Paul Kruger en die Gereformeerde Kerk Rustenburg
Paul Kruger en die Gereformeerde Kerk Rustenburg
Daardie kind sou ʼn swerwer word, maar ʼn swerwer wat sy spore diep en onuitwisbaar in die bodem van sy vaderland getrap het. Sy lewensweg het deur riviere en oor berge gegaan en ver oor die oseaan na die lande van sy vadere. Sy swerftog het in ballingskap geëindig, maar in sy gang het hy ʼn naam nagelaat wat die simbool sou word van die taaie nasionale weerstand van sy volk teen die opdringende Britse imperialisme en van ʼn republikeinse vryheidstrewe….
D.W. Krüger in sy biografie Paul Kruger oor laasgenoemde se geboorte op 10 Oktober 1825
⤒🔗
Van Huis uit Gereformeerd←⤒🔗
Teen die begin van die 19de eeu vind ons die huisgesin van Casper Kruger, die vader van Stephanus Johannes Paulus Kruger diep in die binneland van die Karoo. Hulle was veeboere en aanhoudende droogtes het hulle telkens verder en verder in die ongerepte wydtes van Afrika gedryf. Hulle was baie ver, met die primitiewe vervoermiddels van destyds, byna oneindig ver van die kerksentrums – ook heeltemal te ver van hulle geestelike en kulturele stamland Nederland. Maar met hulle Statebybel met sy verklarende aantekeninge, die Psalmboek met die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, was hulle eintlik digby die Sinode van Dordrecht (1618-19) – nader as baie gereformeerdes van hulle tyd. Dit was ʼn klein bibliotekie wat altyd in die wakis saam met hulle op die trekpad gegaan het. Saam met hierdie twee boeke was daar o.a. ook enkele geskrifte deur manne van die Nadere Reformasie soos Wilhelmus à Brakel se Redelijke Godsdienst en ook werke van Hellenbroek en Smijtegelt. Hierdie karige, maar tog Bybelse leesstof, was terselfdertyd die “leerboeke” waaruit die kinders moes lees en skryf. Dit was in kort Paul Kruger se “studiemateriaal” as Voortrekkerkind en jong man in Transvaal. In sy ouerhuis het hy reeds van kleins af die Gereformeerde waarheid ingedrink.
Kerklike Stryd in Transvaal in 1853←⤒🔗
Dit is ʼn harde feit dat die enigste destyds bestaande “gereformeerde” kerkverband, nl. die “Nederduitsch Gereformeerde Kerkgenootschap” van die Kaap, die Groot Trek na die binnelande van Suid-Afrika in 1837 veroordeel het. Prakties was die Voortrekkers en hulle nasate wat hulle toe in Transvaal gevestig het, vir jare lank herderloos. Maar onverwags het hulle in 1853 ʼn predikant van die Hervormde Kerkgenootskap in Nederland gekry, proponent Dirk van der Hoff. Die eerste gemeente is toe in Rustenburg gestig. Maar let wel, dit was die Staatskerk van die Republiek van Transvaal (ZAR). Paul Kruger was toe 28 jaar oud en hy en sy familie was lidmate van hierdie kerk.
Maar – en dit was die spanning in die gemeente – daar was twee geestesgroepe in die gemeente: die sogenaamde Doppers en hulle wat bloot afkerig was van die Kaapse Kerk (NG Kerkgenootskap). Die Doppers was die mense wat getrou wou bly aan die Drie Formuliere van Enigheid en die Dordtse Kerkorde, veral wat betref artikel 69 hiervan; dus alleen Psalms en geen vrye Gesange in die erediens nie. Veldkornet Paul Kruger was ʼn Dopper en hy was van die groep wat geensins gelukkig met die gang van sake in die Staatskerk, die Hervormde Kerk van Transvaal was nie. Spoedig het hy ook in kerklike sake ʼn leier geword en het hy die standpunt van die lidmate wat geywer het vir ʼn terugkeer na die beginsels van Dordt, verteenwoordig. Die nuus van die Afskeiding in 1834 in Nederland van die Hervormde Kerk weens afwyking van die Gereformeerde Belydenis het hulle bereik en ʼn strewe na terugkeer na Skrif en Belydenis het al hoe meer dringend geword.
