Museumgeloof
Museumgeloof
Gereformeerde gelowiges word meermale met die verwyt gekonfronteer dat hulle geloof uit pas is met die tyd. Gelowiges wat daarna streef om trou gereformeerd te lewe en gebonde te bly aan die Drie Formuliere van Eenheid, word beskou as “mense van gister” - mense wat tred verloor het met die tyd en slegs ‘n herinnering aan die (goeie) ou tye oorhou. Hulle word daarvan verdink dat hulle ‘n “museumgeloof” beoefen: niks word vernuwe nie. Alles bly soos dit was - goed om te besigtig, maar nie goed om (vandag) in te lewe nie.
Daarom die pleitroep om vernuwing. Verkeerdelik word hierdie begrip met reformasie verwar. Eintlik is vernuwing niks anders as restourasie nie. Dit is veral die geloofsinhoude wat gerestoureer moet word. Die geloofsinhoude wat die kerk in die gereformeerde belydenisskrifte bely, dra tog duidelik ‘n agterhaalde stempel van antieke denkbeelde. Denkbeelde waardeur ons gereformeerde vaders hulle geloof doeltreffend vir húlle tyd bely het, maar wat net té ver in die geskiedenis lê om in 2005 ‘n eietydse belydenis te kan wees.
Die restourasie van geloofsinhoude kan vergelyk word met die restourasie van ‘n ou gebou – byvoorbeeld ‘n Kaaps-Hollandse huis. Daar is drie moontlikhede om die gebou te vernuwe. Jy kan hom eerstens baie noukeurig restoureer ten einde soveel moontlik van die oorspronklike huis te behou. Óf jy kan sorg dat die voorgewel volgens die Kaaps-Hollandse styl gerestoureer word, maar daarágter bou jy ‘n hipermoderne woning. Die derde moontlikheid is om die hele huis plat te stoot en ‘n totaal nuwe huis te bou.
Toegepas op die gereformeerde geloofsinhoude, wil die eerste metode sê dat bepaalde inhoude verouderd bevind word, maar dat daar gepoog word om soveel as moontlik daarvan te behou. Daar moet net ‘n nuwe interpretasie aan hierdie inhoude gegee word. Die tweede metode wil alleen die “verouderde” woorde en begrippe behou, maar totaal nuwe betekenisse daaraan gee. Dit is waarskynlik in hierdie sin wat ‘n hoogleraar in teologie onlangs in ‘n radioprogram in gebreke kon bly om die historiese opstanding van Christus te bely, maar in dieselfde asem sê dat hy die Apostoliese Geloofsbelydenis ten volle onderskryf! Die woorde en begrippe van die Apostolicum word dus behou, maar word gevul met totaal ander inhoude en betekenisse.
Teen hierdie soort aanslag voel gereformeerde gelowiges soms magteloos, want een ding is tog waar: die volstrekte binding aan die belydenisskrifte speel vir ‘n gereformeerde ‘n deurslaggewende rol. Die Drie Formuliere van Eenheid is as’t ware die visitekaartjie van gereformeerde kerke. Die ou datering is egter ‘n feit. Die jongste van hierdie belydenisskrifte is 386 jaar oud! Met die eerste oogopslag blyk dit ook dat die styl nie watwonders eietyds is nie. Ja, die belydenis is duidelik van (eer)gister. Daarom die persepsie: gereformeerdes is óók van gister. Al wat van die visitekaartjie mag oorbly, is dat dit ‘n interessante erfstuk word. En hoe gaan ‘n mens met ‘n erfstuk om? Jy gee dit ‘n goeie plek in jou huis en stof dit so nou en dan af, maar dit speel geen wesenlike rol in jou daaglikse doen en late nie. Jy het wel ‘n binding daarmee, maar dit lê meer op die vlak van die nostalgie as wat dit jou lewe beheers. Hierdie tipe “binding” aan die belydenis - asof dit ‘n erfstuk is - is vandag algemeen in sommige histories-gereformeerde kerke. Die gemeenskap met die geloof van die vaders beteken al hoe minder dat daar werklik ‘n geloofsverbondenheid met hulle bestaan. Die afstand in tyd sny skynbaar die band af.
Binne hierdie klimaat word dit al hoe makliker om afskeid te neem van die “oorgelewerde geloof” (Judas 1: 3, vgl. ook Fil. 1:27) soos dit eens geformuleer is. Al hoe groter word die versoeking om te dink dat daar agter die klassiek-gereformeerde belydenis ‘n verouderde denkbeeld lê. ‘n Beeld wat verband hou met die wyse waarop die vaders teen God en die wêreld aangekyk het volgens húlle ervaring. Al hoe groter word die versoeking om die gereformeerde belydenis as ‘n museumgeloof agterweë te laat.
Hierdie soort argument hou egter nie rekening met die feit dat die kerk (van alle eeue) juis nie sy belydenis geanker het in hoe hý die werklikheid ervaar het nie, maar in wat God in Sy Woord geopenbaar het. God se openbaring het die beslissende stem in die belydenis en nie die mens se aktuele (tydgebonde) ervaring nie. Die kerk se belydenis is nie gebou met die stene van menslike insigte nie. Dit is ook nie ingeklee deur die eise van die tyd nie. Die kerk het die ewige waarheid van Gód ontvang. En in sy belydenis rig hy hom dáárop. Die wonder is dat die God van vandag óók die God van gister is. Hy is gister en vandag dieselfde tot in alle ewigheid. En dít gee aan Sy spreke die lang asem van die Gees, wat alle tye omspan. Dít gee aan die waarheid wat aan die kerk toevertrou is, sy rotsvaste karakter. Wie egter spreek vanuit tydgebonde ervaring, sal gedurig van voorkoms moet verwissel. Maar wie sy spreke rig volgens God se openbaring, staan op die vaste grond van Sy waarheid. In plaas van ‘n repeterende breuk met die verlede, sal die kerk dan dinamies in gemeenskap met die oorgelewerde geloof lewe – ‘n gemeenskap wat deur alle tye sigbaar is. Wanneer ‘n gereformeerde kerk dáárin bly leef, besit hy geen museumgeloof nie.