'n Kosjer Lysie van Verbode Kansels
'n Kosjer Lysie van Verbode Kansels
Dit is 'n staande praktyk in ons kerke dat daar ruildienste van tyd tot tyd plaasvind. Die naburige gereformeerde predikant word dan op die kansel toegelaat op grond van ons eenheid in kerkverband. Dit wil tog voorkom asof daar deesdae (miskien was dit maar nog altyd so) 'n krapperigheid oor hierdie saak is. Nie dat die kansels geruil word nie, maar wie bestyg 'ons' kansel. Mens hoor werklik deesdae van kerkrade wat (hetsy formeel of nie) sekere predikante op 'n nie-kosjer-lys plaas as dit by preek-uitnodigings kom. Daar word maar gekyk of die genooide se preek sal inpas by die opset van 'ons gemeente'. Wat die redes vir die weiering tot uitnodiging is, word hier heeltemal buite rekening gelaat. In elk geval kan dit die hele spektrum van ons kerklike woeling weerspieël. Dit kan wissel van die 'kelkie-dominee' tot die dominee wat te streng wil tug. Die rede maak nie saak nie. Die punt is die volgende: Volgens ons kerklike eenheidsband is dit ons afspraak dat ENIGE predikant van die GKSA op ENIGE gereformeerde kansel welkom is (per uitnodiging natuurlik). Maar die werklikheid werk anders. Alle gereformeerde predikante is nie tans op alle gereformeerde kansels welkom nie. Ons het 'n afspraak wat ons nie nakom nie. Hoe wyd of syd dit gebeur, is natuurlik moeilik vasstelbaar. Dit gaan in elke geval nie daaroor nie. Dit gaan oor die vertrekpunt en beginsels wat in gebruike na vore kom of begrawe word.
Sou daar 'n kerkraad wees wat 'n besluit geneem het (of stilweg die gebruik het) om sekere predikante nie op hulle kansels toe te laat nie, het daardie kerkraad 'n skyn van heiligheid. Daar is dikwels 'n goeie rede hoekom so 'n besluit geneem is of so 'n gebruik bestaan. Die ouderlinge wil in die meeste gevalle waak oor die prediking wat verkondig word in die gemeente. Dit is prysenswaardig dat dit gebeur. Die kansel moet met heiligheid bewaak en bestyg word. Maar om daardie besluit of gebruik nie aan die klassis (en betrokke ander predikant se kerkraad bekend te maak nie) is, om die minste te sê: skynheilig. Want waar is die heiligheid oor die eenheid van die kerk van Christus - soos wat daar 'n heiligheid is oor die suiwerheid van die prediking op die eie kansel?
Minder Belangrik⤒🔗
Is die een (heiligheid van ons eie kansel) minder belangrik as die ander (heilige eenheid in ons kerkverband)? Hoe baie praat ons nie oor en weer verby mekaar nie. Het die herderlike brief van die afgelope sinode (geskryf deur die moderamen, onder voorsitterskap van dr Ras) ons nie tydig opgewek om in broederliefde met mekaar om te gaan nie?
Hierdie wond in ons hart sweer om twee redes:
-
Ten eerste ontstaan die vraag hoe swaar die negende gebod (jy mag nie vals getuig nie) vir ons weeg buite ons gemeente se grense.
-
Tweedens is daar moontlik ernstig fout met die manier van visitasie wat die kerke ontvang.
Lieflike Vrou of Egbreekster←⤒🔗
“Jy mag nie vals buite jou gemeentegrense getuig nie”. Ten minste twee keer 'n jaar kom klassisse bymekaar en nadat die kredensie-briewe gelees word, word 'n openlike verklaring voorgelees waarmee gewoonlik staande ingestem word. Daarin sê ons dat ons die ander kerke in die verband uitnooi om die 'innigste gemeenskap' (bruidstaal van die kerk van Christus) met ons te oefen. Formeel staan die kerke se afgevaardigdes daar en sê lieflik openlik: ons is een met mekaar. Julle is welkom by ons, ons by julle. Die klassis-vergadering per definisie is 'n uiting van die eenheidsbelewing. Daar praat ons met mekaar. Daar is die plek van eenheid. Daar is dit tasbaar. Daar, maar slegs daar. Nie dié dominee op ons kansel nie. Nie hier nie. Hier by ons is dit wat ons op die klassis – voor God en mekaar – getuig het, nie van toepassing nie.
Geen mens kan in liefde skei nie. Nòg in die huwelik, nòg in die kerk, nòg minder in die kerkverband. Dit laat mens bietjie ongemaklik om te weet jy mag nie staande buite jou gemeentegrense lieg nie. As 'ons' nie die innigste gemeenskap met 'hulle' wil oefen nie, waar is die respek vir die gebod van God? Om dit te sê maar nie bedoel nie en dus nie doen nie, is so erg soos egbreuk. In die huwelikslewe van gelowiges word afgeskop voor die kansel met woorde van liefde en getrouheid aan mekaar en van eenheid. Daardie woorde voor die kansel moet opgevolg word met ooreenstemmende dade daarna. By die klassis kan dit omgeruil word (vergeef maar die bietjie spitsvondigheid). By die klassis is die daad daar waar die bruid van Christus haar eenheid moet beleef. Formeel is ons een; ons getuig staande dat dit die geval is. Maar die liefdeswoord vir die kansel kort. Of nog erger die Woord – gebring deur die geruilde predikant – kort. Hy mag nie hier kom sê: So spreek die Here Here nie.
