Matteus 13:10-17 - Verharde Harte Verdien Gelykenisse
Matteus 13:10-17 - Verharde Harte Verdien Gelykenisse
Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie … want die hart van hierdie volk het stomp geword...
Matthéüs 13:10-17
Christus beantwoord hier sy dissipels se vraag waarom Hy voortaan net deur gelykenisse met die skares praat.
Ondanks sy gesagvolle leringe en sy opsienbarende wonders het die leiers van die Jode hardnekkig geweier om Christus as Messias te erken.
Inteendeel, hulle moordplanne was agtermekaar. Die volk was belus op wonders, maar nie vanweë geloof in Christus nie. Christus veroordeel Gorasin, Kapernaum en Betsaida skerp. Sy en Israel se paaie het al meer uit mekaar begin loop. En dan rig Christus Hom tot hulle met gelykenisse.
Gelykenisse, eenvoudige vertellings uit die natuur of alledaagse lewe om een of ander punt tuis te bring, het noue verband gehou met die vraag WIE Christus is en WATTER opdrag Hy van sy Vader ontvang het. Wie nie iets van die unieke van Christus se Persoon en werk wou weet nie, kon nie deurdring tot die geheim wat Jesus in elke besondere gelykenis na vore gebring het nie. Vir hulle het die gelykenisse duister gebly, raaisels (Hebreeus: “masjaal”, Grieks: “parabolê”).
Met die gelykenisse wou Christus dus koring en kaf onder sy hoorders skei.
Dat dit vir die dissipels gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die Hemele te ken, maar aan die skares nie, beteken nie dat die skare nou eenmaal bestem is daartoe dat hulle nie kan glo nie en dat hulle vanweë hierdie noodlot wat hulle getref het, verlore gaan. Dit sou die skuld vir hulle ongeloof op God pak. Nee, vir hulle ongeloof pak Christus geloof pak Christus die skuld op hulleself (vs 13): “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, NIE SIEN NIE! en terwyl hulle hoor, NIE HOOR OF VERSTAAN NIE!” Die skare het Jesus se aangrypende wonders gesien en sy gesagvolle prediking gehoor. Daarmee het God die Messias en sy redding, ’n ontsaglike skat, in hulle skoot neergelê, maar dit het nie tot die skare deurgedring nie. Nie omdat dit nou eenmaal “nie aan hulle gegee is nie”, maar omdat die hart van die volk stomp geword het, en hulle met die ore beswaarlik gehoor het en hulle hul oë toegesluit het, sodat hulle nie miskien met die oë sou SIEN en met die ore HOOR en met die hart VERSTAAN en hulle BEKEER en Ek hulle GENEES nie. (Jes 6:9 en 10).
Met hierdie volk is dit presies dieselfde gesteld as met die volk in Jesaja se tyd: Hulle het die Thora, die onderwysing oor sy onverdiende liefde, verwerp en jarelank geen ag geslaan op God se handewerk tot hulle verlossing nie, van Josua se tyd af tot Jesaja se tyd, tot God se geduld opgeraak het. Toe stuur Hy Jesaja na hulle om te sê: Julle het horende DOOF geword. Julle het siende BLIND geword. Daarom moes Jesaja se boodskap juis die hart van die volk nog verder verhard, dat hulle al meer weier om te luister. Hy moes sê: Hoor altyddeur, maar verstaan nie en sien altyddeur, maar bemerk nie. Met sy prediking het hy die volk se hart VET gemaak en hulle ore SWAAR en hulle oë sodat hulle NIE sou sien en hoor en verstaan nie, en hulle hul NIE bekeer en gesond word nie.
Waar hulle eers die Woord nie wou gehoorsaam nie, sou hulle uiteindelik nie meer KON nie – God se oordeel oor Israel se ongeloof.
Wat in Jesaja se tyd gebeur het, word in Jesus se dae herhaal. In Christus was al God se ontferming saamgetrek, sowel in sy prediking as in sy werke.
Die Jode neem dit nie aan nie; daar was geen bekering nie: Hulle oë het hulle diggeknyp, hulle ore het hulle toegestop, om hulle harte het hulle ’n kordon gegooi van verharding. Hulle was totaal ongevoelig.
Daarom kom Christus dan met sy gelykenisse.
Aan die een kant was dié gelykenisse nog weer ’n uitnodiging, o, so ’n genadige uitnodiging: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” (vs 9)
“En wie nie verstaan wat Ek sê nie, kom soek by My die betekenis daarvan”, nooi Jesus hulle uit. “Moenie weggaan en sê: Ons begryp dit nie”. Ja, die gelykenisse sou skifting bring, maar nog steeds was daar geleentheid om Christus, aan te neem en gered te word – mits hulle wou hoor.
Aan die ander kant, die wat God se liefdeswerk in sy Seun steeds koud en ongevoelig sou bejeën – wat nie vra na wat dit beteken nie – hulle sou dit wat hulle het, ook nog ontneem word. Hulle bekeer hulle nie. Hulle verhard hulle hart. God sou hulle onkeerbaar op dié heillose pad laat voorthol die afgrond tegemoet. Uiteindelik is Jerusalem verwoes. Israel se huis is vir hulle woes gelaat, God se oordeel oor hulle verharding.
Die dissipels was die Here wel toegeneë. Hulle oë het sy werke gesien. Hulle ore het sy prediking gehoor. En hulle was nie siende blind en horende doof nie. Hulle harte was nie hardgebak en onbekeerlik nie. Inteendeel, hulle het gesê: Here na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. Hulle het in Christus God se liefde erken. Christus spreek hulle salig. Hulle is gelukkiger as gelowiges en profete wat hulle tevrede moes stel met ’n beloofde Messias. Hulle het Christus meegemaak, Persoonlik, in lewende lywe.
Die groot vraag aan ons is: Luister ons na die Woord? In die Woord bied God ons die Here Jesus aan – sy Soenmiddel. Dit konfronteer ons met alles wat verkeerd is in ons lewe en dus sy verlossing nodig het. Christus is God se kritiek op ons onheilige lewe. Buig ons ons voor die verheerlikte Middelaar? Kry ons ’n nuwe hart, ’n bekeerde hart? Dan is ons nou hier al salig! Maar as dit nie gebeur nie, kan daar ’n moment kom dat ons vanweë verharding, deur God se pragtige evangelie net verder verhard raak en ons nie meer kan bekeer nie!