Bron: Die Kerkblad, 1995. 2 bladsye.

Om met die Waarheid te Lieg

seun vinger voor mond

Kom dit dan nie in die Bybel self voor nie – om die waarheid so effens skuins te draai? Lees ons dan nie daarvan dat Abraham 'n halwe waarheid aan Farao vertel het deur te beweer dat Sarai sy suster is nie (Gen 12:13) – terwyl sy net sy half suster was? Abraham herhaal selfs hierdie optrede teen die Filistynse koning Abimelek (Gen 20:2). En Isak volg sy pa hierin na (Gen 26:7)! Is 'n halwe waarheid, 'n noodwaarheid, noodleuen, 'n wit leuen dan nie geregverdig nie?

Hierteenoor word daar gewoonlik aangevoer dat die Bybel nie oral bepaalde sondes direk afwys nie en dit ook in hierdie geval nie doen nie – soos die aantekeninge by Genesis 12:13 in Die Bybel met Verklarende Aantekeninge (1958) ook getuig.

Menings🔗

Die probleem is egter ingewikkeld. Daar is naamlik 'n sterk tradisie in (veral vrygemaakte) Gereformeerde kringe wat die noodleuen (of is dit noodwaarheid?) regverdig. Die Nederlandse teoloog, B. Holwerda, skryf (in oorlogstyd, 1943) in sy preekbundel oor die Heidelbergse Kategismus, getitel De dingen die ons van God geschonken zijn (1975/2) die volgende: "Wie sê dat die negende gebod wil dat jy altyd, in alle omstandighede, presies die waarheid praat, jy mag nooit lieg nie, dié het die letter van die bedoeling losgemaak". Die groot vraag is nie "of ons die feite tekort doen nie, maar of ons die naaste tekort doen". Desnoods mag dus 'n onjuiste verklaring gemaak word. "As dit moet", sê hy, "offer ek die feite aan die naaste op." Holwerda waarsku egter dat hy nie misverstaan moet word nie en die gebod só misbruik word.

Ook by J Douma vind ons dieselfde gedagtegang – sonder dat hy egter na Holwerda verwys. In sy boek oor De Tien Gebooden 3 (1987) skryf hy dat "ons die noodleuen nie moet veroordeel nie. Ons het met 'n grenssituasie te doen, soos dit ook by ander gebooie voorkom". Douma wys egter daarop dat die noodleuen nie vir allerlei lastige situasies geld nie, maar slegs in benarde situasies gebruik mag word, dit wil sê in situasies waarin die lewe van ander en/of onsself op die spel is.

Geen misverstand🔗

Mag 'n Christen dan maar los en vas lieg, valse getuienis aflê, onverhoord veroordeel, woorde verdraai? Inderdaad níé! Christene het nog nooit met die Leninistiese etiek saamgestem nie dat "elke krygslis, elke sluheid, elke onwettige metode, elke geheimhouding en elke vermomming van die waarheid gebruik moet word" vir die bevordering van die Kommunisme. Christene gebruik nie onware metodes, optredes en woorde om die koninkryk van God te bevorder nie. Kruistogte het nog nooit die koninkryk bevorder nie.

vingers kruis agter rug

Dit val op dat die Kategismus in sy verklaring van die negende gebod skerp fokus op die bevordering van die welsyn van die naaste. Dit is dus moontlik om in 'n gesprek getrou te bly aan die "feite" oor die naaste, byvoorbeeld 'n groot sonde wat hy/sy in die verlede begaan het, maar deur dit telkens weer op te rakel en jou selfs daarin te verlekker – word die negende gebod oortree. Daar is 'n verskil tussen 'n werklikheidsuitspraak en 'n waarheidsuitspraak. Die waarheid hou altyd rekening met die liefdesgebod van God en so met die welsyn van die naaste. 'n Onderwyser wat voor 'n hele klas aan 'n kind vra of sy vader dronk by die huis aangekom het, moet nie verwag dat die kind die feite sal beaam nie. WH Velema sê in sy boekie Leer ermee te leven! (1973) tereg dat drie sake hier verreken moet word: God, die naaste en die situasie/konteks. Die besondere omstandighede waarin 'n mens hom op 'n bepaalde tyd bevind, moet in ag geneem word.

Ons mag uit bostaande nie die afleiding maak dat Christene vroeg en laat leuens mag vertel en die waarheid skuins mag draai nie. Grens-situasies mag nooit die reël word nie. Die waarheid moet seëvier.

Praktyk🔗

Die negende gebod het belangrike konsekwensies vir die ganse samelewing. Vir die regswese byvoorbeeld, sowel die openbare as die kerklike reg. As die stelreël audialterem partem (luister ook na die ander kant van die saak) oortree word, stort alle regspraak in duie. Enige saak het altyd twee kante waarna geluister moet word.

Die negende gebod is net so belangrik vir die regeringswese. As die regeringsoptrede meer deur koverte as deur deursigtige optrede gekenmerk word, as die publiek met disinformasie in plaas van ware informasie gevoer word (ek dink veral aan die disinformasie rondom die inval in Angola in 1975) ensovoorts, dan is daar nie veel hoop vir die opbou van 'n verantwoordelike samelewing nie.

Ook die mediawese moet hier betrek word, en dan nie net die openbare media nie (televisie radio, dagblad, weekblad), maar ook die kerklike pers en spesifiek die Gereformeerde pers (Die Kerkblad, Die Gereformeerde Vroueblad, Die Slingervel, Waarheid en Dwaling, In die Skriflig). Die media speel 'n buitengewone groot rol om mens- en kerkverhoudinge op te bou of af te breek. Hier kan gedink word aan die beeld wat die Engelse pers oor jare ten opsigte van Afrikaners voorgehou het, asook die beeld wat die Afrikaanse pers van Engelssprekendes geskep het, verder ook die beeld wat die wit pers van swartmense geskep het asook die swart pers van witmense. Om maar te swyg van die beeld wat verskillende Afrikaanse koerante alles aan mede-Afrikaners toegedig het. Wie kan ontken dat die pers dikwels meedoen aan vertekening en vereensydig, aan veralgemening en verdagmaking, aan selektiewe beriggewing en wilde bewerings? – alles dinge wat in teenspraak is met die gebod van God.

koerant

Die negende gebod het natuurlik ook iets te sê vir die wetenskap en spesifiek vir die teologie. Wanneer 'n Gereformeerde teoloog na die Rooms-Katolisisme kyk, na die Barthianisme of Marxisme, moet hy dit waarheidsgetrou doen. Hy mag nie leuenagtig van die leuen praat nie, hy mag nie 'n karikatuur van die teenstander maak nie en dan die karikatuur bestry nie. Hy moet vir die waarheid veg op 'n waaragtige wyse. Vandaar ook die wetenskaplike eis om voor alles van primêre bronne gebruik te maak en nie met opinies oor opinies te werk nie.

So staan die negende gebod midde-in ons lewe, midde-in ons doen en denke, midde-in ons woorde en dade. Ons ganse lewe lê voor God oop. 'n Christen staan en val by die waarheid, want alleen die waarheid maak vry, alleen dié Waarheid, Jesus Christus, maak vry. Wie die waarheid dien, leef dus vanuit die waarheid van die Woord van God, en dan veral vanuit die sentrum van daardie Woord, naamlik die Woord wat vlees geword het, Jesus Christus.