Onderlinge Pastoraat in die Gemeente
Onderlinge Pastoraat in die Gemeente
Sy vertel vol vertroue en eintlik baie rustig dat sy komende week vir ʼn oogoperasie in die hospitaal opgeneem word. Almal luister geïnteresseerd na haar verhaal. Sy vertel ook hoe bly sy is dat hulle juis op hierdie Sondagaand as Bybelstudiegroep bymekaar is. Voorheen het sy dit as bemoedigend ervaar as daar vir iemand in die groep gebid is. “Wil julle vanaand vir my bid?” Ook ander in die groep het moeites waarvoor daar saam gebid word. Ons voel ons gebonde aan mekaar deur saam te bid – ook vir hierdie hospitaalopname.
Oor onderlinge pastoraat in die gemeente word vandag steeds meer gereeld gepraat en geskryf. Dit is egter nie altyd duidelik hoe mense dit verstaan nie. Meestal word daarmee bedoel (kortliks gesê) dat gemeentelede na mekaar omsien en mekaar bemoedig in die geloof. Dit beteken dat pastoraat, as kernaktiwiteit van die kerk, nie alleen gesien word as die werk van ouderlinge en predikante nie, maar ook as ʼn taak van die gemeentelede self.
Twee voorbeelde word hier genoem:
-
In ʼn inligtingsboek oor die sogenaamde “miniwyk” staan dat ʼn miniwyk of kleingroep ʼn belangrike moontlikheid skep om die waarheid van God se Woord met mekaar te deel en die nodige Christelike sorg te ontvang en te gee. Die doelstellings van ʼn miniwyk is om wyke te skep waarin lede na mekaar omsien, mekaar opbou, hulp verleen en soos nodig mekaar teregwys, soos ons dit in die Bybel lees in die briewe van Paulus en Petrus.
-
In ʼn ander boek word daarop gewys dat in die verlede die praktyk van die kerkwerk, inklusief die pastoraat, baie keer saamgeval het met die werk van die predikante, ouderlinge en diakens. Dit is ons wins dat ons in die laaste tientalle jare ontdek het dat ONS die kerk is. Al die lede van die gemeente van Christus is geroep om te dien en het ʼn pastorale taak.
Maar wat word presies met onderlinge pastoraat bedoel? Wat hoort daarby en wat nie? Hierdie artikel probeer dit te beantwoord.
Wat is Pastoraat?⤒🔗
Om te weet wat onderlinge pastoraat is, moet jy eers die woord pastoraat verstaan. Watter inhoudskriteria geld daarvoor? ʼn Pastorale gesprek is nie outomaties ʼn pastorale gesprek omdat ʼn predikant daarby betrokke is nie. ʼn Gesprek word nie pastoraal vanweë die status van die ouderling of predikant nie. Dit hang af van die inhoud van die gesprek. Dit moet aan die volgende kriteria voldoen:
-
Die Basis: Die gespreksgenote wil rekening hou met God en sy evangelie en is verbonde aan die Christelike gemeente.
-
Die Inhoud: Die gemeentelid word in sy of haar persoonlike situasie vanuit God se evangelie op so ʼn manier “aangespreek”, dat die verhouding tussen Christus en die gemeentelid vernuwe of herstel word.
-
Die Effek of funksie: In die pastoraat word herkenbaar en aanwysbaar gewerk om te herstel, by te staan, te begelei en te versoen.
Volgens hierdie kriteria kan die volgende definisie van pastoraat geformuleer word, nl.:
Die hulpverlening aan mense om hulle persoonlike situasie te leer sien en te leer ervaar in die lig van en in lyn met God se evangelie en met die doel dat hulle selfstandig geestelik kan funksioneer.
Vervolgens ʼn toeligting op bepaalde onderdele van hierdie definisie.
Hulpverlening←↰⤒🔗
Hulpverlening gebeur deur middel van die vier funksies van pastoraat nl. herstel bied, bystand bied, begeleiding gee en versoening bewerk. Met hierdie funksies word aangedui wat ʼn predikant spesifiek wil bereik. By ʼn pastorale besoek kan een funksie oorgaan na ʼn ander een, bv: in ʼn moeitevolle situasie van lyding sal ʼn predikant, nadat hy eers sorgvuldig geluister het(!), allereers aan ʼn gemeentelid troos en bemoediging vanuit God se Woord wil gee (bystaan). In ʼn later stadium kan hy daaraan werk dat ʼn gemeentelid in sy ontstane situasie ʼn nuwe ewewig vind (herstel bied). Meerdere funksies kan ook saam aan die orde kom. Gemeentelede staan soms voor geloofskeuses en geloofsbesluite waar die predikant ʼn helpende hand kan bied deur iemand aan te moedig en toe te rus (begeleiding). Tegelykertyd kan ʼn gemeentelid homself beter leer verstaan en meer in sy aanvaarbaarheid voor God glo.
