Oordeelsprediking op die Sendingsveld
Oordeelsprediking op die Sendingsveld
⤒🔗
Evangelie en Gerig←⤒🔗
Die Evangelie wat ons op die sendingveld moet verkondig is ’n blye boodskap. In die belydenis van die Geref. Kerke word sendelinge aangedui as ‘verkondigers van hierdie blye boodskap’ (Die Dordtse Leerreëls 1,3). Daar is egter altyd ook mense wat hierdie heerlike Evangelie nie wil glo nie. Op diegene wat in sy ongeloof volhard, bly die toorn van God (Joh. 3:16). Elke prediker het die roeping om die ongelowiges, die onbekeerdes ernstig te waarsku. Dit is daarom vir elke verkondiger van die Evangelie noodsaaklik dat hy self glo in die oordeel wat kom.
’n Sendeling, ’n prediker moet inwendig brand van smart as hy dink aan die lot van die heidene en van almal wat ongelowig en onbekeerd bly, so het Totius een dag gesê. In sy boek oor Jesaja teken Totius die profeet as ’n man wat innerlik bewoë is oor die lot van Moab.
Hierdie selfde huiwer vir die oordeel van God wat kom, vind ons ook by die groot heidenapostel Paulus in 2 Kor. 5:11. Op ’n indrukwekkende wyse predik Paulus telkens dat Christus sal weerkom om te oordeel die lewende en die dode. Wanneer hy as ’n gesant in boeie voor Felix staan dan vat hy sy onderwys saam in die volgende drie punte: geregtigheid, selfbeheersing en die toekomstige oordeel (Hand. 24:25).
In elke prediking sowel op die sendingveld as in die gemeente moet daar iets deurklink van die laaste oordeel. Die Evangelie van Jesus Christus is ’n blye boodskap, maar dan tog ook ’n boodskap waarin die oordeel wat kom, moet weerklink. Met name op die sendingveld en in die jong kerke ondervind die prediking van die oordeel nogal probleme.
God is Ver←⤒🔗
Ons vind egter uit dat die godsbegrip van die Bantoe wat tot die kerk gekom het dikwels nog deïsties gekleur is. God is vir die besef van die Bantoe onkenbaar en onbereikbaar ver. Hy is wel die Skepper-god maar eintlik bemoei Hy Hom nie met die mense nie. Selfs vir die Christenbantoe is God onbereikbaar ver en hoog bo ons verhewe, so hoog en so ver dat Hy in die daaglikse lewe geen faktor is nie. Hy mag wel die Handhawer van die kosmiese orde wees, maar daar is eintlik geen kontak met Hom, geen persoonlike verbond, geen gemeenskap, geen gebed en ook geen antwoord van Gods kant nie. Dikwels sien ons dat in die daaglikse lewe van die Bantoe God ‘dood’ is. Dr. J.A. van Rooy het in sy proefskrif daarop gewys dat die gedagte dat God ’n mens kan oordeel by die Bantoe eenvoudig ondenkbaar is. Hoe kan God mense wat Hy geskape het, verwerp?
John S. Mbiti vertel in een van sy boeke van die Akamba in Kenya wat Mulungo as die skeppergod vereer. In die lewe van elke dag neem hy egter nie 'n groot plek in nie. Ook is die mens geen verantwoordelikheid aan hom verskuldig nie.
Die god van die Bantoe, ook van die Christenbantoe is dikwels nie meer as ’n goedige, welwillende kosmiese oupa nie. Dat hy ’n mens kan oordeel, is eenvoudig onvoorstelbaar. Daar is dan ook volgens die oortuiging van die Bantoe geen skeiding by die dood en geen aparte bestemming vir gelowiges en ongelowiges nie.
Hierdie valse vertroue wat rus op ’n onbybelse godsvoorstelling is een van die eerste dinge wat die sendeling op die sendingveld en die predikant in die jong kerke waar hierdie selfde godsvoorstelling maar te dikwels ook nog gevind word, deur middel van die prediking van die suiwere Evangelie moet uitdruk en afbreek. “Ons moet” so skrywe J.A. van Rooy, “nie daarvoor huiwer om op die voetspore van die apostels die onbekeerde heiden die ewige dood en godsverlatenheid en toorn onomwonde aan te sê nie.” (Die kommunikasie van die Evangelie aan die Bantoe in Suidelike Afrika gesien teen sy geestelik-kulturele agtergrond, 1972, p. 13).
