Selfondersoek en die Nagmaal van die Here
Selfondersoek en die Nagmaal van die Here
Oor die nagmaal van die Here eis die Skrif grondige selfondersoek (1 Kor. 11:28, 29): “Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ʼn oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie”. Ons moet weet waaroor dit hier gaan, want dit is ons plig nie alleen wanneer die nagmaal van die Here bedien word nie, maar altyd (Klaagl. 3:40; 2 Kor. 13:5).
Ons moet eerstens weet dat ons oor selfondersoek praat. Ons word nie geroep om die lewe van ander te ondersoek nie, maar ons eie. Ondersoek van ander lei na eiegeregtigheid. Selfondersoek lei na ware bekering en geloof in God. Ondersoek van ander is gewoonlik ons manier om selfondersoek te vermy.
Tweedens is selfondersoek die ondersoek van die self, maar nie ondersoek deur die self nie, “want as ons onsself beoordeel…sou ons nie geoordeel word nie”(1 Kor. 11:31). God self en sy Woord moet die ondersoekers wees (1 Kron. 28:9; Ps. 26:2; Ps. 44:22; Heb. 4:12, 13). Psalm 139:23, 24 moet ons gebed wees: “Deurgrond my, O God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” Selfondersoek beteken onderwerping aan die ondersoek van God.
Derdens is die doel van selfondersoek nie om te sien of ons verlos is of geloof besit nie. Dit sou immers onmoontlik wees. Diegene wat nie geloof het nie, kan nie ware selfondersoek doen nie, en hulle wat geloof het moet nie twyfel of twyfel in hulleself aanblaas deur hulle verlossing te bevraagteken nie. Twyfel is sonde. Die doel van selfondersoek is veeleerder om te weet of ons in die geloof is (2 Kor. 13:5, dit wil sê of ons in alle godsvrug en opreg deur die geloof voor God wandel.
Met die voorafgaande in gedagte behels selfondersoek die noukeurige betragting van drie dinge: ons sondigheid, Die werk van die genade van God in ons en vir ons, en ons roeping om in gehoorsaamheid en heilige dankbaarheid aan Hom te lewe. Ons kyk na ons eie sondigheid om weer die diepte van ons eie verdorwenheid te besef en om seker te maak dat ons eie harte ons nie mislei het nie — dat ons nie ons sonde verberg nie (Spr. 28:13) — en dat ons hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug na die kruis. Ons ondersoek die werk van God se genade in ons sodat ons al hoe meer oortuig word dat ons deur genade alleen leef en beweeg en ons geestelike wese besit, dat ons al hoe meer dankbaar sal wees vir alles wat God vir ons gedoen het en al hoe meer op sy genade alleen vertrou. Ons ondersoek ons roeping sodat ons daarvan oortuig sal wees, al hoe meer sal streef om dit te vervul en só op God se weg te gaan. Ons word dus geroep om ons hele Christelike lewe, gedrag en belewenis in die lig van God se Woord te ondersoek.
As ons lewe en belewenis nie aan die riglyne wat vir ons in die Woord van God gegee is, voldoen nie, word van ons vereis om te bekeer, na Christus te vlug en om genade te bid. Dan word selfondersoek selfhervorming en dra dit ryk vrugte tot die eer van God en ons groei in genade en kennis.