Verstaan u u (Kinder)Doop?
Verstaan u u (Kinder)Doop?
Weet u werklik waarom u as 'n babatjie gedoop is? Wat beteken u doop vir u vandag? Of is die kinderdoop maar net 'n ou kerktradisie waarin 'n Gereformeerde teen wil en dank vasgevang is?
Die boek Infant Baptism: the arguments for and against (König, Le’derle en Möller, CUM, Roodepoort, 1984) gee belangrike antwoorde. Dit is verweef in referate en gesprekvoering tussen voorstanders en teenstanders van die kinderdoop. Hierdie boek is die weergawe van 'n kongres wat in Oktober 1983 by Unisa gehou is. Die kinderdoop is ongetwyfeld dié Gereformeerde dogma wat in 'n tyd van 'charismatiese' golwinge onder verdenking gebring word. En dit is sekerlik die leerstuk waaroor daar in meer as een Gereformeerde hart dikwels onuitgesproke twyfel verskuil word. Graag gebruik ek die geleentheid om enkele kernaspekte van die belangrikheid van die kinderdoop opnuut onder die aandag te bring.
Teenstanders teen die kinderdoop begin gewoonlik hulle argumentasie by die praktyk van die doop in die Nuwe Testament. Daarvoor sonder hulle tekste soos Markus 16:16; Handelinge 2:37-41; 8:12; 36-38; 9:3-18, ens. uit. Dan maak hulle die gevolgtrekking dat jy eers moet glo, belydenis doen en dán gedoop word. Die doop is dus vir hulle 'n teken van 'n mens se geloof.
In een van die belangrikste bydraes in die boek gaan L. Floor op hierdie argumentasie in. Hy toon duidelik aan dat die doop nie 'n teken van 'n mens se geloof is nie, maar 'n teken en seël van God se belofte.
Derhalwe is die doop dus per definisie nie 'n teken van die mens aan God nie, maar 'n teken van God aan die mens.
En die 'problematiese' Markus 16:16 (en ander genoemde tekste) waarin die volgorde eers die geloof dan die doop is? Hier staan ons midde in die beginsituasie van die doop! Net soos vandag nog in die sendingveld. Daar maak alle voorstanders van die kinderdoop vanselfsprekend voorsiening vir die volwassenedoop! Trouens, die beginsituasie van die doop in die Nuwe Testament korreleer volkome met dié van die besnydenis in die Ou Testament. Dit begin immers ook by Abraham (en andere) as volwassenes, maar sluit daarna ook die kinders in.
Tekste soos Markus 16:16 sê egter óók dat wat deur die doop beloof en verseël word, nie ontvang kan word behalwe deur die geloof nie.
Maar, (sê Floor) al sou daar selfs nie 'n enkele gelowige oorbly nie, sal die doop steeds die teken en seël van God se belofte bly. En dat Hy dié wat in geloof daarop antwoord, die verlossing skenk.
Die teenstanders teen die kinderdoop kan steeds nie 'n bevredigende antwoord aanbied waarom die kinders (van gelowige ouers) wat in die geloof opgevoed word, nie in die teken van die genadeverbond mag deel nie. Die gedagte dat klein kindertjies wat te sterwe kom, buitendien vanweë God se genade gered word, bevredig tog nie! Tot op watter ouderdom sou die 'onvoorwaardelike genade' van God geld en van watter leeftyd af word die 'genade op voorwaarde van die geloof' geskenk? Waar trek 'n mens die streep?
Die redenasie vir grootdoop hou in dat God van sy kant bevestig dat die persoon tot geloof gekom het. Die besluit berus dus by die mens self. Die dilemma van hierdie dwaling is duidelik: Wat gebeur as iemand ná sy selfgekose volwassedoop weer afval — word die geldigheid van die doop 'as verseëling van geloof' nie vernietig waar die geloof verbrokkel nie? Die vraag kan ook anders gestel word: Watter geldigheid het 'n kind se kindskap, en watter sekerheid oor sy kindskap, as die verkryging (verseëling) daarvan juis van homself afhang?
