Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Moeite in die Kerk

kerk

Een van die aantreklikste beloftes in die lewe is die belofte dat iets moeitevry sal wees. Verkoopsmanne van rekenaars sal jou vinnig verwys na ʼn moeitevrye rekenaar. Boeke wat jou ʼn moeitevrye reis belowe, of gaan oor hoe om moeitevrye kinders groot te maak of hoe om jou huwelik moeitevry te maak, trek onmiddellik ons aandag. Ons wil graag ʼn moeitevrye lewe hê.

Dieselfde geld vir die kerk. Ons smag daarna om deel te wees van ʼn ‘moeitevrye kerk’ – ʼn gemeenskap van gelowiges waar almal met almal oor die weg kom, niemand sy of haar stem verhef nie, almal saamstem oor die sake wat rêrig saak maak, en die besluite van die kerkraad dadelik en in sy geheel aanvaar word. Sou daar enigiets mooier wees as dit?

Nietemin, ons vervalle wêreld is nie so nie. En kerke, desondanks die bewering dat hulle ‘in die wêreld is, maar nie van die wêreld is nie’, is ook nie so nie. Die heiliges weet hoe om te stry. Sit jou oor op die grond, luister mooi, en jy sal binnekort van ʼn kerklike ‘spookstorie’ te hore kom. Ten minste, hulle dink dit is so ʼn verhaal, as hulle bronne reg is.

Jammer genoeg is dit in baie gevalle wel so. In dié lig het ons vir ʼn geruime tyd al verontrustende verhale van ontwikkelings en gebeurtenisse in ons susterkerke – die Gereformeerde Kerke in Nederland – gehoor. Blykbaar is daar heelwat ongelukkige medegelowiges in die ‘moederland’. Hulle reageer negatief op die veranderings wat in die kerkdienste aangebring is, op dit wat in die kerk gesing word, op wat hulle beskou as ʼn groeiende laksheid teenoor etiese sake soos huwelik en egskeiding, seksuele saamwoon, Sondagsheiliging, tot by die inbreuk wat die Skrifkritiek maak, sowel as die nouer verhoudings met sekere ander kerke.

Blykbaar vind van hierdie dinge nie orals plaas nie. Ander sake vind weer algemeen plaas. Die oorheersende indruk is dié van ʼn kerkverband wat senuweeagtig, defensief en onrustig is. Die feit dat honderde lidmate geloop en ʼn nuwe kerk begin het, met die bewering dat dit die voortsetting is van die oue, het sake nie verbeter nie.

Natuurlik, as ons moeite wil sien, is dit nie nodig dat ons oor die Atlantiese Oseaan gaan soek daarvoor nie. In ons eie ‘agterplaas’ is daar genoeg om te sien. Die Christelike geloof het genoeg uitdagings. Meer spesifiek nog: die Gereformeerde kerke en gelowiges het hul geskilpunte: hedendaagse of tradisionele manier van aanbidding, vroue in die amp, homoseksuele huwelike, die nuwe perspektief oor Paulus. Nee, dit is nie moeilik om moeite in die kerk te vind nie.

Hantering van Moeite🔗

Nietemin, om moeite te vind en om dit te hanteer, is twee verskillende dinge. Hoe hanteer ʼn mens moeite in die kerk? Wat behoort jy as gelowige te doen as jou kerk of kerkverband in die verkeerde rigting beweeg?

In die geskiedenis was daar verskillende reaksies. Daar is tenminste vier reaksies waaraan gedink kan word.

  1. Akkommodasie: Hierdie reaksie is een van aanpassing en hersporing. Lidmate word gekonfronteer met ʼn nuwe leer of ʼn nuwe praktyk en besluit om saam te gaan in alles wat voorgestel word. In baie gevalle gaan hulle uit van die veronderstelling dat die kerkleiers weet wat hulle doen en daarom is dit die beste om te volg waar hulle lei. Daar is ook die onderliggende gedagte dat die kerk sal moet aanpas by die tye, dus is verandering te verwagte en moet dit verwelkom word as noodsaaklik en belangrik.

  2. Toleransie: Daar is ook ʼn ander reaksie wat nie so positief en ontvanklik is nie. ʼn Reaksie waar kerklidmate nie so gelukkig met die veranderings is nie, maar besluit om tog maar saam te gaan met wat voorgestel en gedoen word. Hulle redenasie is dan: “ek is in hierdie kerk gebore” of: “al my kinders en vriende is in hierdie kerk” of: “die veranderings is tog nie so verregaande nie”. Met ander woorde, so lank as wat die positiewes die negatiewes oorheers, is daar genoeg redes om te bly; wees maar geduldig en tel tot tien.

  3. Hervorming: Die volgende stap ondertoe op die skaal is hervorming. Dit is die siening dat die kerk regtig die verkeerde pad begin volg en dat ʼn koersverandering noodsaaklik is. Lidmate wat so dink, sal nie toleransie of akkommodasie oorweeg nie. Hulle wil dinge verander sodat dit in lyn is met die Woord van God. Dikwels lyk dit ook of hulle wil hê dat dinge weer soos dertig, veertig of vyftig jaar gelede gedoen moet word.

