Toutrekkery om God
Toutrekkery om God
Aan wie se kant is God? Dit is die vraag agter baie uitsprake en aansprake van ons tyd. Op 'n manier maak mense daarop aanspraak dat God aan hulle kant is.
God in teologieë ingeperk?⤒🔗
Hierdie neiging is baie sterk by sekere godsdienstige groeperings. 'n Voorbeeld hiervan is die Brits-Israel-beweging van die sogenaamde Wit Teologie. Tipies sektaries, wil die Wit Teologie God vir die blanke ras opeis: Hy is aan óns kant en basta met die res! Dieselfde geld vir die Swart Teologie, wat God vir die swart ras opeis; die Marxistiese teologie wat verklaar dat God Hom aan die armes se kant skaar; en die feministiese teologie wat van God 'n kampvegter vir vroue wil maak.
Die ellende met hierdie "teologieë" is dat elkeen van hulle God probeer inperk. Wat 'n gruwelike vermetelheid!
Boonop is sulke pogings niks nuuts nie. In die tyd van Jesus en die apostels het die skrifgeleerdes dit ook probeer doen. Hulle het probeer om God in die tempel in Jerusalem in te perk. In Handelinge 7:48,49 hoor ons Stefanus se aanklag teen hulle: "Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete.''
Hieroor was die skrifgeleerdes woedend en hulle het Stefanus gestenig. Die geskiedenis ken ons.
Die punt is: God se almag, sy alwysheid, sy alvermoë, sy raad, is ruimer en groter as wat ons met ons menslike verstand kan begryp.
God in politieke denke ingeperk?←⤒🔗
Ons moet dit ook besef wanneer ons so graag in ons gesprekke oor die politiek van die dag op subtiele maniere probeer wys dat God nie aan die ander kant van die politieke draad is nie. Ons soek dikwels 'n kans om te sê: "Het jy gehoor wat so-en-so ('n politieke leier van wie ons verskil) nou weer gesê en gedoen het? Wat hy sê is mos vreeslike verdraaiing van die Bybel! Wat hy doen is mos onchristelik!" Agter ons verontwaardiging sit daar dikwels die doel om ander as goddeloos te ontmasker, en onsself as vroom, Christelik en Bybels voor te hou. Ons probeer voorgee dat ons 'n monopolie op die waarheid en op God het!
Miskien moet ons die woorde van die Here deur die mond van sy profeet Jesaja weer deeglik ter harte neem: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes" (Jes. 55:8,9).
Is almal dan reg?←⤒🔗
Wat is nou die antwoord? 'n Toleransie-benadering van "almal is reg" en "elkeen het 'n stukkie van die waarheid beet?"
Dit is die benadering van voorstanders van godsdienstige gelykstelling, wat beweer dat die Christene nie daarop kan aanspraak maak dat net hulle die ware God aanbid nie. Volgens die godsdienstige gelykstelling het elke godsdiens maar net 'n eie (kultureel bepaalde) variasie van die idee van 'n godheid. Christene, Moslems, Hindoes, selfs voorvaderaanbidders, sê hulle, aanbid op die ou einde maar dieselfde god. Almal is reg.
So 'n godsdienstige gelykstelling moet ons met alle krag afwys. In die eerste gebod verbied God ons om ander gode naas Hom te stel. In Jesaja 40:25 hoor ons Hom sê dat ons Hom met niemand kan vergelyk nie. Saam met die digter van Psalm 15 kan ons bely: " Waarlik, ék weet dat die HERE groot en onse Here bo alle gode is." Nee, ons uitweg is nie godsdienstige gelykstelling nie. God Drie-enig, wat Homself in die Bybel aan ons geopenbaar het, is die enigste ware God en wie Hom nie aanbid nie, is besig met afgodery.
God en die heidene←⤒🔗
Maar tog kan ons nie sê dat God by die heidene afwesig is nie. Want dan sou ons weer van ons kant af God probeer inperk. Die apostel Paulus het vir ons hierin 'n voorbeeld gestel toe hy vir die heidene in Listre gesê het: "God het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie ..." (Hand. 14:16). Waarop hy die ware, lewende God aan hulle verkondig het. Ons moet die ware God verkondig aan hulle wat Hom nie ken nie.
God verwag standpuntinname←⤒🔗
Ons roeping is nie godsdienstige gelykstelling nie. Ook nie standpuntloosheid nie, of relativering van die waarheid nie. God roep ons om in ons godsdiens, in ons teologie, in ons ekonomiese, politieke en sosiale bedrywighede — in al ons doen en late — sterk oortuigings te hê en dit uit te leef. Ons geloof is immers nie geïsoleer van die res van ons lewe me, maar is die grondwerk daarvan. Daarom sal die Woord van die Here vir ons 'n rigsnoer wees waaruit ons altyd wysheid en insig put.
God verwag nederigheid←⤒🔗
Wat God egter ook van ons mensekinders verwag, is nederigheid oor ons eie insigte. Selfs met die Bybel in die hand, is ons beste insigte steeds onvolmaak. Ons kan en moet met mekaar in debat gaan oor watter pad God vir ons in sy Woord aanwys, maar nooit kan ons God vir ons eie standpunt wil opeis nie.
Hoe belaglik is ons eie aansprake dikwels voor die hoë en heilige God! Weer hoor ons die profeet Jesaja sê: "God sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane ..." (Jes. 40:22). Die besef dat God hoër en groter en wyser is as die wêrelde wat ons vir onsself skep, maak ons nederig.
Is ons aan God se kant?←⤒🔗
Op die keper beskou, behoort die eintlike vraag nie te wees of God aan ons kant is nie. Ons behoort eerder te vra: Is ons aan God se kant? Ons sien iets hiervan in Jesus se woorde: "Hy wat nie met My is nie, is teen My" (Matt 12:30). Op die berg Karmel het Elia die volk ook voor hierdie vraag gestel: "As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!" En Josua het vir die volk gesê: "Ek en my huis, ons sal die HERE dien" (Jos. 24:15). Die vraag wat ons dus moet vra, is in die eerste plek 'n vraag aan onsself: Is ek aan God se kant? En die antwoord op die vraag behoort andere uit ons mond te hoor en in ons optrede te sien en in ons standpunte te bemerk: 'n onomwonde "ja"!