Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Ons Sabbatsrus Vind Ons in God se Genade

Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

Hebreërs 4:9-10

Shalom

Die woord shalom beteken in Hebreeus ‘vrede’. Dit dui nie ’n tipe vrede aan wat bloot na ’n skietstilstand verwys nie. Inteendeel, die woord shalom verwys na die hoogste vorm van vrede met God: ’n vrede wat deur versoening met God gekenmerk is. Jesus het aan sy dissipels gesê:

Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Johannes 14:27

So ’n vrede bring rus – rus om te weet dat die God van genade, te midde van enige woelings, altyd in beheer van ons lewe bly. Rus om met die sekerheid en geloof te kan lewe dat God ons vergewe het.

Dit is presies waar die betekenis van die Sabbat ook inkom. Die Sabbat is bowenal die uitdrukking van die rus wat ons in God se genade vind. So ’n rus word nie outomaties aan ons geskenk nie, maar is die vrug van ’n groot, alomvattende verlossing.

In die Ou Testament word die Sabbat aan ’n groot verlossingsdaad verbind: die verlossing van Israel uit ’n situasie van slawerny in Egipte. Kyk maar na die vierde gebod:

En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ’n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die Sabbatdag te hou.Deuteronomium 5:15

Die outeur van die Hebreërbrief verwys in ons teksgedeelte na hierdie bevryding uit Egipte (Hebreërs 3:16). Hy wys ook dat sonder geloof in God en sy verlossingsdade vir ons alles tevergeefs is. Vir die Christen vind die finale verlossing in Christus op die eerste dag van die week plaas. Jesus verskyn op die eerste dag van sy opstanding aan sy dissipels en sê: ‘Vrede vir julle!’ Shalom, Goddelike vrede vir julle!

Die Sabbat is dus die oorwinning van die verlossingsrus. Daarom moet ons nie ’n fout maak wat baie mense (bewus of onbewus) maak nie. Die Sabbat en alles wat daarmee gepaardgaan – soos ons eredienste – is nie ’n bepaling wat uit die kerk voortvloei asof die kerk vir ons voorskryf om elke eerste dag van die week bymekaar te kom en die Here se Naam te aanbid nie. Die teenoorgestelde is eintlik waar: die kerk is die vrug van die Sabbat. Die kerk is die gemeenskap van God se verloste volk wat bymekaarkom om sy Naam te verheerlik, omdat daar ’n Sabbat is – ’n rus wat God deur ’n magtige verlossingsdaad vir ons bewerk het. Ons Sabbatsrus is uitsluitlik in God se genade te vinde. As hierdie Bybelse begrip ernstig opgeneem word, sal baie kerke miskien minder aan allerhande vorme van ekklesio-sentrisme ly – ’n vorm van afgodery van die kerk wat so min rus aan ons gee: die kerk as ’n organisasie, ’n administrasie en soms ’n burokrasie.

Die Opdrag van Rus🔗

Die teken van God se verlossingsdaad beteken nie dat daar vir ons geen opdrag in die Sabbat is nie. God beveel dat ons moet rus. Kom ons kyk na dié soort rus.

Calvyn skryf in die Geneefse Kategismus dat die Sabbat aan ons gegee word om geestelike rus aan te dui. Hy voeg by dat God kom om sy werk in ons te verrig wanneer ons van ons eie werke rus. Ons word ontvanklik vir so ’n werk deur ons eie vlees te kruisig, dit wil sê deur ons eie self te verloën, sodat ons deur God se Gees gelei kan word. Een dag per week is nie genoeg om hierdie verloëning te bewerk nie.

tuingereedskap

Dit moet ’n permanente gesindheid wees wat jou hele lewe lank duur. God het die sewende dag gekies – in die Skrif is dié syfer ’n simbool van perfeksie. Ons geestelike rus, wat ons in hierdie lewe begin, sal sy perfeksie bereik op die dag wanneer ons hierdie wêreld sal verlaat. In die Heidelbergse Kategismus vind ons ’n gelyke invalshoek:

Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige Sabbat reeds in hierdie lewe.Sondag 38

