Om te kan Bid
Om te kan Bid
Wat ’n heerlike voorreg is dit om te kan bid, want stamelende woorde van onrein lippe kan deurdring tot in die hoogste hemele. Wanneer Hanna in die tempel gaan bid en Eli dan dink dat sy dronk is, dan antwoord Hanna: “Nee, my heer, ek het nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort” (1 Sam 1:15). Met jou gebed kom jy dus tot voor die aangesig van God.
Jesus leer ons in Matthéüs 6 dat die gelowige in enige situasie mag roep “Ons Vader”. Ons het ’n hemelse Vader wat werklik luister en steeds reageer. ’n God wat in Psalm 50:15 belowe het: “Roep My aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou uithelp”. ’n God wat nie doof of dood is nie, maar wat in Jesaja 65:24 gesê het: “Voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek”. Hy is ’n Vader van wie Paulus in Efésiërs 3:20 sê dat Hy mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink. Hy is ’n Vader wat sy enigste Seun aan ’n sondige wêreld gegee het. Hoeveel te meer sal Hy nie ook vir die daaglikse behoeftes van sy kinders sorg nie. In Matthéüs 6:18 en 32 sê Jesus dat ons Vader in die verborgene sien en, dat Hy weet wat ons nodig het.
Die kern van gebedsverhoring is dat ons ’n Vader het wat presies weet wat ons nodig het en dit is dikwels iets anders as wat ons meen ons nodig het. Dink aan die verlamde jongman wat deur sy vriende deur die dak tot voor Christus laat sak is. Met afwagting het hy smekend gewag op Jesus se genesing. Jesus het egter geweet dat hy eintlik iets anders dringender nodig het en dit is: Jou sondes is vergewe en eers daarna sê Jesus: “Neem jou bed op, staan en loop.” In Lukas 11:5-13 vertel Jesus ook ’n gelykenis waarin ons die belofte ontvang dat ons nie altyd dit sal ontvang wat ons bid nie, maar dat ons nooit van ons Vader iets slegs sal ontvang nie.
Gebed is in wese dankbaarheid. Selfs al is jy in die diepste nood of in die grootste vertwyfeling, tog is daar in jou as kind van God ’n lewe wat altyd vonkelnuut bly.
Daarom moet jou gebed, selfs in die donkerste nag ten diepste een groot stuk dankbaarheid wees.
Dankbaarheid laat jou gebed lewe, want dan gaan dit in jou gebed nie om die gebruik van God nie, maar om die geniet van God. ’n Dankbare gebed sal dus nie net van God vra nie, maar bo alles om God self vra. Dit is die hoogste doel van gebed – nie my eie voordeel nie, maar die eer van God.
Daar moet dus in ons gebed allereers eerbied, aanbidding, lof en danksegging teenoor die Here wees, want ’n gebed sonder aanbidding en lof is ’n gebed sonder vlerke. Lees die lofprysing in Dawid se gebed in 1 Kronieke 29:11.
’n Verdere belangrike kenmerk van die ware gebed, is nederige ootmoed. Dit beteken nie dat jy as gelowige nie die moed het om tot God te nader nie, want ootmoed laat jou nie van die Here wegvlug nie. Ootmoed laat jou jou kleinheid raaksien en laat jou juis na God toe gaan om by Hom te skuil en vertroosting te kry. Hoe dikwels belowe die Bybel nie juis aan die nederige en ootmoedige ryke troos nie. “Want die Here is verhewe, nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte” (Ps. 138:6). “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Ps. 34:19).
Bid ook opreg. Dit is wat die Kategismus bedoel met die woorde: “Ons moet God van harte aanroep (Vraag en antw. 177). God haat die sonde van onopregtheid (vgl. Jes. 1:15; Jak. 4:1-3). Bid ook veral met vertroue. Jy kan met vertroue bid, want jy bid nie tot ’n onbekende en onpersoonlike God nie. Jy bid tot die God waarvan die Psalms so dikwels getuig: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.”
Gebed is dus ’n heerlike voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid. Dit is nie iets wat ek sommer ligtelik kan aframmel nie. Daarom sê Jesus ook: “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid tot jou Vader wat in die verborgene is” (Matt 6:6). Gebed vra dus my volle aandag en toewyding. Gebed vra stilte en tyd, want ek staan voor die aangesig van die Here.