Persoonlike Situasies←↰⤒🔗
Die situasie waarin mense hulle bevind op die oomblik wanneer hulle pastorale sorg ontvang.
Leer Sien en Leer Ervaar←↰⤒🔗
Dit gaan in die pastoraat dikwels oor ʼn proses waardeur mense insig kry oor hoe gebeurtenisse in hul lewens in verhouding tot God se evangelie staan. Daarby speel nie alleen kennis (insig) ʼn rol nie, maar gaan dit ook oor die ervaring daarvan.
Selfstandig Geestelik Funksioneer←↰⤒🔗
Dit is ʼn term wat ʼn houding beskryf waarmee jy as kind van God en navolger van Christus in die lewe staan. Daarby is veral belangrik dat jy in vryheid en verantwoordelikheid jouself durf wees, in jou verhouding met God en Christus en met die mense rondom jou en in allerlei situasies wat kan voorkom. Kortliks beteken selfstandige geestelike funksionering dat jy in staat is om ʼn keuse so te maak (selfstandig funksioneer) dat God en Christus sentraal in jou lewe bly staan (geestelik funksioneer as Christen).
Wie is Aktief Betrokke by Pastoraat?←⤒🔗
In die Nuwe Testament word ʼn pastorale aksie beskryf met die grondwoord parakalein. Dit kan vertaal word as: die aanspreek van een persoon tot ʼn ander een, op ʼn bemoedigende of vermanende manier. Hierdie manier van aanspreek vind plaas op grond van die basis van “die barmhartighede van God” (Romeine 12:1) of “by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees” (Romeine 15:30) of “by die Naam van onse Here Jesus” (1 Korintiërs 1:10) of “by die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus” (2 Korintiërs 10:1). Verder blyk uit Romeine 12:8 dat hierdie “aanspreek” ʼn charisma is en gegee is tot opbou van die gemeente. Wie hou hom dan besig met hierdie aksie van aanspreek? Wie is aktief in die pastoraat?
-
Predikante en/of pastorale werkers wat professionele opleiding in die pastoraat ontvang het. Timoteus was bv. die predikant van die kerk in Efese en deel van sy taak was om die gemeente aan te spreek. (1 Timoteus 4:13) “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering” (vergelyk 6:2b).
-
Ouderlinge: Titus moes op Kreta oudstes aanstel wat “in staat is om te vermaan” (Titus 1:9).
-
Gemeentelede: In die Nuwe Testamentiese briewe vind ons herhaaldelik die oproep dat gemeentelede mekaar onderling moet “aanspreek”. Sien bv. 2 Korintiërs 2:7, 1 Tessalonisense 5:11 en Hebreërs 3:13.
Gemeentelede en ouderlinge is die vrywilligers in die pastoraat. Die predikant en die pastorale werker is professionele werkers. Verder is die ouderlinge en die predikant as ampsdraers van die gemeente bevestig, maar die pastorale werker nie altyd nie.
Wat is Onderlinge Pastoraat?←⤒🔗
Twee gegewens kan hier met mekaar gekombineer word. Ten eerste die Bybelse gegewe dat gemeentelede pastoraal aktief is, en ten tweede die gegewe omskrywing van pastoraat met die kriteria om daaroor te kan praat.
Hieruit kom die volgende omskrywing van pastoraat tussen twee of meer gemeentelede voort. Dit sluit predikante, pastorale werkers en ampsdraers uit.
-
(Die Basis) As gespreksgenote wil die betrokke gemeentelede rekening hou met God en sy evangelie en is hulle pastorale kontak in die wyere konteks van die Christelike gemeente.
-
(Die Inhoud) Die een gemeentelid word in sy of haar persoonlike situasie deur die ander gemeentelid vanuit God se evangelie “aangespreek”, op so ʼn manier dat die verhouding tussen Christus en die gemeentelid vernuwe of herstel word.
