Televisie: Oupa help die Diskussie
Televisie: Oupa help die Diskussie
Eintlik is daar sprake van ’n gedurige bakleiery. Oor die algemeen heers daar ’n goeie atmosfeer, maar diskusseer, dit doen hulle behoorlik. En luister hulle ooit nog na mekaar? Alle argumente is al so dikwels bespreek, hulle ken mekaar se standpunte maar al te goed.
Daar is ongelukkig twee partye in die huis. Die twee ouer seuns, Cornelis en Hugo, is voor, en ma is téén televisie. Pa? Pa soek net vrede, hy speel eintlik geen rol nie. Maar almal stem saam: by hulle, die Van Eedens, is die televisie regtig ’n probleem.
Kyk nou vanaand. Dit was so gesellig aan tafel. Die frikkadelle was voortreflik, maar dit was nie net dit nie. Die Van Eedens gee regtig om vir mekaar. Goed, dit word natuurlik nie sommer uitgespreek nie, maar jy kom dit tog agter, uit ’n enkele opmerking of ’n enkele gebaar miskien. Vanaand het hulle vir ’n verandering nie almal deurmekaar gesels nie. Hulle het planne gemaak vir komende Saterdag, om die huis op te knap. Tot groot vreugde van pa blyk die kinders belang te stel om saam te werk.
Maar toe gebeur dit weer, amper onvermydelik. Want dit is nou tyd vir Tropical Heat. “Is dit nou regtig nodig”? vra ma, sonder om daaroor na te dink. Wat help dit tog? Hulle het al so baie gepraat oor dié program; die voor en teen is lankal uitgewissel. “Hulle vloek nie en loop ook nie kaal rond nie.” Ma wil dit skaars glo, sy het nie ’n hoë dunk van televisie-programme nie. Vandaar haar impulsiewe woorde: “Is dit nou regtig nodig?” Dit is mos nou tyd mors.
Maar “die ding” is klaar aangeskakel. Pa sit al weggeduik agter sy koerant. “Net ’n klein uurtjie” sug Hugo. Êrens kry hy sy ma jammer. “Ek gaan netnou weer aan met my huiswerk.” En ma? Sy vlug kamer toe om te gaan stryk. Lees kan sy tog nie as die “ellendige televisie” aangeskakel is nie.
Ma is die laaste tyd sterk in haar afkeer van televisie bevestig. Sy het heelwat waarskuwings gelees. ’n Professor sê dat televisie in feitlik alle gesinne die verwêreldliking bevorder, omdat die televisie daagliks allerlei moderne opvattings versprei. ’n Christen wat weet waarvan hy praat, noem die televisie ’n atoombom in die stryd van die duiwel. Christelike waardes en norme word aan die lopende band ondergrawe.
’n Volgende kenner waarsku dat televisie-gebruik tot groot passiwiteit lei. Bowendien is die meeste programme oppervlakkig en niksbeduidend. Kortom, televisie is geen seën nie, maar ’n vloek vir die samelewing.
Ma sug. Sy sal nie ingee nie, maar watter nuwe argumente kan sy nog aandra? Aan haar man het sy nie veel steun nie. Nee, sy weet nie meer hoe om te maak nie.
God soek ’n paleis⤒🔗
En dan, plotseling, kom daar uitsig. Oupa Spa kom kuier vir ’n naweek. Sedert sy vrou oorlede is, doen hy dit meer dikwels. “Dit hou my jonk,” sê hy dan, “as ek kontak met die jongeres verloor, dan verouder my brein te vinnig.”
En so doen oupa Spa altyd navraag: hoe gaan dit by die skool, is daar al meisies in die prentjie, hoe dink die seun oor die krisis in die Midde Ooste? Partykeer kyk oupa ook saam televisie.
Vandag is oupa weer hier. Môre is ’n feessondag, belydenissondag. Cornelis doen ook belydenis en daar moet oupa natuurlik by wees.
Met oupa se brein is daar niks verkeerd nie, hy is ook glad nie verstar in sy denke nie. Ma Van Eeden kry somtyds die indruk dat haar pa hom ietwat vererg oor sy eie skoonseun. Dié kan so stoer prinsipieel uit die hoek kom, maar dikwels sonder veel argumentasie. En die seuns wil dit nie meer altyd so aanvaar nie.