⤒🔗
Genadeverbond←⤒🔗
Die volgende verskilpunt bring ons by die hart van die doop uit, naamlik die genadeverbond. Sonder 'n Bybelse begrip van die genadeverbond kan die betekenis van die doop eenvoudig nie reg begryp word nie. Die teenstanders van die kinderdoop beweer dat die Abrahamitiese verbond, die verbond van die besnydenis, die ou verbond is wat verval het. Derhalwe sien hulle die doop hoegenaamd nie as 'n voortsetting van die besnydenis in die nuwe bedeling nie. (Maar, met alle respek, terselfdertyd het hulle geen probleme met die nagmaal as voortsetting van die pasga uit die Ou Testament nie!)
Hierteenoor toon die voorstanders van die kinderdoop aan dat die Bybel as 'n eenheid gesien moet word. Die één Bybel openbaar die één genadeverbond van die één God tot redding van sy één volk. Die verbond word egter in twee bedelings geopenbaar: eers aan die ou Israel in die Ou Testament en daarna aan die nuwe Israel (as voortsetting van die ou Israel — Romeine 11:17) in die Nuwe Testament. Maar dit bly dieselfde genadeverbond wat dwarsdeur beide Testamente loop! Die inhoud van die verbond word in beide Testamente met dieselfde woorde as wat tot Abraham gekom het, weergegee: "Ek sal jou God wees en jy moet vir My 'n volk wees" (kyk Genesis 17). Dit wil sê omdat Ek vir jou 'n Vader is, moet jy My gehoorsaam. Hierdie verbondsformule loop soos 'n goue draad uit die Ou Testament dwarsdeur die Nuwe Testament, tot op die laaste bladsye daarvan (kyk net Genesis 17:7 e.v.; 2 Sam 7:14; Jeremia 31:33; 2 Korinthiërs 6:18; Hebreërs 8:10; Openbaring 21:3). Die teken van die verbond dui op God se belofte: "Ek sal jou God wees" (vgl. die hele 'Ten tweede' van die Doopsformulier wat die belofte uitspel in die betekenis van die doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees). Die tweede deel van die verbond dui weer op ons geloofsverantwoordelikheid: "En jy moet vir My 'n volk wees" (vgl. die 'Ten derde' van die Doopsformulier wat die eis van geloofsgehoorsaamheid stel). Maar selfs die geloofsantwoord op God se belofte kom nie primêr uit die mens self op nie. Dit hang dus nie in die eerste plek van die mens af of Hy God se belofte met geloof beantwoord nie. God gee self die geloof wat Hy van ons eis (Efesiërs 2:8). Dit is genade. Die onbegryplike genade waarmee God ons in sy genadeverbond omgewe.
Verbond en bedelinge←⤒🔗
Die konklusie is klinkklaar: daar is één genadeverbond dwarsdeur die Bybel. Dit word egter in twee bedelings geopenbaar, die bedeling vóór Christus se koms en die bedeling ná sy koms. Daarom is daar 'n bepaalde teken vir die eerste bedeling en 'n ander teken vir die tweede bedeling. Die Ou-Testamentiese teken is 'n bloedoffer, wat op die bloed van die komende Christus dui. Die Nuwe-Testamentiese teken is 'n reinigingsteken wat op die afwassing van die sonde deur die bloed van die gekome Christus dui. Derhalwe kan met sekerheid aangevoer word dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het (kyk veral Kolossense 2:11-12; en ook Romeine 4:1-12; Handelinge 15).