Kruger se Stryd vir Eenheid van die Kerk←⤒🔗
Die jong Paul Kruger – alhoewel hy nie ʼn amp in die kerk beklee het nie – was baie gesteld op die eenheid van die kerk. Gevolglik het hy in 1855 met sewentien ander lidmate ʼn versoek aan die kerkraad van Rustenburg gerig om die onderlinge verdeeldheid in die gemeente te ondersoek (die verdeeldheid tussen die Doppers en die anti-Kaapse kerkgesindes). Die anti-Kaapsgesindes het nie veel oor die inrigting van die erediens omgegee nie en ds. Van der Hoff het uit sy Hervormde agtergrond in Nederland ook nie juis vir ʼn “Gereformeerde erediens” sonder Gesange met Psalms alleen gevoel nie. Dit is logies dat Van der Hoff afsydig van die yweraars van die Dordtse Belydenis en Kerkorde gestaan het.
Ons moet goed onthou dat Kruger in sy ywer vir eenheid in die gemeente, terselfdertyd ook ernstig besig was om eenheid tussen politieke groepe rondom die grondwet te besweer. Kerklike sake (omdat dit ʼn staatskerk was) is dikwels met staatsbesluite besleg en daar was dus ʼn vermenging van belange.
Maar die breuk in die gemeente het al dieper geword. In hierdie tyd kla ouderling Philippus Snyman by president M.W. Pretorius dat die gemeente van Rustenburg “nie geleer en bestuur word volgens ons Christelike Geloofsbelydenis wat deur ons Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618/1619 vasgestel is nie” (J.P. Jooste, Die Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859-1958, 1959, p. 45.)
“Zich Losscheuren van de hier Bestaande Kerk”←⤒🔗
By die Algemene Kerkvergadering (sinode) van die Hervormde Staatskerk in 1855, is die saak van Paul Kruger en die sewentien manne te berde gebring. Hier is dit weer ouderling Ph. Snyman wat ʼn versoek aan die vergadering rig “om de kerk te herstellen”. Sy voorstel het behels dat o.a. die Gesange uit die erediens verwyder moes word of so nie dat toestemming verleen sou word dat die “beswaardes” (die Doppers) “zich losscheuren van het bestaande kerk” (dit is die gemeente van Rustenburg) om ʼn eie gemeente op te rig. Ds. Van der Hoff sou die predikant bly, maar hy sou die eredienste sonder Gesange waarneem.
Wat was die Algemene Vergadering se antwoord op Snyman se voorstel? Eenvoudig: dit is “onchristelijk”! Hierop het die Vergadering ouderling Snyman vermaan en hy is gelas om liewer “de eenheid in de kerk” te bevorder. En wat sien ons – en dit is van die grootste belang? Lank (drie jaar) voordat ds. Dirk Postma sou opdaag en niemand nog van hom geweet het nie, is daar ʼn strewe vir ʼn vrye gemeente, maar nog binne die Hervormde staatskerk. (B. Spoelstra, Die Doppers in Suid-Afrika 1760-1899, 1963, p. 122)
Dit is van belang om te weet dat die beswaardes baie gevoelig vir gewetensdwang was. Hulle self wou ook niemand dwing om die erediens volgens hulle sienswyse in te rig nie. Hulle punt was eenvoudig: Laat die Heilige Skrif en die Belydenis die antwoord gee. Hulle het ook baie ernstig verwag dat die kerkraad, indien hulle standpunt as ʼn dwaling beskou is, dit uit die Skrif vir hulle sou aantoon. Dit het egter nie gebeur nie. Maar dan verwag hulle ten minste “om gewetenswil” om ʼn afsonderlike vrye gemeente te hê. Ter wille van eenheid, moet dit dan binne die “Kirk Staat” (d.i. “staatskerk”) wees, soos wat Kruger en sy manne dit in hulle versoek genoem het.
Nog nie ʼn “Afskeiding” nie, maar wel ʼn “Afsondering”←⤒🔗
Veldkornet Paul Kruger was uiters bekommerd oor ʼn moontlike skeuring in die Hervormde Kerk in Rustenburg. Ouderling Snyman het in sy reeds gemelde brief aan president Pretorius gemeld van die “tweedrag en dat ʼn groot deel van die gemeente, die kerkraad en gemeente bedank het”. Ondanks die vorige pogings om eenheid te bewerk, het die “tweedrag” net al hoe groter geword.
Weer eens is dit Paul Kruger wat inisiatief neem. In Augustus 1857 kry hy toestemming van die Hervormde Kerk Rustenburg om by die staat ʼn voorstel in te dien waardeur die beswaardes ʼn eie predikant binne die staatskerk kan beroep. In September 1857 keur die Volksraad van Transvaal dit goed. Wat ʼn ingrypende besluit! Baie kerkhistorici besef dit nie: Die beswaarde deel van die Rustenburgse gemeente (die Doppers, handhawers van die Dordtse Belydenis) mag hulle eie predikant beroep. (Weer eens: hulle het nog niks van ds. Dirk Postma geweet nie.)
