Ons toekoms - ons roeping
Ons toekoms - ons roeping
Twee gevoelens tipeer die modern mens, wêreldwyd en in Suid-Afrika: onsekerheid en onveiligheid. Dit is waar dat sommige lande relatief meer veiligheid bied as ander, dat iemand in Nieu-Seeland byvoorbeeld meer veilig voel as in Suid-Afrika. Maar sekerheid en veiligheid is relatiewe begrippe. Die wêreldwye klimaatsverandering en die omvattende omgewingsbesoedeling kan niemand meer ontsnap nie. Uiteindelik bedreig dit alle mense op aarde op alle plekke.
Ook ons lewe in Suid-Afrika word gekenmerk deur gevoelens van onsekerheid en onveiligheid. Na die verkiesing van die Uitvoerende Komitee van ANC aan die einde van verlede jaar, weet ons nie presies wat om vorentoe te verwag nie. Die weghol-misdaad, wat hoe langer hoe meer die karakter van ’n burgeroorlog aanneem, skep ’n gevoel van groot onveiligheid wat onkeerbaar voortstu.
By al hierdie gevoelens van onbehae staan vir die Christelike geloof egter twee dinge vas: ons bely dat die toekoms in God se hande is, én dat ons in hierdie onseker tye ’n groot roeping het.
Die toekoms is in God se hande⤒🔗
Dit is ’n ontsaglike troos en gerusstelling om te weet dat, by alle onsekerheid, die toekoms in die hande van God is. Voorspoed of teenspoed, goed gaan of sleg gaan, lig of donker, of ons lewe en of ons sterwe, ons is altyd in die hande van God. Niemand, geen politieke party, geen ekonomiese sisteem, geen tiran, geen tsoenami, geen aardbewing, geen ekologiese ramp kan ons ooit uit sy hande ruk nie.
Dis ’n gerusstelling waaraan ’n mens jouself elke dag opnuut moet herinner en wat ’n vrede in jou hart bring wat alle verstand te bowe gaan.
Hierdie gerusstelling strek nog verder. Dit sluit in dat God die kwaad wat onvermydelik deel van ons lewe is, kan ombuig sodat iets goeds daaruit gebore kan word. In die Ou Testament is daar die groot voorbeeld van Josef, wie se broers omtrent alles wat sleg is aan hom gedoen het: mishandel, belieg, bedrieg, verkoop. Maar die Here God het hierdie wandaad omgebuig tot ’n daad van hoop en redding van sy volk (Gen 50:20). God is in beheer van die geskiedenis van sy volk en Hy gebruik die wêreldgeskiedenis vir die koms van sy koninkryk.
In die Nuwe Testament is daar die voorbeeld van Jesus. Petrus beskryf die kruisiging van Jesus as ’n saak van moord deur die Jode (en Romeine) (Hand 2:23), maar God het hierdie wandaad omgebuig tot redding van sy volk en koms van sy koninkryk.
Christene weet en bely dat, al is die toekoms hoe onbekend en onseker, dit vir altyd in die hande van God is, daardie God wat op weg is na die voltooiing van sy ryk, na ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.
Ons roeping is in “ons” hande←⤒🔗
Daar is egter ’n tweede aspek wat onlosmaaklik met die eerste saamhang, en dit is ons persoonlike verantwoordelikheid: ons roeping is in “ons” hande. Hierdie uitspraak klink oormoedig, maar dit is nie so bedoel nie. Dit is as geloofsuitspraak bedoel, in diep afhanklikheid van God. Maar dit is bedoel as ’n uitdaging, as ’n wekroep tot gelowiges, veral hulle wat besluit het om – kom wat wil – in Suid-Afrika aan te bly en hulle roeping hier uit te leef.
Al is die toekoms onseker en onbekend, en in die laaste instansie in God se hande, wat duidelik en helder is, is dat ons as Christene ’n onoorsienbare taak in diens van die koninkryk van God in hierdie land het. God maak ook op sy eie wyse van ons woorde en dade gebruik vir die koms van sy koninkryk op aarde. Ons menslike aktiwiteite kan klein tekens wees van die komende Godsryk.
- Ons roeping is om die evangelie van God se genade en die boodskap van hoop en bevryding aan alle mense deur te gee.
- Ons roeping is om die gemeente waar ons lidmate is, of wat ons as predikante bedien, op te bou en toe te rus tot waardige vertoonvenster van Jesus Christus.
- Ons roeping is om in die staatkunde ’n bydrae te maak sodat ons brose demokrasie sterk en lewenskragtig kan wees, vry van alle vorme van tirannie, intimidasie, korrupsie en swak dienslewering.
- Ons roeping is om ons regstelsel teen verval te beskerm en skoon te hou van elke vorm van politieke misbruik, manipulasie en korrupsie.
- Ons roeping is om ’n ekonomiese sisteem te vestig wat na alle kante billik is, wat sowel privaat inisiatief bevorder, maar tegelykertyd sensitief is vir die nood van armes, werkloses en hulpeloses.
- Ons roeping is om ’n onderwyssisteem te vestig wat sowel gehalte-onderwys verseker as voorheen benadeelde kinders ten goede kom en om belangrike lewenswaardes by kinders in te prent. Sommige ouers mag selfs die roeping voel om private Christelike skole op te rig of bestaandes uit te bou.
- Ons roeping is om ’n samelewing te vestig wat gebou is op morele waardes en norme waarin die groot beginsels van die koninkryk neerslag vind, soos vryheid, regverdigheid, gelykwaardigheid en naasteliefde.
- Ons roeping is om ekologies sensitief te leef, om rommelstrooiery te vermy, besoedeling van water, lug en omgewing te beperk en om soveel moontlik gebruikte goedere te herwin.
Ons roeping is…onoorsienbaar! Juis in Afrika. Juis in Suid-Afrika.
Elkeen wat sy hand aan die ploeg slaan en bly agtertoe kyk, het Jesus by geleentheid opgemerk, is ongeskik vir die koninkryk van God. Christene moet opstaan, nie maar net vir hulle sogenaamde regte nie, maar ook vir hulle verantwoordelikhede, om hierdie verantwoordelikhede op te neem en uit te leef.
Juis omdat ons Christene is, mag ons ons nie in isolasie terugtrek nie, maar moet ons uitgaan, in alle fasette van die samelewing ingaan en daar ons lig laat skyn.
Eintlik is dit nie “ons lig” nie, maar die lig van die evangelie, die lig van die koninkryk, die enigste lig wat hoop bring aan ’n dikwels uitsiglose wêreld.