Teen die kerkdeur
Teen die kerkdeur
Op 31 Oktober 1517 het Maarten Luther 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker. Dit het die grootste kerkhervorming van alle tye op tou gesit — sonder dat Luther dit so bedoel het! Luther het later self gesê dat hy "soos 'n blinde perd daar ingelei is."
Om stellings teen die kerkdeur vas te spyker, was niks buitengewoons nie. Dit was die gewone manier van daardie tyd om 'n teologiese diskussie uit te lok. In sy 95 stellings het Luther kritiek oor die praktyk van die aflaat uitgespreek, bloot met die bedoeling om diskussie daaroor aan die gang te sit. Onwetend het hy 'n lont aan die brand gesteek. Die ontploffing wat gevolg het, was die woedende reaksie van die pous: Luther is verhoor, tot ketter verklaar en die pouslike banvloek oor hom uitgespreek. In plaas van terugkeer na die Skrif (wat 'n daad van reformasie sou wees), het die Roomse kerk dus elke punt van kritiek summier verwerp en op hulle dwaalkoers volhard. Daarna was die reformasievure behoorlik aan die brand.
Dit laat 'n mens wonder. Wat maak ons wanneer ons met reformasie gekonfronteer word? Wat sou ons reaksie wees as iemand in ons tyd stellings teen die kerkdeur sou vasspyker waarin hy versoek dat sekere kerklike praktyke weer met die Skrif en belydenis in lyn gebring word? Stel u voor dat u 'n dokument teen die kerkdeur sou aantref met die volgende stellings:
1.Woordverkondiging⤒🔗
Die praktyk dat predikante die prediking vermeng of vervang met oppervlakkige sedelessies, met diskussies, met videovertonings en met ander lokase, verg aandag. Waar hierdie praktyk hoogty vier, word die gemeente op 'n hongerdieët geplaas.
Die Here eis immers dat sy gemeente met die vaste spyse van sy Woord gevoed moet word (Heb. 5:12-14), dit wil sê dat sy Woord onvervals, onverdraaid, deur middel van die prediking, soos 'n skerp tweesnydende swaard verkondig moet word (Titus 1:11; Heb. 4:12; 2 Pet. 3:16). Die Here waarsku ook deur sy apostels teen die begeerte van mense om in hulle gehoor gestreel te word sodat hulle die gesonde leer nie verdra nie, maar 'n menigte leraars versamel wat net sal sê wat hulle graag wil hoor (2 Tim. 4:3).
2. Erediens←⤒🔗
Die praktyk om die erediens te omskep in 'n vertoning waarby die predikant die hoofkunstenaar is wat sy gehoor (die gemeente) probeer boei en lok met 'n interessante program (liturgie), met meesleurende musiek en samesang, met "elke keer iets nuuts," moet afgewys word. Die erediens is immers 'n samekoms van die gelowiges (Heb. 10:25) wat nie tot vermaak of emosionele opsweping van mense dien nie, maar tot eer en verheerliking van God (Hand. 2:47). In die middelpunt van die erediens staan die Woord van die Here, die gesonde leer, die sakramente en die gebede (Hand. 2:42). Waar die erediens so ingeklee word dat die mens en sy begeertes in die middelpunt te staan kom, is hervorming noodsaaklik.
3. Sakramente←⤒🔗
Nog 'n praktyk wat aandag verg, is die willekeurige hantering van die sakramente. As gevolg van 'n langdurige melkkosdiëet in die prediking en liturgiese oppervlakkigheid, het baie lidmate ook nie meer 'n begrip van die diepe betekenis van die sakramente nie.
Die vaste verbondskarakter van die doop gaan by sommige lidmate verby en daarom kry hulle die begeerte om hulle weer te laat doop.
Om saam met medegelowiges by die tafel van die Here te gaan aansit (1 Kor. 10:21) en uit een beker te drink (Matt. 26:27) het vir baie lidmate 'n betekenislose kultiese handeling geword. Daarom is hulle bereid om met die gemeenskaplike beker en die nagmaalstafel weg te doen. Ook hierin word 'n terugkeer na die Skrif en belydenis gevra.
4. Die gesag van die Woord←⤒🔗
Geleerde teoloë skroom nie om die onweerspreekbare gesag van die Bybel af te kraak nie. Waar Roomse geleerdes in die 16e eeu die gesag van die Bybel op gelyke vlak gestel het met die kerklike tradisie, stel hedendaagse teoloë dit op gelyke vlak met die mens se verstand, sy omstandighede en sy strewes. Volgens sulke teoloë is die Bybel nie die onveranderlike woord van God nie: die waarheid lê êrens tussen die Bybel en ons eie ervaring, insigte en strewes. Die waarheid verander dus van tyd tot tyd en plek tot plek na gelang van hoe die mens die Bybel aanpas, rek of krimp.
"Gewone" lidmate wat die Bybel verstaan soos dit geskrywe is, sê hulle, verstaan die Bybel verkeerd en moet liewer luister na die moderne teoloë se vertolking van die Bybel. Daarmee is ons weer terug by die Roomse "geestelikes" wat hulleself tussen die Bybel en die "gewone" kerklidmate (die "leke") gestel het, terug by die diegene wat "nie die waarheid wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend'' (2 Tim. 4:4). Die Here eis egter van sy gemeente om terug te keer na sy Woord; om uit die onverganklike, lewende woord van die Here te leef (1 Pet. 1:23); om voor die Goddelike gesag van die Skrif te buig (2 Tim. 3:16) en te erken: "so sê die Here."
5. Die tug←⤒🔗
Omdat die gesag van die Skrif afgetakel word, word die gesonde leer wat volgens die Skrif is, ook verwerp, sonder dat die tug toegepas word. Vanuit 'n onbybelse "liefde" word afwykings in leer en in lewe al makliker in die gemeente verdra. Die moed van die oortuiging ontbreek om egte Bybelse liefde aan die dag te lê: om die weg van die tug te volg (Matt. 18).
Die Skrif leer egter duidelik dat die mond van diegene wat die gesonde leer verwerp, gestop moet word (Titus 1:11) en dat hoereerders, gierigaards, afgodedienaars en diesulkes uit die gemeente uit verwyder moet word (1 Kor. 5:11-13). Waar mense die weg van die Here vaarwel toeroep maar steeds in "die kerk" bly, is hervorming nodig.
Natuurlik is nie alle kritiek noodwendig geldig nie. Elke punt van kritiek moet getoets word of dit met Skrif en belydenis ooreenstem. Dit geld vir bostaande 5 "stellings" wat bloot argumentsonthalwe genoem is. Moontlik sou iemand 'n lys van 95 stellings kon opstel. Die punt is: hoe sou ons daarop reageer? Die opsteller daarvan summier uitskel as "'n wildevark in die tuin van die Here" (soos Pous Leo blykbaar van Luther gesê het)? Of sal ons die kritiek eerlik gaan toets, of dit by die Skrif en belydenis aansluit? Sou ons dan, waar nodig, hand in eie boesem steek, en in ootmoed na die Woord van die Here terugkeer?
Vir ons as altyd reformerende kerk, is die antwoord duidelik. Vir ons is dit: altyd terug na die Bybel (sola scriptura), uit genade (sola gratia), aan God alleen die eer (sola Deo gloria).