Die besluit van die Volksraad vir die beroeping van ʼn eie predikant, het egter bepaalde voorwaardes gehad wat vir Paul Kruger en sy volgelinge heeltemal aanvaarbaar was:
-
Die predikant sal vry in die “godsdiens hou” wees en sal ooreenkomstig die waardigheid van sy amp en die “instellings van Christus” optree.
-
Die verskillende predikante in die land sal gelyke status hê en daar sal nie ʼn “hoofleraar vir die Republiek” wees soos wat gerugte die ronde doen nie.
-
Daar moet ʼn “verbinding met die sinode” bestaan sodat moeilikhede tussen ʼn predikant en sy gemeente besleg kan word. (Vgl. V.E. d’Assonville, Gids vir die Kerkgeskiedenis, p. 220)
Wat is nou in 1857 die werklikheid in die Hervormde Kerk van Rustenburg? Dit is ʼn voldonge feit dat daar ʼn Afgesonderde gemeente volgens die beginsels van die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 binne die Hervormde Staatskerk van Transvaal kan bestaan. Paul Kruger het dit bewerk.
Maar spoedig het daar ʼn onverwagte ding in die volgende jaar gebeur: Ds. Dirk Postma van die Christelike Gereformeerde Kerk (van die Afskeiding in 1834) het in November 1858 in die land aangekom – meer as ʼn jaar nadat daar reeds ʼn openlike, erkende, offisiële “Afgesonderde gemeente” in Rustenburg bewerk is.
Postma se Koms ʼn Drama←⤒🔗
Dit is nodig om die presiese historiese feite van die gebeure met ds. Dirk Postma se koms na Suid-Afrika agter mekaar te plaas. Onkunde hieroor het alreeds dikwels in boeke die kerkgeskiedenis skeef getrek. Kortliks is dit soos volg:
-
In Junie 1857 vergader die Sinode van die Christelike Gereformeerde Kerk in Leiden, Nederland. Ouderling J. van Andel bring die geestelike nood van die Transvalers onder die aandag en die Sinode besluit om ʼn predikant te beroep vir (let wel!) “de geestelijke belangen der Transvaalsche Republiek in Zuid-Afrika.” Toe ds. N.H. Dosker die beroep nie opgevolg het nie, is ds. Dirk Postma van Zwolle beroep. Sy opdrag was “de voorziening in de geestelijke behoeften der Transvaalsche Republiek”. Dit gaan oor “het belang van zoo vele stamverwanten” en om “de uitbreiding van het Evangelie” onder die heidene te ondersoek (Vgl. S.P. Engelbrecht, Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 1953, p. 150.)
-
Van hierdie optrede van die Christelike Gereformeerde Kerk in Nederland weet beide, die beswaardes in Rustenburg en die staat met sy voorwaardes vir ʼn predikant, niks! Ook ds. Postma weet niks van die verdeeldheid wat daar alreeds jare lank in die gemeente van Rustenburg bestaan nie.
-
Die Lasbrief van die Christelike Gereformeerde Kerk aan ds. Postma is baie belangrik. Ten eerste is dit aan die regering van Transvaal gerig. Ten tweede word daarin niks van sending gemeld nie. (Vir die presiese teks, kyk Engelbrecht, a.w. p. 152.)
-
Wanneer die Transvaalse regering verneem dat ds. Postma op pad is, besluit hulle dat hy na die beswaarde deel van die gemeente van Rustenburg moet gaan, nadat hulle hom volgens die ooreenkoms wat deur Paul Kruger bewerk is, ondersoek het.
Wat hier gebeur het, is dat die saak van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland wat direk aan die owerheid van Transvaal gerig was, na één plaaslike gemeente, nl. Rustenburg verwys is en nie na die ander (bv. Potchefstroom) nie. Die relatief klein groepie (in verhouding met die hele Transvaal) moet nou vir die staat besluite neem, wat dan ook spoedig gebeur. Behalwe die staat se voorwaardes, kom hier ʼn nuwe stel vereistes vir ds. Postma.
Voorwaardes deur die kerkraad van Rustenburg aan ds. Postma gestel:
-
Die leraar wat as afgevaardigde kom, moet hom aan die land se grondwet onderwerp en bepaaldelik aan artikels, 9, 20 en 23 (Grondwet, ZAR).