Wat is dan die 'ou verbond' wat volgens Jeremia 31:32 en Hebreërs 8:9 verval het? Dui dit nie tóg op die Abrahamitiese verbond, die verbond van die besnydenis, die hele Ou Testament nie? A. König lewer 'n besonder verhelderende perspektief op hierdie vraagstuk. Die 'ou verbond' is eintlik die Sinai-verordening van die genadeverbond. Israel kon nie insien dat die wet ná die verlossing uit Egipte as 'n dankbaarheidsreël vir die verlossing gegee is nie. Hulle het van die wet 'n basis vir eie verdienste gemaak. Deur wetsonderhouding wou hulle God se genade verdien. Juis hierdie misverstand oor die funksie van die Sinai-wet is die 'ou verbond' wat verval het (Jeremia 31:31 e.v.; Hebreërs 8:5 e.v.; 2 Korintiërs 3:6 e.v.; Galasiërs 4:21-26). Die Abrahamitiese verbond is in sy ware betekenis reeds die nuwe verbond.
En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.Galasiërs 3:29
Teenstanders van die kinderdoop stel die vraag: Kan kinders wat nog nie tot 'n selfstandige geloof gekom het nie wel tot die genadeverbond gereken word? Die uiteensetting dusver maak hierdie vraag duidelik volkome ontersaaklik. Die vraag moet eerder wees: Hoe kan kinders van gelowige ouers hoegenaamd uit die verbond uitgesluit word? Die één genadeverbond van die één God van genade kon tog nie so radikaal verander het van 'n verbond vir die hele gemeenskap van gelowiges na 'n verbond vir elke individu nie! Trouens, in die Nuwe Testament word ten minste van vier gevalle gewag gemaak van persone wat 'met sy/haar huis' gedoop is (Handelinge 10:24-28; 16:15; 16:31-33; 1 Korintiërs 1:16). Hier word uitdruklik geen kinders uitgesluit nie. 'n Persoon 'met sy/haar huis' was die standaard uitdrukking waarvolgens selfs die slawe (met hulle kinders) betrek is! Desondanks voer teenstanders van die kinderdoop aan dat nêrens in die Nuwe Testament spesifiek van kinders gemeld word dat hulle gedoop is nie. (En tog het hulle geen probleme daarmee dat daar ook nêrens in die Nuwe Testament uitdruklik gesê word dat vroue nagmaal gebruik het nie!)
Die sogenaamde beperking van die Abrahamitiese verbond tot die Ou Testament rus ook op die argument dat die belofte van Kanaän daaraan verbind is (Genesis 17:8). Dit word aangevoer as 'n verdere 'bewysgrond' dat ook die besnydenis net beperkte, eintlik bloot nasionale, betekenis sou hê. Ek wil egter die volgende perspektief hier byvoeg. Dit is opmerklik dat waar die verbondsformule vir die laaste keer op die laaste bladsye van die Bybel herhaal word (Openbaring 21:3), die belofte van nóg 'n Kanaän, die Nuwe Jerusalem, direk daarop volg. Die analogie tussen die eerste en die laaste vermelding van die verbondsformule wys nie slegs op die kontinuïteit van die verbond nie. Dit stel veral die belofte van Kanaän in die Ou Testament in perspektief met die belofte van die Nuwe Jerusalem in die Nuwe Testament. So word die Ou-Testamentiese Kanaän 'n teken van die beloofde land vir God se volk ná hierdie bedeling. Derhalwe kan ook hieruit afgelei word dat die genadeverbond met Abraham in die Nuwe Testament vervul en voortgesit word. Die doop is dus 'n vervulling en 'n voortsetting van die betekenis van die besnydenis.
Die teenstand teen die kinderdoop sentreer hoofsaaklik om die mens. Die mens in die middelpunt: die mens wat moet besluit, die mens wat sy hart vir die Here moet gee, die mens wie se saligheid per slot van rekening van homself afhang. En so word van die doop teken van die mens aan God gemaak. (Dit is pure Arminianisme al ontken mense dat hulle dit aanvaar.) In feite word hiermee natuurlik afstand van die sakramentele karakter van die doop gedoen!
Dit is die moeite werd om opnuut hieroor na te dink: Is die mensgesentreerdheid, die mens wat self die ding wil doen, nie die binnepit van elke teologiese dwaling — reeds van Adam en Eva af nie?