Onheilige Egtheid en Onegte Heiligheid
Onheilige Egtheid en Onegte Heiligheid
Outentiek wees. Eg wees. Hoe ʼn mens iets ervaar en beleef is die hoogste norm. Laat ons tog nie meer vra hoe dinge behoort te wees nie, maar eerder hoe dit deur iemand ervaar word.
Sien ons dié tendens ook in die kerk?
Ek sou amper wou sê: natuurlik. Ons staan in die samelewing en dus hoef ons nie te dink dat dit wat om ons heen gebeur, aan ons verbygaan nie.
ʼn Simptoom van die tendens in die kerk kan wees dat daar gesê word: "Ek voel nie aangesproke in die kerk nie, dit gaan nie oor my nie, die preke is te hoog vir my." Natuurlik kan die probleem ook werklik by die preke lê. Maar dis ook moontlik dat die vraag na wat die Here se wil is, nie meer by die luisteraar sentraal staan nie. Die enigste belangrike ding is dat die preek moet aansluit by die ervaring. Of die preek aansluit by God se Woord, kom dan in die tweede plek. Hoe ervaar ek dit, is belangriker as: hoe wil die Here dit.
En as mense al hoe minder aandag gee aan hoe hulle lewe lyk in die lig van God se Woord, is dit ook nie onverwags as hulle op ʼn dag sal sê dat God se Woord glad nie meer iets vir hulle beteken nie. Dit maak sin. Want as die praktyk van jou lewe, hoe jy daaraan gestalte gee en hoe jy dinge ervaar en beleef, al vir ʼn lang tyd die hoogste maatstaf is, dan word God se Woord ook al hoe 'vreemder' vir jou.
Maar daar is nog baie duideliker simptome. Ampsdraers sien in die kerk onheilige praktyke wat verdedig word met ʼn beroep op: so ervaar ons dit nou eenmaal. Byvoorbeeld ʼn paartjie wat saamwoon: "Ons verhouding is so mooi (ons ervaar dit as so mooi), dit kan tog nie verkeerd wees nie?".
En ons hoef nie te probeer om iemand wat so iets sê, tot ʼn ander gedagte te bring nie. Niemand mag iets daaroor sê nie. En wanneer jy dit wel doen, begaan jy ʼn groot sonde. Jy betree heilige terrein, naamlik die terrein van hoe die spesifieke persoon op daardie moment die dinge beleef.
Ek stel dit oordrewe, maar dit is soms nie ver van skaamtelose onheilige egtheid af nie. "Egte ervaring" het dan ʼn afgod geword, omdat mense nie oopstaan vir korreksie deur die Woord van God nie.
Ek is seker dat baie mense die onheilige ervaring, die onheilige egtheid, saam met my afwys. Miskien is u vas oortuig dat ons sterk hierteen moet optree.
Tog kan ʼn mens in jou bestryding daarvan, groot foute maak. En ek dink ons moet, in die bestryding van die onheilige egtheid, oppas daarvoor om in ʼn ander uiterste te verval, naamlik dat ons alle egtheid oorboord gooi.
Onheilige Egtheid⤒🔗
Ek wil probeer duidelik maak wat ek met daardie ander uiterste bedoel. Daar word, uit afkeer van die onheilige egtheid, net al hoe meer gepraat oor hoe alles behoort te wees. Of ʼn mens stel God se gebooie sodanig sentraal, dat dit die enigste werklikheid word. En dit beteken dikwels dat eerlike vrae in die kiem gesmoor word. Twyfels oor sekere dinge mag byna, maar eintlik glad nie ter sprake kom nie. Moeites waarmee mense werklik worstel, word nie ernstig opgeneem nie. Vir vrae, twyfel en moeites is daar eintlik nie plek nie. Dit mag slegs gaan oor hoe dit alles behoort te wees.
