Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Opwindende Kategismusprediking

kerk sonder mense

“Hoe gemaak met die tweede erediens?” is die kopseer van menige gereformeerde gemeente — verwysende na Sondae se aanddiens/middagdiens. Steeds kwyn die belangstelling van talle lidmate om hierdie diens by te woon. Ongetwyfeld speel die invloed van ons sekulêre samelewing met sy gemaksugtige individualisme ’n groot rol hierin. Andersyds het Sondae die enigste “rustige tyd” geword waar gesinne tyd met mekaar kan spandeer en kwyn die belangstelling om twee maal per Sondag na ’n kerkdiens te gaan. Ten einde die aanddiens te behou en mense te lok word sangdienste, besprekingsdienste, uitvoerings en opvoerings gehou. Alles wat vir die mense “lekker” is en wat behoeftes kan bevredig. Die gemeente wat trou gereformeerd wil bly, voel egter altyd hieroor onrustig, want “gereformeerd” is mos sinoniem met “Bybels”. Die vraag is dus altyd maar weer of hierdie toedrag van sake werklik met die Skrif te rym is. Vir ‘n gereformeerde gemeente sal dit nie primêr gaan oor suksesse of getalle of behoeftebevrediging nie, maar oor dít wat Skriftuurlik is.

Volgens die Skrif het die vroegste christelike gemeente “volhard in die leer van die Apostels.” (Hand. 2:42). Volgens Efesiërs 2:20 is die gemeente ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die Apostels en die profete. Die hartaar van die ware kerk van Christus is dus die ware leer. Dit is ’n voortbou op die unieke aard van die Ou Testamentiese gemeente van Israel waar die geloofsonderrig uit die Torah die hartklop van alles was. Geen wonder dus dat Judas die kerk “aanspoor om te stry vir die geloof wat eenmaal oorgelewer is.” (Judas vers 3). (Sien ook Filip. 1:27). Dít “wat die Apostels voorheen geleer het” is die teengif vir afwykende leer wat die gemeente kon binnedring. (Judas vers 17). Die “gees van waarheid” word juis onderskei van die “gees van dwaling” deur dit wat die Apostels geleer het. (1 Joh. 4:6). Wie nie by die leer van Christus bly nie, erken glad nie die ware God nie ( 2 Joh. vers 9) en behoort nie eens gegroet te word nie (vers 10).

Die kerk van die Reformasie wou met alle mag terugkeer na die Skrif en kerk wees op die Bybelse manier. Vanselfsprekend dat die gemeente toe weer verbind is aan die ware leer — die leer van die Apostels. Om hierdie rede is die Kategismusprediking ingevoer. ’n Tweede erediens is op Sondae gehou met ’n spesifieke doel voor oë. Nie omdat daar Sondae twee eredienste moet wees nie, maar sodat die gemeente in die ware leer onderrig kon word. Die bedoeling was nie dat die tweede erediens ’n duplisering van die oggenddiens moes wees nie. Die tweede erediens het ’n eiesoortige karakter en oogmerk gehad. Dit moes ’n leerdiens wees. Nie gefokus op dit wat die mense wou hê nie, maar op dit wat vir hulle nodig was.

Martin Luther het reeds vroeg in die 16de eeu Kategismuspreke in Wittenberg gehou. Calvyn het hierdie gebruik opgeneem in sy 1541 Kerkorde vir Genève. Die Kerkorde van die Hollandse vlugteling-gemeente in Londen (1554) gee ook voorskrifte in hierdie verband. Die gereformeerde Kerkorde van Heidelberg (1563) ken ook die Kategismuspreek as ’n geïntegreerde onderdeel van die gemeentelewe. ’n Gereformeerde Kerk en die Heidelbergse Kategismus hoort gewoon bymekaar. Daarom bepaal die Kerkorde van Dordtrecht (1619) dat “men zal op de Zondagen, des namiddags, altijd catechetische predikatiën doen, waarin de Heidelbergsche Catechismus, in onze kerken aangenomen, naar de orde verklaard zal worden.”

kategismus

Die instel van ’n tweede erediens met didaktiese karakter, was aanvanklik nie gewild nie. By die Sinode van Dordtrecht is juis melding gemaak van die “kleine getal toehoorders” wat in sommige gemeentes die Kategismusdiens bywoon, maar dit is benadruk dat hierdie eredienste “niet mogen verzuimd of nagelaten worden, al is het dat de predikanten voor weinige toehoorders, ja slechts alleen voor hunne familiën zouden moeten prediken.” Die Sinode was oortuig dat, indien die leraars die voorbeeld sou stel om met die Kategismuspreke voort te gaan, selfs al preek hulle net vir hulle eie gesinne, dit weldra aansteeklik sou werk en meer mense sou lok. Ten alle koste moes dit benadruk word: Die ware kerk van Christus is verbonde aan die ware leer van die Apostels en hierdie leer moet weekliks aan die gemeente geleer word.

