Psalm 138:8 - 'n Lied oor Genade en Trou
Psalm 138:8 - 'n Lied oor Genade en Trou
Psalm 138 is ’n loflied op God se goedertierenheid en trou.
Goedertierenheid en trou is twee woorde in die Bybel wat in verband staan met God se verbond. “Goedertierenheid” beteken God se verbondsvriendskap, dat Hy jou uit genade opgeneem het in sy verbond. En dat Hy van daar af jou Vriend is.
Om sy volk daaraan te herinner het Hy hulle ook ’n teken en seël gegee: in die OT die besnydenis, in die NT die doop.
Die woordjie “trou” beteken dat die HERE hom hou aan daardie verbond. Hy maak die beloftes wat Hy in sy Woord gegee het, waar!
Op ’n besondere manier het die digter ervaar hoe die HERE woord hou en sy verbondsvriendskap waar maak:
Die HERE het hom gered van vyande wat sy lewe bedreig het. Hy het nie omgekom nie.
Die HERE het sy gebed verhoor en hom innerlik met krag versterk.
Deur sy verbondstrou so te betoon, het die HERE sy Naam, d.w.s. Wie Hy is en wat Hy beloof en gedoen het, kosteliker gemaak as enigiets anders.
Daarom wil hy saam met die volk van God by die tempel daarvan sing. Ja, ook die engele in die hemel, hy praat van “gode”, wil hy dit laat hoor.
So mag ons ook eerste die HERE prys vir sy verbondsvriendskap en dat Hy ook in ons lewe sy beloftes in Jesus Christus waar gemaak het.
Beloftes van vergewing, beloftes van die ondersteunende krag van die Heilige Gees.
Elkeen kan getuig hoe die HERE hulle op wonderlike maniere deur krisisse heen gehelp het en gebede verhoor het.
Net soos Hy dit trouens in die doop beloof het.
Vs 6 sê: So is die HERE vir die nederige.
Die nederige is die mens wat op Hom vertrou wat nooit sy vriendskap wil ontbeer nie. Hy is oneindig groot en oneindig verhewe.
Maar Hy bemoei Hom met die kleine mens wat op Hom vertrou. En so kan ons vol vertroue die toekoms ingaan. So mag mense ook by die sluiting van ’n huwelik sê:
“Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid..”
Dit is iets wat onomstootlik vas mag staan. Die genadewerk wat die HERE in ons lewe begin het, sal Hy voortsit en voltooi.
Hierdie verwagting bou ons nie op onsself of ons voortreflike persoonlikhede nie, maar op die feit dat die HERE ons Vriend is, op sy goedertierenheid.
Ons kan ons eie lewe nie oorsien nie. Ons weet nie wat daar in die toekoms voorlê nie. Daar sal ook moeilike dae kom.
As dit kom, smarte, benoudheid, verdriet, onthou dan: God oorsien ons lewe. Hy kyk daarop neer soos ’n kunstenaar wat ’n kunsstuk borduur. Hy het ’n pragtige plan. En Hy hou al ons lewensdrade in sy hande. En Hy hou nie op voor Hy die patroon volmaak uitgewerk het nie.
Kyk, hierdie kragtige belydenis oor God se trou, mag sy kinders sonder huiwering uitspreek. Maar as ons dit om Christus ontwil met alle sekerheid mag sê, waarom moet ons dan nog vra:
“Laat nie vaar die werke van u hande nie!?”⤒🔗
Ja, ons moet dit bid.
Want geloofsvertroue is nog iets anders as sorgeloosheid. Dat ons in ’n verbond met God lewe mag nooit ’n verbondsoutomatisme word, dat ons ons hande in ons skoot lê nie. Vertroue dryf ons juis uit tot die gebed: “Laat nie vaar die werke van u hande nie.”
En wat is “die werke van God se hande”? Ons kan dink aan God se skepping en onderhouding. Maar ook aan sy herskeppingswerk deur Christus. Wat Hy vir die mens doen, maar ook wat Hy aan die mens doen deur sy Gees.
- Dat Hy ons wederbaar.
- Dat Hy ons ’n nuwe hart gee.
- Dat Hy ons laat vasstaan in die geloof.
Die brose plantjie van geloof moet ’n wêreld trotseer wat met God niks te doen wil hê nie. Teen so ’n bose wêreld vermag ons niks met ons dwaalsieke hart nie.
Bowendien het ons voortdurend te kampe met die Duiwel se versoekings. Ook in mens se huwelik. Maar as ons erns maak met sy Woord, sal God ons op ons gebed deur sy Gees en sy Woord deur alle krisisse dig by Hom hou.
In hierdie gebed is mense egter ook verbonde met al God se ander kinders. Allernaaste aan staan die eie gemeente.
Wie getrou bid: Laat nie vaar die werke van U hande nie, dra sy medegelowiges, die plaaslike kerk en sy ampsdraers ook aan die HERE op:
- Hou my broeders en susters – dit sluit ons kinders in – in benoudhede en versoekings staande.
- Here dink aan ons dominee. Laat hy u Woord onvervals bring.
- Laat die ouderlinge u Woord ken en alle ontroues in liefde reghelp.
- Laat die gemeente nie leke wees nie.
- Laat ons almal na die Woord leer luister. En laat ons na mekaar uitreik, op mekaar ag gee.
- Laat ons almal waarlik Christene wees: profete en priesters en konings.
So kom sending en evangelisasie ook in sig, en baie ander dinge.
So gaan dit in al hierdie dinge, ook huwelik, opvoeding, sosiale lewe, of besigheid oor God se werk.
En niemand sal sy werk keer nie.
Maar Hy verlang vir die voltooiing van sy werk die gebede van gelowige manne en vroue en kinders.
En ons huwelikstaak is vervul as ons op die laaste dag, saam met ons kinders voor die HERE sal juig:
Aan U HERE gee ons al die glorie! U genade en trou is onverganklik!
Die werk wat U begin het, het U nooit laat vaar nie!