Reformasie van die amp van die gelowige
Reformasie van die amp van die gelowige
"Dominee, ek kom vra jou, want jy sal weet. Ek is maar net 'n leek". Wanneer 'n lidmaat sou waag om dit te sê, word hy of sy baie gou reggehelp. Die idee van leke in die kerk hoort tot die Middeleeue. By die Reformasie het ons gereformeerdes daarmee klaargespeel. Maar het ons werklik daarmee klaargespeel? Dalk is daardie lidmaat wat hom- of haarself 'n leek noem, nader aan die werklikheid as wat ons sou wou toegee.
Sedert die Reformasie is daar in die gereformeerde geledere groot klem gelê op die amp van die gelowige. Kerklidmate is nie leke nie, maar staan in die amp van die gelowige. Hierdie standpunt geld vandag nog by ons. Maar met die hand in eie boesem moet ons vra: Waar staan ons vandag met die amp van die gelowige?
"Amp van die gelowige" 'n sus-stropie?⤒🔗
In baie gevalle word die "amp van die gelowige" as 'n paaimiddel gebruik. Vir 'n broeder (of suster) wat voel dat hy (of sy) graag op die kerkraad wil wees om darem ook "iemand" in die kerk te wees, het die dominee die handige antwoord: "Onthou, broeder, suster, jy staan darem in die amp van die gelowige!" Jy het 'n "titel", jy is darem "iets" in die kerk. Die besluit van die Sinode van 1985 dat vroue nie predikante, ouderlinge of diakens kan wees nie, maar wel in die amp van die gelowige staan, word deur sommige lidmate ervaar as 'n kwistige aanwending van die sus-stropie. Sulke lidmate ervaar dit so, omdat die amp van die gelowige vir hulle in werklikheid 'n vervalle amp geword het.
Dit mag ook vir sommige predikante handig wees om lidmate met die susmiddel van die "amp van die gelowige" in 'n lekedom vas te vang. Sodoende kry die dominee dit reg om eenoog in die land van die blindes te wees, die belangrikste man wie se mening altyd die deurslag gee, want "die dominee kan mos nie verkeerd wees nie". Die gevolg is 'n "predikante-kerk", waarin die dominee se woord as wet erken word, waarvoor hy in ruil Sondae “mooi preke'' lewer en in die week allerlei aktiwiteite in die gemeente organiseer. Die "amp van die gelowige" is dan niks anders nie as aktiewe betrokkenheid by sulke gemeentelike aktiwiteite.
Ook geleerde teoloë kan hulle daaraan skuldig maak om die amp van die gelowige in lekedom terug te druk. Dit gebeur waar die verstaan en verklaar van die Bybel deur teoloë vir hulleself opgeëis word, asof gewone lidmate nie die Bybel reg kan uitlê nie. Daar word selfs gesê dat die Bybel in die hande van gewone lidmate "gevaarlik" is, omdat hulle geneig is om dit letterlik op te neem. Lidmate het egter die teoloë nodig om te weet wat die Bybel werklik beteken. So 'n houding trek egter 'n streep reg deur die amp van die gelowige. Dit maak van lidmate leke in die kerk. Ongelukkig laat baie lidmate hulle deur hierdie houding op sleeptou neem. Daarom hoor 'n mens werklik die versugting by sommige lidmate: Dit verwar ons as geleerde teoloë onder mekaar oor 'n saak verskil, want as hulle nie kan saamstem nie, hoe moet ons ("arme leke") weet wat om te dink?
Die Bybel oor die amp van die gelowige←⤒🔗
Wat moet ons verstaan onder die "amp van die gelowige"? Die Bybel gee vir ons die nodige lig. In die Bybel kom die uitdrukking "amp van die gelowige" as sodanig nie voor nie. Maar tog word daar in die Bybel baie daaroor gesê. Dit is belangrik om te onthou dat die Bybel die woord "diens" gebruik om die ampte aan te dui. Daar is die diens van Woordbedienaar, ouderling en diaken. In die Bybel is daar ook oorvloedige verwysings na die diens van die gelowiges. In 1 Petrus 2:16 word die gelowiges "diensknegte van God" genoem. Die amp van elke gelowige is dus niks anders nie as om in diens van die Here te staan. In hierdie diens staan elke gelowige, of hy nou predikant, ouderling of diaken is of nie.
Die amp van die gelowige is geen geringe diens nie. Daaroor is die Bybel baie duidelik. In Romeine 14:18 skryf Paulus: "Wie Christus dien, is aan God welgevallig en by die mense geag". Om in die diens te staan, moet jy deur God uitverkies wees. Petrus skryf: "Julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom..." (1 Pet 2:9). Elkeen wat in die amp van die gelowige staan, is inderwaarheid gesalf ("Christen") tot profeet, priester en koning (Heidelbergse Kategismus, Sondag 12).
So belangrik ag Christus die amp van die gelowige dat Hy 'n spesiale maatreël getref het om te sorg dat die gelowiges vir hulle amp toegerus word. Hy het naamlik besondere dienste in sy kerk ingestel, dié van predikante, ouderlinge en diakens.
Hulle is daar, nie om die amp van die gelowige te oorheers of uit te rangeer nie, maar juis om dit op te bou, "om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk" (Ef. 4:12).
Geen lekediens nie←⤒🔗
Om God te dien, is immers nie die taak van leke nie. Om Hom te dien, vereis kennis. Jy moet weet hoe om Hom te dien, hoe om Hom rég te dien, sodat Hy daardeur geëer word. Vir hierdie kundigheid is 'n opleidingstyd nodig wat veel langer is as die sewe jaar wat predikante studeer. Die opleidingstyd vir die amp van die gelowige is lewenslank. Sy lewe lank is die gelowige besig met die Bybel en die Belydenisskrifte, sodat hy of sy daaruit kan weet hoe om God te dien tot lof van sy heerlikheid.
Wie in die amp van die gelowige staan, staan nie op die kantlyn en toekyk hoe die geleerdes oor die Bybel en die Belydenis praat en van mekaar verskil nie. Hulle praat saam — miskien nie in dieselfde akademiese taal nie, maar in 'n baie belangriker taal: die taal van die geloof. In die geskiedenis was dit dikwels juis "nie-geleerde" lidmate wat teenoor geleerde teoloë die gereformeerde Skrifwaarhede moes verdedig.
Reformasie van die amp van die gelowige←⤒🔗
Die ondergang van die kerk begin aldeur maar by die verval van die amp van die gelowige. Waar die amp van die gelowige vervalle geraak het en tot blote lid-wees van 'n organisasie gedegradeer is, is kerklike verstarring die uiteinde. Die kerk waarin lidmate die dominee en die ouderling en die diaken "aanhou" om hulle roeping namens hulle te behartig, eindig in louheid en doodsheid. Dan kan die "dominee en sy kerkraad" maar spook en spartel en organiseer vir al wat hulle werd is, maar alles tevergeefs.
Daarom begin reformasie nie by predikante en teoloë nie, maar by hulle wat in die amp van die ge-lowige staan. Waar gelowiges die Skrif en die gereformeerde leer ken, en bereid is om daaruit te lewe en dit te verdedig, daar kom die amp van die gelowige tot sy volle reg. Daar staan die kerk in diens van Ons Here God, die Almagtige. Daar is die kerk by sy roeping.