-
Hy sal sy dienswerk in die gemeente nie mag aanvaar nie voor en aleer hy verskyn het voor ʼn Algemene Kerkvergadering uit die onderskeie gemeentes van die Z.A. Republiek, wat geregtig sal wees om genoemde leraar in die stuk van die geloofsbelydenis te ondersoek.
-
Die voorstanders en borge (d.w.s. Paul Kruger en die beswaardes) sal sorg dra dat genoemde leraar op hulle koste van Natal gehaal word, en ingeval sy eerwaarde nie aan die verlangde vereistes aan die voorstanders beantwoord nie, sal hulle verplig wees om genoemde leraar, as hy dit verkies, weer kosteloos terug te bring na die plek vanwaar hy afgehaal is (Jooste, a.w., p.47).
Wat is in hierdie voorwaardes van die kerkraad opvallend? Dit is dat daar geen woord oor die Gesange gepraat word nie. Net so opvallend is dit dat bepaalde artikels van die staat se grondwet hier deur die kerk bygesleep word – art. 9 wat die verhouding in kerk en staat handhaaf, art. 20 wat die Hervormde Kerk as die enigste staatskerk handhaaf en art. 23 wat die Hervormde Kerk as die enigste kerk van die volk handhaaf (dus ʼn volkskerk).
Spoelstra (a.w., p. 113) som die situasie soos volg op: “Ds. Postma dink dus hy is ʼn gesant namens sy sinode by die regering van Transvaal maar die Transvaalse owerhede dink hy is ʼn predikant vir die beswaarde gemeente in Rustenburg. So het die kerklike en politieke owerhede in beginsel al die afskeiding aanvaar voordat ʼn woord met ds. Postma gepraat is.” Eintlik was dit ʼn belediging vir die Christelike Gereformeerde Kerk in Nederland dat die staatsowerheid hulle saak nie self behandel het nie maar dit na ʼn partikuliere kerkraad verwys het wat weer op hulle beurt eie voorwaardes vir ds. Postma opgestel het (a.w., p. 135).
Paul Kruger en Sy Manne gaan haal Postma in Natal←⤒🔗
Nadat die kerkraad van Rustenburg aan Paul Kruger en sy volgelinge toestemming gegee het om ds. Postma in Natal te gaan haal, het die beswaardes aan die werk gespring. S.J. Kruger, Ph. Snyman en Paul Kruger het as die genoemde borge in die kerkraad se voorwaardes opgetree. Hulle kom toe ooreen dat Douw Kruger (Paul se broer) en Ph. Snyman die lang reis van weke na Durban per ossewa sou aflê om Postma te gaan haal. Teen 9 November 1858 is hulle met die nuwe leraar terug in Rustenburg.
Baie gou het Postma die spanning tussen twee partye in die gemeente agtergekom. Terwyl die één groep vol verwagting is dat hulle nou eindelik ʼn predikant het wat nie die Gesange in die erediens sal laat sing nie, probeer die ander groep om hom om te haal om dit wel te doen. Met ʼn skok kom ds. Postma agter “dat het hier op het punt van een scheuring stond”. (Postma in sy Journaal op 4 Desember 1858).
Ds. Van der Hoff se Optrede op die Kerkvergadering←⤒🔗
As die Algemene Vergadering van die Hervormde staatskerk op 10 Januarie 1859 in Pretoria saamkom, was dit sy eintlike taak op die agenda om vas te stel of ds. Dirk Postma van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland aan die staat se grondwet en die beginsels van die Dordtse Sinode van 1618-19 beantwoord. Niks meer nie.
Het ds. Van der Hoff (die enigste predikant) ander idees in sy kop gehad? Hy bring die Gesangekwessie wat glad nie op die agenda was nie op die tafel. Dit was buite orde, want hierdie saak was reeds drie jaar vantevore afgehandel toe die staat Paul Kruger se voorstel aanvaar het (vgl. punt 1 van die staat se voorwaardes in Augustus 1855 hierbo). Was dit ʼn diplomatiese maneuver om die predikant van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland, ʼn kerk met wie hy aldaar oorhoops was, heeltemal van die gemeente van Rustenburg en ook die ander gemeentes in Transvaal te isoleer? Spoelstra sê: “Hy (Van der Hoff) laat Postma in die slagyster trap. Hy roep hom daarmee weg van die vir hom gevaarlike terrein van kerk en staat, en hy dwing Postma op die verdediging op ʼn slagveld wat hy sorgvuldig gekies het” (a.w., p. 139). Nietemin, in die hele ondersoek van Postma is die Gesangkwessie só op die spits gedryf sodat “Gesange feitlik tot ʼn Belydenisskrif verhef is. Vir die Algemene Vergadering was dit só belangrik dat daaroor ʼn dwingende besluit geneem is, nl. dat ‘de kerklike inrigting, zooals die thans hier bestaat met hare evangelische gezangen, zal blijven bestaan en gehandhaafd worden’” (Spoelstra, a.w., p. 140).
