Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

'n Tyd vir Orde

planete

‘Want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges’. Hierdie woorde uit Paulus se eerste brief aan die Korintiërs (14:33) is die ruggraat vir ons kerklike samelewing. Sonder goeie orde kan die kerk nie kerk wees nie. Sonder orde ontstaan daar onrus, verwarring, oproer, onderlinge tweespalt, skeuringe, oorlog. Nie net in die plaaslike kerk nie, ook in die kerkverband. Trouens, hierdie Skrifwoord geld elke samelewingsverband. In die huwelik, die gesin, die familie, die skool, die werk, die staat – oral moet daar goeie orde wees.

Die Wonder van Orde🔗

Orde is Godgegewe. God skep orde. Dit is duidelik van die begin af. Genesis een en twee vertel die geskiedenis van die skepping van hemel en aarde. Oor en oor val die klem op die orde waarin en waarmee God skep. Elke skepsel het sy eie vorm, sy eie eienskappe, sy eie roeping, sy eie plek. Vaste grense en tye word van meet af aan vir alles en almal neergelê. Dag en nag word van mekaar onderskei. So ook waters bo en waters onder, droë grond en see. Diere word in soorte geskep. Plante eweneens. Die mens word as kroon van die skepping geformeer.

God se orde in die skepping is teken van sy liefdevolle besig wees met dit wat Hy gemaak het. In sy alwysheid en almag skep Hy verhoudings tussen skepsele. In soverre die Godgegewe grense en tye en verhoudings eerbiedig word, heers daar orde. Dan is daar vrede, harmonie, geluk. Indien die Godgegewe reëls vir orde verontagsaam word, as die skepsel buite sy gegewe ruimte en roeping optree, ontstaan daar onteenseglik wanorde. Wanorde lei tot oorlog en dood.

Gebind aan Orde🔗

Alle skepsele is gebind aan die orde wat God neergelê het. Die mens by uitstek. Die mens as kroon van die skepping kry uitdruklik opdrag om te heers oor alles wat geskape is. Hy moet bewoon, bewerk en bewaak. Nie volgens eie reëls en na eie goeddunke nie, maar ooreenkomstig God se wil.

Die sondeval is niks anders as ‘n omverwerp van die Godgegewe orde nie. Die skrikwekkende gevolge kon nie uitbly nie. Onmiddellik bars chaotiese vyandskap los. Man teen mannin. Man teen God. Skepsel teen die kroon van die skepping. Die kroon van die skepping teen die skepsele.

Maar – net so plotseling en ingrypend soos wat die chaos vir die in-sonde-gevalle-mens losbreek, net so kragtig bewerk God herstel. Die belofte is daar: die saad van die vrou sal die kop van die slang vermorsel. Daar word opnuut orde op sake gestel. Die herskape mens word verlos om die God-gegewe orde van nuuts af te respekteer en te beleef.

Orde in die Kerkverband🔗

Die kerk is die vergadering van verloste kinders van God. Hier moet herskape mense saamstaan om God se orde in alle opsigte te eerbiedig. Vandaar die vermaning van Paulus aan die Korintiërs: In alle gemeentes van die heiliges moet daar goeie orde wees. Tussen die gemeentes van die heiliges eweneens.

Ordelike saamleef van gemeentes in een kerkverband word onder andere sigbaar in klassisse en sinodes wat vergader. Die strewe van alle meerdere vergaderinge moet wees om volgens die orde van God – die Skrif – te handel. Plaaslike kerke moet uit hulle pad gaan om dit wat ordelik besluit is, na te kom. Dit raak chaoties in ‘n kerkverband as elkeen maar net doen wat goed is in sy eie oë. God word onteer. God, wat geen God van wanorde is nie.

Artikel 31 Kerkorde🔗

In Artikel 31 van die Gereformeerde Kerkorde word die toepassing van goeie orde pragtig omskryf: ‘Wat op ‘n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde’. ‘n Besluit wat met meerderheid van stemme geneem word – so mag aanvaar word – is ‘n ordelike besluit. So ‘n besluit sal deur al die kerke in die kerkverband vir vas en bindend gehou word. Kerke belowe in Artikel 31 aan mekaar om besluite van meerdere vergaderinge indringend te bestudeer en hulle eie te maak. Besluite kan nie sommerso vir kennisgewing aangeneem word en dan nie uitgevoer word nie.

Kerke belowe ook om, as hulle tot die oordeel kom dat ‘n bepaalde besluit met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde in stryd is, die bewyse daarvan aan die kerkverband deur te gee. Susterskerke in die kerkverband moet op hoogte gebring word indien ‘n kerk tot die slotsom kom dat ‘n besluit ongeldig, in stryd met Gods Woord, is.

tyd

‘n Tyd van Orde🔗

Die Sinode is verby. Talle besluite is geneem in die lig van Gods Woord. Oor baie besluite word daar van harte gejubel. Oor ander nie. Inteendeel. Kerkrade het dus baie werk om te doen. Daar moet noukeurig ondersoek gedoen word. Besluite kan nie klakkeloos toegepas word bloot ‘omdat die sinode so sê’ nie. Die kerkraad is geroep om te regeer. Nie die sinode nie.

Die ondersoek van kerkrade moet met die grootste omsigtigheid plaasvind. Ten alle tye moet die orde, soos beskryf in Artikel 31 gehandhaaf word. Emosionele uitlatings bring ‘n mens nie positief verder nie. Verdagmakery van watter aard ook al breek orde af. Die offisiële besluite van die sinode, soos in die handelinge van die sinode weergegee, moet rustig onder oë geneem word. Daar is tyd nodig om te besin. ‘n Tyd van orde.

Oproep🔗

Na alle kante moet daar teen onordelike optrede gewaak word. Sonder ontvangs van offisiële Acta kan kerkrade baie moeilik tot ordelike besluitneming kom. Sonder deeglike bestudering van daardie Acta ewemin.

As daar ooit ‘n tyd in die geskiedenis van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika was wat kerke mekaar op die basis van 1 Korintiërs 14:33 moet vashou, is dit seker nou. Oorhaastige optrede strek nie tot eer van God nie. En beslis ook nie tot voordeel van die kerke en die kerkverband nie.

Die bede word uitgespreek dat alles wat gedoen word daadwerklik tot stigting van die gemeente van heiliges sal wees.