Stryd tussen lig en duisternis
Stryd tussen lig en duisternis
Dit is foutief om te dink dat ons huidige kerklike klimaat soveel ánders is as in die verlede. Ons hoor huidiglik van die sogenaamde “post-modernisme” en hoedat “post-moderne lidmate” verskillende vlakke van “spiritualiteit” (of te wel geloofsbelewenis) het wat verskillend aangespreek moet word. Eintlik is dit niks anders nie as die religieuse humanisme - wat deur die eeue die evangelie aangeveg het – wat weer in ’n nuwe gedaante na vore kom. Dit sien ’n mens baie duidelik deur gewoon na die kerkgeskiedenis te kyk. Kyk ’n mens noukeurig, is dit opvallend hoedat die kerkgeskiedenis beheers word deur slegs twee groothede. Aan die een kant die ware kerk van Christus waar die Evangelie van Gods vrye genade heers. Aan die ander kant die vrome religieuse humanisme wat op subtiele manier die fokus verskuif wég van God ná die mens. Sodoende word die Evangelie in sy wese verloën. Ek wil ’n enkele voorbeeld hiervan noem deur vir ’n oomblik te fokus op die tyd van die Groot Reformasie (16e eeu) en die eerste aantal eeue wat daarop gevolg het.
Die reformatore wou geen nuwe kerk stig of ’n nuwe teologie skep nie. Hulle wou net terugkeer na die leer van die Apostels. Daarom is die gereformeerde belydenis sinoniem met die enigste katolieke apostoliese geloof. Die gereformeerde belydenis is nie maar net nóg ’n histories-christelike tradisie tussen al die ander nie! Dit is die enigste ware katolieke geloof! Dit die rede waarom die gereformeerde belydenis so afgeskerm staan teenoor die vele ander kerklike gestaltes van die Christendom en waarom die raakvlakke so weinig is en die misverstande so veel!! In die gereformeerde belydenis kry die ware Evangelie van die Woord gestalte. Hiervolgens is die vraag nie hoe die mens tot God kom nie, maar hoe God tot die mens kom! Hy kom skenk Homself ongevraagd, uit pure guns, aan gelowiges en hul kinders sonder om eers vooraf enige waardigheid in die mens te soek. Die sakramente is die sigbare waarborg van hierdie toesegging van Sy guns waarin Hy Homself skenk. Deur die Woord skep die Gees die geloof waarmee die mens uit hierdie toesegging leef uit dankbaarheid en wederliefde. Góds keuse bring dus die mens se keuse na vore. Dit alles vind plaas binne die kontoere van die kerk as verbondsvolk van God wat bestaan kragtens God se roeping en Sy verbintenis. Ook talle mense wat nog nie glo nie, is eg deel van die kerk soos byvoorbeeld babas. Die kerk leef nie uit volmaaktheid nie, maar uit genade. Wie weet dat hy die hemel verniet ontvang het, leef immers dankbaar uit genade.
Met hierdie belydenis het die reformatore stryd gevoer teen die wederdopers oftewel die doperdom wat die fokus na die vrome mens verskuif het. Die Dopers (16e eeu) was NIE kerk nie, maar het teenkerke gevorm. Hulle het die kinderdoop verwerp omdat die doop vir hulle die mens se belydenis van geloof was. Daarom het hulle diegene wat as kinders gedoop was, wéér gedoop. Die doop is nie ’n daad van God waardeur Hy Sy belofte verseël nie, maar ’n daad van die mens waardeur hy sy geloof bely! Die geloofsprestasies van die mens staan dus voorop en nie die beloftes van God nie. Die dopers wou ’n “suiwer” kerk hê wat slegs bestaan uit ware wedergebore volwassenes. Diegene wat nog nie kan glo nie (soos kindertjies) is dus uitgesluit. Die kerk is nie die volk van God nie, maar ’n klub van vrome gelykgesindes. Die Doperse “kerk” moes los staan van die gewone wêreld en totaal heilig wees, want in Doperse denke is daar ’n diepe kloof tussen dit wat “geestelik” is en dit wat “aards” is (soos by die gnostiek). Daarom jaag die doperdom ’n strenge heiligheidsideaal na en is hulle streng en meedoënloos teenoor mekaar. Die doperdom soek hulle vroomheid in wêreldmyding, ’n onttrekking uit die gewone lewe. Dit alles is die tragiese gevolg van hulle verkeerde siening van die verhouding tussen die Woord en die Gees en die verhouding tussen Wet en Evangelie. Vir die wederdoper werk die Gees ook lós van die Skrif. Daarom soek die doper nie sy heil by die kerk met sy ampte en amptelike bediening van die Woord en sakramente nie, maar in gesuiwerde groepies (wat weeksaande vergader) waar die “Gees” kragtig werk.