Oor die koppe van die Doppers was dit niks anders as ʼn harde gewetensdwang nie. Maar dis nie al nie: Hier het ʼn sinode ʼn afskeiding van ʼn gemeente afgedwing. Wat nog ʼn “afgesonderde” gemeente binne die staatskerk was (Paul Kruger se voorstel), is deur één enkele besluit heeltemal losgemaak. Prof. S.P. Engelbrecht (geskiedskrywer van die Hervormde Kerk) sê self dat ná hierdie besluit eenheid onmoontlik geword het (a.w., p. 158).
Paul Kruger en nog Veertien Man Stap Uit!←⤒🔗
Vir die beswaardes van Rustenburg was die deur nou finaal gesluit. Die geskiedenis van die Doppers se probleme in die Kaapse NGK het hom in Rustenburg met die Hervormde Staatskerk herhaal: Net soos die Ring van Graaff-Reinet in 1841 en die Kaapse Sinode van 1847, is die Gesange sonder die toets van die Bybel en die Gereformeerde Belydenis op die beswaardes afgedwing. Dit was gewetensdwang. Die vraag was nie meer, wat sê God se Woord nie, maar wat sê die meeste stemme? Presies soos wat die kollegialisme dinge doen.
Hulle was vyftien manne wat onmiddellik ná die Algemene Vergadering ʼn buitengewone stap geneem het. Hulle kon nie anders nie. Genoeg was genoeg. Saam met Paul Kruger was daar ook die bekende prominente stryders vir die Gereformeerde Belydenis soos P.J.W. Schutte van Potchefstroom, Ph. Snyman en S.J. Kruger, die ou Colesberger wat alreeds in Kaapland dieselfde stryd teen vrysinnigheid gevoer het. Hierdie vyftien man het toe die Algemene Vergadering in kennis gestel dat hulle uit die Hervormde Staatskerk tree en “ʼn Vrye Gereformeerde Kerk ooreenkomstig leer, diens en tug van die vaders” gaan stig.
Die stigting van die Gereformeerde Kerk Rustenburg het toe op 11 Februarie 1859 plaasgevind. Dit was ʼn gemeente van meer as 300 volwassenes en 500 kinders – 800 mense onder die skaduwees van reuse seringbome. Toe is ds. Dirk Postma as hulle predikant beroep.
Die nuus het soos ʼn veldbrand oor die hele land versprei en spoedig is meer gemeentes ooreenkomstig die Dordtse Belydenis en Kerkorde, gestig. So het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika tot stand gekom.
Dit was nog net die Punt van die Ysberg←⤒🔗
In die 19de eeu het afskeidings van Gereformeerde kerke in verskillende lande meestal ʼn gemeenskaplike patroon. Ons vind dit by die Afskeiding van 1834 onder leiding van Hendrik de Kock, die Skeuring (Disruption) van die Skotse kerk in 1843 onder leiding van Thomas Chalmers en die Doleansie van 1886 onder leiding van Abraham Kuyper. In al hierdie gevalle was dit ʼn verset teen die staat se kerkregering en die vrysinnigheid, weg van die Gereformeerde Belydenis. In al hierdie skeurings het die Psalmboek in die sentrum gestaan.
Maar die stryd oor die Psalmboek, was maar nog net die punt van die ysberg wat bokant die water uitgesteek het. Die grootste deel van die reformasie moes nog uitgevoer word. Dit is opmerklik dat die nuwe gemeentes dadelik weer die Dordtse Kerkorde in plaas van die bestaande “Kerkwet” ingevoer het. Alles moes weer “gereformeerd” word: die prediking, die erediens, die katkisasies, die Christelike onderwys, ens.
En Paul Kruger? Tot met sy dood het hy getrou aan sy Gereformeerde Belydenis gebly. Met sy gemeente het hy ten spyte van ʼn besige lewe as president, innig meegeleef, met gemeentevergaderings ook sy sienswyses meegedeel en elke erediens waar hy kon, besoek. Die stoele waarop hy en sy vrou in die tyd van sy presidentskap in die eredienste gesit het, staan vandag nog in die “Paul Kruger kerkgebou” in Kerkstraat, Pretoria.