Hierdie artikel is ’n pleidooi vir ’n terugkeer tot daadwerklike Kategismusprediking. Dit is ook bedoel om diegene wat dit reeds/steeds doen, te motiveer en aan te moedig om te volhard en dit nog béter te doen. Dit is immers ’n eensame en moeisame pad, maar ongetwyfeld die beste pad. Ongelukkig het Kategismusprediking — wat die NG Kerk aanbetref — met die verloop van jare by lidmate én leraars in groot onguns verval. Hiertoe het die magtige invloed van die Piëtisme en die metodistiese gevoelsgodsdiens verseker meegewerk. Post-Moderne individualistiese relativisme is skepties oor iets soos “absolute Waarheid” en stel gewoon nie belang in onderrig in die apostoliese leer nie. Vir gemeentes wat ten spyte hiervan steeds getrou wil bly, volg hier enkele rigtingwysers:

  • Prediking aan die hand van die Heidelberger moet voluit suiwere Woordbediening wees. Dit is nie dorre skoolse prediking van ’n menslike geskrif soos die Remonstrante altyd teëskop nie. Dit is die prediking van die Woord van God. Dit is geen analitiese prediking volgens die letter van die Heidelbergse Kategismus nie. Die Kategismus lei juis na die Skrif!! Soos die strooijonker na die bruidegom wys. In die Kategismus kom die leer van die Woord aan die orde en dít word verkondig. Dit gaan oor niks minder nie as lewende Christusverkondiging.

  • Tog moet die aksent op lerende prediking nie verwaarloos word nie. Hier lê juis die unieke karakter van die tweede erediens. Die gemeente moet nader onderwys word in die leer van die Woord. By lerende prediking gaan dit nie soseer om die proklamering van die heilsfeite nie, maar die nadere uiteensetting van die betekenis daarvan. Die noodsaak hiervan kan gesien word in gedeeltes soos Kol. 1:10, 2 Petr. 3:18, Efes. 4:14, Kol. 2:2 en Kol. 3:10. Hiertoe dien die Kategismusprediking as ’n uitnemende instrument.

  • Teenoor die piëtistiese individualisme, knoop die lerende Kategismusprediking die gemeente aan die geloof van die kerk. Ek het nie maar net “my geloof” en ek bely nie maar net die Waarheid “op my eie manier” nie! Ek bely die geloof van die kerk! Die individuele gelowige sing altyd in ’n koor — die koor van die kerk van alle eeue. Daar vind ’n wisselwerking plaas tussen die individu se sang en die koor se invloed op die individu : Die individu versterk die koor se klank en word tegelyk deur die koor gedra.

  • Dit is belangrik dat die Kategismus in volgorde deurgepreek word en ook so dikwels moontlik (verkieslik weekliks). Dit help die leraar om die volle Raad van God te verkondig en nie vas te val in persoonlike lieflingstemas (eie voorkeur) nie. Dit dwing die leraar om by alle aspekte van die ware leer uit te kom. Ongetwyfeld help dit ook die lidmate om die afwykende leer waarmee hul vanuit verskeie oorde gekonfronteer word, te onderskei. Dit is egter moeisame werk vir die leraar, want dit verg heelwat studie en indien die bywoning swak is, is dit erg ontmoedigend. Vir die leraar wat nie daaraan gewoond is nie, is dit ook aanvanklik moeilik. Maar deur na goeie voorbeelde te kyk, kan baie behulpsaam wees.  

  • Op ’n praktiese noot: dit is belangrik dat Woordverkondiging aan die hand van die Heidelbergse Kategismus aantreklik moet wees. Indien die opkoms by die erediens skraal is, deel dan vir elkeen ’n papier uit waarop die teks van die betrokke Sondagsafdeling afgedruk is asook die preekmanuskrip. Sodoende kan almal saam lees wanneer die Kategismus gelees word en die preek kan gevolg word en later weer herlees word. Dit is ook belangrik om te poog om die prediking op ’n boeiende en pakkende wyse aan te bied. ’n Geleentheid vir ’n preekbespreking aan die einde van die diens kan ook ’n goeie doel dien.

  • Die hele saak van terugkeer tot die praktiese hantering van ons belydenisskrifte, lei tot ’n verdere probleem naamlik die verouderde taalgebruik (woordeskat, styl en grammatika) van ons belydenisskrifte. Het dit nie dringend tyd geword vir ’n nuwe vertaling van die belydenisskrifte in goeie Afrikaans nie? Sal dit nie baie meer mense (ook jongmense) motiveer om die belydenisskrifte te lees nie? Die goeie nuus is dat 'n landswye multidissiplinêre projek om die belydenisskrifte vanuit die tale waarin hulle oorspronklik opgestel is te vertaal, onlangs geloods is.

  • ’n Laaste vraag vir selfondersoek is nog nodig. En dit is ’n ernstige vraag. Ons moet dalk net weer sekermaak of dié geloof wat in die Kategismus bely word nog ons geloof is. Is die twee nog sinoniem? Is die inhoud van ons geloof nog dieselfde as die geloof van “almal wat dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het”? ( 2 Petr. 1:1). Laat ons nie te gou positief antwoord nie. Laat ons eers mooi gaan nadink oor die maklike manier waarop ons deesdae praat van ons “aksentverskille” met die belydenisskrifte en die “ander tye wat vandag ander temas aan die orde stel as in die 16de eeu”. Laat ons sekermaak of daar nie ’n konfessionele onverskilligheid en ’n ander houding teenoor die Bybel posgevat het nie. ’n Sig op die Bybel wat ánders is as dié van die Reformasie. Laat ons sekermaak of daar nie reeds ’n wesenlike verskuiwing plaasgevind het nie. Indien wel, het dit tyd geword vir indringende bekering.