Romeine 8:34 - Die Hoogtepunt in die Ampswerk van Christus
Romeine 8:34 - Die Hoogtepunt in die Ampswerk van Christus
Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
Romeine 8:34
In Romeine 8:34 is die heilsfeit van die hemelvaart van Christus aan die orde. Die woord word nie genoem nie, maar die feit en die gevolg van die feit is duidelik: “...wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree”. Sy hemelvaart beteken dat Hy gaan sit het aan die regterhand van God en dat Hy dáár vir ons bid. Dit is vir Paulus die hoogtepunt. Dit loop hierop uit; dit is die geheim van die feit dat daar geen sprake kan wees van veroordeling nie. Met die vermelding dat Christus aan die regterhand van God is en daar vir ons bid, maak Paulus duidelik dat daar ʼn Heiland, ʼn Verlosser is, wat naby aan ons is.
In en deur sy sterwe was Christus één met sondaars, maar noudat Hy aan die regterhand van God is, is Hy naby ons. Eintlik is dit vreemd. Hy moes na die hemel gaan om beter vir ons te kan sorg. Sy heengaan na die hemel beteken nie verarming nie, maar verryking. Gemeenskap deur afstand. As Hy op die aarde sou gebly het, kon ons nie regstreeks na Hom gaan nie. Hoeveel tyd sou Hy vir ons kon afstaan, en hoeveel sou dit ons kos om na sy woon- of werksplek te kon gaan. Noudat Hy in die hemel is, kan ons regstreeks na Hom gaan en Hy is baie naby ons deur sy Gees.
Hy sit aan die regterhand van God. Sy hemelvaart beteken: die Koning aanvaar sy regering. Hy het alle reg en bevoegdheid daartoe. Dit feit dat Hy aan die regterhand van die Vader sit is in die verband veelseggend. ʼn Seun laat sy vader aan sy regterhand sit. Gewoonlik sit ʼn seun aan die linkerhand van die vader. Maar hierdie Vader laat die Seun aan sy regterhand sit. Die Vader eer die Seun en gee Hom die ereplek. Die rede? Omdat die Seun die opdrag van die Vader volkome volbring het. Hy het alles gedoen wat God verwag het en nou kan Hy begin met die uitwerking van die werk wat Hy op aarde volbring het. Hy gaan nou die verworwe verlossing wat Hy verkry het in werking stel. Die verlossing is afgehandel, kompleet. Maar nou moet die verlossing by hulle wat Hy wil verlos, kom. Dit is ook sy werk. Hy is nou die verhoogde Christus. In dié posisie deel hy die verlossing uit en sorg dat die verlossing sy doel bereik. Tien dae na sy hemelvaart het Hy sy Gees uitgestort. Daarmee kom die uitdeling van die verlossing aan die gang. Die Gees neem dit uit Christus en gee dit aan sondaars. Ons het ʼn werkende Heiland in die hemel.
Sommige voorstelling van Christus in die hemel skep die indruk dat ons ʼn Heiland het wat nou op die louere wat Hy verwerf het, rus. As dit waar was sou ons baie sleg daaraan toe wees. Maar dit is nie waar nie. Ons het ʼn werkende Heiland, wie se eer dit is en wat ʼn lus daarin het om sy werk te voltooi, en dit tot die uitwerking en doel wat Hý wil, te bring. Dáárom word die kerk vergader en gebou, die evangelie word gepreek en geloof. Dáárom kan jonk en oud, dooplidmate en mense van buite die kerk, belydenis van hulle geloof aflê. Dáárom is dit goed en reg en slegs dáárom.
Dit is opvallend dat in hierdie loflied van Paulus die klem nie op die regering van Christus, op sy koninklike amp, lê nie, al voer Hy dit uit en regeer Hy kerk en wêreld sedert sy hemelvaart. Paulus vind die hoogtepunt in “wat ook vir ons intree”. In die konteks van die loflied is dit volkome begryplik dat ons nou die priesteramp van Christus in gedagtenis roep. Dit gaan immers oor die vastigheid en sekerheid van die geloof; oor die afweer van alle beskuldigings en verderwende magte wat teen die gelowiges stryd voer. Dan is dit ʼn geweldige troos om te weet dat die Christus aan God se regterhand sit, die Christus wat vir ons bid en vir ons pleit.
Die woord ‘intree’ beteken letterlik om tussenbeide te tree. ʼn Pragtige uitdrukking om aan te gee wat Christus vir ons beteken en wat Hy telkens maar weer vir ons doen. Hy kom tussenbeide. Ons dink aan iemand wat in die moeilikheid is; wat tussen twee botsende magte te lande gekom het; wat gevaar loop om onder die wiele van die harde lewe vermorsel te word; wat hom nie kan verweer teen die fel woorde wat so brutaal na hom geslinger word nie. So iemand gaan verloor, as ʼn ander nie tussenbeide kom nie. Die groot Ander wat aan die regterhand van God sit, kom tussenbeide en Hy sorg dat die slagoffer nie omkom nie.
ʼn Pleitende Heiland in die hemel – dit is die beste van alles. Daarin kom die werk van Christus tot ʼn hoogtepunt. Dit kon alleen gebeur omdat Hy eers gesterf het en toe opgestaan het. Nou kan Hy pleit. Hoe heerlik is die orde van die verlossingswerk van Christus!