Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Onthoubare Ontwikkeling

vergadering

Vanaf 26 Augustus tot 4 September vergader ‘n verwagte 60 000 verteenwoordigers vanuit alle uithoeke van die wêreld in Johannesburg. Daar gaan besin word oor volhoubare ontwikkeling. Regeringsorganisasies en nie-regeringsorganisasies van meer as 170 lande is betrokke. Die Johannesburg-beraad vloei voort uit ‘n konferensie tien jaar gelede in Rio de Janeiro, toe ‘n balans opgemaak is oor die voortgang van volhoubare ontwikkeling in die wêreld. Tydens die Rio-konferensie is meer as 2 500 aanbevelings gemaak oor aksies wat ontwikkeling volhoubaar kan maak. Nou – ‘n dekade later – moet vasgestel word of daar iets van die aanbevelings tereg gekom het.

Saak op Tafel🔗

Gedurende Junie 2002 is ‘n vooraf vergadering op die Indonesiese eiland Bali gehou om ‘n noukeurig omskrewe agenda vir die Johannesburg-beraad voor te berei. Dit het duidelik geword dat daar alles behalwe eenstemmigheid oor die saak ter tafel is. Ontwikkelde lande wil praat oor die bevordering van toerisme, wêreldwye vestiging van die vryemarkstelsel, privatisering van die ekonomie en finansieel haalbare ontginning van hulpbronne. Die bestryding van lug- en waterbesoedeling dien eweneens op die sakelys van die sogenaamde eerste wêreld lande. Ontwikkelende lande daarenteen wil praat oor die stryd teen armoede, hongersnood, VIGS. Oorlewing is die enigste saak op die agenda van die sogenaamde derde wêreld lande.

Die botsing van belange is ooglopend. Almal stem saam dat daar oor ontwikkeling gepraat moet word, en dat ontwikkeling volhoubaar moet wees. Nie-volhoubare ontwikkeling sou immers geen sin hê nie. Die vraag is egter: van watter ontwikkeling gaan daar sprake wees? Die 2 500 voorstelle wat tien jaar gelede in Rio gemaak is, gaan bes moontlik nie weer die agenda op die Johannesburg-beraad haal nie.

Noord en Suid🔗

In dit alles word ‘n al dieper gapende kloof tussen lande in die noordelike halfrond en lande in die suidelike halfrond sigbaar. Die oorsaak van die breuk lê ongetwyfeld in egoïsme en selfsug, beskerming en bevordering van eiebelang. Die ontwikkelde noorde wil sy skatte verder ontwikkel. Die sukkelende suide wil net kop bo water hou. Noord staan teen suid, suid teen noord. Dit skep nie bepaaldelik ‘n gesonde atmosfeer waarbinne sinvol na oplossings gesoek kan word nie.

Wat meer bedroewend is, is die humanistiese grondtoon wat hierdie en soortgelyke berade kenmerk. Die mens staan in die sentrum. Alles draai om die bestaan en die voortbestaan van die eie-ek. Ontwikkeling word gemeet in terme van ‘wat put ons daaruit’, ‘watter belang het ek daarby’? Uiteraard gaan daar ‘n stille vrees mee gepaard: sê nou die aarde vergaan, wat dan? Planne moet gemaak word om ‘ons aarde’ te red.

hande met grond

Tuin na Stad🔗

Hoe staan die gelowige kind van God ten opsigte van al hierdie dinge? Menige gelowige trek die skouers oor die Wêreldberaad vir Volhoubare Ontwikkeling op. Daar word geen goed van verwag nie. Te meer omdat reëlings wat rondom die beraad getref is, op sigself reeds ‘n deel van die probleem vergestalt. Die sukkelende suide – waarvan Suid-Afrika onmiskenbaar deel is – worstel om ‘n beraad vir 60 000 wêreldleiers te reël.

Om skouers op te trek en die gesig weg te draai, is egter nie die gelowige se roeping nie. Die Johannesburg-beraad oor Volhoubare Ontwikkeling moet ten minste vir elke roepingsbewuste Christen ‘n onthoubare verwikkeling wees. Ongelowiges en nie-gelowiges beplan aan ontwikkeling – sonder om die Here in die saak te ken en eerbiedig. Wat van gelowiges, wat deur God geroep en bekwaam gemaak word om van die paradystuin ‘n stad te maak? Die hand moet aan die ploeg geslaan word. Elke Christen moet in die beroep wat hy en sy beoefen bedink dat jou dagtaak deel vorm van die aarde se ontwikkeling tot eer van God. Gelowige deskundiges in alle vakgebiede sal toenemend koppe by mekaar moet sit om Godgerigte wetenskap te beoefen en so diensbaar te wees aan die voortgang van God se Raad en die koms van sy koninkryk. Dan sal daar geen toutrekkery oor die ‘wat’ van volhoubare ontwikkeling wees nie. Bestryding van armoede en siekte, sowel as bevordering van nuwe ontwikkelinge sal op die agenda van die gelowige dien.