Daar moet hard gewerk word om te rus. Dit is nie ’n teenstrydigheid nie, maar wys dat die betrokke rus niks in gemeen het met vakansies soos die samelewing en ons huidige kultuur dit aan ons voorstel nie. Die ware Sabbatsrus is nie ’n tyd waarin jy van jou werk en ander probleme probeer vergeet of selfs ontsnap nie. Dit is nie ’n tyd van ledigheid nie. Dit is ook nie in die eerste plek ’n tyd vir alternatiewe of rekreatiewe aktiwiteite nie. ’n Mens neem nooit vakansie van God nie! Die opdrag is dus: laat God sy werk deur sy Heilige Gees in jou verrig. Hy kan en sal dit doen omdat hy die groot verlossingsdaad alreeds gedoen het!

Die beste manier om die rus van die Sabbat in die Ou Testament te verstaan, is om te gaan kyk na die bepalings rondom die Sabbatsjaar en die hersteljaar in Levitikus 25: slawe is bevry, die land word nie geploeg nie; dit rus en herstel van die vloek wat God tydens die sondeval op hom uitgespreek het; daar is rus en verlossing nie net vir mense nie, maar ook vir die diere en die aarde.

Die Ewige Sabbat🔗

Die gedeelte uit Hebreërs 4 handel oor die ewige Sabbat, ’n rus wat bedoel is om vir ewig te duur. Kan ’n mens ’n beter vooruitsig uit God se mond ontvang? Ons wat so dikwels fisies, geestelik en emosioneel uitgeput is, word verseker dat God ’n heerlike rus vir ons het. Wie anders as God kan dit belowe en implementeer?

As ’n mens na die verlossingsdade kyk wat van die wêreld kom, is dit slegs fiksie, blote verbeelding. Die groot skerm, met goeie akteurs en net soveel spesiale effekte, laat miljoene mense regoor die wêreld droom van ’n verlossing wat rus bring. Dink maar aan Superman: ’n buitengewone man, wat soos enigiemand anders lyk, maar die mag het om bonatuurlike dinge te doen. Hy vlieg in die lug met ’n buitengewone spoed en verrig allerhande dade om arme en onderdrukte mense te bevry van ander bose mense. Hy bring verlossing – daar op die groot skerm, terwyl ons sit en springmielies eet om van ons probleme te vergeet.

In werklikheid was die akteur wat Superman gespeel het, iemand wat as gevolg van ’n perd-ongeluk vir die res van sy dae in ’n rolstoel moes sit. Daar lê die kontras tussen valse verlossingsrus en God se ewige Sabbatsrus. Onthou Jesus se woorde: Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Ons kan berus in die beloofde Sabbatsrus, omdat ons weet dat so ’n rus nie korrup en verganklik is soos wat die wêreld aan ons voorstel nie, maar die rus is van ’n ewige Sabbat.

God se Rus en Ons Rus🔗

Ons ewige Sabbatsrus bind ons op ’n besondere manier aan God – hoofsaaklik omdat ons na sy beeld geskape is. God het die wêreld in ses dae geskape, en op die sewende dag het Hy gerus. Ons word ook beveel om op die sewende dag te rus. Daar is ’n ooreenkoms tussen God se rus en ons rus. Terwyl die vierde gebod in die boek Deuteronomium die aksent op die verlossingsdaad van God plaas, stel die parallelle gedeelte in Eksodus 20 die aksent op God se werk in die skepping:

Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

kerkgebou

Hierdie woorde vind ons alreeds aan die einde van die skeppingsverhaal (Genesis 2:1-3).

Hieroor vra die Geneefse Kategismus wat bedoel word wanneer die Here ons aanspoor om sy voorbeeld te volg en ons uitnooi om te rus. Nadat God die skepping van die wêreld in ses dae voltooi het, het Hy die sewende dag gewy om sy werk te aanskou. Om ons aan te spoor om dieselfde te doen, stel Hy aan ons sy voorbeeld. Is dit nie ons diepste begeerte om soos Hy te lyk nie?

