Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

'n Geestelike Skisofrenie?

Bultmann

"Niemand kan twee here dien nie, want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag," het die Here Jesus ons in Matteus 6:24 gewaarsku. Dit lyk of hierdie gevaar van dubbelhartigheid al groter word namate die tyd aanstap. By ons kom dit soms voor of die kerk in 'n toestand ingegaan het wat grens aan 'n geestelike skisofrenie (dubbele persoonlikheid).

Bultmann se Diagnose van die Christendom🔗

Rudolf Bultmann, die beroemde Duitse teoloog van die vroeë twintigste eeu, was eerste om te praat van 'n soort geestelike skisofrenie in die kerk. In die na-oorlogse Europa het hy raakgesien dat mense se godsdiens en hulle daaglikse lewe al verder uit mekaar dryf. Sondae gaan hulle kerk toe en bely 'n Jesus wat siekes gesond maak, wat op die see loop, wat brood laat meer word om mense kos te gee, wat storms stilmaak en wat selfs dooies opwek. Vir die res van die week leef hulle egter in 'n wêreld waarin mense nie op water loop nie, waarin jy maar vir jou daaglikse brood moet swoeg en sweet en waarin jy siekes tog maar by die dokter moet uitbring. Dit is 'n wêreld sonder wonderwerke. Maar kom Sondag, dan sit daardie selfde mense weer ewe vroom in die kerk en bely die God van wonders.

Op dié manier, sê Bultmann, het die kerk 'n dubbele persoonlikheid ontwikkel. Hulle het een gesig wat hulle vir Sondag opsit, en 'n ander gesig vir die week. In die kerk werk hulle met een stel waarhede en by die werk met 'n ander stel waarhede, en dié twee het niks met mekaar te doen nie. Kortom: op feitlik skisofreniese manier probeer hulle twee here tegelyk dien. Op die lang duur kan hulle nie so volhou nie: een of ander tyd begin hulle die een aanhang en die ander een verag. En die een wat verag word, is feitlik konsekwent die godsdiens.

Bultmann se "Medisyne"🔗

Om die Christendom uit hierdie skisofreniese toestand uit te help, het Bultmann 'n nuwe rigting in die teologie aangedui. Die nuwe rigting het beteken dat die kerk moes ophou om mense te vertel van al die wonders wat Jesus gedoen het en van sy kruis, sy opstanding en sy hemelvaart. Al hierdie dinge is buitendien maar net mitologiese voorstellings, sê Bultmann. Dit is stories wat mense tweeduisend jaar gelede rondom die persoon van Jesus opgemaak het. Solank as wat die kerk aanhou om hierdie stories as die waarheid aan mense voor te hou, blaas hulle die skisofrenie in mense se geestelike bestaan aan. Die kerk moet besef dat mense een of ander tyd deur die realiteite van die lewe ontnugter gaan raak. Dan kom die tyd wanneer hulle die rug op die kerk draai.

Daarom, sê Bultmann, moet die kerk die mitologiese Jesus vaarwel toeroep. Die kerk moet al die "mites" oor Jesus wat as "geskiedenis" aangebied word, vertaal na 'n boodskap wat vir vandag se mense meer geloofwaardig is. Die Jesus van die Bybel is buitendien irrelevant vir mense se lewe vandag. Vir die moderne mens is iemand wat tweeduisend jaar gelede gekruisig en begrawe is en na bewering opgestaan het, in elke geval betekenisloos. Gee die mens vandag eerder iets wat van groter betekenis vir sy daaglikse bestaan is. Die boodskap van die kerk moet daarom eerder gaan oor hoe 'n mens jouself beter kan verstaan en beter in jou omgewing kan funksioneer. Dit, eerder as verhale van die wonderdoener van Nasaret, sal mense met hulle in die week kan saamdra.

Het Bultmann se Medisyne Gewerk?🔗

By terugskouing is daar goeie grond om te sê dat Bultmann se "medisyne" die Christendom nie van sy "dubbele persoonlikheid" kon genees nie. Al wat Bultmann reggekry het, is om die een "persoonlikheid" oor die ander te laat domineer. Die "week-persoonlikheid" het naamlik die oorhand gekry oor die "Sondag-persoonlikheid". Want in werklikheid het Bultmann se "nuwe teologie" maar net beteken dat in die godsdiens die mens se eie omstandighede die botoon begin voer het. In die proses is dit wat die Bybel sê al meer op die agtergrond geskuif en is dit op die ou einde ook uitgeskakel. Die mens se bestaan hier en nou het skering en inslag geword.

medisyne

In werklikheid was die "medisyne" waarmee Bultmann die Christendom van sy "skisofrenie" wou genees, 'n stadig werkende gif. Dit behandel miskien die simptome van die siekte, maar uiteindelik maak dit die pasiënt dood.

