Mattheus 7:1-12 - Hoe tree ek as gelowige op wanneer ek gekonfronteer word met teenstand in die verkondiging van die evangelie?
Mattheus 7:1-12 - Hoe tree ek as gelowige op wanneer ek gekonfronteer word met teenstand in die verkondiging van die evangelie?
⤒🔗
Matteus 7:1-12←↰⤒🔗
U sal opmerk dat hierdie gedeelte van die Bergrede uit frases bestaan wat vir ons byna oorbekend is, omdat dit deel van ons Afrikaanse idiomeskat geword het. Wat egter dadelik hierby opval, is die manier waarop ons hierdie frases gebruik. Het u opgelet dat ons hulle net uitpluk as selfverdedigingswapens om onsself mee te verontskuldig? Die balk is altyd in die ander een se oog wanneer ons regverdiging soek vir ons eie optrede en die Evangelie tot ons eie gewin wil misbruik.
In hulle samehang – en dit is die tema van hierdie oordenking – bepaal hierdie verse die grense van die Evangelieverkondiging, asook die grense vir die verkondiger daarvan. Anders gestel, hoe tree ek op as gelowige wanneer ek die Evangelie, die vergiffenis van sondes, gaan verkondig in die wêreld en ek word gekonfronteer met teenstand?
Die breë stelreël vir my optrede as gelowige, vind ons in vers 12: "Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete." In die lig van hierdie stelreël moet ons dan die volgende drie opdragte van ons Here Jesus verstaan:
Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.←⤒🔗
In Matteus 6 handel Jesus oor naasteliefde: dat ons slegte mense nie moet weerstaan nie, dat ons die ander wang moet draai, dat ons die bo- en onderkleed moet uittrek, die tweede myl moet saamstap. En nou vervolg Jesus in dieselfde gees: moenie oordeel nie. Die implikasie is duidelik: hoe kan jy iemand wat jy moet liefhê oordeel, want die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Die liefde reken die kwaad nie toe nie. Maar nog meer as die liefdesbeginsel staan die oordeels-maatstaf in sy eie pad, want as ek my naaste oordeel, meet ek hom aan die maatstaf van die volmaakte. So hanteer ek die maatstaf wat God alleen mag aanlê. Dink net wat die uitslag van so 'n meting moet wees: my naaste met 'n splinter en ek met 'n balk.
Samevattend: moenie oordeel nie, die liefdesbeginsel maak dit onmoontlik vir jou – jy moet jou vyande selfs liefhê! Meer nog, as jy oordeel, wil jy soos God wees, wat alleen die volmaakte maat kan hanteer. En buitendien is jy geleer om te vergewe, sodat jy vergiffenis kan ontvang.
Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie←⤒🔗
Mag ek myself dan glad nie teen die kwaad uitspreek nie, omdat ek self skuld het? Maak my skuld my onmagtig en onbevoeg om die Evangelie te laat hoor? Moet ek aan boos en goddeloos onvoorwaardelik vergiffenis verkondig? Nee, sê Jesus: "Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie ..." en "moenie julle pêrels voor die varke gooi nie ... "
Om heeldag te loop en vergiffenis preek teenoor diegene wat God om geen vergiffenis vra nie – net so min as wat 'n hond vra om met ringe versier te word, en 'n vark vra om pêrels aan sy snoet te kry, is om iets wat God onberekenbaar veel gekos het, nl. die dood van sy eie Seun, te vermors. Om vergiffenis aan 'n ieder en 'n elk ongevraag te bedien, is om God se genade te verlaag tot propaganda en plakkers agter op motors. Maar die Evangelie is nie propaganda nie, en ons wat die Evangelie moet uitdra, is getuies en nie propagandiste nie!
Die Evangelie weet wanneer dit teenstand ondervind. Dit weet wanneer om te swyg voor teenstand, sodat hierdie kosbaarheid nie aan varksnoete opgehang word nie. Die evangelie is geen mag nie, dit is magteloos om te dwing. Maar heel paradoksaal: juis hierdie Evangelie wat swyg voor teenstand, hierdie evangelie wat nie sy kosbaarhede vermors nie, juis hierdie magtelose evangelie is 'n krag van God. Want Hy wat die vergiffenis skenk, is ook die Regter. En só word die magtelose evangelie almagtige regspraak en die vergiffenis oordeel. En presies daarom mag u en ek nie oordeel nie, want die evangelie self, en die Sender self, sal oordeel.
Vra en vir julle sal gegee word←⤒🔗
As ons nie mag oordeel nie, en tegelyk ook nie tydig en ontydig links en regs vergiffenis uitdeel nie, wat mag ons dan wel doen? Kort en ondubbelsinnig: vra, soek en klop.
Die mens wat nie sonder meer vergiffenis mag ontvang nie, die mens wat ten spyte daarvan tog ook nie geoordeel mag word nie, is dan tog in ons hand. Hy is aan ons genade, ons vergiffenis en ons liefde oorgegee, want ons weet wat hy nodig het. Ons dra die verantwoordelikheid om hierdie mens op die draagbaar van die gebed voor God te bring, selfs al moet ons hom deur die dak van die huis laat sak. Daar lê die weg van geen oordeel. Laat die oordeel wat so haastig oor jou lippe kom, op jou eie hoof kom. Dan sal jy gou leer om te begin bid, dat die oordeel afgewend word. Dan sal jy leer om genadig te lewe. Neem sy skuld, sy gebrek aan behoefte aan vergiffenis op jou, soos Jesus Christus met jou skuld gedoen het. Hy het ook nie geoordeel nie, maar jou skuld na die Regter toe geneem: "Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Dit is die wet en die profete. Om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê, is die hele Bybel. Om lief te hê is die hele Bybel. Want as ek my naaste liefhet, só lief dat ek myself in sy plek gaan stel, hoe kan ek hom oordeel? As ek hom werklik liefhet, hoe kan ek hom dan die geleentheid gee om van die evangelie 'n bespotting te maak? As ek hom werklik liefhet, wat meer kan ek vir hom doen wanneer hy die evangelie van vergiffenis van sondes nie wil aanvaar nie, as om vir sy vergiffenis te bid? As ek hierdie brood van God vra, sal Hy my nie 'n klip gee nie.
Die pad van die evangelie, die pad waarlangs vergiffenis die wêreld ingaan, loop by talle kruise verby, wat almal in die skaduwee van een magtige kruis staan. Dit is die toonbeeld van evangeliste, getuies, wat die oordeel op hulleself afgebid het, sodat ander kan vrygaan. Getuies wat die oordeeI van God vrygespring het, omdat die kruis van Jesus die oordeel op Hom laat kom het.