Prediking
Prediking
Wat is ʼn preek? Is dit soos ʼn les, met die verskil dat dit die Bybel is wat geleer word? As die prediking net nog ʼn les is, waarom word die belangrikheid daarvan so sterk in die Skrif beklemtoon? Prediking is in der waarheid uniek.
Om te kan verstaan waarom prediking van deurslaggewende belang is moet ons verstaan wat dit is en waarom dit uniek is. Die Griekse woorde wat in die Nuwe Testament vir “prediking” gebruik word, sê baie oor hierdie begrip.
Een woord sê wat die inhoud van prediking is. Dit is die woord waaruit die woord evangeliseer kom, en beteken “om goeie nuus te bring”. Die ander woord, waarop ons sal fokus, wys waaroor prediking gaan. Vertaal beteken die woord “om boodskapper te wees”. Die verwysing is ewenwel nie na sommer enige boodskapper nie, maar na ʼn “herout” of aankondiger. ʼn Herout was ʼn boodskapper wat opdrag gekry het, gewoonklik van ʼn koning of groot heerser, om ʼn besonder boodskap aan die volk te bring met die woorde van die koning self. ʼn Herout is nie toegelaat om enigiets by die boodskap te voeg, daarvan weg te laat of dit te “interpreteer” nie. Hy moes bloot sê, “So sê die koning!” In dié opsig was hy baie soos ʼn gesant of ambassadeur (2 Kor. 5:20; Ef. 6:20).
Wanneer die woord herout op die prediking toegepas word, leer ons dat iemand wat preek ʼn opdrag moet hê, gestuur moet wees, deur die Koning van die konings, Christus Jesus. Niemand het die reg om homself as prediker aan te stel of om op sy eie die werk te onderneem nie. Nie eens Christus het dit gedoen nie (Heb. 5:5). As iemand homself as prediker voordoen, het sy boodskap geen amptelike gesag nie en is niemand verplig om daarna te luister nie.
ʼn Voorbeeld mag hier help om te verstaan. Ek, as ʼn privaat burger, mag kennis dra van planne van my regering en op besoek aan ʼn ander land besluit om die daardie regering daaroor in te lig. Selfs al sou my inligting in alle besonderhede korrek wees, sou niks wat ek sê enige gesag dra nie en niemand sou verplig wees om daarvan kennis te neem nie. Eers wanneer ʼn ambassadeur, of ander verteenwoordiger van my regering, gestuur word om die boodskap oor te dra, sal die vreemde regering verplig wees om kennis te neem.
Net so, sê die Skrif, moet hulle wat preek gestuur word (Rom. 10:15). As hulle nie gestuur word nie, hoef niemand hoegenaamd enige ag te slaan op wat hulle sê nie. Dit is die Heilige Gees, deur die kerk, wat stuur deur ordening of handoplegging, soos dit duidelik ten opsigte van Paulus self die geval was (Hand. 13:1-3).
Dit hou ook in dat die predikant, nie net aan God nie, maar ook aan die kerk of kerke wat hom gestuur het, verantwoordelik is (Hand. 14:27). Roeping beteken altyd verantwoordelikheid. Christus gebruik die kerk om ʼn predikant te stuur én hy gebruik die kerk om die predikant oor die boodskap wat hy bring, tot verantwoording te roep.
Ons glo daarom aan ʼn geordende bediening en dat “leke prediking” nie Bybels is nie. Manne wat deur niemand gestuur is en aan niemand verantwoording verskuldig is nie, is nie ware ambassadeurs of heroute van God nie.