Bultmann se Invloed Hou Nog Aan🔗

Dit is opvallend dat nou nog, na verloop van bykans 'n driekwart-eeu, Bultmann se "medisyne" steeds sterk in omloop is. Die hele debat wat deur die Jesus-seminaar ontketen is (en wat hier by ons te lande hopelik sy einde nader) was in 'n groot mate 'n sterk dosis van Bultmann se medisyne wat in ons kele afgedruk is. Dit het (op die patroon van Bultmann) ons probeer wysmaak dat die Jesus wat in die Bybel aan ons voorgehou word, een groot mite is en nie as die waarheid verkondig moet word nie.

Maar ook op ander terreine van ons godsdiens het Bultmann se suurdeeg soos stadige gif versprei. Dit slaan deur in die manier waarop mense dink en praat. Die volgende "Bultmanniaanse" stellings duik dikwels in gesprekke op:

  • 'n Mens kan nie meer alles wat in die Bybel staan, as waar beskou nie — die realiteite van ons leefwêreld laat dit net nie meer toe nie.

  • Die "wetenskaplike bevindings" waarop die evolusionisme berus, het dit byvoorbeeld vir ons duidelik gemaak dat baie dinge in die Bybel ongeloofwaardig is.

  • Die wetenskap en die tegnologie maak dit noodsaaklik dat ons die Bybel anders as voorheen moet verstaan. Dinge soos Jesus se wonderwerke en sy opstanding en hemelvaart moet nie letterlik opgeneem word nie, maar ons moet dit bloot geestelik verstaan.

  • Die Bybel soos dit is, is immers vasgevang in 'n geskiedenisraamwerk van twintig en meer eeue gelede en kan onmoontlik vir ons nog enige gesag dra.

  • Volgens die Bybel is God ons Koning onder wie se heerskappy en mag ons staan, maar in werklikheid is ons uitgelewer aan die mag van wêreldse owerhede.

Dit is die taal wat baie Christene praat. Al besef hulle dit nie altyd nie, is dit die taal van Rudolf Bultmann. Sulke Christene probeer hulle eie godsdiensverleenthede blykbaar met Bultmann se gif regdokter. Ironies genoeg bring Bultmann se "medisyne" nie genesing nie. Óf dit lei tot totale ongeloof, óf die toestand van "skisofrenie" waarvan hulle probeer loskom, word net erger.

Die Skisofrenie Hou maar Aan🔗

Dat hierdie dubbelslagtigheid in die Christendom maar onveranderd voortduur of selfs vererger, blyk uit baie preke van ons tyd. Gereeld word daar in preke teen 'n blote "Sondag-godsdiens" gewaarsku. Tereg so. Maar dit wys dat die gaping tussen dit wat ons Sondag bely en dit wat ons in die week doen, blykbaar al groter word. Bultmann se medisyne help nie. Waar moet ons dan na 'n oplossing soek?

Die oplossing is kennelik nie te vinde in iets wat ons van buite die Skrif op ons eie bedink nie. Die oplossing is ook nie daarin geleë dat ons verder weg van die Bybel beweeg nie. Want dit is juis die Bybel, as Woord van God, wat ons kragtig uit 'n skisofreniese lewenspatroon wegroep. Dit is juis die Bybel wat, as lewenskragtige tweesnydende swaard van die Gees, ons wegskeur uit 'n dubbelslagtige lewensbestaan. Deur die Woord oortuig die Heilige Gees ons:

  • dat ons, ons "week-persoonlikheid" in lyn moet bring met dit wat ons Sondae bely (en nie andersom nie);

  • dat ons moet besef dat God se Koningsheerskappy die eintlike werklikheid is waarbinne ons leef en waarbinne ons die mag van wêreldse regerings beleef (en nie andersom nie);

  • dat God in sy Skrifwoord vir ons wys hoe om die wêreld en die omstandighede waarbinne ons lewe te verstaan (en nie andersom nie).

kerk met mense

Kortom: saam met die Woord leer die Heilige Gees ons dat ons God se kinders is. Daarom is ons nie van die wêreld nie, al is ons in die wêreld (Joh. 17:16-18).

Wie egter albei tegelyk probeer wees, betree die skisofreniese pad waarin hy twee here gelyk probeer dien. Maar so mag dit nie by ons wees nie. In die woorde van Psalm 2:6 (berym):

Kom, dien die HEER en wees in Hom verblyd
met blydskap wat Hom huldig as die HEER,
en kus die Seun in onderworpenheid,
buig  jou  voor  Hom  met  vrees  en  bewing  neer.