Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Spreek in Tale

Venda dans

By die bespreking van die spreek in tale (glossolalie) moet ons daaraan dink dat dit nie net 'n spesifiek Christelike verskynsel is nie. Dit kom ook voor by ander heidense godsdienste. By bepaalde vorme van Judaïsme en die Islam kom spreek in tale ook voor. 1 Dit is ook bekend dat die Boeddhistiese monnike ook in tale praat. By die Venda's dans die heidense vroue die sg. 'malombo'. Dit is 'n soort besetenheidskultus wat merkwaardige kenmerke vertoon met die glossolalie. 2 Die moontlikheid van sulke uitinge hou verband met die religieuse grondgevoelens van 'n mens.

Onder toenemende mate groei die oortuiging onder geleerdes (binne sowel as buite die charismatiese beweging) dat 'n spontane, nie-konseptuele vrye vokalisering 'n universeel menslike vermoë is. 3 Net soos die besnydenis ook bekend was onder die heidense volke, het God die verskynsel van spreek in tale in die Christelike godsdiens ingebring. Waarom het God dit nodig geag? Mills 4  veronderstel dat die rede gesoek moet word in die situasie waarin die vroeë kerk verkeer het. Die kerk het ontstaan in 'n heidense en buitengewoon vyandige omgewing. Deur hierdie gawe moes aan die ongelowiges duidelik gemaak word dat die evangelie legitiem was. Wei is toetsing van hierdie gawe van die uiterste belang. Die maatstaf of die spreek in tale werklik deur die Heilige Gees geïnspireer is, is die belydenis of Jesus die Kurios, die Here is (1 Kor. 12:3).

Handelinge🔗

Die eerste vraag wat ons by die glossolalie moet bespreek is, is of daar 'n verskil of ooreenkoms is tussen die tongetaal in die gemeente van Korinte en die taalwonder in Hand 2. Dit is nie so maklik om uit te maak of daar op pinksterdag sprake is van 'n spraak- of 'n hoorwonder nie. Grosheide meen dit is albei. 5  Daar is egter 'n saak daarvoor uit te maak dat dit net 'n spraakwonder was, aangesien die Gees op die sprekers en nie op die hoorders was nie.

Die ooreenkoms tussen Handelinge en Korintiërs is dat God geprys word. Die verskynsel van spraak in tale in die boek Handelinge moet nie met die prediking verwar word nie. Die verskynsel gaan aan die verkondiging deur Petrus vooraf. Die spreek in tale is dan ook nie bedoel as 'n soort sendingprediking nie, 'n internasionale verkondiging aan alle volke nie. Die verskil is dat op Pinksterdag in bekende ander tale gepraat word (Hand 2:4). Hier word die tongetaal geteken as begeleidingsverskynsel van die vervulling met die Heilige Gees. Op grond van hierdie verband oordeel die charismatici dat die spreek in tale die bewys by uitstek is dat iemand met die Heilige Gees gedoop is... Dit word dan ook 'n "second blessing" genoem. As hierdie teks die betekenis het wat charismatici daaraan heg, val dit vreemd op die oor dat daar geen enkele parallel by Paulus gevind word nie. Tereg kan gevra word of die geweldige rukwind en die tonge soos van vuur dan nie ook op elke Geesvervulde persoon hoorbaar en sigbaar moet wees nie?6

Pinkstergroep

Hierdie besondere vorm van praat kom nog enkele kere na pinkster voor. Telkens as die evangelie 'n nuwe kring bereik, dan bevestig God deur die teken dat Hy aan die werk was. Hy bevestig so dat die nuut bereiktes ook by sy volk behoort Agtereenvolgens gaan dit om die Samaritane (Hand 8:14-17), die heidene (Hand 10:44-47, 11 :15-17) en die dissipels van Johannes (Hand 19:6). By die doop van Cornelius se Petrus uitdruklik: die Heilige Gees word op hom uitgestort net "soos in die begin op ons" en "op volkome gelyke wyse as by ons" (Hand 11 :15-17). Vanweë die ooreenkoms met die pinkster-gebeure is dit voor die hand liggend om te ervaar dat ook in Samaria, in die huis van Cornelius en deur die dissipels van Johannes die doper in bekende tale gepraat is.

