Tug en die Bybel
Tug en die Bybel
Op die keper beskou, wil dit voorkom asof hierdie vraag deur elke ouer beantwoord kan word. Maar is die taak van tuguitoefening in die ouerhuis werklik so voor-die-handliggend? Toegegee, sekere Christenouers kan in die permissiewe wêreld van vandag hulle kinders minstens bepaalde sedelike norme en waardes inskerp. Die probleem ontstaan egter wanneer ouers tuguitoefening moet toepas en dan moet ontdek dat daar verkeerd opgetree is en dat die skade reeds aangerig is.
Die gesin staar vandag in 'n toenemende mate 'n geestelike en kulturele bankrotskap in die gesig. Ouers het nie meer die onbetwiste seggenskap oor hulle kinders nie weens talle faktore wat op die gesin inwerk. Onder hierdie faktore is in baie gevalle die onteenseglike gebrek aan gesagsuitoefening deur die ouers. 'n Legio redes kan tot hierdie toestand bydra, maar die feit bly staan dat baie ouers nie by magte is om tuguitoefening na behore toe te pas nie. Die vraag moet nou gestel word of daar toegelaat kan word dat ouers die hande kan vou en die skouers optrek weens hulle onvermoë om hul kinders te beheer en die Christelike waardes by herhaling by hulle in te skerp? Nee, seer sekerlik nie. Daar bestaan maar een ware wegwyser wat elke ouer by vernuwing moet bestudeer vir leiding en insig in die problematiek van tuguitoefening, nl. die Woord van God.
Wat leer die Bybel ons oor tuguitoefening?⤒🔗
Sedert die grondlegging van die aarde is tug onlosmaaklik ingebed in die lewensgang van die mens, en is dit ten diepste gemoeid met al die grondvrae rondom die opvoeding van die mens. Kragtens Sy skeppingsverbond met die mens het God aan hom 'n besondere taak en lewensdaad opgelê om oor die skepping te waak en daaroor te heers (Genesis 1:26-28). Juis met die oog op hierdie opdrag, nl. dat God die mens as sy 'verteenwoordiger' geskape het, verleen God gesag aan die mens deur hom in 'n amp te plaas. God het verder die skepping aan reëls en wette onderwerp om orde te handhaaf en chaos te voorkom. Juis uit hierdie geordendheid tree die eis wat God aan die mens stel na vore, nl. die algeheel omsluitende eis van gehoorsaamheid. Om uitvoering aan hierdie eis te verleen, moet die mens hom derhalwe onvoorwaardelik aan die tug van God onderwerp.
Met die sondeval in die Paradys het die mens egter getoon dat hy in sy gebrokenheid nie onvoorwaardelik aan hierdie eis kan voldoen nie. Om hierdie rede het God dan telkens in die lewe van die mens ingegryp en deur tugtiging die mens weer na Hom teruggetrek. Die begrip tug ontleen juis sy betekenis aan die Duitse werkwoord 'ziehen' en Nederlandse woord 'siegen', waarvan in Afrikaans vertaal, 'trek', 'teuel' of 'beteuel' afgelei is. In sy wydste betekenis impliseer tug die doelgerigte pogings van die ouers (en ander opvoeders) om die kind dus nader te trek om sodoende die waardes, norme en ideale wat in die huis gestel word, vrywillig te aanvaar en sy lewe daarvolgens in te rig. Deur tug word die kind opgevoed tot aanvaarding en vrywillige onderwerping aan vaste wette en norme. Die opdrag spreek dus duidelik: die Here God is ons enigste Here en daarom moet jy met alles wat jy besit Hom liefhê en
… jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.Deuteronomium 6:7
Hierdie Goddelike eis van naasteliefde dui dus daarop dat alle tug onder alle omstandighede uit liefde sal geskied en moet lei tot vrywillige onderwerping van die persoon wat getug word.
In die moderne opvoedingsituasie hou die volgende begrippe verband met die begrip tug, t.w. dissipline, orde, straf, vryheid en gesag. Vir doeleindes van hierdie artikel word aanvaar dat hierdie begrippe ingesluit word by tug as oorkoepelende term.
Is daar Skrifuitsprake oor tuguitoefening?←⤒🔗
Ja, sekerlik. Die Skrif bied duidelike riglyne oor tughandhawing en die gelowige aanvaarding daarvan. Dit bring tug direk in verband met die verhouding waarin die mens tot God staan. Die mens word enersyds geleer dat God sy kinders tug juis omdat hulle sy kinders is en Hy hulle liefhet.
Daarom: "Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie?Hebreërs 12:7
God verwag dus dat ouers hulle kinders moet tug. Hierdie tug moet egter nie net in negatiewe sin verstaan word nie, maar ook in positiewe sin. Dit moet 'n tug wees wat die kind na God toe trek. Positiewe tug impliseer dus dat die kind só deur die ouer gelei word dat hy die wysheid sal bekom waarin die verhouding van God tot alle dinge sentraal staan. Hierdie gedagtelyn staan sterk voorop in die Spreukeboek, asook in die ander boeke van die Bybel. Tug verkry 'n nuwe dimensie wanneer toepaslike Skrifgedeeltes bestudeer word. Die volgende is enkele voorbeelde daarvan.
