4 bladsye.

Sondag 27: Heidelbergse Kategismus

Lees Genesis 17

doop🔗

Hoort by die Gemeente🔗

Beteken die evangelie vir klein kinders, wat eintlik nog niks of baie min kan verstaan, enigiets? Het dit vir hulle enige waarde? Moet hierdie klein kinders werklik gedoop word? Moet ons maar nie wag tot hulle self eers tot geloof gekom het en dan die doop bedien as 'n teken van hulle geloof nie? Ons antwoord en reaksie hierop sal juis laat blyk hoe ons die genade ook vir volwassenes verstaan, en wat die doop ook vir volwassenes beteken. In antwoord op die vraag of klein kinders ook gedoop moet word, stel die Kategismus die kinders in dieselfde posisie as die volwassenes ten opsigte van die doop. Net soos met die volwassenes, wil die doop van kinders van gelowige ouers ons laat verstaan dat hulle in die verbond van God en in sy gemeente ingesluit is. Vir oud en vir jonk beteken dit presies dieselfde.

Beteken dit wel iets vir die kinders wat nog so klein is, het dit enige nut? Kom ons kyk wat die betekenis daarvan is dat die Here van die begin af ook vir die kinders van die gelowiges 'n plek in sy kerk en verbond gegee het. Wanneer die Here sy verbond met Abraham kom oprig, dan beloof die Here om vir Abraham 'n God te wees, en vir sy nageslag na hom. Beteken dit niks vir die kinders nie? Is dit niksseggend dat God kom sê: "Ek is ook die God van jou kinders, Abraham"? Dit beteken heel konkreet dat die Here daarmee self in sy genade onderskeid kom maak het tussen hulle wat buite die genade van die Here leef, en hulle aan wie Hy sy genade wil uitdeel. God maak 'n onderskeid. Dit kan ons alleen maar in die geloof aanvaar deur te luister na wat God sê, deur te kyk na wat God doen. Aan hierdie kinders kom beloof die Here dat Hy hulle sondes vergewe. En Hy beloof aan hulle sy Heilige Gees wat hulle die geloof kan gee om hierdie vergifnis te aanvaar. Hy beloof albei aan hulle: die vergifnis van die sondes en die Heilige Gees. Die Here kom belowe nuwe lewe vir mense wat uit hulself dood is. Is dit iets gerings? Kan dit geminag word?

Wat sou die alternatief hiervoor wees vir so 'n kind? Hy wat nie deur die Here deel van sy volk gemaak word nie, is oorgelaat aan homself en het geen uitsig op die toekoms nie. Want wat kan daardie kind uit homself doen om ooit by God te kom? Niks, want van nature is ons dood in sonde. Dit is die alternatief. Vir Abraham en sy nageslag egter kom belowe die Here nuwe lewe in 'n land wat die Here weer vir hulle sal gee. 'n Nuwe paradys, wat Hy vir hulle wil skep. 'n Paradys waarin hulle kan gaan leef as die nuwe mensdom van God. God gee dit uit genade. Ons leef mos uit genade en nie uit verdienste nie! Daardie nageslag hoef nie soos Abraham se voorgeslagte afgode en daardeur die satan te dien soos wat hy gedoen het in Ur van die Chaldeërs nie. Daar waar God Abraham uitgehaal het, uit die afgodediens, en hom 'n aanbidder van God gemaak het. Abraham se kinders is nie daaraan uitgelewer nie. Dit is wat die verbond kom sê. Wat 'n bevryding! Hoe bewus gelowige ouers ook al mag wees van die sondige aard van hul kinders, kan hulle hul kinders gedurig herinner aan die Here se belofte van sy vergifnis en dat Hy sy Heilige Gees ook vir hulle wil gee. Sien u die geweldige onderskeid wat God maak? Hier kom die gawe van die lewe na die kinders. Hier kom hoop, hier is uitsig; want uit onsself is daar nie hoop vir die toekoms nie. Maar die Here kom skep, Hy skep letterlik, met sy Woord, hoop en verwagting en geloof. Want geloof is 'n gawe van God deur sy Gees. Deur God se belofte kom wek Hy lewe uit die dood. Wat kan die kind doen? Natuurlik kan hy niks doen nie, maar met God se Woord van belofte wek Hy nuwe lewe uit die dood. God spreek daar waar die dood is en maak lewe. Dit is die betekenis van sy verbond.