Die wortel van die Dopers moet by die individualisme gesoek word. Niks veg die Evangelie meer subtiel en met meer venyn aan as die individualisme nie. Vir die individualisme is die kerk ’n aantal individuele gelowiges wat versprei is oor alle kerke en groepe. Die ware kerk van Christus is dus alle individuele bekeerdes op aarde wat nie noodwendig sigbaar gestalte het in ’n plaaslike kerk nie. Die persoonlike bekering van die individu is dus alles. Die kerk is ’n bykomstigheid. Daarom het die individualisme geen oog vir die kerk en sy amptelike bediening nie. Solank daar net bekerings plaasvind. Gewoonlik word die kerk gesien as hoofsaaklik bestaande uit ongereddes, maar solank as wat daar nog hier en daar ’n bekeerde kerkraadslid is en daar nog mense tot bekering kom in die gemeente, is alles goed.
Hand aan hand met die individualisme loop die subjektivisme waar die gemeente self in die brandpunt staan. In die erediens – byvoorbeeld – kry die gemeente die oorheersende klem. Dan word die liturgie ’n uitdrukking van die gemeente se geloof en aanbidding. Dan staan die gemeentelede se behoeftes sentraal. Die subjektivisme plaas die klem op die proefondervindelike belewenis van die godsdiens. Die ervaring van die verlossing gee dus die deurslag.
Dit is teen hierdie subjektief-individualistiese karakter van die Doperdom wat die reformatore geprotesteer het. Wie die Nederlandse Geloofsbelydenis goed onder oog kry, sal die reformatories-evangelies-Bybelse antwoord hierop duidelik raaklees.
In die eeue wat op die Reformasie sou volg, het die subjektiewe individualisme homself voortgeplant in vele ander gestaltes. Dink maar aan die Duitse Piëtisme wat die vroomheid en godsvrug beklemtoon het ten koste van die ware leer. “Wat help dit jy het die Waarheid lief, maar jy is nog onbekeerd?” vra die Piëtis. Wat maak dit saak of iemand onkundig is oor die ware leer, solank hy net godvrugtig leef! Wat maak dit saak of ’n persoon teologies geskool is? Solank hy net in Gód se leerskool is en uit sy eie lewenservaring preek! Daarom is dit vir die Piëtis van min belang of die kerk aan die gereformeerde belydenis vashou. Solank die kerk net “by die Woord bly.” Die “net by die Woord” dra egter ’n Piëtistiese stempel en nie ’n apostoliese nie! Vir die Piëtis gaan dit oor allerlei innerlike belewenisse en ervarings wat van ’n mens ’n egte gelowige maak. Dit is waarom die Mistiek so tuis is in die Piëtisme. In die Mistiek word die mens se innerlike tot god verhef. Die Bybel is maar net God se uiterlike Woord. Wat van belang is, is die “inwendige woord” wat Hy in die innerlike-mens spreek. Die mens moet sy ore en oë sluit en deur innerlike verligting God “aanskou”. Daarom hoor die Mistikus ook so graag die stem van die Gees in sy binneste en grawe in sy eie hart rond om “openbarings” te kry. Op hierdie wyse word die mens op sy eie duistere hart teruggewerp om geloof te vind.
Hiermee saam dink ’n mens ook aan die 18de eeuse Metodisme. Die Metodis ken ’n sekere aantal stappe wat elke mens moet ondervind om gered te word. Wie nie hierdie stappe deurgegaan het nie, is onder verdenking. Die klem van dus op ’n bepaalde metode waarvolgens mense tot bekering gelei word. En dit word tot norm verhef. Die kerk word gesien as ’n bekeringsinstituut wat hoofsaaklik uit ongereddes bestaan en wat tydens eredienste gered moet word deur die metodistiese stappe deur te gaan. Vir die metodis is daar geen verskil tussen ’n erediens en ’n evangelisasiesaamtrek nie. Die “ware gelowiges” vind hul seën buite die erediens in afsonderlike samekomste waar slegs bekeerdes vergader, wég van die onbekeerde hordes in die kerk.
Daar moet laastens nog verwys word na die 18de eeuse Rasionalisme wat voortgekom het uit die Verligting en sy wortel het in die Middeleeuse Skolastiek. Dit is belangrik, want die hedendaagse Skrifkritiek en post-moderne siniese ongeloof vind sy wortel juis hier. In die Rasionalisme word die mens se rede tot god verhef. Die Bybel word nie voetstoots geglo alvorens die mens se logiese rede nie daartoe toestemming verleen het nie. Niks is absolute waarheid voordat die mens se verstand dit nie goedgekeur het nie. Daarom is alles relatief. Wat vir die een waar is, is nie noodwendig vir die ander waar nie! Die menslike rede neem dus die plek in van eerbiedige vertroue op Gods beloftewoord. Geleerde denkers verkry ’n plek bó die “gewone kerklidmaat” en húlle swaai die kerk na goeddunke.
Kyk na vandag se kerklike situasie. Daar is nou kerkhistories aangedui hoedat letterlik