgieë op verskillende plekke tereggekom het. Die vreemde is dat in die ordes waar dit geplaas is na die preek, met die veronderstelling dat dit as reël van dankbaarheid moes geld, dit geplaas is voor die openbare skuldbelydenis, dus meer in die betekenis van 'n tugmeester na Christus. In die ander ordes waar dit geplaas is voor die preek, dus in die vermeende betekenis van 'n opwekking tot 'n skuldbesef, is dit geplaas na die skuldbelydenis en genadeverkondiging, dus weer met die klem op die betekenis van die reël van dankbaarheid. Verder blyk dit ook dat dit nie juis is om te sê dat Calvyn die vader is van die gebruik om die Wet in die erediens te lees nie (A. Kuyper). Wel kan gesê word dat die lees van die Wet in die erediens vandag tipies gereformeerd is.
Die gebruik van die Wet in die erediens is veral om die volgende twee motiewe:
-
Die Wet as spieël vir die kennis van sonde. Hiervolgens bedoel die lees van die Wet om die gemeente onder die besef te bring van die heiligheid van God en van die eise wat Hy stel aan sy dissipels. In die diepe betekenis van die Wet, word die gemeente gebring om hulle skuld te besef waar hulle as gemeente en as enkelinge die Wet van God negatief oortree het deur gesindheid, gedagtes, woorde en werke; en positief waar die groot bedoeling daarmee te kort skiet in die lewe van sy gemeente. Die bedoeling is verder dat die besef van sonde die gemeente moet bring om na Christus se verlossing te gryp: dit is dan "'n tugmeester na Christus" (Galasiërs 3:24).
Hierdie is inderdaad 'n belangrike motief vir die gebruik van die Wet in die erediens. Die Wet is egter nie die enigste wat moet bring tot skuldbesef en die begeerte na verlossing nie. Daar is verskillende Skrifgedeeltes wat dit op dieselfde of skerper wyse doen. Verder word die gebruik van die Wet in hierdie sin maklik bedreig deur die gevare van wettisisme en werkheiligheid. Ook is daar die gevaar dat die wet so op die voorgrond te staan kom dat die evangelie misgekyk word. Vir hierdie gevare moet altyd gewaak word.
-
Die Wet as reël van dankbaarheid. Die Wet druk God se wil vir sy volk, vir sy kerk, uit en waar dit in die erediens gelees word, daar bedoel dit die bekendmaking van God se wil, maar ook die eis dat dit gehoorsaam sal word. Die gemeente luister na die Wet met die bedoeling om dit in nougesetheid na te volg in die konkrete lewe. God se aanspraak op sy verbondskinders kom tot uitdrukking waar hulle sy Wet aanhoor en gehoorsaam. Die Wet is in die sin van die Verbondswet. Hier kom ook die teokratiese motief na vore; God se volk erken sy koningskap oor hulle lewe, hulle kom stel hulle voor sy aangesig en onder sy wil, en betuig die bereidheid om dit te gehoorsaam. Die gemeente lê duidelik belydenis af: "We willen Uw wegen gaan, want Gij zijt groot in Uw werken van genade! Hier spreekt de gemeente ook tot haar God, en zegt ze dankbaar: noem ons Uw geboden maar, spreek maar tot ons!" (G. van Rongen). Deur sy Wet gee God die oplossing vir vasgeloopte lewens. "Hij trekt het verworde menseleven weer terecht" (J.L. Koole).
Hier is ewe-eens 'n baie belangrike motief vir die lees van die Wet in die erediens. Dit word nie gesien teenoor die eerste motief nie, maar as aanvullend daarop. Nie een van die twee motiewe mag gemis word nie. In die vormgewing van die erediens moet albei motiewe tot uitdrukking kom. Daarom word daar 'n alternatief vir die gebruik van die Wet aangegee. In die eerste word die Wet gebruik as spieël om te kom tot sondekennis; dan staan dit voorop en volg die skuldbelydenis en genadeverkondiging daarop. In die tweede word een of ander Skrifgedeelte gebruik om die gemeente te bring tot sonde-kennis, waarop die skuldbelydenis en genadeverkondiging volg. Hierna kom die Wet aan die orde as die lewensreël van die dankbare gemeente. Uit dankbaarheid vir die ontvange genade stel die gemeente hulle onder die Verbondswet om so in die nuwe lewe te wandel.
Sodat die Wet steeds nuut en vars bly en nie naderhand agteloos aan die aandag van die gemeente verby gaan nie, moet ook dit sinvol afgewissel word:
-
Die Wet in Eksodus 20 en in Deuteronomium 5.
-
Saam met elk van hierdie formuleringe van die Wet kom die samevatting, soos deur Christus gegee (Matteus 22:37 ev; Markus 12:29 ev).
-
Saam met elk van die formuleringe van die Wet kom ander Nuwe Testamentiese uitlegginge van die Wet, wat juis die diepe betekenis daarvan onderstreep, soos Romeine 13:8 ev; Galasiërs 4:4 ev; 1 Johannes 4:7 ev.
-
By sekere geleenthede, veral waar daar ook ander handelinge plaasvind, soos die doop, bevestiging van ampsdraers, kan slegs die samevatting deur Christus gegee, gelees word. Hierdie is wel 'n samevatting, maar is tegelyk meer, want dit is ook Sy uitleg van die diepe betekenis van die Wet vanuit Sy verlossingswerk.
Calvyn het die gewoonte gehad om die Wet in twee dele deur die gemeente te laat sing. Dit is egter nie korrek nie. Deur die Wet praat God direk tot sy gemeente. Waar die gemeente dit nou sing, antwoord hulle op wat God sê, in plaas daarvan om self te luister. Indien beweer word dat die sang dan as verkondiging opgevat moet word, is die vraag: Aan wie verkondig hulle die Wet? Immers, die Wet is juis vir hulle bedoel. Ook is dit verkeerd om die Wet op te sê of dat dit voorgedra word. Nee, die Wet moet met eerbied en met 'n duidelike gesag voorgelees word.
Die Wet in die dubbele motief soos aangetoon, kan sowel voor as na die preek geplaas word. Die plasing daarvan voor die preek verdien die voorkeur. Die prediking gaan juis verder as die Wet en verkondig die hele raad van God en laat die lig val op al die aspekte van die nuwe lewe uit die evangelie, waarteen die Wet verstaan moet word.