1 Korinthiërs 12-14🔗

Is die gebeure in Korinte gemeente dieselfde as wat Lukas vir ons beskryf in Handelinge? Gaffin is van mening dat dit so is. Hy grond sy stelling daarop dat die woorde vertaal kon word en dat die hoorders dus 'n openbaring deur vertaling van die Heilige Gees ontvang, 'n onthulling van 'n geheimenis van God.7 Wat die openbaringskarakter betref het Gaffin gelyk. Hy sien egter oor die hoof dat die tale in Handelinge bekende tale was terwyl daar geen sekerheid is dat die tale in Korinte bekende tale was nie. Die funksie van die tale verskil ook. In Handelinge is die tale 'n teken van die koms van die Heilige Gees, 'n aanduiding van die deurbraak van die koninkryk van God na 'n nuwe gebied. Die taal is wel op God gerig maar ook op die hoorders. In Korintiërs word die taal gebruik om te bid. Dit is 'n gebedsvorm wat nie deur mense verstaan word nie en is primêr op God gerig. Hierdie gawe het ook 'n opbou funksie.

Die groot vraag is nou wat is die nut om in tale te praat wat mens nie verstaan nie? Ten eerste is dit 'n teken deur God gegee wat die aanwesigheid en die werking aandui van die Heilige Gees in die kerk voor die ongelowiges wat deur hierdie gawe kan weet dat God regtig in die gemeente teenwoordig is. Tweedens is hierdie gawe ook vir die gelowige wat hierdie gawe ontvang met die oog op die opbou van sy geloof.

Waar gebed deur die Heilige Gees as glossolalie plaasvind, word met die persoon se gees (Grieks = pneuma) gebid. Gaffin vertaal dit verkeerd as hy meen dit slaan op die Heilige Gees. Dit gaan hier om die mens se gees. Die menslike gees wat vernuwe is, word 'n instrument van die Heilige Gees. Maar die verstand (Grieks = nous) van die bidder bly onvrugbaar. Dit beteken dat die bidder intellektueel oor dit wat gebid word, geen oordeel kan vorm nie. Die inhoud van die gawe is 'n misterie, 'n openbaring van die Gees.

Tog word die een wat bid self opgebou volgens Paulus se opmerking in 1 Kor 14:4. Die nut moet dus op 'n ander terrein lê.  Grosheide skryf dat die inhoud van die gebed vir die bidder geen wins bring nie, maar dat hy oortuig word dat hy die Heilige Gees deelagtig is. Die bid in tale is 'n gebedsgawe wat in verband staan met danksegging en lofprysing. Muhlen 8 sê dit is 'n meer intensiewe gebedsbelewing.

Drie vrae moet egter nog beantwoord word:

  1. Is daar in Rom 8:26-27 ook sprake van 'n gebed in 'n taal?

  2. Is bid in tale alleen maar die uiting van klanke of moet ons aanvaar dat die gebed ook 'n kognitiewe, kennisinhoud het?

  3. Hoe moet ons die moderne spreek in tale beoordeel?

Romeine 8🔗

Daar is geleerdes wat die sugtinge van die Gees in Rom. 8 sien as die uiting van 'n glossolalie gebed. Dit is egter nie korrek nie. Die gebed van die Gees in Rom. 8 geld vir elke gelowige, terwyl in 1 Kor. 14:2 iemand bedoel word wat die gawe daartoe ontvang het. Die gawe van spreek in tale is nie aan elke gelowige gegee nie (1 Kor. 12).

Xenoglossia of Glossolalie🔗

Calvyn maak oor 1 Kor. 14:14 die nugter opmerking dat die gawe van spreek in tale nie bedoel is om geluide te maak nie, maar ten doel het om te kommunikeer. Is daar sprake van xenoglossia (om 'n vreemde bestaande taal te praat wat die spreker self nie verstaan nie) of van glossolalie (om verbale patrone uit te spreek wat nie geïdentifiseer kan word as 'n menslike taal nie). Met ander woorde: is glossolalie 'n taal met 'n eie woordeskat, grammatika en sintaksis?

bid met hande

Uitvoerige studie het aangetoon dat met die Griekse woord "gloossa" (tong, taal) nêrens 'n nie-kognitiewe uiting bedoel word nie. Trouens dit moet so wees, anders sou dit onmoontlik wees om deur middel van 'n ander gawe, naamlik die gawe om tale uit te lê, die spreek in tale te vertolk.

Of dit 'n bekende taal is weet ons nie. Paulus verwys na tale van mense en engele (1 Kor. 13:2). Dit is wel duidelik dat die spreek in tale op die verstand geen invloed het nie. Die uitwerking daarvan moet dus op 'n ander terrein lê soos om emosie en gevoel uit te druk.

