Om Te Kritiseer ...
Om Te Kritiseer ...
Daar is tweedrag in die kerk...
Party lidmate ken God nie regtig nie...
Dit verbaas my dat die kerk so kan dwaal...
Bekeer julle nou...
Julle is net ’n klomp dooie lidmate, sonder lewe...
So kan ’n mens aangaan om dinge te noem wat deesdae meermale teen “die kerk” geslinger word. Soms voel dit vir ’n mens asof jy kan maak en breek hieroor. Dit is tog “my” kerk wat aangeval word, dit is ’n aanklag ook teen my en wat kan ek nou eintlik daarteen sê hoe kan ek my verweer? Help dit om kwaad te word? Tog nie. Is dit dalk makliker om die een wat kritiseer se goeie trou en goeie bedoelings te betwyfel? Inderdaad, dit gebeur baie.
Dat daar kritiek teen die kerk, teen die gelowiges kom, moet nie vreemd wees nie. Die kerk moet tog die sout van die aarde wees en die wêreld-sonder-God kan die boodskap nie aanvaar nie. Kritiek om daardie rede kan maklik afgewys word. Moeiliker om af te wys is dit as die kritiek van buite wys dat die kerk nie is wat dit behoort te wees nie en dit is dikwels tog die geval dat ons ons roeping nie uitleef soos dit moet nie. Inderdaad, rede vir bekering. Maar wat van kritiek van binne, van gelowiges wat vinger wys oor dit wat hulle hinder in die kerk?
Die voorkoms van sulke kritiek moet eintlik verwag word. Lees maar net wat daar geskryf staan in:
- 1 Korinthiërs 1:10 – ek doen ’n beroep op julle almal ... om eensgesind te wees.
- 1 Korinthiërs 15:34 – Party van julle is sonder kennis van God...
- Galásiërs 1:6 – Dit verbaas my dat julle so gou van God ... afvallig geword het.
- Openbaring 2:6 – Bekeer julle nou...
- Openbaring 3:1 – Julle het die naam dat julle lewe, en tog is julle dood...
Dit blyk dat die “kritiek” hierbo geïnspireerde “kritiek” is van Paulus en Johannes, teen destydse gemeentes van wie hulle bekering gevra het. Om kritiek bloot as kwaadwillig en ongegrond af te maak, het geen, sin nie. Om krities daarna te luister en dan steeds te doen wat God vra (dalk ook in dit wat seermaak) is die enigste gelowige weg.