-
(Die Effek of funksie) In die pastoraat word herkenbaar en aanwysbaar gewerk om te herstel, by te staan, te begelei en te versoen.
Al vier die funksies hoort by onderlinge pastoraat. Dit gaan egter hoofsaaklik oor die funksies van bystand en begeleiding. Dit is die twee funksies wat gewoonlik dan ook eerste nodig is. Dit beteken nie dat funksies wat herstel en versoening bewerk, wegval nie. Veral nie as daar gemeentelede met baie pastorale ervaring is nie.
Op hierdie manier kom ons by die volgende omskrywing van onderlinge pastoraat uit.
As gemeentelede met mekaar meeleef en vir mekaar sorg deur middel van persoonlike gesprekke of groepsgesprekke en mekaar bemoedig en “aanspreek” vanuit God se Woord, met die oog op sy of haar selfstandige geestelike funksionering.
Hierdie omskrywing maak duidelik dat elke gemeentelid ʼn “pastorale werker” vir ʼn ander gemeentelid kan wees. Dit is wel so dat sommige gemeentelede die gawe het om te kan “aanspreek”. In die Christelike gemeente is dit ook nie nodig dat almal dieselfde doen nie. Elkeen het sy eie gawes. Jy sou kon sê dat gemeentelede mekaar deur onderlinge pastoraat, basiese pastorale sorg bied.
Werkmetodes van Onderlinge Pastoraat←⤒🔗
Persoonlike gesprekke en groepsgesprekke is voorbeelde van werkmetodes van onderlinge pastoraat.
-
In onderlinge pastoraat is persoonlike gesprekke tussen twee gemeentelede die werksmetode wat die meeste voorkom. Uiteraard is nie elke gesprek tussen twee gemeentelede ʼn pastorale gesprek nie. Die inhoud van die gesprek is hier belangrik. Die een gemeentelid word in haar persoonlike situasie op so ʼn manier vanuit God se evangelie aangespreek dat haar verhouding met Christus herstel of vernuwe word. Terselfdertyd moet daar ook iets herkenbaars en aanwysbaars wees van een van die funksies van pastoraat, veral van die van bystand en begeleiding.
-
Onderlinge pastoraat in die vorm van groepsgesprekke kan voorkom waar groepe wat dieselfde moeites en probleme het (bv. geskeidenes, weduwees en wewenaars) mekaar bystaan. Hier is dan sprake van onderlinge pastoraat, maak nie saak hoe klein die groepie is nie.
-
In sommige kerke word gebruik gemaak van “kleingroepe”. Gewoonlik word in so ʼn vorm die bestaande ouderlingwyke onderverdeel in drie tot vyf kleiner groepe (miniwyke) wat een keer per maand bymekaarkom. In hierdie miniwyke vind onderlinge pastoraat plaas – die verneem na mekaar se situasies, die omsien na mekaar, meelewing betoon en die deel van vreugdes en verdriet.
Die Pastorale Struktuur van die Gemeente←⤒🔗
Onderlinge pastoraat is ʼn essensiële onderdeel van die totale pastoraat in die gemeente. Daar is reeds genoem dat gemeentelede, ouderlinge en predikante aktief in die pastoraat is. Onderlinge pastoraat en pastoraat deur hulle wat die gemeente lei in die weg van die Here, maak die pastorale struktuur van die gemeente sigbaar. Daarin word iets herken van wat Paulus skryf in 1 Tessalonisense 5:12-15. Hy maak onderskeid tussen “die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan” (12, 13) en die gemeentelede (“broeders” 14, 15). Die voorgangers moet vermaan, d.w.s. mense wat afdwaal van God se weg weer opnuut God se weg laat sien. Tegelykertyd roep Paulus die gemeentelede op tot onderlinge pastoraat (en diakonaat). Hy sê ook: “Vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes en wees lankmoedig teenoor almal.”
So is elkeen op basis van sy eie verantwoordelikheid en taak besig met pastoraat. Hierdie pastorale struktuur is daarop gerig dat niemand in die gemeente sonder ʼn luisterende oor en ʼn liefdevolle oog hoef te lewe nie, maar dat almal juis bemoedig word in die lewe met God waarin Christus sentraal staan. Dit is die doel van pastoraat en ook van onderlinge pastoraat.