So gaan dit ook vanaand. Net voor die nuus is daar ’n video van Michael Jackson. “Skuif maar na ’n ander kanaal” roep pa vanuit sy gemakstoel. Dit vat ’n rukkie voordat Hugo die bevel uitvoer. “Wat is nou verkeerd met dié video?”
Maar later in die aand kom dit tot ’n gesprek. Oor belydenis aflê, oor televisie en oor die verhouding van die een tot die ander.
Oupa Spa kan heel oorspronklik wees. Hy begin nie met die Bybel, soos die seuns verwag het nie. Hy begin oor ’n kind wat tandpyn het.
Snaaks! Wat is oupa se opset?←⤒🔗
Maar goed, die kind wil baie graag van haar tandpyn ontslae raak. Sy weet haar ma kan vir haar ’n panado gee. Maar sy aarsel. As ek vir ma sê van my tandpyn, dan moet ek tandarts toe. En sy weet hoe is tandartse. Hulle begin dadelik in allerlei tande krap, ook al is hulle glad nie seer nie. Gee jy ’n tandarts een vinger, dan vat hy jou hele hand. En dus weet die kind: ek wil van my pyn ontslae raak, maar dit is onmoontlik sonder dat my hele stel tande grondig nagesien word nie.
Oupa Spa vertel dat hy hierdie voorbeeld in ’n boek van CS Lewis gelees het: die beeldhouer en sy beeld.
Weet jy wat sê Lewis? Dit: Baie mense gaan na Christus toe om genees te word van die een of ander spesiale sonde. Hulle is skaam vir hulle lafheid, hulle seksuele verslawing, hulle afguns, hulle geskinder. Of ook: hulle besef dat hulle daaglikse lewe bederf word deur hulle dranksug, jaloesie of buierigheid. Christus wil daarvan genees. Maar Hy wil dit nie daarby laat nie. Hy beplan ons volmaaktheid.
“Weet julle”, sê oupa Spa, “Lewis vergelyk so ’n mens wat na genesing soek met ’n lewende huis. God kom in daardie huis in om dit te vernuwe. In die begin is dit wel duidelik wat Hy besig is om te doen. Daar is baie werk. Hy maak die riolering reg. Hy maak die gate in die dak toe. Jy weet goed hoe noodsaaklik hierdie dinge is en jy is glad nie verbaas dat dit gebeur nie.
Maar ineens begin God so te hamer en te stamp aan die huis, dat dit regtig seer maak. Wat is sy plan daarmee?”
Oupa Spa geniet nou duidelik die aandag. “Die verklaring” sê hy, “die verklaring is dat God nou besig is om te bou. Want nou sal daardie huis ’n heeltemal ander huis moet word, ’n ander huis as wat jy self gedink het. Hier bou Hy ’n nuwe vleuel, daar sit Hy ’n ekstra verdieping op. Jy het gedink dat dit ’n netjiese meenthuis sou word. Beslis nie! God is besig om ’n paleis te bou. En weet jy wat is sy oogmerk: Hyself wil daarin gaan woon!”
←⤒🔗
Laat vaar waarvoor jy lief is←⤒🔗
En dan word oupa Spa tog heel ernstig. Hy vra vir die seuns of hulle ooit nagedink het oor wat “bekering” eintlik is. Of hulle weet wat die Bybel bedoel met ’n “nuwe mens”.
Nou ja, gewoon, sê Hugo, dat jy die Heilige Gees toelaat in jou hart.
Inderdaad, knik oupa. “En weet jy wat is so opmerklik? Dat daar in die Bybel baie meer oproepe tot bekering aan die kerkvolk Israel gerig word, as aan die heidene.
En weet jy wat met bekering bedoel word? Bekering beteken dat jou lojaliteit verander. Jy keer jou af van ... en vul dit self maar in. Jy besluit om die Here Jesus te volg. En onthou dan daardie kind met tandpyn, onthou daardie huis... Om jou te bekeer maak inderdaad seer. Bekering het te doen met wat die Bybel die saamdra van jou eie kruis noem. Christus sê in Matt 16:24: “as iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg”.
“Natuurlik maak dit seer! Want nou is jy bereid om terwille van jou band met Christus, desnoods te verloor wat vir jou lief en miskien wel die allerliefste is. Miskien gaan dit dan wel om ingewortelde sondes waarin jy volkome verstrik geraak het.”
