My Verhouding met my Geloofsgenote
My Verhouding met my Geloofsgenote
(HK Sondag 21)
“Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?
Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”
Daar is meer as tagtig beelde in die Nuwe Testament vir wat ons verstaan onder kerk. Dit bly ’n boeiende Skrifondersoek om hierdie beelde te ontleed en na te gaan wat die Here daarin openbaar van die kerk. Wanneer ons wil besin oor ons verhouding met ons geloofsgenote kan ons ook met groot vrug fokus op van die bekendste beelde:
- die lote in die wynstok (Joh 15:1-10),
- ’n gebou wat groei (1 Pet 2:4-8; Ef 2:20-22),
- ’n liggaam (1 Kor 12:12-31; Rom 12:4-8),
- ’n huisgesin (Ef 2:19; 1 Tim 3:15).
Die kenmerkende van hierdie beelde is dat die kerk voorgestel word as ’n lewende organisme. Met die lewende eenheid van die kerk is Christus ook in ’n lewenseenheid verbind – as wynstok waaruit die lote groei, as hoeksteen van die gebou van lewende stene, as Hoof van die liggaam, as ewige natuurlike Seun van God in die gesin van aangenome kinders. Ons as gelowiges is die lote, die lewende stene, die ledemate en organe van die liggaam en die kinders. Wie is dan my geloofsgenote? Al die ander lote in die wynstok geplant, al die ander stene, al die ander ledemate en organe, al die ander broers en susters in die geloof.
So bely ons ook in die Heidelbergse Kategismus dat die Seun van God vir Hom ’n gemeente vergader deur sy Woord en Gees, uit die hele menslike geslag, almal wat tot die ewige lewe uitverkies is. Dit is die heilige, algemene Christelike kerk waarvan ek ’n lewende lid is en ewig sal bly!
Lote in die Wynstok⤒🔗
In Johannes 15 wys Christus daar op dat die gelowiges (die lote) in Hom (die wynstok) ingeplant word deur die geloof. So het God ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf (die woorde van ons Doopsformulier). Ons groei en dra vrug omdat ons ons lewensap van die stam kry. Die vrugte wat ons dra, is volgens hierdie gedeelte: om Christus in die geloof te omhels, sy opdragte te gehoorsaam en in ’n persoonlike verhouding met Hom te leef. Jy mag nie vergeet dat dit God self is wat jou met sy eie hand aan ander lote “vasvleg” nie. Aan jou huweliksmaat, jou kinders, lidmate saam met jou in die gemeente. “Snoei” aan hulle deur met die Here se Woord te vermaan, te waarsku, te dissiplineer, te tug. Snoei is seer vir die loot, maar die boer weet so word die vrugte meer. Waarsku jou geloofsgenote altyd weer dat die lote wat nie in Christus bly nie of nie vrug dra nie, afgesny word.
Dra jy die vrug van die Gees wat liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing is (Gal 5:22)? Bewys dit dan aan die ander lote, leef dit teenoor hulle uit!
Lewende Stene←⤒🔗
Petrus gebruik in 1 Petrus 2 die beeld van ’n gebou, ’n tempel, wanneer hy van die kerk praat. Hier is dus boustene wat groei. Maar vir die groei moet ons vas wees aan die belangrikste steen in die gebou – Jesus Christus. Hy is die hoeksteen van die gebou. Hy gee lewe aan die ander stene.
So word ons deur die Heilige Gees aan mekaar vasgebou in ’n geestelike huis. Elke steen gee Hy ’n unieke, onvervangbare plek en funksie.
Dit alles dui daarop dat ons op mekaar aangewese is. As alleen eenkant-steen verarm jy, of bly onvolwasse in die geloof, of word selfs onbruikbaar. Soos stene mekaar ondersteun en sterk in ’n gebou se muur, het jou geloofsgenote jou nodig. Jou bemoedigende woorde in ’n telefoongesprek, bossie blomme, woorde van vertroosting in die kaartjie, ’n gebed, doen juis dit. Dit steun, dit sterk, dit hou vas. Dit bring meelewing en warmte.