By God volg rus die voltooiing van sy werk. Op die aand van die sesde dag, toe alles voltooi is, het God die perfeksie van sy skepping geniet: ‘Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed’. Ons aanskou ook sy werke; nie net sy werke in die skepping nie, maar ook sy werke van verlossing, wat hy in Christus voltooi het om ’n nuwe skepping tot stand te bring.

Christus se Sentrale Plek in die Sabbat🔗

In die Ou Testament kon die Sabbat nooit van offers geskei word nie. Die offers was tekens van versoening met God. Die brief aan die Hebreërs lê klem op die finale soendood van die finale priester, Jesus Christus, wat alles perfek voltooi het. Jesus se laaste woorde aan die kruis was: ‘Dit is volbring!’ Die werk waarvoor sy Vader Hom gestuur het, is heeltemal voltooi. Met Christus se voltooiing van God se werk is ’n heel nuwe dimensie aan die Sabbat gegee. Ons aanskou God se werk nou nie net in sy skepping nie, maar ook in sy herskepping deur Christus. Christus het die sentrale plek in die Sabbat ingeneem. Hy het die groot verlossingsdaad verrig wat aan ons shalom, vrede en rus, gee. Hy alleen mag sê:

Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat.Markus 2:27, 28

Jesus gee inderdaad ’n nuwe dimensie aan ons belewenis en viering van die Sabbat, want Hy bring ’n element van voltooiing wat in die Ou Testament nog nie teenwoordig was nie. Daarom sê die outeur van die Hebreërbrief duidelik dat Josua, wat die volk in die beloofde land ingebring het, nie die finale rus vir hulle gegee het nie, sonder om te praat van al die Israeliete wat in die woestyn gesterf het as gevolg van hulle gebrek aan geloof. Christus, Hy alleen, voltooi die werk. Alleen dié wat in Hom ingeënt is, kan in die ewige Sabbatsrus ingaan.

Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou.Hebreërs 3:14

Volhard in God se Rus🔗

Rus in God se genade verg wel inspanning: dit is ’n opdrag wat aan ons gegee is. Dit is die hoofboodskap van ons teksgedeelte: ons moet nie afvallig word nie, sodat ons in God se rus kan ingaan. Die behoud van die Sabbat is egter nie ’n goeie werk, soos die Jode daarvan gemaak het nie. As ons inspanning ’n goeie werk sou wees, sou ons die verlossingsdaad ontken wat deur Christus voltooi is. Dan sou ons ons rus nie meer uitsluitlik in God se genade vind nie. So ’n goeie werk het niks in gemeen met die Sabbatsrus van God nie. Ons sou onsself aan ’n wêreldse vorm van rus en vrede oorgee wat ons heeltemal sou onderdruk; hetsy ’n Fariseïstiese vorm van wettisisme oor die Sabbat, of ’n wêreldse vorm van ontspanning wat hoegenaamd nie die volharding in die geloof handhaaf nie. Nie een van die twee is die inspanning waaroor ons teks handel nie.

Deur na die hemel

Dit gaan hier oor inspanning in die volharding.

Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie.

Die doel van die skrywer is om sy lesers aan te spoor om die ware betekenis van die Sabbat van God in Christus te verstaan. In Christus is daar ’n ewige Sabbatsrus wat aan ons belowe is:

Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.

As jy nie volhard om in daardie rus, soos wat dit aan jou belowe is, in te gaan nie, sal jy nie daaraan deel hê nie. Dit is ’n aansporing, maar ook ’n vermaning.

Ten Slotte🔗

Die Sabbat is die deur na en beeld van ons ewige woning, wat gemaak is uit rus en vrede. Daarom moet ons vaskleef aan die opdrag wat daarmee gepaardgaan: om te volhard in die geloof in God se beloftes, om nie afvallig te word nie, om berou te hê oor ons bose werke en daarvan afstand te doen. Te midde van al die onrus rondom ons, en soms ook in ons, kan ons die betekenis van die Sabbatsrus nog dieper peil met die woorde van Romeine 8:

 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.