“Laat vaar jou hoogmoed, jou hebsug, jou owerspelige instelling, jou sug na geld. Maar dit is nog nie alles nie. Bekering wil ook sê dat jy jou goeie dinge vir die Here gee. Letterlik. Dink aan Abraham wat sy seun moes offer. Kan jy jou voorstel dat jou geloof so op die proef gestel word? Maar wat ’n vertroue het Abraham gehad.”
“Nie sommerso noem die Here Jesus Saggeüs later ’n seun van Abraham nie. Want wat beteken bekering vir hierdie tollenaar?”
Lukas 19:8: “Maar Saggeüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”
“Is dit nou net ’n paar besondere voorvalle uit die Bybel wat natuurlik nie op ons situasie betrekking het nie?” vra oupa Spa. “Nee, want Christus sê tog ook vir ons in Luk 14:33: So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”
Soek jy die Here?←⤒🔗
Dit is vir die seuns nog nie duidelik waarheen oupa Spa nou eintlik op pad is nie. Na die belydenisaflegging, môre? Oupa vra vir ’n bier, hy het dors geraak van al die gepraat.
“Weet julle” sê hy, “dit lyk vir my dat in julle gesin baie gepraat word oor dit wat mag en oor dit wat nie mag nie. In my tyd was dit maar dieselfde, net die onderwerpe het ietwat verander. Julle vra julleself af of julle al dan nie mag swem op ’n warm Sondag, of julle disko of sokkiejol toe mag gaan, hoeveel biere julle kan verwerk. Julle praat van dans, van die boeke en tydskrifte wat julle lees, oor Francois Pienaar en Michael Jackson. Oor televisie en “The Highlander”.”
“Heeltemal in die haak, hierdie diskussies, want so leer julle van mekaar. Maar dan is dit ook goed om terug te gryp op dit waarom dit by al hierdie diskussies uiteindelik gaan, op dit wat vir julle ouers die allerbelangrikste is: dat julle die Here soek. Verstaan jou ouers dit, dan kan baie diskussies veel meer ontspanne gevoer word, ook oor een of ander televisieprogram.”
“Maar as van die soek van die Here min merkbaar is, dan raak dit benouend. Dan word ook die geveg van julle ma teen die televisie ’n vloer-opdroog met die kraan oop. Die breuk in die dam word hier gestop, maar op ’n ander plek bars die water weer deur, jy kan dit nie keer nie. Want sê nou julle ma wen die stryd? Julle kyk nie meer na hierdie of daardie televisieprogram nie. Julle skakel die televisie meer kere af.”
“Maar wie sê wat jy dan met jou tyd doen? Miskien ry jy dan uit louter balhorigheid na ’n disko of ’n kroeg. En wie het dan, eintlik gewen? Niemand nie. Weet julle, dit gaan daarom om ewewig in jou lewe te hê. Ons moet harmonie soek met die dinge wat ewigheidswaarde het.”
“Ja, dit klink ’n bietjie moeilik en vaag. Maar dit beteken niks anders nie as dat jy ook jou televisiekykery in verband bring met jou geloof.
“As julle my mening vra kan julle na nog baie programme kyk. As jy van ’n speelfilm hou, soek dan ’n goeie fliek uit en skakel ’n waardelose rolprent af. Kyk na ’n goeie dokumentêre prent; deur middel van televisie kan jy in ’n kort tydjie op ’n aantreklike manier interessante dinge leer. En in elk geval is daar niks teen as jy voor die televisie ook ’n slag lekker kan ontspan.”
“Maar onthou die ewewig en moet nooit aan iets verslaaf raak nie. Julle is mos nie slawe nie. Die Here wil hê dat julle konings moet wees. Dan begin baie dinge anders lyk. Dan is die vraag nie: wat doen televisie met ons nie, dan is die vraag: wat doen ons met televisie. So behoort ’n Christen met alle dinge om te gaan. Met sy werk, sy geld, sy stokperdjies, ens.”
“En daarom: laat eers jou huis ’n paleis word. Dan geniet die Here eweveel van jou lewe as wat Hy geniet van die ouderling wat trou is in sy huisbesoek of van die hardwerkende sekretaris van die studievereniging.”
“Ons moet nie skaam wees vir die televisie in ons kamer nie. As daar iets is om oor skaam te wees, dan is dit oor onsself.”
Aldus oupa Spa.