Verstaan jy nou hoekom God al so baie aan jou gekap en gebeitel het? Al die skerp punte wat ander so seermaak, kap Hy weg sodat jy op jou unieke plek kan inpas. Maak Hy jou meer diensbaar. Want jy is een van die lewende stene in die kerk, wat op Christus verrys tot ’n wonderskone gebou.
Liggaam van Christus←⤒🔗
Die beelde in 1 Korinthiërs 12 en Romeine 12 beskryf op aangrypende wyse hoe die kerk die liggaam van Christus op aarde is. Dit is duidelik dat sonder die band met Christus die hoof daar ook geen band met mekaar kan wees nie. As die lede van die liggaam nie deur middel van senuwees aan die hoof verbind is nie, kan hulle ook geen verband met mekaar hê nie. So ’n liggaam sal verlam wees, met die hartseer gevolg dat die een deel daarvan nie vir ’n ander deel iets beteken nie. Elke lidmaat met sy of haar gawes is nodig vir die regte funksionering van die liggaam. Ons is so verskillend en tog het elkeen sy funksie. So het God dit gewil dat oues en jonges, mans en vroue, met verskillende gawes, persoonlikhede, uit alle vlakke van die samelewing, een liggaam moet vorm. Jy moet jou gawes gebruik om die ander te dien en te ondersteun. Om hulle in die geloof te laat groei en ook self te groei.
As jy besef hoe wonderlik God jou eie liggaam geskep het, sal jy weet hoe nou ons aan mekaar verbind en van mekaar afhanklik is. Gebruik gerus die volgende voorbeeld in al sy skakerings: Hoekom het ek twee gesonde oë? om die nood van ’n ander raak te sien; hoekom gesonde bene en voete? om nader te gaan; hoekom gesonde arms en hande? – om salf aan die wonde te kan smeer! So sal jy nooit 'n dooie ledemaat wees van 'n lewende, handelende Hoof nie!
God se Huisgesin←⤒🔗
In Efésiërs 2:19 en 1 Timótheüs 3:15 is dit duidelik dat die gemeenskap van die gelowiges, die kerk, soos ’n geestelike huisgesin is, met God as Vader. God se nuwe huisgesin in hierdie wêreld. Anders as in ons gesinne, lê God nie hierdie verband deur geboorte nie, maar deur wedergeboorte. Almal wat in Jesus Christus glo, word in die huisgesin van God ingebring (Joh 1:12). Hier is almal tuis in die ware sin van die woord.
Die feit dat ons God se gesin is, vereis dat ons anders met mekaar sal omgaan. Dink hier aan jou eie gesin en hoe jy oor hulle voel. Dit moet die maatstaf wees vir jou optrede teenoor jou geloofsgenote. Hoe lief het jy jou gesin? Hoeveel keer is jy bereid om hulle te vergewe? Hierin sal die Seun van God vir jou die navolgenswaardige, nee, navolgens-eisende voorbeeld wees.
As jy moes kies, sou jy dalk ander familie gekies het, maar nou het God ons uitgekies as broers en susters van mekaar. In ’n tyd waar baie huwelike verbrokkel, gesinne uit mekaar geskeur word, mense vereensaam in stede, word die huisgesin van God se taak al hoe groter en moeiliker. Nooit mag Kain se antwoord: “Is ek my broer se wagter?” jou antwoord wees nie! N.P. van Wyk Louw het gedig: “’n Beitel moet kan klip breek as hy ’n beitel is.” God het jou die lewende loot, en steen, en ledemaat, en kind (en baie ander beelde) gemaak. Hoe lyk jou verhouding met jou geloofsgenote? Beantwoord jy aan God se doel met jou?