En ek moet eerlik erken: ek kom nogal heelwat jong mense teë wat die gevolge van so ʼn opstelling dra. Hulle het opgegroei met die idee dat vrae oor Skrif en Belydenis nie eers gestel mag word nie. Asof die stel van vrae al ʼn doodsonde is. Selfs vrae oor sake wat maar net te make het met ʼn bepaalde kerklike gedragskode, is op so ʼn manier afgewys dat die jeugdige vraagsteller totaal ontnugter is. Asof hyself verwerplik geword het. Dit is die indruk wat hulle kry deur die verskriklike fel reaksie op hul vrae en twyfel.
Ek het dit self ondervind. Op bepaalde vrae het ek vreeslik geïrriteerd en soms selfs ronduit kwaad gereageer. Agteraf moes ek erken dat die fel reaksie nie voortgekom het uit liefde vir die Here nie, ook nie uit opregte betrokkenheid by die vraagsteller nie, maar uit angs dat my eie sekerheid oopgestel sou word. Ek was, deur so oordrewe te reageer, feitlik besig om die vrae by myself weg te skuif, en eintlik te ontken. Uit angs. Ek wou dit nie eerlik onder oë neem nie. Vandaar die vreeslike krampagtige reaksie.
Dit is tog iets waarop ons bedag moet wees. Vanweë die slegte gevolge daarvan. Wanneer ons praat oor hoe dit behoort te wees, wanneer ons maak asof God se gebooie die enigste werklikheid is, en eerlike vrae vermy word, dan het ons groot kans om in ʼn klimaat van skynheiligheid te beland. Onegte heiligheid. Dan bevorder ons met en teenoor mekaar ʼn bepaalde leefpatroon, terwyl binne die hart onheil broei. Laasgenoemde versteek ons sorgvuldig agter ʼn muur wat deur kunsmatige vorme regop gehou word. Ons steek dit weg vir mekaar. Dan kry jy bv. huisbesoeke waartydens baie gepraat is oor hoe die norm lyk, terwyl jy met ʼn onbevredigende gevoel van mekaar afskeid neem. Want jy voel dit aan: hier speel baie meer. Hier leef baie meer. Dit was nie eg nie. Nie eerlik nie. Die mense het nie met hul werklike moeites gekom nie. Dit wat hulle werklik besighou het nie ter sprake gekom nie. ʼn Mens kan dit skynheiligheid noem.
So iets word nie slegs streng deur die Here verbied nie, maar is in feite ook die doodsteek vir ʼn opregte omgang met mekaar.
Heilige Egtheid←⤒🔗
Ek pleit vir wat ek 'heilige egtheid' noem. ʼn Egtheid wat binne ʼn Bybelse raamwerk funksioneer. ʼn Kenmerk van hierdie egtheid is dat jy nie vrae verdring nie. Nie by jouself nie. Nie by ander nie. Maar juis die vrae by jouself eerlik onder oë neem en ʼn ander ʼn kans bied om daarmee vorendag te kom, sonder dat die persoon die gevoel kry dat hy/sy volstrek afgewys word.
Iemand wat uiting gee aan twyfel oor daardie dinge wat algemeen aanvaar word, maak homself baie kwesbaar. Hy lê sy eie onsekerheid voor die ander neer. Doen dit maar ʼn slag. Dit vereis baie van ʼn mens!
Tegelykertyd mag van diegene wat dit doen, gevra word dat hy dit inderdaad op só ʼn manier doen dat dit blyk dat hy deur die Here gekorrigeer wil word. Soms bring mense hierdie vrae en twyfels wat met die Bybel en die gereformeerde leer te make het, nie as vrae nie, maar as standpunte wat nie verder bespreek mag word nie. So ʼn arrogante opstelling is nie bevorderlik in ʼn klimaat waarin ons, as beperkte en in onsself onbetroubare mense, ons houvas soek by ons betroubare God nie.
Terwyl ons in daardie klimaat van die heilige egtheid, altyd groei kan verwag. Want die volle doel bereik ons in die lewe hierna: die volmaakte heiligheid.