Skrifgeloof en Skrifverklaring
Skrifgeloof en Skrifverklaring
Aantasting van die gesag van Gods Woord is so oud soos die sondeval. Die duiwel is 'n mensemoordenaar en 'n leuenaar van die begin af. Satan verander Gods Woord in sy teendeel wanneer hy die mannin in die paradys verlei met die woorde: "Julle sal gewis nie sterwe nie". Die wêreldwye aantasting van die Skrifgesag in ons tyd is niks nuuts nie. Van ons voorgangers het in die verlede al teen hierdie kwaad gewaarsku. Totius het in 1928 oor die onlosmaaklike samehang van Skrifgeloof en Skrifverklaring gepraat en geskryf. Die aanhaling uit hierdie rede is nog net so aktueel as 71 jaar gelede...
Vir ons, Gereformeerdes, kom alles hierop neer: dat iemand wat nie wedergebore is nie, onbekwaam geag moet word om die Heilige Skrif as Gods Woord te verklaar. Hy kan, soos ds. JC Sikkel dit met 'n passende vergelyking uitdruk, "hoogstens knegtelike diens in die wetenskaplike arbeid tot verklaring van die Skrif verrig, soos Hiram, die koning van Tirus, in die tempelbou in Jerusalem; tot die eintlike arbeid van Skrifverklaring is hy nie geregtig en ook nie bekwaam nie".
Wie die Skrif net grammaties-literaries verklaar, weet nog nie wat Gods Woord sê nie. Die Hermeneutiek dra, nes al die ander studievakke in die teologiese wetenskap, 'n teologiese, 'n afsonderlike karakter: dit is ook heilige land, en wie daarop wil tree, moet dit sonder skoene doen.
Skrifgeloof⤒🔗
En as gevra word waarin besonderlik die wedergebore karakter van die hermeneut hom sal openbaar, dan noem ek as hoofsaak die onvoorwaardelike erkenning van die Heilige Skrif as Gods Woord, wat ten gevolge het die gebondenheid aan alles wat God ons geopenbaar het in die kanonieke Skrifte. Nie my 'gevoel', 'rede', 'godsdienstige bewussyn' of 'wetenskap' kan uitmaak wat Gods Woord is al dan nie...
Verder Stip ek aan dat die Wedergebore Karakter van die Skrifuitlegger Gesien moet word:←↰⤒🔗
-
in die erkenning van die wonder in die Heilige Skrif;
-
in die erkenning van Israel in sy eksepsionele betekenis as openbaringsvolk en
-
in die erkenning dat al die Skrifte, in hul organiese verband, van Christus getuig...
Die Wonder←⤒🔗
Die wonder is en bly die troetelkind van die geloof. Die geloof self is 'n wonder en roep dus om die wonder. Die geloof is daarom geheel en al nie verwonderd as die Skrif van wonders verhaal nie. Nee, die ganse Skrif is vir die geloof 'n wonder. Wie dan ook die Skrif wil ontwonder, raak die ganse Skrif kwyt en verloën die eie karakter van die geloof en die wedergeboorte.
Wie met Baumgarten meen dat ons om die wonders heen moet gaan en die gemeente moet ontwen om op die wonders te sien; wie met hom meen dat die moderne mens reg het om 'wondersku' te wees, omdat die wetmatigheid van die dinge ons nou só diep in die bloed sit en dat ons nie uit ons 'dinkvel' kan uitkom nie – wie so redeneer is geheel en al onbekwaam om die Skrif te verstaan.
Die Unieke Betekenis van Israel←⤒🔗
Ten tweede, diegene wat Israel se spesiale karakter loën; diegene wat byvoorbeeld 'n teks soos Jesaja 49:23: "En konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders", in sy letterlik-historiese betekenis anders as op Israel wil toepas, wat dié woord ook van die kerk in letterlike sin wil laat geld, kom sekerlik verkeerd uit.
Israel is geheel enig, 'n gekonsentreerde mens- en volkstipe; maar juis daarom andersyds die simboliese afskaduwing van al wat mens en al wat volk op aarde is. Net wanneer die spieël sy eie karakter as spieël behou, kan hy dien om ander af te spieël.
←⤒🔗
Christus in die Ou Testament←⤒🔗
Dieselfde geld van die derde punt. Christus self gaan die hermeneut hier voor, want Hy het begin van Moses en van al die profete af en het hulle uitgelê (hier word in Grieks die werkwoord gebruik waarna ons vak hermeneutiek heet) in ál die wat van Hom geskrywe was.
Christus aan die kruis is die groot standbeeld wat in die Skrif opgerig is, en hoeseer die Skrifverklaarder ook op die wye terrein van God se openbaring mag rondgaan, altyd weer moet hy dié monument sien en moet sy koers daardeur bepaal word.
In een woord: die loëning van die wonder in die Skrif, in Israel en in Christus, maak iemand onbekwaam om in die heiligdom van Gods Woord in te gaan.