Hy is verlede keer genooi om te kom sê: So spreek die Here, maar toe verkondig hy sy eie mening. En dit het ons koel gelaat, afgehaal, gebelg. Oplossing: hy kom nie weer as genooide hierheen nie. Gelukkig hoef ons hom net 'n paar keer daar op die klassis te sien, simbolies te wys ons is een, maar ons is nie eintlik nie. Laat ons hier op ons kansel elke rusdag hoor: Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. Ons amendeer dit net 'n bietjie as dit by die klassis kom. Dan is ons kansel veilig. Buite ons gemeentegrense kan ons maar vals getuig deur te swyg oor ons ware gevoelens, solank ons kansel veilig gestel is. Dis 'n prys om te betaal, maar ons offer maar, want praat help nie.
Het die gereformeerdes 'n hart van 'n getroue vrou vir die kansel, maar die bitter hart van 'n egbreekster vir die klassis? Is dit nie die hoogste mate van skynheiligheid nie? Mag ons so vir mekaar lieg?
Visitasie←⤒🔗
Tweedens (en dit is 'n vermoede, maar die moeite werd om te ondersoek) is die saak van visitasie. Die K.O., art. 44, reël die hoe daarvan. Minstens elke twee of drie jaar kom ander predikante, as afgevaardigdes van die ander gereformeerde kerke, visitasie hou. Die ander kerke stuur manne uit liefde om te kom vra en kyk hoe staan dit met die bruid van Christus. Watter wonderlike geleentheid is visitasie nie. Die liefdesband van eenheid in aksie.
Maar weereens werk die werklikheid anders. Die visitasie raak soms 'n irriterende aftik van 'n lysie. Ja, ons dominee preek goed. Ja, die kinders word gedoop. Ja, die nagmaal word gehou. Ja, die diakens het genoeg geld. Ja, die predikant word eervol versorg. Ja, ja, ja. Alles goed, alles wel, gemeente so en so is nog 'n ware kerk van Christus. So lui die formele rapport op die klassis-vergadering. Sy is 'n pragtige bruid. Sy lieg stil-stil so bietjie egbrekerig op die klassis, maar wie is nou volmaak? Moenie op visitasie vra of sê van die kosjer lysie nie. Want een van die visitatore is dalk êrens op die lys. Gee nie volledige insig in die stand van sake nie. Antwoord bevredigend – nie eerlik nie. [So terloops, hoeveel predikante op visitasie hou huisbesoek by die pastoriepaar om die eenheidsliefde sigbaar, tasbaar te maak?]. Ook op visitasie mag die bruid haar nie soos 'n egbreekster gedra nie. Nie in die konsistorie-visitasie-vergadering nie, nie in die klassisvergadering nie. Liefde ken net een pad – die waarheid.
Reg Bind←⤒🔗
Kan ons kansels ruil? Ja, maar haal die kosjer-lysie uit die baadjie-binnesak. Veg vir die waarheid. Hou die kanselruil rein. 'n Versteekte lysie is 'n leuenverklikker, want net soos die huwelik ook op regsgronde gebaseer is, so is dit met die kerk ook. Ons het 'n regsbinding. Formeel, juridies, forensies. Daarin is voorregte en verpligtinge gestipuleer. Dit moet nagekom word. Ons kerke is nie maar 'n losse ken-mekaar klub of gebeurtenis nie.
Die kerk is 'n heilige vergadering. Deur Christus self bymekaar gemaak. BYMEKAAR. Die verbond wat ons verbind, ons afspraak is wettig en daarom geldig – by kanselruil en visitasie.
-
Daarom is kosjer-lysies regsverbreking. Want formeel mag enige gereformeerde predikant op enige gereformeerde kansel preek. Die reg eis dit.
-
Daarom is lamsakkige visitasie regsverkragting. Want ons sê: Ons is nog lief vir mekaar, nè? Al breek ons die reg aan flarde. Jy is getrou(d) in die huwelik, wettig, of jy is nie. Daar is niks tussen in nie. By die kerk is ons ook aan mekaar verbind op regsgronde.
Waar is die 'Totdat'?←⤒🔗
Hoe kom ons uit hierdie oneerlikheid? Deur openlik die pad met mekaar te loop. 'n Gereformeerde kerkraad wat 'n gereformeerde predikant sy kansel verbied, moet dit sê. Christus se reg vereis dit. Hulle moet dit openlik sê met 'n kerkraadsbesluit, op visitasie en met die klassis. Hulle moet sê: Ons wil hierdie predikant nie hoor preek nie TOTDAT daar teruggekeer word na ons afspraak. Die reg, die liefdeswet van Christus eis dit.
Christus het sy bruid baie lief. Hy het ons bymekaar gebring. Wettig aan mekaar verbind. Hoe lief het ons mekaar voor hierdie wet?