Seksuele Etiek in Afrika-Konteks
Seksuele Etiek in Afrika-Konteks
⤒🔗
Inleiding←⤒🔗
Wanneer daar oor die seksuele etiek van die mense van Afrika (voortaan Afrikane genoem) besin word, moet in gedagte gehou word dat daar 'n groot hoeveelheid kultuurgroepe in Afrika bestaan. Die gevaar van veralgemening is dus groot. Tog wys kundiges daarop dat die seksuele etiek van die Afrikaan 'n basiese grondpatroon vertoon.
'n Tweede belangrike aspek is om deeglik te onderskei tussen die tradisionele Afrika-etiek én die Christelike Afrika-etiek. Die evangelie van Christus het 'n groot invloed ten goede op Afrika uitgeoefen, hoewel daar ook voorbeelde is waar die kerk te 'n negatiewe beskouing oor die Afrika-kulture geopenbaar het – maar dis 'n (lang) verhaal op sy eie.
Dit is belangrik dat Suid-Afrikaanse Christene, wat onherroeplik deel is van Afrika, van mekaar se sienings en standpunte sal kennis neem. As ons die koninkryk in Afrika wil dien, moet ons nie net onsself ken nie maar ons moet ook mekaar ken, en natuurlik moet ons veral die evangelie ken en sy implikasies vir die lewe van elke dag.
Kenmerke←⤒🔗
Kyk ons nou na veral die tradisionele seksuele etiek van die Afrikaan, val 'n paar kenmerke op.
Die eerste is dat ons in Afrika met 'n religieuse moraal te doen kry. Die moraal van die Afrikaan is diep ingebed in en vorm deel van sy godsbesef, godsbeskouing en godsbelewing. Die Afrikaan is onbekend met 'n lewe wat in talle klein kompartementjies ingedeel is, soos by Westerlinge. Die lewe vorm een groot harmonieuse en lewenskragtige geheel. Ook die opperwese verkeer in volle harmonie met die geesteswêreld, mensewêreld en natuurwêreld.
Dit is duidelik dat die Bybelse etiek hier 'n bepaalde korrektiewe aansluiting by die Afrika-etiek kan vind.
'n Tweede belangrike kenmerk is dat die moraal van tradisionele Afrika in 'n hoë mate 'n voortplantingsmoraal is. In die huweliksetiek is daar 'n hoë waardering vir die lus- en voortplantingsfunksie, maar die liefdesaspek word onderwaardeer. Daar word sterk teen die vrou gediskrimineer sodat een man meer as een vrou mag hê. Die vrou word as 'n tuin gesien waar die man sy saad saai. Voortplanting is lewensbelangrik, want daardeur word die dood oorwin en die ewige lewe verkry deurdat die lewe in die nasate voortgesit word.
Die mens maak homself deur middel van voortplanting onsterflik. Alles staan in diens van voortplanting en voortlewing. Vandaar dat die onvrugbare vrou so nutteloos is, dat seuns so waardevol is, dat meer as een vrou nodig is, dat 'n broershuwelik aangegaan mag word. Hoofsaak is die verkryging van (wettige) kinders. Gesinsbeplanning is 'n onbekende begrip.
Derdens moet opgemerk word dat die Afrika-moraal basies 'n konserwatiewe moraal is. Dit ken nie die Westerse uitspattighede nie. Seksuele omgang voor die huwelik is byvoorbeeld ontoelaatbaar – hoewel sekere kultuurgroepe bepaalde vryhede toelaat solank dit nie op bevrugting uitloop nie. Maagdelikheid word hoog waardeer. Die inisiasiepraktyk dien as voorbereiding tot die huwelik. Tradisioneel is daar hegte gesinsbande, met 'n beklemtoning van gemeenskaplikheid en vrygewigheid. (Dit moet betreur word dat die man toegelaat word om vir 'n sekere periode na geboorte van 'n baba buite egtelike omgang te hê.)
Dit spreek vanself dat 'n moderne en verstedelikte samelewing, waarin trekarbeid 'n groot rol gespeel het, 'n vernietigende uitwerking op die rustige plattelandse gesinslewe sou uitoefen. Blootgestel aan al die goeie en die slegte van die Westerse kultuurlewe het daar op baie plekke in Afrika min oorgebly van die tradisionele lewenspatroon van die Afrikaan.
Beoordeling←⤒🔗
Daar is baie dinge wat in die Afrika-moraal positief waardeer kan word. Die beskouing dat die hele lewe voor God se aangesig geleef word en dat die huwelik daarvan deel is, is 'n belangrike gesigspunt. So ook dat seksualiteit wesenlik in die huwelik tuishoort en dat daar hegte gesinsbande behoort te wees. Die onderwaardering van die liefdesaspek en die vrou is egter elemente wat onaanvaarbaar is. Verantwoordelike gesinsbeplanning word in Afrika 'n steeds belangriker konsep.
Die genesing van Afrika moet in die evangelie van Jesus Christus gesoek word. Hierdie evangelie leer ons om seksualiteit te sien as deel van 'n groter geheel, as deel van ons godsdiens – ons diens aan God. Seksualiteit mag nie verselfstandig en verabsoluteer word nie, dit mag nie van ons liefde tot God en ons liefde tot ons naaste losgemaak word nie. Sonder die gebondenheid aan die wet van God word seksualiteit soos 'n atoombom wat alles met sy radio-aktiewe deeltjies besmet. Seksualiteit is 'n gawe van God wat binne die daarvoor aangewese grense, naamlik die huwelik, beleef en geniet mag word. Kinders is 'n erf deel van die Here, sonder twyfel, maar 'n kinderlose huwelik kan ook geseënd wees. Kinders is nie alles nie, hoe wonderlik hulle ook al mag wees – net die Here is onmisbaar. Eenmaal, in die Groot Toekoms, sal daar nie getrou word nie, net gedien en geloof word.
So moet die evangelie Afrika binnekom, helend en reinigend, veranderend en vernuwend. Kultuurpatrone wat die toets van die Skrif kan deurstaan, moet behou word. Wat teen die Skrif ingaan, moet agtergelaat word. En waar daar korreksie moet plaasvind, moet dit gedoen word. Die evangelie het gekom om mense en samelewings te transformeer.