tou🔗

Ewige Verbond🔗

Hierdie verbond van God is 'n ewige verbond. Kyk maar wat is die posisie van Abraham wanneer die Here sy verbond met hom sluit. Die Here maak beloftes vir Isak wat op daardie stadium nog nie eers gebore is nie. En daar is ook geen vooruitsig dat 'n Isak gebore kan word nie – nie met Abraham wat reeds nege-en-negentig jaar oud is, en sy vrou wat nie meer kinders kan hê nie! Watter verwagting is daar? En God beloof lewe tot in ewigheid! God belowe 'n ryk nageslag en daar is niks. Maar God spreek! Wanneer die Here met sy verbond na Abraham kom, het Abraham nie eers 'n nageslag nie! En die Here kom belowe dat Hy die God sal wees van Abraham en sy nageslag. Want die Here wil hiermee sê: selfs die nageslag skep Ek. Ek sal sorg dat jy 'n nageslag het. Dit is nie toevallig dat jy nie kinders het nie. Ons sê: dit is die natuurlike proses, dit is die weg van 'n man by sy vrou; nou ja, dan kom daar seker ook kinders, nie waar nie? Maar kinders is 'n gawe van God! Al wat Abraham gehad het om uit te lewe, was die belofte van die Here. En die kinders word daarby betrek.

Hierdie verbond was nie slegs die persoonlike besit van Abraham nie. Hierdie verbond van God met Abraham is 'n ewige verbond, sê God self. Nêrens in die Nuwe Testament lees ons dat die Here daarmee opgehou het om die kinders te betrek in sy verbond nie. Inteendeel! Die Here Jesus laat self die kinders na Hom toe bring, babas wat aangedra word, om sy hande op hulle te lê en hulle sy seën te gee. Die dissipels wil nog die mense verhinder, maar Jesus sê: "Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God" (Markus 10:14). Die Here wil met sy genade lewe skep waar daar geen lewe is nie. Die verbond met Abraham hou nie op om te bestaan nie. Natuurlik het daar dinge verander in die Nuwe Testament. Die doop het in die plek van die besnydenis gekom, soos wat die apostel Paulus dit aandui in Kolossense 2:11 en 12. Die doop is nou die besnydenis in Christus. En nou mag ook die dogters die verbondsteken ontvang; want in Christus is daar geen aansien van die persoon nie en is daar wat God se genade betref geen onderskeid meer tussen man en vrou nie (Galasiërs 3:28).

Elkeen wat glo, mag nou ook weet dat hy 'n kind van Abraham is. Dit leer die hele Nuwe Testament ons: Julle dan wat glo is kinders van Abraham en volgens die belofte ook erfgename. Hulle het ook deel aan dieselfde verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het. Daarom kom die belofte, so sê die apostel Petrus op Pinksterdag, ons nou ook toe, en ons kinders en almal wat daar ver is, almal wat die Here ons God sal roep. Die Here kom sê dus vir ons dat Hy sy verbond oprig met die gelowiges en met hulle kinders. Ook in die Nuwe Testament bevestig die Here dat, waar Hy sy verbond oprig met die gelowiges, Hy ook die nageslag, die kinders, insluit. En met alle mense wat uit die heidendom tot geloof en bekering kom, met hulle kinders. So kan ons sien dat die verbond van God en die insluiting in sy gemeente, vir volwassenes en vir klein kinders geld. Daarom behoort die kinders gedoop te word. Die Here kyk nie na ons eie vermoëns wanneer Hy sy verbond met ons sluit en sy beloftes kom maak nie. Dis nie ons wat God se beloftes dra, aktiveer en in beweging bring nie. God se beloftes skep juis ons geloof en dra dit. Dit gee ons geloof. Geloof waar daar weerstand is en doodsheid was.

Verbreking van die Verbond🔗

Vervolgens let ons op die verbreking van die verbond. Is dit dan nou werklik so erg as ons dan nie die kinders doop nie? Ons kan maklik redeneer dat die doop tog nie eintlik so 'n belangrike saak is nie; ons as gereformeerdes moet daarom nie ons doopsiening verhef bo dié van die Baptistekerke nie; hulle wil eers wag en sien of die kinders glo, en dan eers kan hulle die teken van hulle geloof, die doop, ontvang. Nie 'n teken van die verbond nie, maar van die kind se geloof, so glo die Baptiste.