Die Tradisionele Tydsbegrip van die Bantoe←⤒🔗
Wanneer die N.T. spreek oor die oordeel van God dan word die oordeel verkondig as ’n eindoordeel, ’n oordeel wat kom aan die einde van die tyd. Die oorsaak dat die Bantoe die gedagte van ’n oordeel wat sal kom maar so moeilik kan aanvaar lê o.a. in die feit dat hy ’n ander tydsbegrip hanteer as die Bybel. Die Bybel opereer soos John Mbiti dit stel met ’n drie-dimensionale tydsbegrip nl. die hede wat geleidelik oorgaan tot die verlede. Die dimensie van die toekoms ontbreek in sy denke. Mbiti sê byvoorbeeld dat vir die Akamba tyd gesien word as iets wat agterwaarts beweeg.
Aangesien die Bantoesamelewing op die verlede gerig is, is hierdie samelewing ook so baie staties in die sin dat daar sterk weerstande is teen verandering, omdat die bestaande toestand as die hede wat voortvloei na die verlede normatief is. A.A. van Ruler het in een van sy werke daarop gewys dat die heiden en die natuurlike mens in wese baie konserwatief is en dat die God van die Bybel in die goeie sin van die woord werklik progressief is, alles beweeg na die ewige toekoms.
Wel sien ons by die Bantoe wat stellig onder invloed van die aanraking met die Westerse beskawing met sy op die toekoms gerigte maatskappy dat daar vir hom ook meer en meer ’n perspektief na die toekomsdimensie oopgaan. Dit is nie onmoontlik nie dat dit hierdeur vir die Bantoe in sekere opsigte iets makliker word om die Evangelieboodskap te verstaan, sodat die prediker by hierdie nuwe perspektief kan aansluit om die oog te rig op die toekoms van Christus.
Dit bly natuurlik altyd waar dat dit ten diepste die Heilige Gees is wat ons die Evangelieboodskap laat verstaan, maar elke prediker het tog die roeping om waar dit maar moontlik is aan te sluit by gedagte-inhoude van sy hoorders. Die Bybelse drie-dimensionale siening op die tyd bring die element van doelgerigtheid in die lewe van die mens en in sy siening op die wêreld en die geskiedenis. Daar kom ’n tyd van rekenskap, vergelding en vernuwing. Die Koninkryk van God het gekom as saaityd toe Christus as die Wêreldregter gekom het, maar die Koninkryk van God sal nog kom as oestyd wanneer Christus as die Wêreldregter sal weerkom om te oordeel. Daar is dus ’n toekoms wat vir ons óf die ewige oordeel óf die ewige lewe sal bring.
Die prediker saai sy boodskap miskien uit op die golflengte van die Bybelse drie-dimensionale tydsbegrip, maar nou is daar altyd die moontlikheid dat die hoorder dit opvang op die verkeerde golflengte van die twee-dimensionale tydsbegrip. Daarom is dit vir elke prediker so uiters belangrik dat hy probeer agterkom in watter tydskategorie sy hoorder dink. Hy moet hom inleef in die wêreld- en lewensbeskouing van sy hoorders.
Oordeelsprediking ook Christusprediking←⤒🔗
Uit die gerigsprediking wat ons vind in die N.T. kan ons aflei dat ons oordeelsprediking nooit ’n bangmaak-prediking mag wees nie. Ons moet daarom die gerigsprediking nooit en te nimmer losmaak van Christus nie. Ook oordeelsprediking moet Christusprediking wees.
Ons lees dit baie duidelik in die verkondiging van Johannes die Doper. Hy predik Jesus as die Regter, die Gerigsvoltrekker. Dit blyk treffend uit die instrumente waarmee Johannes Jesus sien kom. Hy kom met die byle en die skop en die byl lê al aan die wortel van die bome (Luk. 3:9, 17). Maar tegelyk verkondig Johannes die Doper Jesus as die Gerigsdraer. Volgens die prediking van Johannes is dit Jesus Self wat die oordeel wat Hy bring gaan opvang. Jesus word deur Johannes aangewys as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29). Jesus is Regter, maar ook Redder. Hy kom met die vuur, maar Hy kom ook met die kruis waar Hy die vuur van die oordeel wat mense moet tref opvang in Sy eie liggaam en siel en waar Hy die skuld dra en die sonde versoen.
Gerigsprediking op die sendingveld wil die mense dan ook nie tot wanhoop bring nie, maar dit wil hulle juis lei tot Christus. Alleen deur geloof in Jesus Christus kan ons en sal ons die oordeel van God vryspring. Daarom moet soos in die prediking van Johannes die Doper ook ons verkondiging van die gerig uitloop op ’n oproep tot bekering. Nie die Kerk, die geboorte uit gelowige ouers, nie godsdienstigheid nie, maar alleen bekering tot Jesus Christus en ’n ware geloof in Hom, red van die oordeel.
Gerigsprediking is deur God bedoel om te red.