Vandag?🔗

Dit bring ons by die huidige toedrag van sake. Uiteraard is die aanhangers van die charismatiese beweging byna onkritiese verdedigers van spreek in tale, veral dat dit sou dui op die doop met die Gees, as 'n "second blessing". Maar dit steun op 'n verkeerde hantering van Handelinge. Die wyse waarop Lukas oor die gawes praat, bied geen ruimte om daaruit 'n individuele Christelike ervaring te verdedig nie. Die charismatici se eksegese is hermeneuties ongekontroleerd

Ook het baie moderne taalkundiges ondersoek ingestel na die verskynsel van spreek in tale. Duisende opnames daarvan is al beluister en die bevinding is eenstemmig dat nêrens die patroon van 'n bekende menslike taal vertoon word nie. Die ondersoeke is in verskeie kulture gedoen met die merkwaardige bevinding dat die spreek in tale nou verband hou met die persoon se moedertaal. 9  Dit is byvoorbeeld vir 'n mens wat meertalig is, moeiliker om in tale te praat, omdat hulle 'n ander houding het ten opsigte van vreemde klanke. Baie het hieruit afgelei dat die moderne spreek in tale iets anders is as wat mens in Handelinge vind. Oor die moderne gawe van vertolking of uitlê van spreek in tale is die ondersoekers ook maar bra skepties. Oor die algemeen is die interpretasies stereotiep, vaag en bied weinig informasie.

Dit is moeilik om te aanvaar dat alle spreek in tale soos dit gemanifesteer word in die kontemporêre charismatiese beweging, die werk van die Heilige Gees is. Twyfel is geregverdig as daar gelet word op hoe onkrities en gemaklik soms uit die charismatiese beweging omgegaan word met ander religieuse tradisies soos byvoorbeeld die van die Rooms-Katolieke Kerk.

Waaksaamheid oor die kwessie is dus belangrik. As Paulus dan al die Korinte gemeente waarsku om die gawe nie eensydig oordrywend te ooraksentueer nie, hoeveel te meer moet ons dan nie op ons hoede wees nie. Paulus stel dan ook baie duidelike voorwaardes waaraan voldoen moet word indien dit voorkom. Aan die ander kant word die gelowiges vermaan om die spreek in tale nie te belemmer nie. Wat beteken dit vir ons? Paulus wys die spreek in tale nie af nie. Tog wys hy die regmatige plek daarvoor aan. Spreek in tale is met betrekking tot die opbou van die gemeente van 'n mindere orde as die gawe van profesie. Die spreek in tale lê meer op 'n individuele vlak.

mond toegeplak

Ons mag nie 1 Kor. 14:30 opbreek in twee dele asof die eerste deel vandag nog geld en die tweede deel alleen vir die apostoliese tyd sou gegeld het nie. Daarom kan ons nie sê dat die tyd van die besondere gawes, dus ook die spreek in tale se tyd verby is nie. Calvyn laat die moontlikheid oop, dat God weer opnuut (wanneer dit nodig sou blyk, as die verval ernstige afmetings aangeneem het), besondere gawes uitdeel. Hy ag dit nodig om die suiwer leer te herstel. 10

Tussen 1 Kor. 12 en 14 staan natuurlik hoofstuk 13 wat handel oor die liefde. Die liefde as uitstaande kenmerk van die vrug van die Gees moet die regulerende beginsel wees by die gebruik van die gawes van die Gees. Wie die puriteine lees, besef dat hulle sonder spreek in tale 'n diep en hooggestemde geestelike lewe gehad het.

Ons moet egter ook Paulus se vermaning ter harte neem om nie die spreek in tale te verhinder nie. Maar daarmee saam moet die toetsing en beoordeling daarvan nie uitgesluit word nie. Die hedendaagse verskynsel daarvan moet ons tot die uiterste terughoudendheid oproep.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Malony, HN & Lovekin, AA, Glossolalia. Behavioral Science. Perspectives on speaking in tongues, New-Oxford, 1985:5
  2. ^ Vgl. Van Rooy, J A, Sinkretisme in Vendaland, 1964:37
  3. ^ Vgl. Gaffin, RB, Perspec­tives on pentacost, Phillipsburg, 1979:121
  4. ^ Vgl. Mills, WA, Theologi­cal interpretation of tongues in Acts and first Corinthians, Ann Arbor, 1968:21
  5. ^ Vgl. Grosheide, FW, De Handelingen der Apostelen, Amsterdam, 1942:62
  6. ^ Vgl. Carson, DA, Showing the Spirit, Grand Rapids, 1987:142
  7. ^ Gaffin, p73-81
  8. ^ Vgl. Muhlen, HAA, Charismatic theology, London, 1978:152-156 
  9. ^ Vgl. Goodman, FD, Speaking in tongues: a cross-cultural study of glossolalia, Chicago. 1972:123
  10. ^ Vgl. Calvyn, Ef  4:11