Maar die verbond is nie ons besit om dit in te vul soos ons wil nie. Net soos die verbondsteken nie ons teken is om 'n aanduiding te gee van ons eie geestelikheid of godsdienstigheid of ons geloof nie. Dit is 'n teken van God waarmee Hy ons geloof wil versterk.

gebreekte tou

Selfs wanneer die Here sy verbond met Abraham oprig en die besnydenis as teken van die verbond instel, dan heg die Here geweldig baie waarde daaraan. Trouens, die onderhouding van die verbond word daarin beskryf. Almal in die huis van Abraham moes besny word. "Abraham, as jy wil seker maak dat jy my verbond nie verbreek nie, dan moet almal in jou huis besny word. Almal: hulle wat met geld gekoop is, die slawe; hulle wat hulle gevoeg het by jou huis of daarin gebore is; almal moet besny word. Dit sal die onderhouding van die verbond wees." Almal wat manlik is in die huis van Abraham moes besny word op die dag wat God sy verbond met Abraham kom bevestig. Elkeen wat manlik is en hom nie laat besny het nie, dié persoon moes uit die volk van die Here verwyder word! (Genesis 17:14). So iemand is doodgemaak! Niemand kon deel van die volk van die Here wees, sonder die teken van God se genade nie! Daarom, hy wat glo en gedoop is, sal gered word, getuig Christus ook in Markus 16.

Elkeen wat weier om die teken van die doop te ontvang, word uitgesluit, maar die Here is ewe streng met elkeen wat nie sy kind die teken van die verbond wil gee nie. Ook hulle sal sterf. Dink maar aan die ontmoeting van die Here met Moses in die nag op pad van sy skoonvader Jetro af terug na Egipte. Die Here het pas vir Moses aangestel as die profeet wat sy volk, met wie Hy sy verbond gesluit het en wat in slawerny was, uit Egipte moes gaan lei. Moses het sy vrou en seuns geneem en was gehoorsaam op pad na Egipte om voor die Farao te gaan staan om die bevryding van die volk Israel te eis. Maar sy seun was nog nie besny nie! Hy moet aan die Farao sê dat Israel die eersgebore seun van die Here is. En die Here beveel die Farao dat hy die seun van die Here moet laat trek. Maar op pad in die herberg een nag het die Here vir Moses teëgekom en wou hom doodmaak. Moses se vrou Sippóra het 'n skerp klip geneem en haar seun besny en Moses haar bloedbruidegom genoem, met die oog op die besnydenis (Eksodus 4:24 e.v.). Dan spaar die Here Moses se lewe. Selfs Moses moes gedood word, hy wat die volk van die Here uit slawerny moes lei, as sy eie kind nie die teken van God se verbond gekry het nie. As Moses se seun nie besny is nie, is dit 'n teken dat Moses ontrou is aan die verbond. Moses het nagelaat om een van sy seuns, wat deel was van die eersgebore seun van God, Israel, te besny.

Die Here vind die teken van die verbond baie belangrik! Selfs lewensbelangrik! Want met die teken van die verbond wil die Here sê dat Hy ook vir hierdie kind van Moses sal sorg en ook vir hom 'n God sal wees. Dat ook hy saam met die volk weer uit Egipte kan uittrek deur die water van die Rooi See. Ook die kinders van die gelowiges gaan almal saam agter Moses aan deur die water van die Rooi See en word op hierdie manier gedoop. So verwys die Nuwe Testament later daarna. Hulle mag deel in die liefde van die Here vir sy kinders. En die Here is 'n jaloerse God. Hy laat nie toe dat sy bewyse van genade en liefde geminag word, sonder dat sy toorn wakker gemaak word nie.

Dan verstaan ons ook die rede waarom daar by ons en ons kinders 'n natuurlike weerstand is om saam met ander kinders te praat as hulle sê dat die Here in hulle lewe gekom het die dag toe hulle vir die Here gekies het. Verstaan u die natuurlike weerstand wat daar is? Nadat God alreeds in hulle lewe gekom het toe hulle kinders was, en Hy die teken van sy genade gegee het en in hulle lewe ingegryp het, kan ons dan sê dat God eers in my lewe gekom het toe ek in beweging gekom het en begin besef het hoe groot God se genade ook vir my is? Want ons leer uit die Woord van die Here dat Hy die kinders van gelowige ouers ook kies om by sy volk te behoort. Hy kies ons.

Natuurlik moet ons ook glo. Natuurlik moet ons ons van ons sondige weë tot die Here bekeer. En dan kan so 'n bekering ook heel radikaal wees. Maar die meeste word groot met die wete dat die Here ons 'n plek in sy kerk gegee het en in die geloof aanvaar ons van jongs af hierdie genade wat ons s'n word, alleen deur die bloed van Christus.

