Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Menseregte

menseregte

Wat is menseregte? Behoort die Calvinis die bestaan daarvan te aanvaar? Wat is hulle inhoud? Sulke vrae is deesdae aan die orde van die dag. Allerlei beroepe word op die staatsowerheid gedoen om menseregte in ’n soge­naamde handves te vervat en aldus die nakoming daarvan te verseker. Hoe behoort ons as Calviniste op hierdie en dergelike versoeke te reageer?

Wie of Wat is die Mens?🔗

Uit Gods Woord leer ons dat die mens as beeld van God geskape is. Nog méér fundamenteel sou ons kon stel dat die Woord praat van God as die Vader en van die mens as kind. As Vader is God die algenoeg­same Skepper, Instand­houer, Bestierder, Wetge­wer en Voleinder van die héle skepping. As. Gods kind is die mens in sy kreatuurlikheid, onselfge­noegsaamheid, fundamen­tele afhanklikheid en wetsonderworpenheid ra­dikaal onderskeie. Tog kan ons in omvattende sin sê dat die beeldskap van God in besonder geleë is in die menslike kindskap van God. Die kindskap van God kom die mens alleen toe. Dit stel die mens met sy besondere afkoms (ge­skape as beeld van en as gelykenis van God) in ’n unieke verhouding tot God – ook tot die liefde en toorn van God. Hiermee word aan ons openbaar in omvattende sin die funda­mentele aard van die mens as koningskind in die kosmos.

Die Status van die Mens🔗

Die feit dat die mens ko­ningskind is, bied aan ons ’n idee van die status van die mens. God het die mens met ’n bepaalde taak in ’n sinvolle wêreld geplaas, aan die mens ’n besondere plek toebedeel. Die aard van hierdie sta­tus is veral dat God aan die mens ’n toerekenbare en verantwoordlike roe­ping gestel het om te ver­vul. Hierdie roeping gaan saam met die feit dat die mens deur God aangestel is as ‘mandator Dei’, as kreatuurlike plaasvervan­ger van God om in sy Naam in die kosmos te regeer.

Die mens is dus geroep om oor die kosmos te heers en kultuur te skep. In sy verhouding tot sy medemens is die mens ge­roep om in liefde te sorg. In sy verhouding tot God is die mens geroep om met sy héle hart, met sy héle siel, met sy héle verstand en met al sy kragte God te dien. Saam met die mens se take is sy bestemming gegee. Deur aan sy be­stemming te beantwoord vervul die mens sy van God gegewe roeping. Deur sy roeping te vervul aktu­aliseer die mens sy vry­heid. Ook hierdie menslike vryheid is beeld van die vrymag van God. So kom die menslike vryheidsbeeld van die vrymag van God in verskeie fasette na vore, soos vryheid as diens van God, as self- en naasteliefde, as kultuur-skeppende vryhede van byvoorbeeld vorming van kennis, taal en kuns; van estetiese en etiese vry­heid; vryhede van gesins- en staatsvorming, van vorming van geskiedenis en tegniek.

hande in vorm van aarde

Wat is Menseregte?🔗

Die vrae wat menseregte is en of die Calvinis die be­staan van menseregte mag aanvaar, moet ons sien in die lig van die waarhede van Gods Woord. Op grond van die lig van Gods Woord kan ons die volgende sê oor wat menseregte is :

  • Volgens die orde van die skepping het God aan die mens sy menseregte gegee;
  • Menseregte is daardie aansprake wat die mens het op dit wat hy mag doen;
  • Menseregte is vergun­nings wat God aan die mens gee om sy roeping te vervul. So het die mens aanspraak op sy lewe, op die eer van sy naam, om te trou, sy kinders op te voed, ooreenkomste aan te gaan, verbonde te sluit, ensovoorts;
  • In omvattende sin kan ons sê dat die mens ’n reg het om die natuur te beheers, kultuur te skep, vir die mens te sorg, God te dien en daarmee sy roe­ping te vervul en aldus sy vryheid te verwesenlik;
  • Menseregte is die mens nie verniet of tevergeefs geskenk nie. Hulle is ge­skenk met die doel dat hul­le eerbiedig en uitgeoefen sal word;
  • Menseregte behoort tot die mens-wees van die mens en daarmee tot sy roeping en bestemming. So is die mens se reg op lewe en op die eer van sy naam uitdrukking van die mens se status – geskape as die beeld van God;
  • Die mens is wesenlik as ’n antwoordende wese geskape en daarom kan ons saam met H.G. Stoker verklaar dat menseregte as roepstemme tot die mens kom om op daardie roep te antwoord;
  • Alhoewel die Calvinis heelhartig menseregte mag aanvaar, behoort ons eerder die lig op mensepligte te vestig, omdat hul­le as grondslag van men­seregte dien.

