Bron: Die Kerkblad, 2007. 2 bladsye.

Redes tot pessimisme of optimisme?

duim af of op

Ons het ’n nuwe jaar begin en dit is totaal onbekend aan ons wat hierdie jaar alles gaan inhou. Daar is diegene wat die jaar met pessimisme tegemoetgaan, terwyl ander, waarskynlik die minderheid, tog ’n mate van optimisme aan die dag lê, al is dit, soos dit dikwels genoem word, versigtige optimisme.

Pessimisme🔗

Die pessimiste wys daarop dat een miljoen wit Suid-Afrikaners die land die afgelope tien jaar verlaat het (d.w.s. een uit vyf) en dat ’n wye reeks van redes hiervoor verantwoordelik is:

Daar is die ondraaglik hoë misdaadvlakke (elke dag word 50 mense vermoor); daar is ’n hoë werkloosheidsvlak (30-40% word genoem); daar heers groot armoede; daar is die hoë voorkoms van vigs (700 sterf per dag); daar is regstellende aksie en swart bemagtiging wat as omgekeerde rassisme ervaar word; daar is ’n ondoeltreffend bestuurde proses van grondverdeling. Die staatshospitale verswak voortdurend; die skoolsisteem en skooldissipline val plat; die regstelsel (polisiediens, regspraak, gevangenisdiens) kom nie die mas op nie; die paaienetwerk verval en die AA skat dat daar R200 miljard benodig word vir die herstel van die paaie. Munisipale dienste (water, sanitasie, elektrisiteit) begin padgee. Onwettige immigrante is besig om die land te oorstroom (85 000 per maand). Korrupsie vreet soos ’n kanker aan die wortels van ons samelewing. Rassisme begin al hoe meer kop uitsteek. Ons belangrikste sportspanne is spartelend en meestal sinkend. En dan is nog nie eens verwys na die sluipende monster van omgewingsbesoedeling nie (daar word al daarvan gepraat dat ons riviere in rioolslote verander het).

In kort, baie kry die gevoel dat die land holderstebolder oor ’n afgrond tuimel.

Optimisme🔗

Optimiste skilder ’n ander prentjie:

Hulle wys op die sagte oorgang na ’n volwaardige demokrasie, sonder bloedvergieting; ons land beskik oor een van die beste grondwette ter wêreld; Suid-Afrika is ’n regstaat (en nie ’n magstaat nie); die makro-ekonomiese beleid van die land is goed; die ekonomie groei teen 4.7% per jaar; daar is ’n oop samelewing met vryheid vir almal; internasionale verhoudings is genormaliseer en veral die handel en sport het baie baat daarby gevind. Die sokker-wêreldbeker van 2010 gaan ’n groot ekono­miese inspuiting vir die land beteken – en ook daartoe bydra dat groter aandag aan misdaad en die infrastruktuur van die land gegee word.

ekonomiese groei

Teologie van hoop🔗

Dit is interessant om daarop te let dat wanneer vanuit teologiese hoek na die geskiedenis en die ontwikkeling van samelewings gekyk word, daar altyd minstens twee sienings te vind is:

  • die pessimiste sê “die wêreld is te sleg en daarom onttrek ons ons daaraan”;
  • die optimiste sê weer “ons is deel van die wêreld en ons gaan dit ’n beter plek maak”.

Daar was altyd die slingergang tussen asketisme en aktivisme, tussen fatalisme en fanatisme. ’n Paar Bybelse perspektiewe kan ons help om ons weg deur hierdie bos van haakdorings te vind:

  • Allereers moet die gedagte beklemtoon word dat elke Christen ’n onnalaatbare roeping van die Here ontvang het. Ons word geroep om te werk in die kerk én in die samelewing. Ons is ligdraers, sout en suurdeeg. Ons moet keer, elkeen op sy eie pos, dat die samelewing nie uitrafel nie. Ons, elkeen van ons, het ’n onoorsienbare verantwoordelikheid in hierdie mooi Suiderland. Ons kan ons nie genoeg inlaat met die “sake van die dag” nie. Die Here God verwag – en vra – dit van ons.
  • Tweedens moet ons daarmee rekening hou dat ons in hierdie gebroke wêreld vreemdelinge is; ons is toeriste oppad na ’n groter vaderland (Heb 11). Ons mag ons nooit so tuismaak in hierdie wêreld en so daarin opgaan dat ons uiteindelik daarin ondergaan nie. Die Christelike lewe bevat altyd die element van ’n asof-lewe, ons lewe met die dinge van die wêreld “asof” ons daar niks aan het nie (1 Kor 7:31). Ons is “in” die wêreld, maar nie “van” die wêreld nie.
  • Derdens: In ’n sondige wêreld is Christene altyd strydende Christene. Hulle moet elke dag opnuut weer baklei vir alles wat waar en edel en reg en rein en mooi en prysenswaardig is. Hierdie stryd kom nooit tot ’n einde nie. Christus het ook nêrens beloof dat sy navolgers altyd rose en maanskyn sal geniet nie, maar veel eerder vervolging en belediging. Geweld, oorloë, hongersnood, aardbewings, orkane en tsoenami’s sal daar altyd wees, telkens in vergrote mate. Christus het nie belowe om ons uit al hierdie bedreigings weg te raap nie, maar om ons daar midde-in krag te gee – en hoop.
  • Vierdens: Christus wil ons midde-in die nood van ons tyd hoop gee. “Al hierdie groot dinge” (waarna ons hierbo verwys het), het Hy gesê, “is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd” (Matt 24:8). Lees dit weer: al hierdie “onheile” is geboortepyne, is sinjale van God se nuwe ryk wat aanbreek. Uit die onheil vloei daar heil voort. Dit mag soms ontstellend lyk, maar dit is tekens van ’n nuwe begin, tekens nié van die einde van die wêreld nie, maar van die aanbreek van 'n nuwe wêreld. God oordeel wel hierdie ou wêreld, maar Hy vernietig dit nie, Hy omskep dit tot ’n nuwe wêreld onder ’n nuwe hemel. Daarom kan ons, terwyl hard wérk vir ’n nuwe wêreld, ook rustig wág op die koms van die nuwe wêreld (2 Pet 3:12).

hand en vlinder

Pessimisme of optimisme? Nee, iets anders, en om dit uit te spel, benodig ons ’n nuwe woord, die woord spesimisme (afgelei van die Latynse spes wat “hoop” beteken). So leef Christene in ’n gebroke wêreld en ’n stukkende land: altyd hoopvol. Hoopvol, nié in die eerste plek op wat die regering kan doen, of groot maatskappye, of die buiteland, of selfs die kerke nie, maar op wat Gód in sy goedheid kan doen. Daarom volhard Christene ook in die daaglikse gebed tot die Here.

Want as ons na die groot vraagstukke om ons kyk, raak ons ontsteld; as ons na ons eie swakheid kyk, raak ons lam; maar as ons na Christus kyk, kan ons met oorgawe rustig aan die werk gaan – terwyl ons wag op die koms van sy koninkryk van vrede.