  4. Skeiding: Maar wat gebeur as hervormende veranderings misluk of gestuit word? In sulke omstandighede sal sommige sê daar is maar een moontlikheid oor, en dit is om die pad van skeiding te loop. Die huidige kerklike liggaam het so gedeformeer, is so besmet, so verkeerd, dat daar geen ander alternatief is nie as om te vertrek. Jy moet aansluit by ʼn ander kerkgemeenskap wat nog as getrou beskou word, of jy moet ʼn totaal nuwe kerk stig.

skeur in muur🔗

Watter Een is Korrek?🔗

Nadat die vier reaksies nou uiteengesit is, volg natuurlik die vraag: Maar watter een is korrek? Watter reaksie is gepas? As Gereformeerde gelowiges wat ʼn geskiedenis van hervorming het, is ons miskien geneig om te sê dat hervorming of skeiding die enigste opsie is. Hier sal ʼn woord van versigtigheid gepas wees. Want as die voorgestelde veranderings nie baie beteken nie, kan daar weinig gesê word van dié wat akkommoderend of tolererend optree. Besluite ten opsigte van verandering van dienstye, ʼn pyporrel of ʼn elektroniese orrel, dat die ouderlinge agter in die kerk sit in plaas van voor, of dat die geloofsbelydenis deur almal saam opgesê word, behoort nie daartoe te lei dat daar ʼn oproep tot hervorming gedoen word of dat daar tot skeiding oorgegaan word nie.

Dieselfde geld vir veranderings ten opsigte van kerklike tradisies. Die feit dat ons dinge altyd op ʼn bepaalde manier gedoen het, het miskien waarde, maar dit beteken nie dat dit nooit verander kan word nie. Hier moet lidmate kan onderskei tussen wat Bybels gefundeerd is en wat nie. En dit is vir sommiges baie moeilik. Daar is altyd diegene wat die gebruike en die praktyk van die verlede gelyk ag met die Woord van God. Dit mag wees, maar nie noodwendig nie. As dit wel so is, dan kan ons dit met groot vrymoedigheid net so bly handhaaf. As dit nie so is nie, dan moet ons bereid wees om dit een of ander tyd prys te gee.

Aan die ander kant, as dit wat geleer word, in stryd is met die Woord, dan beweeg ons ʼn onseker situasie binne. Dan moet ons ons monde oopmaak en praat, en indien nodig ʼn oproep tot hervorming doen.

Wat van skeiding? Dit kan ook nodig wees; maar voordat so ʼn stap geneem kan word, sal deeglike ondersoek van die hart nodig wees. Boonop moet daar duidelike bewyse van deformasie en ʼn weiering om te hoor, te aanvaar en te bekeer, aangedui kan word.

Insigte van Calvyn🔗

In hierdie verband sal dit nuttig wees om van die groot hervormer, Johannes Calvyn, se insigte kennis te neem. Hy skryf in sy Institusie oor die kerk in Korinthe en sê:

Onder die Korintiërs het ʼn groot aantal die pad byster geraak en amper die hele liggaam (van die kerk) is daardeur besmet. Daar was nie net een soort sonde nie, maar baie, en hulle dwalings was nie lig nie, maar daar was ook verskriklike oortredings – nie alleen verminking van die sedes nie, maar ook van die leer. Wat doen die heilige apostel hier – dit beteken, die instrument van die Heilige Gees deur wie se getuienis die kerk staan of val? Soek hy na afskeiding van hulle? Of verdryf hy hulle uit Christus se koninkryk? Of slaan hy hulle plat met die laaste weerligstraal van die banvloek? Nee, hy doen geeneen hiervan nie, maar erken en verkondig dat hulle die kerk van Christus en die gemeenskap van die heiliges is.1 Korintiërs. 1:2. Boek IV, Hfst. 1, deel 14

Ten spyte daarvan dat daar aanwysbare leer – en morele foute was, is Calvyn nie bereid om die naam “kerk van Christus” van die gemeente in Korinthe te weerhou nie. Later in dieselfde deel van die Institusie voeg hy by dat “die kerk bly bestaan omdat die bediening van Woord en sakramente nie daar verwerp word nie.”

Toepassing Vandag🔗

Die wysheid van Calvyn moet ons versigtig maak. ʼn Oproep tot hervorming is nie noodwendig ʼn oproep tot skeiding nie. Nie alle foute en tekortkominge in die kerk verskaf genoeg rede om te loop, aan te sluit by ʼn ander kerk of selfs ʼn nuwe kerk op te rig nie. Calvyn suggereer dat slegs ʼn afwysing van die evangelie genoeg rede sou wees om tot so ʼn stap oor te gaan.

kerkdeur

Dit bring ons terug by die situasie in Nederland, waar die oproep tot skeiding onlangs gehoor is. Was dit tereg? Dit mag waar wees dat daar op liturgiese vlak in van die plaaslike kerke rede tot kommer is. ʼn Mens mag ook ernstige vrae hê oor die koers wat die kerk in sy geheel inslaan. Gelowiges kan bekommerd wees oor hulle persepsie dat daar die kerk wegbeweeg van Gereformeerde kenmerke na die evangeliese toe. Tog bly die belangrikste en fundamentele vraag: het hierdie kerke die evangelie die rug toegekeer? Dié vraag moet, myns insiens, nog bewys word.

Intussen kan dit vir ons as ʼn leersame ervaring dien. Dit is ʼn oproep om te onderskei en met versigtigheid verder te gaan wanneer in ons eie kerkverband veranderings voorgestel word. Dit is ook ʼn oproep om ʼn helpende hand uit te steek na susterkerke elders wat moeite ondervind, en om vir hulle die waarheid in liefde te vertel. Boonop is dit vir ons ʼn oproep om naby aan die Woord van God te lewe, om vas te hou aan dit wat ons as Gereformeerde gelowiges bely. Laastens is dit ʼn oproep om te bid vir ons kerke en vir Gereformeerde kerke wêreldwyd.

Mag die Here ons help, veral dié kerke wat met moeite worstel, en mag Hy ons almal bring tot die dag wanneer die kerk van Jesus Christus moeitevry sal wees, vir ewig en altyd.