Spreuke 1:8 - Versiering vir die Jongmense
Spreuke 1:8 - Versiering vir die Jongmense
…luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie…
Spreuke 1:8
Gelowige ouers hoef nie bang te wees om hul kinders op te voed nie. Die wysheidsleraar wat in Spreuke aan die woord is, verwys jongmense in die eerste plek na hul ouers. Dáár begin die leer van die lewenskuns: “Luister na die tug van jou vader en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (1:8). As jy werklik wys wil word en wil leer hoe om jou lewe goed in te rig, dan is die vertrekpunt: “Vergeet jou opvoeding nie”. Dit wat jy by die huis geleer het, moet jy aan vashou. Die fondament wat jou ouers gelê het, moet jy nooit minag nie. Vir jouself en dikwels ook vir jou ouers, voel dit asof hulle jou so min in die lewe meegegee het. En tog is dit die onmisbare basis van die lewe in wysheid: Alle lewenswysheid wat nog geleer moet word deur die onervarenes, eenvoudiges en jongelinge in die lewe, word gebou op dit wat pa en ma geleer het. Die ABC van wysheid om ’n goeie lewe te lei: moet jou nooit skaam vir wat jou ouers jou geleer het nie. Put daaruit en bou daarop.
Dikwels ervaar jongmense die opvoeding van hul ouers as ’n wurgketting. ’n Belemmering in die lewe. My ouers is ’n erfenis wat my lewe belemmer. Of op die minste ervaar jongmense dit op ’n stadium in hul lewe as iets waarvoor jy jou moet skaam. Die Spreukeboek gebruik egter nie die beeld van ’n wurgketting vir die opvoeding van die ouers nie. Eerder die beeld van ’n pragtige ketting van eer wat versier. Jongmense sal dit verstaan. Veral jongmense dra graag ’n kettinkie om die nek. ’n Kettinkie wat deel is van jou identiteit. Met die kettinkie wil jy ’n “statement” maak. Jy wil sê wie jy is. Jy wil laat sien wie en wat vir jou kosbaar is. Veral is dit heerlik om ’n spesiale ketting om jou nek te dra wat jy gekry het van iemand wat vir jou kosbaar is! Jy wil dat almal dit raaksien!
Jou Christelike opvoeding is só ’n ketting van eer en versiering om jou nek (Spr. 1:9). Of dit is ’n krans van oorwinning wat jy op jou kop dra. Jy hoef jou nie daarvoor te skaam nie. Dit versier jou lewe. Laat dit maar sien! Jy lyk beter daarmee as wat jy dink! Daarsonder lyk jy maar eintlik bietjie onaangetrek. Moet nou nie dom wees en in die lewe ingaan daarsonder nie! Moet nie wat pa en ma jou vanuit die huis saamgegee het as ouderwets beskou nie. Wanneer jy jou plek gaan inneem in die samelewing, moet jy die mooi kettinkies bly dra. Skaam jou nie daarvoor wanneer jy op universiteit kom tussen mense wat ewe skielik die pretensie het dat hulle alles van die lewe af weet nie. Wanneer jy ’n ernstige verhouding met ’n jongman of -vrou aangaan of skielik die huis moet verlaat en gaan woon in ’n ander dorp of stad waar pa en ma nie meer by is nie. Die domste ding wat jy sou kon doen, is om weg te gooi wat pa en ma vir jou aan opvoeding uit die huis saamgegee het. Dit is dwase en spotters wat die opvoeding van hul ouers minag. Dan kan die dwaas twintig of vyftig wees!
Hierdie opvoeding waarna geluister kan word, is nie die opvoeding van die top tien pa’s en ma’s op die treffersparade van ouers nie. Dit is nie verbind aan die ouers wat ’n semi-professionele opleiding het in kindersielkunde of wat die pretensie het om foutlose opvoeders te wees nie. Wat nodig is, is ’n goeie luisterhouding: “Luister na die tug van jou vader…”. Dit is meer as kennis neem van opinies wat uitgespreek word. Toe Salomo tot die Here gebid het vir wysheid, het hy ook gevra: “Gee dat u kneg ’n oplettende hart sal hê”.
Hoe gevaarlik vir die lewenskeuses wat onervarenes in die lewe moet gaan maak, wanneer hulle van pa en ma nie so veel saamgegee word vir die lewe nie! Die sfeer in gesinne is nie altyd so godvresend as wat nodig is om goeie Christelike opvoeding te gee nie. Dit kan wees dat die atmosfeer in die huis so wêrelds, oppervlakkig, materialisties en selfsugtig is, dat geen wysheidsaad kan ontkiem of daarin groei nie. Die konkrete vraag aan ons ouers is, of ons vir ons kinders die lewenswysheid gee waarmee hulle die lewe kan ingaan? Leef ons hulle dit ook voor? Kan u kinders by u afkyk as hulle lewenswysheid nodig het om hul beslissings te maak oor lewensmaats, die manier waarop hulle vriende kies, die houding t.o.v. werk, ens.?