God se verbond met kinders wys ons verder dat God self beskik selfs oor die geboorte van kinders! Dit is Hy wat bepaal in watter huis ek gebore word. God sluit sy verbond met Abraham en sy nageslag en daarvolgens beskik God dan ook dat Isak uit Abraham en Saraï gebore word. God se beskikking en genade gaan voor ons geboorte! Niemand kry ooit deel aan die genade van God nie, tensy God self Hom in sy vrye genade verplig aan iemand! God verplig, verbind Homself vrywillig aan ons. God versamel sy kerk nie uit die samekoms van 'n klomp vroom mense wat besluit het om Hom te dien nie. Nie die mens se beslissing nie, maar juis God se besluit is beslissend in sy kerk. Daarvoor wil die kinderdoop ons vierkantig stel. God se besluit bepaal wie en wat sy kerk is.

baba voete

Dink net hoe het reeds in die Ou Testament Abraham se hele lewe met Sara hom gedurig herinner dat God onderneem en beloof het om vir hom en sy nageslag te sorg. Die besnydenis het hom in alles waarmee hy besig was, gedurig weer herinner dat God 'n verbond met hom gesluit het. God het Homself "verplig" om 'n God vir Abraham te wees, vir hom te sorg. Want as God dit nie doen nie, waar sal die nageslag vandaan kom? Waar sal die voortsetting wees van hierdie verbond van God, as God nie gaan doen wat Hy hom beloof het nie? Daaraan word Abraham gedurig weer herinner. Maar God het daarmee ook vir Abraham tot geloof in sy genadige belofte "verplig". Ons geloof verplig God tot niks anders as waartoe Hy Homself vrywillig gebind het nie. Maar deur ons geloof geniet ons wel en kry ons die voordeel van dit wat die Here ons werklik wil gee.

Die Waterbad Self die Afwassing?🔗

Is die waterbad self die afwassing van ons sondes? Dit is die laaste punt waarop ons let. Beteken dit alles wat ons tot dusver gesê het, dat die water van die doop self ons sondes afwas? Of anders gesê: beteken dit dus dat iemand wat gedoop is, vanself ook skoon is van sy sondes deur die water van die doopvont?

Nee, want ons kan alleen gereinig word deur die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees wat ons siel besprinkel met daardie bloed. Die doop wil ons wel daarop wys dat God Homself aan ons verbind het. Om dit nog anders te stel: die Here neem ons vir sy rekening. Hy sal vir ons sorg. Vir alles wat ons nodig het vir die diens aan Hom! Die vergifnis van ons sondes; die nuwe lewe, waartoe ons opgewek word deur die Heilige Gees. Dit alles, belowe God, gaan Hy gee. Die Seun was ons met sy bloed en die Gees sal ons versterk in die stryd teen die sonde en ons die oorwinning oor die mag van die satan laat behaal. Die doop word nie verniet die bad van die wedergeboorte genoem nie.

Maar die doop is geen teken en bewys dat ons gelowige mense is nie. Dit is God se teken van dit wat Hy vir ons in Christus Jesus wil wees. Elke verbondskind wat gebore word, kan weet dat, al is hy in sonde ontvang en gebore, hy nogtans, sonder dat hy dit weet, in Christus weer geheilig is; soos hy ook, sonder dat hy dit weet, onder die oordeel gekom het. Nou mag hy ook weet dat hy deur God eenkant gesit is. Daar is 'n onderskeid gemaak tussen hom en die ongelowige. Vir God, wat hom sal versorg met alles wat nodig is vir die tydelike en ewige lewe en ook sodat ons Hom kan dien, om deel van sy volk te wees. En dan is dit wonderlik om te weet dat my doop nooit deur my sondes tot niet gemaak word nie. God se verbond is 'n ewige verbond. Hy sal getrou bly. Natuurlik, as die grond waarop die reën van God se seën alleen maar dissels voortbring, sal dit onmoontlik wees om so iemand tot bekering te lei.

Die hele geslag Israeliete is uitgewis in die woestyn, omdat hulle net ongeloof voortgebring het, en nie in die beloofde land wou ingaan nie. Dit nadat hulle almal gedoop was in die water van die Rooi See. Hulle het nie in die rus van die Here ingegaan nie. Maar juis daarom kom daar so 'n sterk appèl op ons wat gedoop is. God het onderskeid tussen mense kom maak deur die doopwater. Soos wat die water in die tyd van Noag skeiding gemaak het tussen die gelowige Noag met sy gesin en die ongehoorsame, ongelowige wêreld. In dieselfde water waarin die kinders van God gered word, verdrink talle ongelowiges. Dink maar hoe die water van die Rooi See, wat vir die volk van God 'n deurtog geword het, vir Farao se leër 'n graf geword het!

Hierdie onderskeid wat die Here tussen mense gemaak het, moet nou ook duidelik gemaak word in die manier waarop ons gaan lewe. Ons doop is daarom geen manier waarin ons in ons sonde geregverdig word nie. Ons doop verplig ons tot 'n nuwe gehoorsaamheid. En daardie nuwe gehoorsaamheid is om die Here, ons Verbondsgod, lief te hê met ons hele hart en ons hele siel en met al ons krag.