Welke Menseregte Mag die Calvinis Aanvaar?🔗

Kyk ons na die status van die mens as kind van God, vind ons ’n verskeidenheid fasette weerspieël in die mens geskape na Gods beeld. Hiermee moet ons menseregte in verband bring.

As Calviniste behoort ons in die lig hiervan er­kenning te verleen aan die mens (as biotiese wese) se reg op lewe, op voortplan­ting; die mens (as psigie­se wese) se reg op sy ge­voelslewe, die eer van sy naam; die mens as den­kende wese se reg op die vryheid van sy gewete en denke; die mens as taal­hebbende en gebruikende wese se reg op linguale openbaring; die mens se reg (as ekonomiese wese) op sy eie en medemens se behoeftebehartiging; die mens se reg op die skoonheid van sy liggaam (as estetiese wese); die mens se reg op ampsbehartiging (as juridiese wese); die mens se reg (as etiese wese) op persoonsbeharti­ging; die mens se reg as godsdienstige wese om God te dien en vereer en om Gods heerlikheid te verkondig.

Besonder belangrik vir die Calvinis is die feit dat nie net die mens as indivi­du nie, maar ook in sosiale verband menseregte deel­agtig is. So het die kerk die reg om Gods Woord te verkondig en te bedien; die staat om ’n regsorde in die gemeenskap (tussen individue, tussen indivi­due en samelewingskringe en tussen samelewingskringe onderling) in stand te hou; die volk om die volksgenootlike persoons­liefde in kultuurverband te bevorder; die nasie om persoonsliefde in die histo­riese lotsgemeenskap van Suid-Afrika te handhaaf; die huwelik om persoons­liefde tussen gehudes in die seksuele verhouding van die huwelik in stand te hou; die gesin om die se­delike op basis van die bloedsband tussen gesins­genote uit te bou.

Bykomstig hiertoe geld ook die feit dat vir die Calvinis menseregte nie net vas (en ‘staties’) is nie, maar dit voortdurend ontwikkel en differen­sieer. Andersyds beteken dit nie dat nuwe menseregte telkens tot stand kom nie, maar dat die mens met die voortgang van die geskiedenis in la­tere tye onetiese menseregte ontdek wat hy in vroeëre tye nie ingesien het nie. Dink maar net aan die huidige opvattings oor die instelling van slawer­ny en die vrou se plek in die samelewing.

arm kinders

In die laaste instansie wys ek graag daarop dat in die huidige sondige be­deling daar onderlinge botsing tussen menseregte mag ontstaan. Hierdie botsinge moet deur die Calvinis beoordeel word in die lig van God se wets­orde. In die lig van Gods Woord moet ons ook tus­sen die meer en die min­der fundamentele menseregte onderskei. So moet by botsinge tussen die mens se biotiese reg op lewe en ’n ander se estetie­se regte, die meer funda­mentele reg op lewe voor­gaan.

Ook vir Calvinis Belangrik🔗

Ons kan dus stel dat ook vir die Calvinis daardie regte wat God met die mens-wees van die mens gegee het, van groot be­lang is.

Daar is egter dieplig­gende verskille tussen sê ’n Calvinistiese en huma­nistiese opvatting van menseregte soos in die Universele Deklarasie van Menseregte vervat:

  1. Die humanis gaan uit van die gelykheid van alle mense. Die Calvinis hou met die gelykheid van mense geskape na Gods beeld, rekening asook met die ongelykhede tussen mense (met verskil in ta­lente, gesag) asook die ongelyke roepinge van mense en samelewingskringe.
  2. In plaas van die waar­digheid van alle mense er­ken die Calvinis die on­waardigheid van die mens, maar ook die kos­baarheid van die mens ge­skape na Gods beeld, en gegewenhede van verlos­sing bv. Paulus: trots op julle, tot alles in staat.
  3. Die Calvinis stel nie so­seer die humanistiese op­vatting van die onafhank­likheid van die mens as basis van die mens se reg op vryheid nie, want die Calvinis handhaaf dat die mens ten diepste ’n reg op sy roepingsvervulling het, dat vryheid in fundamen­tele sin roepingsvervulling is en dat die mens ’n aan­spraak het op dáárdie reg­te wat hy van God ontvang het om sy van God gegewe roeping te vervul.