Tug lei tot die verkryging van wysheid←⤒🔗
In Spreuke 2:2 lees ons: "… hou jou ore oop vir die wysheid…" Wysheid word dan verder toegelig: "Dan sal jy weet hoe om die Here te dien … Dit is die Here wat die wysheid gee" (Spreuke 2:5, 6). Ook in Spreuke 4:7 word wysheid verder beklemtoon: "Sorg dat jy wysheid bekom". En weer eens in Spreuke 5:1 staan daar: "… slaan ag op die wysheid wat ek jou leer". By herhaling word tug dus verbind aan die leiding, leer en onderrig in die wysheid. In Spreuke 8 en 9 word die wysheid as 'n persoon aangedui. Etlike verklaarders is van mening dat dit heenwys na Christus as die Seun van God, omdat Hy die Wysheid is deur wie alle dinge geskape is. Die apostel Paulus wys ook daarop in 1 Korintiërs 1:24 wanneer hy Christus "die krag van God en die wysheid van God" noem.
1. Tug staan in die sentrum van die Iiefdesgebod←↰⤒🔗
Omdat dit God self is wat tugtig, moet elke ouer verantwoordelikheid aanvaar waarvolgens hy sal tugtig. Die gesindheid van die ouer word dus aangespreek. In Hebreërs 12:5 lees ons dat die Here diegene tugtig wat hy liefhet. Ook in Openbaring 3:19 sê God: "Ek bestraf en tug elkeen wat ek liefhet". Daarom verwag God van elke ouer om ook met liefde te tug soos tewens die eis van die liefde volgens 1 Korintiërs 13 vir alle handelinge van die gelowige voorop gestel word. Die liefde is immers "geduldig, hou nie boek van die kwaad nie, bedek alles en verdra alles".
2. Deur tug bemoedig God ouers en kinders←↰⤒🔗
God wil deur sy tuguitoefening nie voortdurend die negatiewe beklemtoon nie, daarom vind ons in Hebreërs 12:5 die troos vir die gelowige ouers en kinders wanneer God sê:
My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie.
Elke ouer weet hoe 'n vlaag van mismoedigheid jou kan oorval wanneer jou tuguitoefening nie dadelik vrugte afwerp nie. Maar God praat weer met ons wanneer Hy sê dat tug op 'n bepaalde oomblik nie iets is om oor bly te wees nie, maar later lewer dit egter goeie vrug (Hebreërs 12:11).
←↰⤒🔗
3. Tug lei tot die verkryging van 'n sinvolle lewe←↰⤒🔗
God verwag dat die mens 'n sinvolle lewe tot eer van Sy naam sal lei. Elke ouer moet dus op sinvolle wyse in hulle tuguitoefening hulle kinders só lei dat hulle lewenswandel so ver moontlik tot Sy eer sal strek. In Spreuke 4:13 word die nastreef van 'n sinvolle lewe aan gehoorsaamheid verbind: "hou vas aan wat ek jou leer, … bly daarby, want dit is jou lewe". Weer eens word verkryging van wysheid ook hiermee verbind. Sinoniem met hierdie gedagte verklaar Johannes: "Wie die Seun het, het die lewe" (1 Johannes 5:12). Ook Salomo in sy wysheid spreek vermanend: "Hou vas aan wat ek jou leer, … want dit is jou lewe".
Tug as middel tot die verkryging van 'n sinvolle lewe hou verband met die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid aan God. Daarom is dit nodig dat gehoorsaamheid wat ouers van hul kinders verwag, nie losgemaak word van die gehoorsaamheid aan die opdrag van God self nie.
4. Tug bepaal sekere vorme van straf←↰⤒🔗
Tug is die middel waardeur die kind in die ouerhuis opgevoed word tot aanvaarding en gebondenheid aan vaste norme. Indien die kind nie aan hierdie eise gehoor gee nie, moet die ouer van bepaalde vorme van straf gebruik maak. So nie, "…wag hartseer vir die vader van 'n dwaas; wie 'n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie" (Spreuke 17:21).
Die Skrif lê in verband met verskillende vorme van straf ook bepaalde riglyne neer. Ten opsigte van bestraffing soos teregwysing, berisping, sedepreek, sarkasme, wys die Spreukeboek daarop dat diegene wat teregwysing haat, swaar gestraf sal word, (Spreuke 15:10), maar wie op teregwysing ag slaan, sal lewe. Diesulkes sal rus vind tussen mense (ouers) wat oor wysheid beskik (Spreuke 15:31). Oor vermaning en berisping staan in Spreuke 17:10 dat 'n enkele dreigement meer indruk maak op 'n verstandige mens as honderd houe op 'n dwaas.
Ook oor lyfstraf is die Woord baie duidelik: "Moenie huiwer om 'n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe" (Spreuke 23:13). Liggaamlike straf mag egter nooit as die enigste strafmiddel aangewend word nie, maar slegs as enige ander strafvorm nie ’n verandering in lewenshouding by die kind teweegbring nie. Die gelowige ouer mag dus nooit enige vorm van straf, maar veral lyfstraf, as 'n wraakmiddel toedien nie, want die ouer is weer op sy beurt verantwoording aan God verskuldig.
Om aan die vraag te beantwoord of elke ouer ook in sy tuguitoefening leiding deur God se Woord ontvang, kan sonder teenspraak verklaar word dat God se leiding, vermanings en opdragte in hierdie verband soos 'n helder refrein tot elke ouer en ander opvoeders moet spreek. God verwag juis van diegene dat hulle die kind "regverdig straf" (Jeremia 30:11), want so nie, gryp God self in. Vergelyk bv. die geskiedenis van Eli se onwilligheid om sy seuns te tugtig en die gevolge van God se ingryping.