Om te preek - 'n nederige vrymoedigheid
Om te preek - 'n nederige vrymoedigheid
Op die kanselkleed van sekere (ouer) kerkgeboue staan in groot sierletters geskrywe: "So sê die HERE". Die bedoeling is duidelik wat die dominee van hierdie kansel af verkondig, is wat die Here aan die gemeente sê. Vir lank was dit die onbetwiste gereformeerde standpunt oor die prediking. Die predikant is Woordbedienaar. Sy taak is om die Woord van die Here aan die gemeente te bring.
Met verloop van tyd het daar egter oor hierdie standpunt die skaduwee van 'n vraagteken begin skuif. Dit klink darem te erg om voor te gee dat wat die predikant sê, die Woord van die Here is. Die predikant is ook mos maar net 'n mens. Moet daar nie 'n groter nederigheid van sy kant kom nie?
Die predikant se eie opinie?⤒🔗
Hierdie vraagteken het gegroei met die gewaarwording dat predikante die Bybel verskillend verklaar. Sommige predikante verklaar die Bybel byvoorbeeld so dat vrouens nie op die kerkraad mag dien nie; ander verklaar dieselfde Bybel so dat dit vrouens wel op die kerkraad toelaat. Albei kan tog nie reg wees nie?
Daar is ook die gewaarwording dat predikante die Bybel in verskillende tye verskillend verklaar. Predikante wat 'n dekade gelede die Bybel ter ondersteuning van apartheid uitgelê het, vertolk die Bybel nou so dat apartheid 'n sonde is waaroor skuld bely moet word. Albei uitlegginge kan tog nie reg wees nie?
Op grond van sulke waarnemings is mense nie meer bereid om die dominee se preek te aanvaar as "So sê die Here" nie. Hulle voel dat die preek eintlik maar niks anders is nie as die dominee se eie mening, of hoogstens sy eie mening oor hoe die Bybel verstaan moet word. Daarom, sê hulle, moet die predikant nie op die preekstoel klim en sê "So sê die Here" nie, maar hy moet sê: "So dink ek moet ons die Bybel verstaan".
Vroom soos hierdie standpunt mag klink, ondermyn dit die gesag van die prediking van Gods Woord. Ja, nederigheid van die dominee is 'n absolute vereiste. Maar dit mag hom nie verhinder om vanaf die preekstoel die "Woord van die Here" te verkondig nie. Inteendeel, dit moet hom juis daartoe aanspoor. Hoe dan so?
Nederigheid by die Skrifverstaan←⤒🔗
In die eerste plek begin die dominee se nederigheid reeds in die studeerkamer waar hy besig is om die Bybel te bestudeer met die oog op Sondag se preek. Hy moet besef dat hy 'n sondaarmens is wat van nature geneig is om na homself te luister eerder as na God. Daarom moet hy, voordat hy na die teks begin luister, so ver as moontlik ontslae raak van alle voor-opgesette idees oor wat hy dink die Here behoort te sê. In die Gereformeerde Hermeneutiek staan dit bekend as die proses van ontlediging. Hy moet homself leeg maak van eie voorkeure, juis om te verhoed dat hy bloot maar sy eie opinie van die kansel af gaan verkondig.
Daarmee saam moet die predikant by sy Skrifstudie nederig bereid wees om hom deur die Heilige Gees te laat lei. Daarom begin die predikant sy preekvoorbereiding nêrens elders nie as op sy knieë. Hy doen biddend eksegese. Sy gebed is dat die Gees hom deurgaans sal lei en sy verstand verlig om reg te verstaan.
Die leiding van die Heilige Gees is nie allerlei stemme uit die hemel of ingewings in die hart nie. Nee, die Heilige Gees lei deur sy Woord. Die Gees vereis van die prediker om nederig soos 'n kindjie te luister en nogmaals te luister na wat die Here in sy Woord sê. Want wat die Here sê, is wat die predikant uiteindelik aan die gemeente moet gaan sê.
Maar, selfs gelei deur die Gees, moet die dominee steeds rekening hou met sy eie swakheid en beperkte insigte. Hy moet bereid wees om toe te gee dat sy eie verstaan van die teks steeds nie volkome is nie. Hy moet dus 'n nederigheid in sy Skrifverklaring hê, die nederigheid om nie sy eie verklaring as die laaste woord oor die teks te beskou nie, die nederigheid om bereid te wees om ook na ander se verklarings te luister, die nederigheid om later weer tot ander insigte te kom. Daarom is Skrifuitleg harde en moeisame werk.
Geen twyfelmoedigheid nie←⤒🔗
Hierdie nederigheid beteken egter nie twyfelmoedigheid nie. As die predikant na 'n week se eksegetiese inspanning nog steeds twyfel oor wat die Here in die teks sê, kan hy nie Sondag op die preekstoel klim en sy onsekerhede aan die gemeente oordra nie. Nee, voor hy sy preek skryf, moet hy, met die insigte en die middele tot sy beskikking, nadat hy alle moontlikhede van verstaan teen mekaar opgeweeg het, in sy hart absoluut oortuig wees: dit is wat die Here in hierdie teks sê.
Met hierdie oortuiging kan hy dan Sondag die kansel bestyg en sê: "So sê die Here". Hy is immers die geroepe dienskneg van die Here. Die Here stuur hom om sy Woord aan die gemeente op daardie bepaalde plek en tyd deur te gee en toepaslik te maak.
Vir hom geld die woorde van Romeine 10:14: "Hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Hoe lieflik is die voete van dié wat die evangelie van vrede verkondig!"
'n Gebed om vrymoedigheid←⤒🔗
As gestuurde dienskneg van die Here, moet die predikant die vrymoedigheid hê om op die kansel te kan sê: "So sê die Here". Hierdie vrymoedigheid kry hy nie eers daar op die kanseltrappies nie. Hy verkry dit gedurende die week se worsteling met die Bybelteks in sy studeerkamer.
Maar bowenal kry hy die vrymoedigheid deur die Heilige Gees in die hart. Daarom moet hy van harte bid vir die vrymoedigheid om God se Woord aan die gemeente te preek. Nie net hy nie, maar ook die gemeente moet vir hom bid.
Aan die einde van die Efesiërbrief vra die apostel Paulus die gemeente om vir hom te bid "sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak" (Ef. 6:19). So moet ons as lidmate ook vir ons dominees bid. In plaas daarvan om aanhoudend te bevraagteken, moet ons bid dat die dominee die nederigheid sal hê om met niks anders op die preekstoel te klim nie, as met die Woord van die Here. En dat hy met vrymoedigheid sal sê: "So sê die Here".